Items per datum gefilter: November 2016

Kontrapunt: Kontrastiewe en komparatiewe perspektiewe op die Afrikaanse en Nederlandse taal- en literatuurstudie

Kongresdatum: 28 Junie tot 1 Julie 2017

Plek:      Stonehenge in Africa - Parys, Vrystaat

Chiaroscuro in die skilderkuns behels die onthullende spel van lig en skadu. Die een kan nie sonder die ander bestaan nie. Deur die kontras van 'n ligte figuur teen 'n donker agtergrond, en omgekeerd, word daardie figuur op ’n openbarende manier afgeteken. In hierdie beeld lê die kern van die kongrestema opgesluit, naamlik kontrapuntale samehang in en om die Neerlandistiek. Die gesprek is daarop gerig om binne die konteks van die komparatisme die kontraste sterker te belig, maar dus steeds met aandag aan ooreenkomste en  gemene delers.

U word hartlik uitgenooi om referaatvoorstelle van ongeveer 250 woorde teen 31 Januarie 2017 voor te lê deur dit in te dien op die kongreswebblad. U word ook uitgenooi om onderwerpe voor te stel vir spesiale tematiese sessies of paneelbesprekings.

Voorgestelde velde en subtemas: Vergelykende taal- en letterkunde; Kontrastiewe taalkunde; Sosiolinguistiek; Historiese taalkunde; Literêre geskiedskrywing; Postkoloniale studies; (De)kolonialisering; Digitisering en digitalisering; Digitale humaniora.

Spesiale nommers van Tydskrif vir Geesteswetenskappe en Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans word aan die kongres gekoppel. Die bedoeling is dat 'n gevorderde weergawe van 'n artikel by die kongres as referaat aangebied word. Deelnemers kan besluit by watter een van die bogenoemde tydskrifte die artikel voorgelê word.

Organiseerders:    Phil van Schalkwyk, Adri Breed en Janien Linde

Meer inligting is beskikbaar by http://savn2017.wixsite.com/savn-kongres-2017

 

Grootgetalletabel

Saterdag, 26 November 2016 04:15

Die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns is besig om te werk aan die finale manuskrip van 'n nuwe uitgawe van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS). Dié uitgawe sal in 2017 verskyn.

'n Handige bylaag wat in die nuwe AWS gaan verskyn, handel oor riglyne vir die gebruik van die SI-stelsel. Die tabel hier onder sal deel wees van die bylaag. Dit verduidelik sistematies die verskil tussen die lang skaal (wat in Suid-Afrika en Afrikaans gebruik word) en die kort skaal (wat onder andere in die VSA gebruik word).

 

 Faktor

SI-voorvoegsel

 Simbool

Afrikaanse terme

Engelse terme

Lang skaal

Lang skaal

Kort skaal

10-24

jokto-

y

kwadriljoenste

quadrillionth

septillionth

10-21

zepto-

z

triljardste

trilliardth

sextillionth

10-18

atto-

a

triljoenste

trillionth

quintillionth

10-15

femto-

f

biljardste

billiardth

quadrillionth

10-12

piko-

p

biljoenste

billionth

trillionth

10-9

nano-

n

miljardste

milliardth

billionth

10-6

mikro-

m

miljoenste

millionth

millionth

10-3

milli-

m

duisendste

thousandth

thousandth

10-2

senti-

c

honderdste

hundredth

hundredth

10-1

desi-

d

tiende

tenth

tenth

100

een

--

--

--

--

101

deka-

da

tien

ten

ten

102

hekto-

h

honderd

hundred

hundred

103

kilo-

k

duisend

thousand

thousand

106

mega-

M

miljoen

million

million

109

giga-

G

miljard

milliard

billion

1012

tera-

T

biljoen

billion

trillion

1015

peta-

P

biljard

billiard

quadrillion

1018

eksa-

E

triljoen

trillion

quintillion

1021

zetta-

Z

triljard

trilliard

sextillion

1024

jotta-

Y

kwadriljoen

quadrillion

septillion

Wat is die versamelnaam vir baie nulle?

Saterdag, 26 November 2016 03:48

“Ek weet ons gebruik miljoen en biljoen anders as in Engels, maar ek kan nooit onthou hoe nie. Hoe werk dit?” Dié vraag duik in taalkringe op met bykans dieselfde reëlmaat as versoeke in die parlement dat Zuma moet bedank.

Die woord “miljoen” se paadjie is ʼn interessante ene.

Die slim Indiërs het al voor die derde eeu getalname gehad vir getalle ver bo 1 000 000 000. Maar siestog, die Grieke kon net tot 10 000 tel en die Romeine tot 100 000. In Latyn sou 1 000 000 iets wees soos deciec centena milia, oftewel letterlik “tien honderd duisend.” Vir die volkse Italianers was dit te veel van ʼn mondvol en hulle het aan mille (“duisend”) die versterkende agtervoegsel -one gaan vasplak: milleone (deesdae milione) beteken dus letterlik “baie duisend”.

Aan die einde van die agtiende eeu reken die Franse toe dat hulle verder wil tel as ʼn miljoen, en vervang toe die -one met hulle eie versterkende agtervoegsel -ard wat letterlik “hard” beteken. ʼn Miljard is dus as ‘t ware ʼn “harde baie duisend”!

As ons weet dat “miljoen” gevolg word deur “miljard”, dan word die sommetjies makliker.

Die voorvoegsel bi- beteken “twee” (soos in “biseksueel”), tri- beteken “drie” (soos in “trilogie”) en kwadri- beteken “vier” (soos in “kwadmotorfiets”). Nou is dit supermaklik en logies:

1. miljoen = 1 000 000 (ses nulle = 106)

    miljard = 1 000 000 000 (drie ekstra nulle = 109)

2. biljoen = 1 000 000 000 000 (1012)

    biljard = 1 000 000 000 000 000 (1015)

3. triljoen = 1 000 000 000 000 000 000 (1018)

    triljard = 1 000 000 000 000 000 000 000 (1021)

4. kwadriljoen = 1 000 000 000 000 000 000 000 000 (1024)

    kwadriljard = 1 000 000 000 000 000 000 000 000 000 (1027)

As jy eers een keer hierdie benamingstelsel snap, is die kind se naam Wit Willem.

In Suid-Afrika word hierdie lang skaal deur wetgewing (Wet 18 van 2006) voorgeskryf. Daar was onlangs ʼn ondersoek of dit verander moet word, maar die vakkundiges en outoriteite se aanbeveling was dat dié stelsel in Suid-Afrika behoue moet bly.

Binne die Media24-stal blyk daar verdeeldheid te wees. In die afgelope week verskyn ʼn brief in Beeld wat melding maak van “staatskuld van R2,2 triljoen”, verwysende na “R2,2 trillion” in Engels. Dit moes dus eintlik R2,2 biljoen in Afrikaans gewees het. Dieselfde brief word in Volksblad gepubliseer, maar gebruik nou “R2 200 miljard”; tegnies korrek, maar wel omslagtig en verwarrend.

Huisgenoot het egter besluit húlle lesers is te dom om hierdie (eenvoudige) stelsel te verstaan: Met ingang 7 April deser volg hulle die Amerikaanse stelsel van miljoen, biljoen, triljoen – sonder miljard, biljard en triljard. Ons dommes moet dus nou dubbeld somme doen: As ek enige ander (Media24-) Afrikaanse publikasie lees, weet ek dat “biljoen” = 1012, maar, wee my, as ek Huisgenoot lees is “biljoen” = 109.

Dalk moet Media24 vir Zuma vra om uitsluitsel oor die saak te gee …

Hierdie rubriek het oorspronklik in Beeld van 26 November 2016 verskyn.

Beeld logo

Afrikaanse spellingkoors het so ongeveer drie, vier jaar gelede landwyd uitgebreek. Die Sanlam WOW Spelfees en die ATKV Spelathon vir skoolkinders, die slimfoontoepassing Beter Afrikaans en kykNET se Op die Spel-program is ʼn paar van die simptome van dié endemie.

Een van die mees pertinente vrae van spelkompetisies (en onderwysers, skrywers en uitgewers) is: Hoe word die moeilikheidsgraad van ʼn woord bepaal? Is die woord “penisillien” maklik, gemiddeld of moeilik om te spel? Op watter ouderdom kan ek van iemand verwag om “frikkadelle” korrek te spel? (Ek is swaar middeljarig en kan dit tot vandag toe nie spel nie!)

Uit internasionale navorsingsliteratuur kon ek tot dusver meer as sestig (ja, 60!) faktore identifiseer wat ʼn rol speel in die bepaling van woorde se moeilikheidsgraad. Allerweë stem navorsers egter saam dat die volgende drie faktore die belangrikste aanduiders van ʼn woord se moeilikheidsgraad is:

  • Frekwensie: Hoe meer gereeld ʼn woord in ʼn verskeidenheid tekste voorkom, hoe makliker is die woord om te spel. Al het ʼn woord soos “familie” ʼn paar vangplekke, behoort die meeste mense dit korrek te spel, aangesien dit een van die 500 mees frekwente woorde in Afrikaans is.
  • Woordlengte: Hoe korter ʼn woord is, hoe minder sal mense sukkel om dit te spel. Gebaseer op ʼn groot korpus van Afrikaans, weet ons dat die gemiddelde woordlengte in Afrikaans 10,7 karakters is. Ons kan dus verwag dat enige woord met nege of minder karakters relatief maklik moet wees om te spel: “satelliet”, “assessor”, “krokodil” en “baseer” behoort dus min probleme op te lewer.
  • Die verhouding tussen die skrifbeeld (letters) en uitspraak (klanke): Hoe groter die passing tussen die letters en klanke van ʼn woord, hoe makliker kan iemand die woord spel. Die woord “kram” word foneties getranskribeer as [kram] – daar is ʼn een-tot-een-passing tussen die letters en die klanke, en dit behoort dus maklik te wees om te spel. ʼn Woord soos “chihuahua”, uitgespreek as [ʃiwawa], is besonder moeilik: Daar is nege letters, maar slegs ses klanke; boonop kom slegs die “i” en [i] en die “a’s” en [a]’s met mekaar ooreen. Party mense kan ook nog wonder of dit dalk met ʼn hoofletter geskryf moet word.

Dit is maar net die oortjies van die seekoei. Woorde met die sogenaamde schwaklank (die [ə] in [krɔkədəl]) verskaf talle hoofbrekens, verdubbeling van konsonante (“krokke” maar “krokodil”; “krokodille” maar “monnike”), konsonantverwarring (“vier” teenoor “fier”, of “rand” versus “rant”), ensovoorts. En dan praat ons nie eens van los-of-vas-probleme nie: Is dit “weereens” of “weer eens”, of is beide korrek? Hoekom is dit “onderweg” maar “op pad”?

Deur middel van ʼn blitsopname op Facebook het ek meer as honderd woorde ingesamel waarmee mense stoei. Hier is die toptiensukkelwoorde wat deur die meeste mense as problematies aangedui is:

(10) parallelle

(9) adres

(8) weereens of weer eens (beide is korrek!)

(7) professor

(6) verrassing teenoor verassing

(5) op pad

(4) huis toe

(3) komitee maar kommissie

(2) onmiddellik

(1) interessant

Kan jy nog woorde tot die lys toevoeg?

Hierdie rubriek het oorspronklik in Beeld van 19 November 2016 verskyn.

Beeld logo

Fantastiese voels en wat om hulle te noem

Saterdag, 12 November 2016 06:16

Die Afrikaanse Voëlnaamgroep is ʼn groep vrywilligervoëlkenners wat ʼn ogie hou oor Afrikaanse voëlname: om voor te stel hoe dit gespel en geskryf moet word, om nuwe name uit te dink, en om van tyd tot tyd lyste met Afrikaanse name vir voëls te publiseer.

Vra hulle voorsitter, Morné de la Rey, hierdie week vir my: “Moet ons die spelling van troupant nie na troupand verander nie?”

Die gewone troupant (Coracias caudatus) staan in Engels bekend as die lilac-breasted roller, in Tswana as letlêrêtlêrê en in Zoeloe as ifefe. Die pragtige, veelkleurige voël is inheems aan Afrika, en as jy Krugerwildtuin toe gaan, sal jy hulle dikwels in die droeër mopaniegrasvelde aantref.

Van waar die naam “troupant”?Troupant (Foto deur TWDRSA op Flickr)

Voëlfoendie Stephan Terblanche wys daarop dat dié voël in ʼn vroeër uitgawe (1978) van die Roberts Voëlgids in Engels bekend was as die Mosilikatze’s roller, omdat uMzilikazi (die Matabelekoning) die vere van die troupant vir sy eksklusiewe gebruik gereserveer het. ʼn Ander storie lui dat die troupant vroeër in vredesprosesse gebruik is: ʼn Troupant sou geoffer word, sy bloed aan ʼn spies gesmeer word, en dan sou die twee konings saam-saam die spies breek en dit onder die arme oorle voëltjie begrawe.

Op die blogwerf van Cattleprod word die storie vertel dat ʼn jong man wat wou trou ʼn troupant moes vang deur ʼn bolletjie gom van ʼn hardekoolboom op ʼn tak te plaas. Sodra die voël op die gom gaan sit het, kon die man die voël vang en een van sy pragtige blou vere verwyder. Dié veer is dan om die vinger van sy verloofde gedraai om haar vinger blou te vlek as pand van hulle trou aan mekaar – dus letterlik ʼn troupand.

In Afrikaanse Etimologieë (1967) dui Boshoff en Nienaber aan dat die benaming inderdaad verband hou met die woord “troupand” – waarskynlik na aanleiding van die “kleurryke en spoggerige voorkoms” van die voël.

In die eerste uitgawe van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (1917) kry ons die inskrywing “trouwpand” en in die derde uitgawe (1921) vir die eerste keer “troupant”. In nie een van die twee gevalle kan ʼn mens aflei of daar na ʼn ring of voël verwys word nie. Eers vanaf die sesde AWS (1953) word daar uitdruklik ʼn onderskeid tussen ʼn “troupand” en “troupant (voël)” getref.

Hierdie onderskeid kom dus al vir ten minste meer as sestig jaar met ons saam. Moet ons nou loop staan krap waar dit nie jeuk nie?

Die pylstormvoël (Puffinus griseus) se ander naam in Afrikaans is “malbaartjie”. Maar ʼn drukkersduiwel in 1966 het die “r” weggelaat en toe heet dié geveerte vir ʼn tyd lank “malbaatjie”. Die Afrikaanse Voëlnaamkomitee het die fout egter reggestel en nou geniet ons almal weer die naam “malbaartjie”.

Ek kon nie meer bewyse opspoor vir waar, wanneer en deur wie die woord “troupant” die eerste keer gebruik is nie. Dalk is daar ander voëlvriende wat handjie kan bysit? Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.!

Aspirant-ornitoloë kan vanaf Desember gratis toegang tot die Afrikaanse Voëlnaamgroep se woordelyste via VivA se webwerf of slimfoontoepassing kry.

Hierdie rubriek het oorspronklik in Beeld van 12 November 2016 verskyn.

Beeld logo

'n Lekker, lang en duidelike mondvol

Saterdag, 05 November 2016 05:18

ʼn Leser SMS Beeld se redakteur verlede week: “31 is die getal [sic] letters in mediumtermynbegrotingstoespraak. Kan ons nie maar net vier los woorde daarvan maak nie? Vra net.”

Monde vol vrae en antwoorde spruit uit dié vraag.

Die wêreld van vertaling en terminologieskepping (oftewel vakleksikografie) is ʼn boeiende ene. Daar is ʼn paar katte wat meer van saffraan én godsdiens weet as wat ek van dié twee terreine weet, maar ek waag tog maar ʼn paar rigtingwysers.

Alvorens jy ʼn term vertaal of skep, is dit baie belangrik om eers die konsep korrek te verstaan. Dit gebeur dikwels dat ʼn Engelse term nie noodwendig ʼn goeie of akkurate term vir ʼn konsep is nie, maar dat dié term desalnietemin klakkeloos in Afrikaans vertaal word. Vergelyk byvoorbeeld die Engelse “Twitter handle”: Daar is talle besprekingsfora op die internet waar Engelse mense vra wat presies ʼn “Twitter handle” is. Dit is reeds ʼn aanduiding dat die Engelse term nie eintlik deursigtig (en suksesvol) is nie. Vervolgens gebeur dit dat mense “Twitter handle” vertaal met “Twitterhandvatsel”. Die arme Afrikaanse gebruiker word dus niks wyser nie. As jy weet dat die konsep waarna “handle” verwys niks anders as jou gebruikersnaam is nie, sal ʼn term soos “Twittergebruikersnaam” of “Twitternaam” dalk veel beter wees.

Die vraag is dus: Wat presies is die konsep waarna die Engelse “medium term budget” verwys? Ek bel freneties rond, want van die ekonomie weet ek nog minder as van vertaling. Interessant genoeg kry ek ʼn klomp uiteenlopende menings van mense wat ek gedink het sou moes weet waarna die term verwys. Die meeste mense dink dit verwys na die begrotingsaanpassings wat in die middel van die huidige finansiële jaar aangekondig word. Geen wonder dat onder andere JacarandaFM se nuusspan dan ook verwys na die “halfjaarbegroting” nie. Selfs in Engels gebruik byvoorbeeld Daily Maverick die misleidende term “mid-term budget”.

In die inleiding tot minister Gordhan se toespraak word dit egter duidelik: “The Medium Term Budget Policy Statement (MTBPS) … communicates to Parliament and the country … fiscal policy objectives and spending priorities over the three-year expenditure period.”

“Medium term” verwys dus na ʼn “medium termyn van drie jaar lank” en staan teenoor kort termyn (die huidige finansiële jaar) en lang termyn (sê nou maar vyf tot tien jaar). Engelse skoolvosse sou kon sê dat die korrekte skryfwyse dus eintlik “medium-term budget” moet wees, net soos “medium-term goals” of “medium-term investment”.

As ons nou vervolgens “medium termyn” met “begroting” kombineer, word dit een woord. Waarom? Want in Afrikaans skryf ons (samestellende) samestellings vas. Daar is ʼn reuseverskil tussen ʼn “rooivleisprodusent” (ʼn produsent van rooi vleis) en “rooi vleisprodusent” (die vleisprodusent is rooi – waarskynlik kommunisties). Dit is ʼn heerlike, ryk vermoë wat Afrikaans het: Ons kan subtiele betekenisverskille uitdruk deur woorde los of vas te skryf; die Engelse skrywer moet dit omskryf (“producer of red meat”) indien hy/sy seker wil wees dat daar nie betekenisverwarring ontstaan nie.

En met “mediumtermynbegroting” as basis kan ons dan “mediumtermynbegrotingsbeleidstoespraak” skep: ʼn Lekker mond vol 38 letters sonder enige onduidelikheid oor presies wat bedoel word.

Hierdie rubriek het oorspronklik in Beeld van 05 November 2016 verskyn.

Beeld logo

Taalkundebeurs

Vrydag, 04 November 2016 05:23

Is jy 'n student wat geïnteresseerd is in Afrikaanse taalkunde?

Goeie nuus: VivA maak vir die 2017-studiejaar 'n aantal beurse vir finalejaar- en honneursstudente wat in Afrikaanse taalkunde wil spesialiseer, beskikbaar. 

Die doel van die beurs is om studente aan te moedig om te spesialiseer in teoretiese, historiese, beskrywende en/of toegepaste Afrikaanse taalkunde. Ons hoop om hiermee 'n jong generasie taalkundiges aan te moedig om verder in Afrikaanse taalkunde te studeer.

Daar is heelwat beurse beskikbaar vir meesters- en doktorsgraadstudente, maar vir finalejaar- en honneursstudente is daar minder geleenthede. VivA hoop om hierdie hiatus te vul.

Vir meer inligting oor die beurse en om aansoek te doen, doen die volgende:

  • Registreer as VivA-gebruiker.
  • Gaan na [Portale > Inligtingsportaal > Taalkundebeurs], of klik hier.
  • Meer inligting oor die waarde van die beurs, kriteria, bepalings en voorwaardes, en die aanlyn aansoekvorm is op daardie bladsy beskikbaar.

Respekteer studente se standpunte

Dinsdag, 01 November 2016 03:59

Dis 1991.

Nelson Mandela is vrygelaat, die Berlynse Muur het homself te pletter geval, ʼn olieoorlog woed in Koeweit, en Suidwes-Afrika het Namibië geword.

Ek is ʼn derdejaarstudent aan die Universiteit van Pretoria, luister na Voëlvrymusiek, woon Houtstok by, leer politieke woorde by mense soos Irma du Plessis, Andries Bezuidenhout en Hedwig Barry, en speel stut in die Taaibosmanskoshuisrugbyspan.

Ek is die enigste man/seun in die Afrikaans III-klas en loop klas by Groot Geeste soos Rena Pretorius, Tom Gouws, Piet Roodt, Adelia Carstens, Vic Webb en Christo van Rensburg. As assistent in die Departement Afrikaans maak ek vir hulle tee en hardloop op en af na die administrasiegebou om fakse te stuur.

Maar ek is kwaaitjie-kwaaitjie.

Hoekom word ons kurrikulum vervuil met Nederlandse literatuur? Wat op deeske dorre aarde het Vondel, PC Hooft en Harry Mulisch met my – hier in Suid-Afrika – te doene? Prof Christo het ons geleer dat Afrikaans ʼn Afrikataal is. Weg met die boel koloniale literatuur!

Ek stel ʼn petisie op teen Nederlands in die Afrikaanse kurrikulum. Maar bitter min van die vroue/meisies in my klas steun my aktivistiese optrede. Hulle wil net eksamen gaan skryf en die kursus slaag. Prof Rena waai my tirades af en vra hoekom my poësieopdrag nog nie ingehandig is nie. Sonder die mag van sosiale media (dis 1991!) moet ek die aftog blaas. Ek is ont#.

Dis 2016.

Die land se universiteite brand letterlik af. Al wat ʼn veldtog is, word gelegitimeer deur ʼn hutsteken vooraan te plak. Universiteite is “spaces”, almal het een of ander “narrative” en gesprekvoering en betogings is “robust” – vir my gevoel is dit alles politieke wolwoorde waarvan die betekenis so verstard soos ʼn standbeeld geword het. As ʼn dosent wat erns met my vak maak, kan ek egter nie onaangeraak hierdeur bly nie. Dis ook mý taak om te luister na die studente, om te besin oor die dekolonialisering van die kurrikulum.

Die ganske wêreld is onthuts oor die Kaapstadse student wat verduidelik hoe #ScienceMustFall. Meme vlieg die kuberruimte vol, en om braaivleisvure word skaterend gelag oor die stomme onnoselheid van dié arme kind.

Hier in my binnekamer kan ek egter nie anders as om hartbloeiende simpatie vir haar te hê nie. 25 jaar gelede was ek sy, maar met een groot verskil: Sonder die genadeloosheid van sosiale media is die wêreld my naïewe standpunt van toe gespaar … en ek die verleentheid.

Soos woorde groei (van kragdadig tot geyk) en tale ontwikkel (van Nederlands tot Afrikaans?), so moet ons opinies ook dinamies bly. Ek is dank-die-vader-bly dat ek vandag anders dink oor goed as twee jaar gelede, en ek hoop van harte dat ek oor twee jaar ook nuwe insigte sal hê. Wat is ʼn opinie werd as dit nie kan verander nie?

Laat hy/sy wat die afgelope 25 jaar steeds presies dieselfde menings huldig gerus vingerwysend vir daardie Kaapstadse student lag. Rig gerus vir jou standpunte ʼn standbeeld op. Ek gun jou dit. Maar toon ook respek vir dié wat voortdurend na nuwe narratiewe in robuuste ruimtes soek. En vergeet nie wat Mr Keating ons in Dead Poet’s Society geleer het nie: “Boys, you must strive to find your own voice. Because the longer you wait to begin, the less likely you are to find it at all.”

Beeld logo

Hierdie rubriek het oorspronklik in Beeld van 29 Oktober 2016 verskyn.

NUUSARGIEF

FACEBOOK