profile pic

'Vuil taal' lewer interessante staaltjies op

Saterdag, 06 Mei 2017 Geskryf deur Gerhard van Huyssteen

Vloekwoorde en sogenaamde “vuil taal” het my – as taalkundige – nog altyd gefassineer. Dalk omdat ek in ʼn huis groot geword het waar vloek die Eerste Doodsonde was, of dalk omdat vloek soveel van die menslike psige verklap.

Hier is ʼn paar tipiese navorsingsvrae: Hoekom vloek mense? Wie vloek en wie vloek nie, en kan ons dit op grond van geslag of ouderdomsgroep voorspel? Wanneer word watter vloekwoorde gebruik? Is daar ʼn spesifieke deel in jou brein wat verantwoordelik is vir vloek? Wanneer word ʼn woord ʼn vloekwoord? Is daar sistematiek in die betekenis van vloekwoorde? Ensovoorts, ensovoorts, ensovoorts. Ten minste drie PhD-studente kan op dié vrae afstudeer.

LEES VERDER
profile pic

Om 'n storie te maak

Woensdag, 03 Mei 2017 Geskryf deur Sophia Kapp

As ʼn skrywer kry ʼn mens baie keer die vraag: Waar kry jy jou stories vandaan?

Dis ʼn maklike en ʼn moeilike vraag om te beantwoord: Stories is oral om jou. Jy hoef nie in verafgeleë plekke of eksotiese bestemmings te gaan soek na stories nie, hulle sit in die gewoonste van insidente en in die voorspelbaarste van geleenthede: die paniek van ʼn ma as haar kleuter in ʼn supermark verdwaal; ʼn tiener wat by die huis kom, flenters en verpletter oor ʼn kêrel wat haar gelos het; ʼn man wat moeg en knorrig is oor finansies wat nie wil klop nie, maar wat weer moed kry wanneer sy geliefde hom troos en sê alles sal regkom; ʼn vrou wat moet ma, huishoudster, verpleegster, versorger en berader wees en op ʼn Saterdagoggend ʼn blom voor haar bed kry. Ja, ʼn storie kan in Somalië of Indië of Oezbekistan afspeel en jou wegtrek na ʼn wêreld waarvan jy nooit geweet het nie. Maar dit hoef nie. Dit kan op ʼn gewone weeksoggend in jou eie kombuis afspeel, jy moet hom net raaksien.

Dis die maklike deel van die antwoord. Die moeilike deel is dat dié klaargemaakte stories op ʼn manier vertel moet word dat dit vir ʼn leser iets beteken. ʼn Goeie skrywer is die een wat die generiese elemente aan die waarneming kan onttrek en dit aan lesers in die vorm van ʼn storie kan aanbied waarin hulle raakpunte vind. Om in woorde te gaan sit wat elkeen van ons in ʼn bepaalde situasie ervaar en word en voel. Dis nie net moeilik nie, dis werk.

Die ding wat die werk hoegenaamd uitvoerbaar maak, is ʼn skrywer se beheersing van die taal. Want sonder woorde verwoord ʼn mens moeilik. Sonder die reikwydte van ʼn ontwikkelde woordeskat, sonder ʼn grondige begrip van beelding, van idiome, van beskrywing en omskrywing, vervlak jou vertel tot ʼn eendimensionele voorstelling van ʼn ding wat diepte moes gehad het. Ja, jy kan gestroop skryf, jy kan selfs eenvoudig skryf. Maar jy mag nooit, nooit, nooit gewoon skryf nie.

Juis daarom verstom dit my dat voornemende skrywers, veral die jongetjies, ʼn ding skryf wat klink asof dit iets is wat hulle op ʼn selfoon getik het en dan, ewe verontwaardig, vir my sê: “Ja, maar almal praat so.” Almal praat (mos) van ʼn “laptop” en van “gross” en “cool” en “awesome”. Niemand praat van ʼn “skootrekenaar” en “afgryslik” en “asembenemend” en “weids” nie, en dan skryf hulle soos hulle klink en dan klink hulle soos almal.

Die kuns van skryf lê nie (net) in jou vermoë om ʼn storie te genereer nie. Dit lê beslis nie in jou kennis van literêre teorie nie en dit lê allermins in jou skryfsels se skokwaarde. Om ʼn rits taboewoorde in ʼn sin in te ryg, of om vyftig skakerings van seks in boekvorm saam te flans, dié kan enigeen. Dis nie ʼn kuns nie, en nie eers die feit dat miljoene mense lus (ek wou ʼn ander woord hier gebruik het, maar my ouma het gesê dis onbetaamlik) genoeg was om R300 vir papierseks te betaal, maak dit goeie skryfwerk nie.

Die skrywers van hierdie wêreld wat ons verbeelding aangryp, is die skrywers wat ons meevoer. Wat vir ons wêrelde oopbreek wat ons nog nooit raakgesien het nie, al is daardie wêreld dan nou in ons eie agterplaas. Ware woordkunstenaars is dié wat ons meesleur, soos ʼn kano in ʼn stroomversnelling, en ons oor die lip van die waterval skiet sodat ons vreesloos en gewillig die onbekende inval. En of hulle nou 400 jaar gelede geskryf het, soos William Shakespeare, en of hulle eergister hulle debuut by die drukkers gaan afhaal het, ons is ewe bereidwillig om die werklikheid prys te gee en saam met hulle die onbekende aan te durf. Vir die uur of twee of tien wat ons met hulle boeke in ons hande sit, is ons heerlik, onbeskroomd en onbeskaamd in hulle mag. En ons vrek oor elke gevleuelde oomblik.

Broei daar ʼn storie in jou? Werk jy met koppe wat die volgende generasie se skrywers moet word? Dan mag jy nie toelaat dat “ja, maar almal skryf so” ooit deel word van jou denkwyse nie. Jy mag nooit tevrede wees met wat jy weet van die taal nie. Jy mag nie ophou leer, ophou lees, ophou naslaan, ophou groei nie. Jy mag nie agteroor sit en glo jy het alles tot jou beskikking om jou storie ten beste te vertel nie. Want jy is ʼn kunstenaar en al wat jy het waarmee jy jou kan onderskei, is jou woorde. Al instrument wat jy het, is die taal. Al raakpunt wat jy met jou leser het, is die vlyt waarmee jy skryf sodat hulle kan wegraak in die belewenis en nie verstrengel raak in taalslordighede nie. Jy mag, om dit so reguit te stel, nooit, ooit weer dink middelmatig is goed genoeg nie.

Hierdie blog het vantevore op Maroela Media verskyn in "Tel jou woorde".

 

 

 

LEES VERDER
profile pic

Metafore maak konsepte meer verteerbaar

Saterdag, 29 April 2017 Geskryf deur Gerhard van Huyssteen

Die meeste van ons het op skool geleer dat ʼn metafoor ʼn sogenaamde stylfiguur is – iets wat digters gebruik om hulle gedigte meer poëties te maak. Byvoorbeeld, in haar bundel Visums by verstek (2011) gebruik Joan Hambidge Suid-Amerika as metafoor van haar geliefde – net soos wat die kontinent hartstogtelik (maar ook vol teenstellings) is, so is haar geliefde “… soos Venezuela wat geen visas toestaan.”

Maar metafore is nie net digters en gedigtelesers beskore nie. Vanaf die 1980’s het daar ʼn sterk denkstroom ontwikkel dat gewone taalgebruik deurspek is van metafore. Ons gebruik elke dag konkrete dinge om meer abstrakte sake mee te verwoord.

LEES VERDER
profile pic

Hou Afrikaans bo die belt in Struggle 2.0

Saterdag, 22 April 2017 Geskryf deur Gerhard van Huyssteen

Siamese, Sfinkse, Singapuras: Dit is maar ʼn paar van die straatkatte wat meer van saffraan weet as ek van ons politiek. Terwyl ander skreeu en krys of lieg en bedrieg, pieker ek oor moraliteit en skuld en sondes van die voorvaders wat jou tot in die derde en vierde geslag toegereken sal word.

Maar al die getob lei tot weinig aksie. Terwyl ek nog sit en besluit of ek as ʼn bevoorregte wit man al aan ʼn politieke optog mag deelneem, vaar van my vriende die afgelope paar weke die strate in – tesame met duisende ander ontstokenes.

Al probeer ek ook hoe hard om nie veroordelend te wees nie, kan ek nie help nie om wenkbroue te lig oor my vriende wat heen en weer na die optogte uber. Of oor dié wat trots hulle aantal FitBit-treë rapporteer met ʼn “jippie, ek kan ʼn gratis smoothie kry!”

LEES VERDER

NUUSARGIEF

FACEBOOK