Waar kry jy daardie woord?

Geskryf deur Sophia Kapp Donderdag, 20 April 2017
Gepubliseer in Lees;

Ek vind dikwels dat mense onrustig, ongedurig en somtyds sommer onverdraagsaam raak as hulle vermoed dat ons ʼn woord in Afrikaans gebruik wat ons uit ʼn ander taal gaan leen het. “Hoekom kan ons nie suiwer Afrikaans praat nie? Moet ons ons arme taal so verknoei?” is die lamentasie. Veral as die leenwoord toevallig ook ʼn nefie of ouer suster in Engels het, is gebruikers erg agterdogtig oor dié woord se teenwoordigheid in die AWS. Noem maar Romaanse woorde soos “evalueer” of “repudieer” wat in die jaar gunter al in die AWS opgeneem is, en jy het dadelik ʼn klomp morrendes wat meen dat die Taalkommissie die taal nou weer verloën.

Die feit is, Afrikaans se herkoms is verwikkeld. Niks aan enige taal se herkoms is ooit eenvoudig of lynreg terug te trek tot by Adam en Eva in die paradys nie, en Afrikaans is niks anders as die res nie.  Boonop verstom dit my dat mense oor “repudieer” kan kla, maar dan ewe gemaklik ander bedenklike leenwoorde soos “neuk” of “avokado” kan gebruik sonder om twee keer oor die etimologie daarvan na te dink.

Hier is ‘n paar ingeburgerde Afrikaanse woorde wat elk ʼn interessante en baie on-Afrikaanse geskiedenis het.

  1. whiskey (nw.) ʼn Verkorte vorm van “whiskeybae”, uit Oudengels “usquebae”, wat afgelei is van die Gaelies “uisce” (water) en “bethu” (lewe). Letterlik: lewenswater.

 

  1. robot (nw.) Ontleen uit Tsjeggies, waar “robota” beteken “gedwonge arbeid”.

 

  1. kwarantyn (nw.) Uit die Frans “quarante”, wat “veertig” beteken. (Luister maar eersdaags na die skeidsregters op Roland Garros.) Die regulasie was dat enige seilskip wat moontlik een of ander besmetting kon dra, 40 dae lank voor anker moes lê voordat dit enige kontak met die land kon hê.

 

  1. pamflet (nw.) Afgelei van die titel van ʼn Latynse liefdesgedig “Pamphilus” wat blykbaar fisiek van een persoon na die volgende aangegee is.

 

  1. jeans (nw.) Ha, jy het gedink dis ʼn Amerikaanse woord, nè? (Toe maar, ek het dit ook gedink voor ek dié brokkie raakgelees het.) Die woord is afgelei van die Italiaanse pleknaam Genua, waar dié kledingstuk blykbaar vandaan kom.

 

  1. denim (nw.) Dié woord is ook nie Amerikaans nie. Die stof is oorspronklik in Nimes in Frankryk vervaardig en het bekend gestaan as “serge de Nimes” (letterlik: materiaal uit Nimes). Die “serge” het mettertyd weggeval en net die “de Nimes” het oorgebly.

 

  1. sokker (nw.) Hierdie een kom wel uit Brittanje. Hoewel dit daar as “football” (of “footie”) bekend staan, is die bynaam “socca” aanvanklik uit die middel van die volle naam “Association Football” afgelei.

 

  1. malaria (nw.) Direk oorgeneem uit die Latyn, waar “mal” beteken het “slegte” en “aria” beteken het “lug”. So genoem omdat die lug in die omgewing van die moerasse in Rome (waar die muskiete ook uitgebroei het) onaangenaam was.

 

  1. tragedie (nw.) Van die Grieks “tragodia”, wat “lied van die manlike bok” beteken. Nee, ek het geen idee hoe om dié bokkloutjie by die taaloortjie te kry nie, buiten dat ek vermoed dat dit na ʼn gesanik verwys.

 

  1. avokado (nw.) (Ek wed jou jy het gewonder oor “avokado”.) Die Asteekse naam vir die vrug was “ahuacatl”, wat beteken het “testikel”. Ek dink almal sal saamstem dat ons eerder die leenwoord as die eg Afrikaanse naam vir dié vrug wil gebruik. Ons wil darem nog kan slaai eet en dit geniet.

 

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer.

Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. of per WhatsApp by 062 126 0295.

 

Lees 1138 tye Laaste modifikasie op Saterdag, 22 April 2017 06:31

NUUSARGIEF

FACEBOOK