Items per datum gefilter: Februarie 2017

Die voornaam van Bobby van Jaarsveld se sanger-suster is ........

  • Carline
  • Carlien
  • Karlien
  • Karline

Dié vraag verskyn onlangs in een van die daaglikse toetse van Beter Afrikaans, ʼn slimfoontoepassing wat jou help om jou taalgebruik te verbeter, spellingvaardighede op te skerp en kennis oor Afrikaans uit te brei.

ʼn Woedende deelnemer reageer: “Dit is belaglik dat ek moet weet hoe om haar naam te spel! Dit is ʼn algemenekennisvraag, nie ʼn taalvraag nie. Ek het geen idee wie die dame is na wie verwys is nie. Daarmee saam is die weergawe van die spelling van die naam waarmee haar ouers haar belas het nie noodwendig die ‘korrekte’ spelling nie.”

Beter Afrikaans se doel is onder andere om te help om “afgeronde” taalgebruikers op te lei. 'n Afgeronde taalgebruiker is ʼn ingeligte taalgebruiker.

Die doyenne van Afrikaanse nuuslesers, Mariëtta Kruger, het my jare gelede ʼn belangrike les geleer: ʼn Nuusleser moet nie net goed kan artikuleer, woorde korrek kan uitspreek en sinne behoorlik kan fraseer nie. ʼn Goeie nuusleser is iemand wat wéét wat in die nuus gebeur, wat ʼn besonder goeie algemene kennis het. Want slegs dan kan jy die nuus met gesaghebbendheid en die nodig patos oordra.

En dié les geld elke taalgebruiker.

Kom ons volg ʼn bietjie die argument van die woedende Beter Afrikaans-gebruiker. As daar van taalgebruikers geen algemene kennis veronderstel mag word nie, hoe kan ons dan verwag dat iemand moet weet dat daar ʼn verskil is tussen die “Nuwe Testament” en ʼn “nuwe testament”? Dit verg tog algemene kennis – of jy ʼn christen is of nie – om te weet dat ons “Nuwe Testament” in Afrikaans in 'n bybelse konteks met hoofletters skryf. Net so verg dit taalkennis én algemene kennis om te weet dat beide “bybelse” en “Bybelse” korrekte skryfwyses is (kyk reël 9.19 in die AWS).

Dieselfde argument geld baie ander eiename. Ek verwag van ʼn afgeronde taalgebruiker om te weet hoe om die skrywer Etienne Leroux (en nie Ettienne le Roux nie) se naam te skryf, of om ten minste te weet wie Oscar Pistorius is (en dat sy naam nie Oskar Pretorius is nie). Of dat ons adjunkstaatspresident se van Ramaphosa (en nie Rammaposa nie) is. Of dat Mpumalanga (en nie Mphumalangha nie) aan die Nasionale Krugerwildtuin grens.

As jy in ʼn e-pos die uitvoerende direkteur van jou maatskappy se van verkeerd skryf, is dit maar oukei? As ʼn nuusleser na ʼn Verenigde Stater (in plaas van Amerikaner) verwys, is dit ook maar aanvaarbaar? Nee, of jy nou ʼn skoolleerder, Facebookskrywer, e-possenier of joernalis is, die korrekte skryfwyse én spelling van eiename is deel van jou vereiste taalkennis.

ʼn Taalgebruiker sonder wêreldkennis is niks anders (of beter) as ʼn speltoetser nie.

As iemand nie weet wie Bobby of Karlien van Jaarsveld is nie, of wie Oscar Pistorius is, of wat die Nuwe Testament is, of watter provinsies waar in ons land is nie, help Beter Afrikaans hulle hopelik om ook hulle algemene kennis uit te brei. Perdalks leer diesulkes ook van Google en Wikipedia. Anders vra ek hulle maar om groete te stuur vir Rip van Winkel.

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 25 Februarie 2017 verskyn.

Internasionale Moedertaaldag

Dinsdag, 21 Februarie 2017 06:52

21 Februarie 2017

 

Ek het grootgeword in 'n familie wat Afrikaans se pynlikste ontluikingsjare beleef het. My oupa was een van dié wat op 'n stoel moes staan met donkie-ore aan omdat hy Afrikaans gepraat het in 'n land wat hom wou verengels. 

Hulle het hard gewerk om Afrikaans te bevorder, my grootouers. In Natal, die provinsie wat vandag nog effe trots is op sy bynaam "The Last Outpost". Dit was nie maklik nie. Hulle is daarvoor gehoon, soms selfs verneder. Maar hulle het op hulle beskeie manier gedoen wat hulle kon vir die taal - seker gemaak hulle drie kinders word in Afrikaans onderrig, Afrikaanse boeke gekoop, Afrikaanse films ondersteun, Afrikaans keurig gepraat.

Maar nie my ouma of my oupa was taalimperialiste nie. Hulle kon albei Zoeloe praat, my oupa so vlot dat jy toe-oë nie sou kon agterkom hy is nie 'n moedertaalspreker nie. En hy het dié taal as 'n volwassene aangeleer, uit noodsaak en uit respek vir die mense wat langs hom in Zoeloeland se suikerrietlande panga geswaai het.

Onthou vandag, op hierdie dag, dat jou moedertaal jou trots mag en moet wees, dat jou hart daarvoor mag klop en dat jy hard mag werk om Afrikaans te beskerm en te bevorder. Maar onthou ook dat dié voorreg almal toekom. Ander mense se moedertale is hulle trots. Respekteer dit.

Die manier om jou taal ten beste te dien, is gewoon om hom te gebruik. Om hom te lees en te skryf en seker te maak jou kinders word in hom onderrig. Om Afrikaanse kunstenaars, skrywers en publikasies te ondersteun. En om, wanneer jy self jou taal aanwend, seker te maak jy werk met 'n geslypte beitel. Want dis net dan wat jou woorde en jou werk in die sterre in loop.

Ek kry 'n klein klein beiteltjie,
ek tik hom en hy klink;
toe slyp ek en ek slyp hom
totdat hy klink en blink.

Ek sit 'n klippie op 'n rots:
- mens moet jou vergewis:
'n beitel moet kan klip breek
as hy 'n beitel is  -

ek slaat hom met my beiteltjie
en dié was sterk genoeg:
daar spring die klippie stukkend
so skoon soos langs 'n voeg:

toe, onder my tien vingers bars
die grys rots middeldeur
en langs my voete voel ek
die sagte aarde skeur,

die donker naat loop deur my land
en kloof hom wortel toe -
só moet 'n beitel slaan
wat beitel is, of hoé?

Dan, met twee goue afgronde
val die planeet aan twee
en oor die kranse, kokend,
verdwyn die vlak groen see

en op die dag sien ek die nag
daar anderkant gaan oop
met 'n bars wat van my beitel af
dwarsdeur die sterre loop.

NP van Wyk Louw

Eens toe daar 'n tweetalige lugruim was

Saterdag, 18 Februarie 2017 05:36

Dis 1986. Iewers in die lug tussen Nigel en Springs bo die Central Flying School Dunnottar kontak ʼn desperate vlieënier van die Suid-Afrikaanse Lugmag die beheertoring:

Dunnotar-naderingsbeheer, dit is Harvard 6437. Ons is reg bo, in aansluiting by ons aanvanklike  nadering. Nademaal ons kekkeldoos onklaar geraak het, kan Johannesburg se beheerde lugruim nie binnegedring word nie. Ons versoek u aansluitingsklaring vir ’n volle landing.

Dis nie ’n grappie nie en allermins versonne.

My vriend Brendon is ʼn vlieënier, en hy vertel van vervloë dae toe ons lugruim tweetalig was. In die 1970-80’s was leerlingvlieëniers van die Suid-Afrikaanse Lugmag verplig om lugvaartterminologie in Engels én Afrikaans te beheers. Al om die ander week is Afrikaans as radiotaal gebruik.

Oor ʼn glas whiskey leer Brendon my ʼn paar Afrikaanse lugvaartterme:

  • rol, gier en hei: Vliegtuie beweeg vry op drie asse. Wanneer jy beweeg op die denkbeeldige as wat van voor tot agter in die vliegtuig strek, rol (roll) jy met behulp van die rolroer (aileron); op die horisontale vlerk-tot-vlerk-as hei (pitch) jy met die hoogteroer (elevator); en op die vertikale as gier (yaw) jy met jou rigtingsroer (rudder). Op die internet is daar oulike animasies wat dié konsepte mooi demonstreer.
  • wannadering, wentel en waas: Die naaste wat ek ooit aan my Heiland was, was op ʼn keer toe ons vir ʼn Taalkommissiesitting moes afvlieg Port Elizabeth toe. ʼn Storm van Ou Testamentiese omvang het oor Die Baai gewoed. Uit die venstertjies kon ons sien dat die hele stad in ʼn verwoedende waas (haze) gehul was. Daar was ʼn kwaai dwarswind (crosswind) wat eers gekrimp (backed) en dan geruim (veered) het. Ons het ʼn paar keer om die lughawe gewentel (orbited) en toe het die vlieënier sy bes probeer … Ná twee wannaderings (missed approaches) en een deurlooplanding (touch-and-go landing) het die liewe kaptein weer die eindnaderingsgebooie (landing checks) laat loop en ons uiteindelik met ʼn suksesvolle volle landing (full-stop landing) terug op moeder aarde op die laaiblad (apron) gehad. Ons arme TK-lede was senuweeorrels wat slegs met onverdunde alkohol en skoon onderklere gekalmeer kon word.
  • Tongknopers: Probeer presisienaderingsbaanaanwyser (precision approach path indicator), sigvlugreëls (visual flight rules) en vliegveldvluginligtingsdiens (aerodrome flight information service) vinnig sê.
  • lusvlug, tolvlug en ry: Ek het eers gedink dat ʼn lusvlug ʼn rit in eerste klas is, maar nee, ʼn lusvlug is ʼn loop, tolvlug is spin, en ry is taxi. Ek wonder nog altyd hoekom ons in Engels moet wag vir taxi clearance (ryklaring) voor ons op die taxiway (rybaan) kan taxi (ry). As ek met ʼn minibus wou reis, het ek duimgery, dankie.
  • En dan is daar die vliegtuigonderdele: Ek het nog altyd gedog knormoer (starter) is een van daardie anekdotiese woorde wat in lysies verskyn om te wys hoe grappig Afrikaans is. Wrintiewaar, hy staan in Brendon se termlys! Die throttle is ʼn gasarm (sinoniem vir prostetiese ledemaat?), en die manifold drain cock (!) is ’n spruitstukaftapkraan. My naasgunsteling is die vaan (of ook die steek) van die lugskroef (pitch of the propeller), en my gunsteling is kekkeldoos (transponder).

As ek eendag groot is, gaan ek ʼn hygroman skryf met die titel “Faan en die kekkeldoos”.

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 18 Februarie 2017 verskyn.

Slegte medisyne

Dinsdag, 14 Februarie 2017 17:03

Kry anderdag ʼn navraag van ʼn gebruiker: Hoe spel ʼn mens [...]? Tipiese soort navraag, ek stuur ʼn tipiese soort antwoord. Sy sê dankie, maar dis ʼn dankie met stekels. Want iemand het haar oor die vingers getik oor haar spelling en sy het by my kom bevestiging soek dat sy reg was. En toe was sy nie.

Die reaksie daarop was ook tipies: Ja, maar almal skryf so. En hoekom kan sy nie reg wees nie? Sy skryf dit al jare so en nou is dit ewe skielik verkeerd. Wie maak sulke volksvreemde reëls, en wie het nou eintlik aan dié onheilige kliek in hulle ivoortoring die reg en die mag gegee om die gewone gebruiker ontoereikend te verklaar? Wie se taal is dit in elk geval?

Dis ʼn bitter pil om te sluk, ek weet. Ons moes hom al almal afwurg – daardie een waar jy tot in jou siel toe oortuig is jy is reg en dan uitvind jy is nie. Bitter, man. Gal.

Die feit bly staan, die taalgemeenskap maak self die reëls, die Taalkommissie teken die reëls op en dit word in die Afrikaanse woordelys en spelreëls gepubliseer. Ja, dié bron word voortdurend bygewerk. Ja, die reëls word hersien, aangepas, herskryf, verfyn, uitgebrei. Hierdie jaar verskyn ʼn eeufeesuitgawe, waarin die reëls vir leestekengebruik in Afrikaans en reëls vir trappe van vergelyking vir die eerste keer vervat word. ʼn Klomp mense wat gewoond is daaraan om spasies tussen woorde en vraagtekens te sit, gaan kwaad wees. Mense wat nie spasies tussen woorde en ellipsstippels sit nie, gaan net so kwaad wees. Mense wat “onmiddellik” met een d of een l skryf, gaan steeds kwaad wees, want ons spel dit steeds (net) met twee d’s en twee l’e.

Ek wonder hoekom maak dit ʼn mens so kwaad as jy uitvind jy maak ʼn taalfout. Kan jy jou voorstel dat ʼn mens in enige ander vakgebied vir ʼn vakkundige sal sê “ja, maar almal doen dit so”? As die ganse graadeenklas skryf 2+2=5, is dit skielik korrek? Nee. As jy altyd gedink het die aarde is ʼn plat klip op ʼn skilpad se rug en jy vind op ʼn dag uit dis ʼn skewe eier wat iewers in die middel van ʼn kosmos om sy eie as tol, gaan jy met ʼn astrofisikus daaroor stry? Nee wat. Jy sal dalk jou wenkbroue lig en jou oë rol, maar dit gaan jou emosioneel min kos om sulke inligting te verwerk.

Taal is anders. Baie mense praat daarvan as volksbesit. Maar taal is meer as dit, dis wat van jou mens maak. Dis hoe jy met die wêreld skakel en dis hoe jy die wêreld toelaat om met jou te skakel. Jou taalgebruik is so uniek soos jou gelaatstrekke en so deel van jou soos die moesies op jou lyf. Om uit te vind daardie moesies is “foute”, is soos foelie tussen jou tande. Dis dan wat jy vir die hele ou hoogdrawende gespuis wil sê: vlieg in julle dingese in met julle AWS en al. (En dan moet uitvind die meervoud van “dinges” het twee s’e en die v in “vlieg” moet ʼn hoofletter wees.)

My vraag aan sulke beswaardes bly altyd: Hoe reageer jy op soortgelyke foute in Engels? Is jy tevrede as mense there/their/they’re verkeerd gebruik? Gaan jy ʼn T-hemp koop en dra waarop daar staan “You is my best friend”? Gaan jy tevrede wees as jy ʼn Engelse teks lees wat klink soos ʼn oorklanking uit Afrikaans of Frans of Spaans of Mandaryns? Nee. Nou hoekom is jy dan bereid, en selfs gretig, om Afrikaans so te verslons?

Soepel taalgebruik is nie ʼn skande nie. Dis ook nie ʼn teken van naziisme of beheervraatsigheid of analiteit nie. Dis gewoon ʼn teken van kennis en bewustheid en noukeurigheid. Dis ʼn teken van respek teenoor ʼn kode en ʼn vakgebied waaraan baie kundiges baie lank voor jou al baie hard gewerk het.

ʼn Ingenieur of ʼn argitek of ʼn rekenmeester of ʼn onderwyser of ʼn teoloog wat ure lank sit en besin oor sy of haar werk is nie ʼn nazi nie. ʼn Taalmens wat dieselfde doen ook nie. En ʼn skrywer wat taal kan inspan soos ʼn swaard of ʼn skalpel, soos ʼn troos of ʼn seëning, soos ʼn begenadiging of ʼn amen, het nie daardie vaardigheid verwerf omdat hy of sy tevrede was met spelfoute en verkeerde meervoude en slordige styl en “ja, maar almal skryf so” nie.

Sluk maar die bitter pil, dis goed vir jou.

VivA-groete

Sophia

Selfs 'n sluwe linguis vang soms sy baas

Saterdag, 11 Februarie 2017 06:15

Sit ʼn taalkundige in ʼn kroeg, gemoeid slegs met sigselwers en ʼn whiskey.

ʼn Breedbeborsde, betatoeëerde bokbaard kom sit op die kruk neffensaan.

“So, what’s your name?” vra hy ná hy ʼn tapbier bestel het. Sy aksent klink Amerikaans.

Die linguis sug diep, binnensmonds. Om sy erg Afrikaanse naam en van uit te spel aan dese en gene wat nie régtig belang daarby het nie, is erg vermoeiend. Hy kies dus vir sy “restaurantnaam” – die naam wat hy gebruik as hy telefonies besprekings by ʼn restaurant maak.

“Alex Alexander.” Want of jy Afrikaans, Engels of Xhosa is, jy sukkel nie met dié naam en van nie.

“OK, I’m Peter Peterson.”

“Nice to meet you, Peter.”

Stilte.

“Sooo, what do you do for a living?” probeer Baardman die gesprek op gang kry.

Dié keer kom die taalkundige se sug effens hoorbaar uit. Dis die een vraag wat al wat ʼn linguis is vrees, want daar is gewoonlik een van vier opvolgvrae:

  • O gits, dan moet ek seker nou op my taalgebruik let?!” Dié opmerking kom veral in Afrikaanse geselskap voor, en die res van die gesprek kring dan dadelik uit na die Voortbestaan van Ons Taal en die verloedering daarvan deur die jeug. Ek ken maar weinig taalkundiges wat taalpuriste en skoolvosse is; die meeste van ons verheug ons juis in taalverandering, die variëteite van ʼn taal, tale en sprekers in kontak met mekaar. Die misterie van taal lê juis in die randverskynsels, die uitsonderings.
  • Hoeveel tale praat jy?” Daar is ʼn verskil tussen ʼn linguis en ʼn poliglot. Eersgenoemde bestudeer een of meerdere tale, die ander praat/lees/skryf/verstaan meerdere tale. Met die uitsondering van ʼn paar Afrikataalkollegas bemeester die gemiddelde linguis wat ek ken so tussen een (gewoonlik Amerikaners) en drie of vier tale (gewoonlik die tokkelokke). Prof Ernst Kotzé, oud-Taalkommissievoorsitter en ʼn vooraanstaande taalkundige, is twaalf tale magtig, maar hy is die uitsondering op die reël.
  • Mmmmm, so hoe dra jou navorsing by tot ʼn beter wêreld?” Dié ene is moeilik, want dis dalk ʼn vraag waarmee menig geesteswetenskaplike (of enige akademikus) op die een of ander tyd moet stoei. Ek antwoord gewoonlik dat, sonder taalkundiges, ons dit nie gaan regkry om rekenaars te ontwikkel wat slimmer as mense is nie. Daarom is ons noodsaaklik. Dit lei dan die gesprek flink in ander rigtings, veral as die gespreksgenoot met ʼn lyf vol tatoes rondloop.
  • Jy’s ʼn ling… wat??” Die vraag is nie so erg nie, want dan kan ʼn mens darem verduidelik dat die woord uit die Latynse lingua kom wat letterlik “tong” en later “taal” beteken het. En dan is die skakels vlot na “mother tongue” en ander woord wat met lingua verband hou. Of die gesprek hou dadelik op.

Die taalkundige se ma het hom goed opgevoed en hy antwoord Baardbek dus bedeesd: “I’m working in the language industry.”

“Oh, interesting, and in what branch of the language industry? I’m a linguist myself!”

Moet nooit ʼn man op sy baardjie takseer nie …

Eindnota: Met erkenning aan David Lightfoot, Arnold Zwicky en Geoff Pullum by wie ek intertekstueel geleen het.

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 11 Februarie 2017 verskyn.

Oor soldate, orrels en engele

Woensdag, 08 Februarie 2017 06:53

Werk anderdag deur ʼn lys woorde vir opname in VivA se databasis. Dit gaan oor uitspraak, nie oor betekenis nie, en die onderwerpe loop wyd. En so met die blaai deur amper 12 000 inskrywings is daar een wat my opval, een wat ek baie lanklaas gehoor het: “serfyntjie”.

Ek weet nie of my kind meer weet wat ʼn serfyntjie is nie. Ek weet nie of my tydgenote meer weet wat dit is nie. Dis ʼn ding uit die geskiedenis, so deel van ʼn ouer huishouding soos ʼn kolestoof en ʼn koos onder die katel – die huisorrel, waarop daar saans met boekevat voorgespeel is en dalk op ʼn Saterdagaand saam met ʼn viool en ʼn konsertina in die voorhuis musiek gemaak is sodat die jongklomp op ʼn meelbestrooide stoep kan dans.

Ek lees die eerste huisorrel is in 1735 in Suid-Afrika gebou, in opdrag van goewerneur Jan de la Fontaine. ʼn Kompanjiesamptenaar met die naam van Jan Posse was ʼn orrelbouer van beroep en het die instrument op versoek van die goewerneur vir dié se dogter gemaak. Toe die goewerneur terug is Nederland toe, het die gemeente in die Kaap die orrel by hom gekoop, en dié serfyntjie het kerkorrel geword. Die eerste orrelis wat op hom gespeel het, ene Paul Kraker, was in die week ʼn soldaat in diens van die Kompanjie.

“Serfyntjie” was ons familie se woord vir ʼn huisorrel. En al is “serfyntjie” in die WAT opgeteken, is die regte benaming daarvoor eintlik “serafyntjie” of “serafyn”, ʼn woord wat amper net so verouder is as die instrument. Volgens die Etimologiewoordeboek van Afrikaans kry ons dié woord reeds in Middelnederlands (serafijn) en het dit toe reeds verwys na ʼn engel van ʼn hoë rang. Die woord het natuurlik in Latyn gaan draai (seraphim), maar dit is reeds in Hebreeus te vinde, as ʼn afleiding van die werkwoord saraph, wat beteken “brand”. Dié verwysing slaan op Jesaja 6:6-7, waar die engel met ʼn gloeiende kool aan Jesaja se lippe geraak het en waarna die profeet sy onwilligheid om te praat oorkom het.

Die skakel tussen die orrel, die engele en die soldate het nie by Paul Kraker in die Kaap geëindig nie. In 1791 het nog ʼn soldaat, Johann Ludewig Hodderson, ‘n eenmanuaalorrel vir die Strooidakkerk in die Paarl gebou. Anton Anreith het die houtsneewerk op dié orrel se front gedoen en dit onder andere met serafyne versier.

Ek het ongelukkig nooit ons familie se serfyntjie te siene gekry nie. My oupagrootjie het as oudste seun dié instrument geërf, maar by sy dood moes my oumagrootjie by haar kinders intrek. Al die familiestukke het huise gekry, buiten die serfyntjie. Geen kind of kleinkind het nut of plek daarvoor gehad nie, en sy en die serfyntjie het alleen in die agterplaas van hulle dorpshuisie agtergebly toe die res van haar trek vort is. En omdat sy die kryger was wat sy was, het sy ʼn byl gevat, die serfyntjie in ʼn duisend stukke gekap en dit toe aan die brand gesteek. Want oor haar dooie liggaam sal ʼn familie-engel oor ʼn vreemde mens se huis die wag hou.

VivA-groete

Sophia

 

Bronne:

http://repository.up.ac.za/bitstream/handle/2263/39968/VanSchoor_%20Geskiedenis_2014.pdf?sequence=3&isAllowed=y

http://tardis.dl.ac.uk/FreeReed/organ_book/node4.html

http://www.viva-afrikaans.org/

Uitdrukkings met "bok"

Saterdag, 04 Februarie 2017 07:24

 

 

Idiome en waar hulle vandaan kom

Wat praat jy!

WAT

HAT

1

ʼn Bok vir sports

 

 

 

X

2

Hulle bokke en skape deurmekaar jaag

 

 

X

X

3

Die skape van die bokke skei

X

 

X

X

4

Bokke aanja

X

X

X

 

5

Bok ry

 

 

X

 

6

Bokke ry 

 

 

X

 

7

So bang soos ’n bok vir ‘n skoot hael

X

X

X

X

8

Hoe ouer die bok, hoe harder die horing

X

X

X

 

9

Maer bokke dip 

X

 

X

 

10

’n Ou bok lus ook nog ’n groen blaartjie

X

 

X

X

11

Ou bokke pluk die hoogste doringpeule

X

X

X

 

12

Iemand ’n Poolse bok span

X

 

X

 

13

’n Bok skiet 

X

X

X

 

14

Hy is nes ’n bok, waar hy vreet, groei niks nie 

X

X

X

 

15

Bokhorings maak 

X

 

 

 

16

Bokkesprong maak

X

 

 

 

17

Broek maak bokknieë

X

 

 

 

18

Iemand laat bokspring

X

 

 

 

19

Bokspring van vreugde

X

 

 

 

20

Bokveld toe gaan. 

X

 

 

 

21

Bokvoete ry iemand

X

 

 

 

22

Bokvoete sit agter sy nek

X

 

 

 

23

Hy is so stadig dat 'n bok nog sy kool sal afvreet.

 

X

X

 

24

'n Bok moet bossies vreet.

 

X

X

 

25

Jy kan nie 'n bok in die wingerd laat loop nie.

 

X

X

 

26

Hy is oud waar die bok hom gestoot het.

 

X

X

 

27

Hy sal onder die bok in krink.

 

X

X

 

28

As 'n bok nie skurf is nie, sal hy hom nie krap nie.

 

X

X

 

29

Ek bly liewer 'n bok op die muur.

 

X

X

 

30

Hy is die familie se bont bok.

 

X

X

 

31

Oppas! Bokke het ore!

 

X

X

 

32

Gekweste bok

 

 

X

 

33

Bokkie op die klip (miershoop) wees

 

 

X

 

34

Daar is 'n bok in die land

 

 

X

 

35

Bokke gaan oppas

 

 

X

 

36

Iemand anders se bok skiet

 

 

X

 

37

Hy het die bok by die stert gehad

 

 

X

 

38

Slyp nooit jou tande vir 'n bok wat in die bos is nie

 

 

X

 

39

Die vel verkoop voor die bok geskiet is

 

 

X

 

40

Die vleis wil braai voor die bok geskiet is

 

 

X

 

Van belhamels tot voorbokke en kapaters

Saterdag, 04 Februarie 2017 06:36

Ou bokke lus mos groen blaartjies, want hoe ouer die bok, hoe harder die horing.

Oftewel: Ouer mans vry graag na jonger persone, want hoe ouer jy is, hoe wyser is jy (en gaan jy mos nou nie sukkel met iemand wat saam met jou manklik en kranklik op die ouetehuis se stoep sit nie).

Afrikaans se idioomskat is oorlopens met woorde en uitdrukkings wat verband hou met plaasdiere en ʼn agrariese leefwêreld. Van hondsgetrou en hondmak, tot snoeshaan en janhen, tot voorbokke en agterosse. Vir die byderwetse, verstedelikte Afrikaanse hipster is ʼn Saterdagoggend by die barbierwinkel waarskynlik meer gemeensaam as wat dié uitdrukkingswyses bekend is.

In vier woordeboeke waarin ek gesoek het, kry ek nie minder nie as 41 verskillende uitdrukkings waarin die woord “bok” voorkom: van die hedendaagse “bok vir sports” tot die vergete “iemand ʼn Poolse bok span”.

Vra Anton juistement hierdie week via e-pos: “Waar kom die idiomatiese gebruik van “voorbok” vandaan?

Nou kyk, my se loopwêreld is mos daar diep in die Noordwes in, op ʼn plaas getoog. Die 1980’s was El Niñojare en daar was geld vir niks nie – allermins om my en my suster ruim van sakgeld te voorsien. In standerd 1 (graad 3) het ek begin om met hoenders te boer; skropeiers en -braaikuikens was winsgewend. In standerd 3 het ek entrepreneuries uitgebrei na boerbokboerdery, nadat my oom vir my so ʼn spogrooikop-Kalahariboerbokram met ʼn bokbaardjie present gegee het. (Noudat ek daaraan dink: nie onlykende op sommige van vandag se hipsters nie…)

Janneman was uiteindelik die dominante ram in die trop, die voorloper, die voorbok. Wie al met boerbokke geboer het, weet dat hulle mos liéf vir draadkruip is. En as jy nou ergernis met jou pa wil hê, dan moet jou voorbok (en sy hele trop) tussen jou pa se wolmerino’s loop rondwei, want sien, bokhare op skouwol is so uit soos ʼn geskeerde kinnebak by ʼn kunsuitstalling. Vandaar ook dat ons die skape van die bokke moet skei (“om die gewenstes van die ongewenstes te skei”), of juis jou bokke en skape deurmekaar jaag (“om te trou”).

Om die gedraadkruipery te voorkom, moes ek Janneman van so ʼn nektuig (gemaak uit bloekomtakke en rieme) voorsien. As jy dit nie doen nie, dan kruip die klein bogher altyd deur die drade en lei die hele trop met hom saam. Die nekding is dus ʼn meganisme om jou bokke in die kamp te hou.

Die voorbok was egter nie altyd net een ram nie. Ek kan onthou ek het 'n pragtige ooi gehad wat ook met so ʼn nektuig moes rondloop. En die opgeskote bokkies moes ook dikwels op dieselfde manier in toom gehou word. Maar as jy die voorbokke betyds geïdentifiseer het, was jou probleem opgelos.

In die alledaagse gebruik van die woord voorbok word daar meestal gesinspeel op die leier in kattekwaad, die belhamel.

Belhamel? ʼn Gekastreerde boerbok is ʼn kapater, ʼn gekastreerde skaap ʼn hamel. En soos kapaters is hamels ook voorbokke. In ʼn skaaptrop – veral in Europa – word ʼn klok (of bel) om sulke hamels se nekke gehang. Hulle is dan die bel-hamels.

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 04 Februarie 2017 verskyn.

Oor Februarie, reiniging en aflegging

Woensdag, 01 Februarie 2017 06:38

Februarie || eienaam. (Moontlik na die Romeinse god van reiniging, Februus, wat waarskynlik vernoem is na die Februa (reinigingsfeeste) wat op die vyftiende van Februus se heilige maand, Februarius, gehou is. Februus was ook die god van geld/rykdom en die dood.)

Februarie is die kortste maand van die jaar, die laaste maand van die somer in die Suidelike Halfrond, en die afsluiting van die belastingjaar, wat beteken dat dié maand min of meer dieselfde betekenis inhou vir die eienaars van sakeondernemings en die betalers van voorlopige belasting as wat dit vir die ou Romeine ingehou het.

Op 1 Februarie 1662 het generaal Koxinga van China die eiland van Taiwan ná ʼn beleg van 9 maande by die Vereenigde Oost-Indiesche Compagnie afgeneem, op dieselfde dag in 1884 is die eerste volume van die Oxford English Dictionary (A tot Ant) gepubliseer, en in 1895 het president Paul Kruger die Fonteinevallei in Pretoria tot die eerste natuurbewaringsgebied in Afrika geproklameer. Op hierdie dag in 1964 het die Beatles vir die eerste keer nommereentrefferstatus in die VSA bereik met “I want to hold your hand”, vier jaar later het Eddie Adams sy onvergeetlike en afgryslike foto van die teregstelling van Nguyen Van Lem, ʼn offisier in die Viëtkong, geneem, en in 1981 het die krieketwêreld vir ewig van sy as af gekantel toe Trevor Chappel daardie berugte onderhandse laaste bal op die MCG geboul het.

Die Amerikaners vier Vryheidsdag op 1 Februarie omdat Abraham Lincoln die Dertiende Wysiging (Thirteenth Amendment) aan die Amerikaanse Grondwet op 1 Februarie 1865 onderteken het – dit was die wysiging wat slawerny onwettig verklaar het – en op 1 Februarie 1991 het president FW de Klerk in die Suid-Afrikaanse parlement aangekondig dat alle apartheidswette herroep sou word.

Februarie is die maand van reiniging en aflegging. Mag dit ʼn maand wees waarin jou belastingverpligting teenoor die Ontvanger minder is as wat jy gedink het en die aflegging van jou ander belastings makliker is as wat jy vermoed het. En as niks anders dan help nie: Ten minste is die maand kort.

VivA-wense

Sophia

 

Bronne:

http://www.ducksters.com/history/februaryinhistory.php

https://en.wikipedia.org/wiki/February_1

http://www.etymonline.com/

http://www.nationaldaycalendar.com/national-freedom-day-february-1/

https://www.pharosaanlyn.co.za

http://www.sahistory.org.za/

http://www.viva-afrikaans.org/

NUUSARGIEF

FACEBOOK