Items per datum gefilter: Februarie 2016

Rondomtaal: "Waardig"

Woensdag, 10 Februarie 2016 02:00

Jare gelede kyk ek na ʼn dokumentêr oor die lewe van Sir Winston Churchill. ʼn Dogter van hom vertel hoe hy ná die Tweede Wêreldoorlog Amerika toe is om te gaan vra vir ʼn lening sodat Brittanje kan herbou. Die Amerikaners was nie gretig om hom te ontvang nie, want hulle het geweet waaroor dit gaan, en die oorlog in die Stille Oseaan-streek het hulle self sleg getref. Hulle het elke sent self nodig gehad. Nietemin, Sir Winston kry ʼn spreekbeurt in die Huis van Verteenwoordigers, waar hy baie koel ontvang word. Geen tradisionele Amerikaanse lawaai nie, geen applous nie. Hy betree die podium, bekyk sy gehoor en sê: “I did not come here to ask for money.” Daar is ʼn gemurmel in die gehoor, toe so ʼn paar verleë siele wat hande klap. In die stilte daarna, sê hy: “For myself.” Een vir een het hulle opgestaan, die teensinnige Amerikaners, om hom die ovasie te gee wat hy verdien.

 

Ek onthou die staaltjie vandag nog, omdat dit vir my so ʼn vergestalting was van die mag van taal. Van die mag van opvoeding en goeie maniere. Van die kuns om ʼn onpopulêre standpunt aan jou teenstanders te verkoop.

 

Dis ʼn kuns wat aan die uitsterf is – vandag is die persoon wat die hardste skree en die doeltreffendste kan beledig die wenner. Oënskynlik. Ons leef in ʼn tyd wat aan ons besondere uitdagings stel. Ons leef in ʼn land en op ʼn kontinent wat besondere uitdagings stel. Ons praat ʼn taal wat besondere uitdagings in die gesig staar. Ons voel beleër, oorweldig, ons spartel om oorlewing. En dit voel vir ons asof ons nie gehoor word nie, want ons word doodgeskree.

 

Die vraag is: Hoe reageer ʼn mens op so iets? Wat is uiteindelik effektief?

 

Antwoord: Gaan kyk na die geskiedenis. Sir Winston het, op ʼn stadium manalleen, teenstand gebied teen een van die grootste orators wat die moderne geskiedenis geken het. Dié man was luidrugtig, het populistiese argumente gevoer en kon ʼn skare opsweep dat selfs intelligente mense sy retoriek gekoop het. Dis ʼn man wat ʼn nasie kon oortuig dat die geskiedenis waaraan hulle land onderwerp was geweld regverdig. Dis iemand wat ʼn volk, en ʼn wêreld, kon manipuleer om gruwels te aanvaar in die naam van nasiebou. Dis iemand wat boeke en kuns op dorpspleine verbrand het in die naam van kulturele reiniging.

 

Sir Winston kon hom dit nie nadoen nie. Hy was nie ʼn orator nie, hy het nie mense opgesweep nie. Al wat hy gehad het, was waardigheid. Hy kon net sy saak stel, rustig en kalm, maar met vasberadenheid, en sy werk na die beste van sy vermoë doen.

 

Leer by Sir Winston: Dis nie altyd nodig om die bekgeveg te wen nie. So ʼn onderonsie is gewoonlik opruiend, onredelik, aggressief en onwaardig, en dit bewerkstellig niks, buiten om aan die ander party die geleentheid te gee om jou nog ʼn slag te beledig. Al wat regtig nodig is, is om ʼn mens se saak te stel, rustig, met oortuiging, met begrip en geduld vir ander, natuurlik, maar boweal met waardigheid. Daarom: Wees waardig. Praat waardig. Skryf waardig. As jy deelneem aan debatte, bly waardig. Nie noodwendig omdat jou teenstanders dit verdien nie, maar omdat dit is wat jý is.

De Grote Taaldag

Maandag, 08 Februarie 2016 02:00

DE GROTE TAALDAG


Vanjaar se Grote Taaldag, ʼn gesamentlike inisiatief van die AVT, ANéLA en LOT, vind op Saterdag 6 Februarie 2016 in Utrecht plaas. De Grote Taaldag is ʼn kombinasie van die AVT se dag vir TIN (Taalkunde in Nederland) en ANéLA se dag vir TTiN (Toegepaste Taalkunde in Nederland).


Een van die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) se primêre doelstellings is die ontwikkeling van ʼn omvattende, vergelykende, wetenskaplike, aanlyn grammatika (fonologie, morfologie en sintaksis, asook ʼn bibliografie) van Afrikaans. Hierdie projek word in samewerking met die Nederlandse en Friese Taalportaal uitgevoer.


VivA sal ook by vanjaar se Grote Taaldag deur prof Bertus van Rooy, Afrikaanssintaksiskenner, verteenwoordig word. Prof Van Rooy bied ʼn lesing aan wat handel oor die verskille in werkwyses wat die verskillende grammatikaspanne volg om die grammatika van Afrikaans binne Taalportaal te skryf.


“Die benaderings wissel van 'n lokaliseringsbenadering, waar 'n Suid-Afrikaanse span die Nederlandse of Friese teks as basis neem en dan dit aanpas om van toepassing gemaak te word op die beskrywing van Afrikaans, tot 'n nuutskryfbenadering, waar 'n span die temas wat in die beskrywing van Nederlands as vertrekpunt neem, maar dan die beskrywing van Afrikaans van voor af skryf sonder om van die inhoudelike gedeeltes van die Nederlandse teks gebruik te maak. In so 'n geval dien die Nederlandse beskrywing as een van baie bronne en nie as die hoofbron nie, terwyl in die lokaliseringsbenadering die Nederlandse en Friese teks die hoofbron is, en ander bronne of analises se inligting daarby gevoeg word. In my lesing probeer ek enersyds die verskille beskryf, en andersyds verstaan hoekom mense verskillende benaderdings kies, en wat die implikasies daarvan mag wees,” verduidelik Van Rooy.


Prof Daan Wissing (NWU) en prof Ian Bekker (NWU) spits hulle toe op die beskrywing van die Afrikaanse fonologie, terwyl prof Gerhard van Huyssteen (NWU) en prof Piet Swanepoel (UNISA) fokus op die morfologiese aspekte van Afrikaans. Prof Bertus van Rooy, prof Haidee Kruger, prof Jac Conradie, prof Ernst Kotzé, prof Ilse Feinauer en dr Lande Botha is die Afrikaanse sintaksiskenners wat ook deelneem aan hierdie projek.


“'n Paar belangrike oorkoepelende doelwitte van Taalportaal is om vergelykbare inligting oor die grammatikas van verskillende tale byeen te bring, en ook om as bron te dien vir verdere, oorspronklike taalkundenavorsing. Die hoofgehoor van VivA is dus die gemeenskap van taalwetenskaplikes in die algemeen. Die Afrikaanse been wat deur VivA gesteun word, dra tot albei hierdie doelwitte by. Deurdat ons binne die taalportaalformaat oor die grammatika van Afrikaans skryf, is daar nou vergelykbare inligting met Nederlands en Fries beskikbaar, die twee tale wat die naaste familielede van Afrikaans is binne die stamboom van verwante tale. Hierdie bydrae ondersteun weer verdere navorsing wat vergelykende studies van die verskillende tale doen, en maak dit vir navorsers moontlik om ook na Afrikaans te kyk wanneer hulle wetenskaplike vraagstukke in die taalkunde ondersoek,” vertel Van Rooy.


Daar is reeds van die outeurs en moderators se werke gepubliseer op Taalportaal se webwerf: www.taalportaal.org.


Vir meer inligting rakende VivA se betrokkenheid by Taalportaal of om in verbinding te tree met een van die outeurs, skakel met Marlie Coetzee.

NUUSARGIEF

FACEBOOK