profile pic

Woorde wek, maar voorbeelde trek

Maandag, 06 Maart 2017 Geskryf deur Sophia Kapp

Ken jy dié uitdrukking? Dis in die HAT opgeneem en dit beteken presies wat jy dink dit beteken: Dit wat jy doen, praat harder as dit wat jy sê.

Hierdie beginsel geld veral vir die kinders in ons sorg. Dis ʼn duur les wat ouers en opvoeders moet leer: Dit help nie ons verwag van ons kinders optrede, gedrag, gewoontes, lewenswyses, opvattings, uitkyke, insigte, beginsels en etiese kodes wat ons nie vir onsself aangekweek het nie. Om dit in ʼn moderne idioom te stel: ʼn Kind doen wat jy doen, nie wat jy sê nie.

Ek het onlangs met ʼn groepie skoolkinders te doen gehad wat aan ʼn redenaarskompetisie gaan deelneem. (Julle weet waarvan ek praat, dis elke jaar elke ouer en elke taalonderwyser se terugkerende nagmerrie.) Die kinders was gefokus, toegewyd, bitter intelligent en dwalend. Nie een het ʼn idee gehad waar om te begin navorsing doen nie en het by my opgedaag met blanko eksamenblokke, aan die hand van ʼn juffrou wat hulle in ʼn skoolkombi gelaai het en “kundige” hulp gaan soek het. Toe ek begin praat, het hulle almal verwoed begin notas afneem, toe ek vra watter bronne hulle al geraadpleeg het, het hulle my aangekyk asof ek van hulle verwag het om die wiel te herontwerp. Een het darem op ʼn kol vir my so effe verontwaardig gesê “Ons het gegoogle, tannie!”, maar daar was klaarblyklik ook nie genoeg onderskeidingsvermoë om die koring van die kaf op die wêreld se grootste rommelhoop (ja die internet) te skei nie. Ek het hulle so gekyk en gewonder of hulle dan nie verdien om aan een van die immer groeiende bende tollenaars uitgelewer te word wat skooltoesprake teen betaling skryf nie.

Ek lees William Faulkner het reeds in 1958 gesê dat Amerikaanse skole gedaal het tot die vlak van kinderoppassers. Gelukkig is die man dood, want ek kan my net indink wat hy van dié groepie te sê sou gehad het.

Hoor vir my, ek weet daar is onderwysers wat hulle werk doen. Ek weet daar is ouers en opvoeders wat opvoed en nie net afrig nie. Maar hulle is in die minderheid. Ons sit met ʼn geslag babavoëltjies wat net weet hoe om hulle bekke te rek en te wag vir klaar verteerde kossies om in hulle keelgatte af te gly. Hulle weet nie meer hoe om hulle weg na ʼn biblioteek te vind nie, en as hulle daar kom, weet hulle nie meer hoe om kennis daarin te ontgin nie. Erger nog, as dié inligting nie ʼn uitkoms vir ʼn leereenheid is nie (netjies saamgevat in ʼn kolpuntlys met oulike ikoontjies langsaan), stel hulle nie daarin belang om dit te ontgin nie. Kort voor lank sit ons met ʼn generasie wat dink die wêreld bestaan uit dit wat hulle deur oorlewering, fopnuus op Facebook en ʼn geskinder op Snapchat geleer het. En vir so ʼn generasie is dit moontlik, en selfs vermaaklik, om die korpus kennis, die magdom insigte en navorsing en die kosbare intellektuele erfenis wat oor baie eeue deur kundiges versamel is, te minag.

My vraag is: Waar staan jy in hierdie proses? Teken jy die ikoontjies? Verteer jy die kossies namens die jong denkers in jou sorg? Lei jy nog ʼn generasie grondsluipers op wat in hulle eie nes sit en mekaar warm dinges? Of maak jy soos die ma-arend, wat op die lip van die krans nesmaak sodat sy haar kroos kan grootmaak na die beste van haar vermoë, maar hulle dan uitskop sodat hulle kan vlieg?

Hou op om kinders se toesprake te skryf. Hou op om vir hulle toesprake te koop. Leer hulle dink, sodat hulle self kan toesprake skryf. En as hulle dan steeds nie kan toesprake maak nie, leer hulle om stil te bly. Nie almal hoef openbare sprekers te wees nie. Maar almal moet hulle vlerke kan sprei en met hulle eie kragte kan vlieg.

LEES VERDER
profile pic

Taalkennis is nou 'n klik ver

Woensdag, 01 Maart 2017 Geskryf deur Sophia Kapp

Ons Woordeboekportaal het 'n paleis geword! Daar is nou 26 woordeboeke (22 daarvan gratis) tot die beskikking van geregistreerde VivA-gebruikers.

Benewens die 17 woordeboeke wat reeds op ons webwerf en aanlyn-app beskikbaar is, het ons gebruikers nou ook gratis toegang tot die volgende bronne:

  • Drietalige Wynindustriewoordeboek (Suid-Afrikaanse Wynbedryf-Inligting & -Stelsels (SAWIS) en die Netwerk van Kundigheid en Tegnologie vir die Wynbedryf (Winetech))
  • Etimologiewoordeboek van Afrikaans (GJ van Wyk, red.)
  • Fisikawoordeboek (Vaktaalburo, SAAWK)
  • Afrikaanse voëlname, opgestel deur die Afrikaanse Voëlnaamgroep van BirdLifeSA
  • Paramediese Vakwoordeboek (Vaktaalburo, SAAWK)
  • Sciwoord (Chemiewoordeboek)
  • Statistiekwoordeboek (HS Schoeman)
  • Sterrekundewoordeboek (JH de Klerk, red.)
  • Woordeboek van nuttige Afrikaanse kombinasies (Kollokasiewoordeboek) (AN Otto)

Afgesien van hierdie bronne het die Departement van Kuns en Kultuur goedgunstiglik ingestem om hulle meertalige terminologielyste, wat oor baie jare deur vak- en taalkundiges opgestel en gestandaardiseer is, aan VivA beskikbaar te stel. Die lyste dek die volgende velde:

  • Inligtings- en Kommunikasietegnologie
  • Kuns en Kultuur Intermediêre Fase
  • Lewensoriëntering Intermediêre Fase
  • MIV/VIGS
  • Parlementêre/Politiese Aangeleenthede
  • Sokker
  • Verkiesings
  • Wiskunde Intermediêre Fase

As jy nog nie by VivA geregistreer het nie, gaan sommer nou na ons webwerf by www.viva-afrikaans.org of laai ons VivA-app (Aanlyn) af. Dit is gratis. Mahala. Verniet. Vry. Kosvry. Rentevry. Verniet. Komplimentêr. Kosteloos. Pertjoema!

Die VivA-span

LEES VERDER
profile pic

“Gee die Duiwel [en die digter] wat hom toekom” (Henry IV Part I)

Woensdag, 01 Maart 2017 Geskryf deur Sophia Kapp

Vir die meeste mense is die blote naam “Shakespeare” genoeg om hulle hartkloppings te besorg. Daardie uitmergelende somermiddae ná langpouse in ʼn klaskamer wat ruik na sweet en apatie terwyl ʼn desperate onderwyser vergeefs probeer om die ontoeganklike Engels en volksvreemde beelde uit te lê, is waarskynlik onuitwisbaar in ons almal se geheue ingeëts.

ʼn Paar dapperes het dalk met Engels op universiteit aangeploeter, maar selfs daar het The Shakespeare Anthology vir die meeste ʼn geslote boek gebly. Letterlik. As dit nie vir Coles Notes was nie, het goed ʼn driekwart van alle Engelsstudente sweerlik nooit ʼn graadsertifikaat ontvang nie. So hier en daar is daar natuurlik altyd ʼn pliggie wat wou liries raak oor The Bard, maar só ʼn bleeksiel is gou eenkant toe geskuif en was vir ewig sy of haar plek in die koel groepie kwyt.

Die ironie is dat meer as net ʼn paar van Shakespeare se sêgoed vandag ingeburgerde idiome en uitdrukkings in Engels is. Dit maak nou nie saak hóé vrot jou Brits is nie, jy moes al van “good riddance” (Troilus and Cressida), “cold comfort” (The Taming of the Shrew) en “the Devil incarnate” (Titus Andronicus) gehoor het. Selfs al praat jy net van “for goodness’ sake” (Henry VIII) of jy vertel ʼn “knock-knock”-grappie (Macbeth), het jy Shakespeare aangehaal.

En soos dit nou maar met enige onsterflike skryfwerk gebeur, migreer sulke skatte oor tyd- en taalgrense heen, en kan ons vandag ons steeds daaraan verwonder en daarin verlustig. So ongelooflik as wat dit vir jou mag klink, en so onvoorsien as wat dit vir ou meneer William S self sou gewees het, is daar van Shakespeare se sestiende-eeuse uitdrukkings wat ewe gemaklik in die moderne Afrikaanse spreektaal voortleef.

Ondenkbaar? Kyk dan gou hierna:

As jy al ooit by ʼn geselligheid die “ys moes breek” (The Taming of the Shrew), het jy Shakespeare aangehaal. As jy met “ingehoue asem” (The Merchant of Venice) moes staan en toekyk hoe jou gaste jou by die einste geselligheid “uit huis en haard eet” (Henry IV Part II), het jy Shakespeare aangehaal.

As jy moes toegee “die liefde is blind” (The Merchant of Venice) en jy “voor jou geestesoog” (Hamlet) gesien het hoe “jaloesie, die groenoogmonster” (Othello) jou van binne verteer, het jy Shakespeare aangehaal.

As jy ná die tragedie “jou hart op jou mou gedra het” (Othello) en in jou “hart der harte” (Hamlet) geweet het “eind goed, alles goed” (All's Well That Ends Well), het jy Shakespeare aangehaal.

En as jy uiteindelik ʼn geliefde gevind het met ʼn “hart van goud” (Henry V) is dit “hoog tyd” (Comedy of Errors) dat jy erkenning gee aan Shakespeare wat jy so aanhaal.

En al glo jy my steeds nie, en al was Shakespeare “vir jou Grieks” (Julius Ceasar), kan ons bly wees die man is al vier eeue lank dood, anders het hy ons nou almal gedagvaar vir plagiaat!

Ja, Shakespeare is dood. Lank lewe Shakespeare!

VivA-groete

Sophia

LEES VERDER
profile pic

Taalgebruiker of speltoetser: dís die groot verskil

Saterdag, 25 Februarie 2017 Geskryf deur Gerhard van Huyssteen

Die voornaam van Bobby van Jaarsveld se sanger-suster is ........

  • Carline
  • Carlien
  • Karlien
  • Karline

Dié vraag verskyn onlangs in een van die daaglikse toetse van Beter Afrikaans, ʼn slimfoontoepassing wat jou help om jou taalgebruik te verbeter, spellingvaardighede op te skerp en kennis oor Afrikaans uit te brei.

ʼn Woedende deelnemer reageer: “Dit is belaglik dat ek moet weet hoe om haar naam te spel! Dit is ʼn algemenekennisvraag, nie ʼn taalvraag nie. Ek het geen idee wie die dame is na wie verwys is nie. Daarmee saam is die weergawe van die spelling van die naam waarmee haar ouers haar belas het nie noodwendig die ‘korrekte’ spelling nie.”

Beter Afrikaans se doel is onder andere om te help om “afgeronde” taalgebruikers op te lei. 'n Afgeronde taalgebruiker is ʼn ingeligte taalgebruiker.

Die doyenne van Afrikaanse nuuslesers, Mariëtta Kruger, het my jare gelede ʼn belangrike les geleer: ʼn Nuusleser moet nie net goed kan artikuleer, woorde korrek kan uitspreek en sinne behoorlik kan fraseer nie. ʼn Goeie nuusleser is iemand wat wéét wat in die nuus gebeur, wat ʼn besonder goeie algemene kennis het. Want slegs dan kan jy die nuus met gesaghebbendheid en die nodig patos oordra.

En dié les geld elke taalgebruiker.

Kom ons volg ʼn bietjie die argument van die woedende Beter Afrikaans-gebruiker. As daar van taalgebruikers geen algemene kennis veronderstel mag word nie, hoe kan ons dan verwag dat iemand moet weet dat daar ʼn verskil is tussen die “Nuwe Testament” en ʼn “nuwe testament”? Dit verg tog algemene kennis – of jy ʼn christen is of nie – om te weet dat ons “Nuwe Testament” in Afrikaans in 'n bybelse konteks met hoofletters skryf. Net so verg dit taalkennis én algemene kennis om te weet dat beide “bybelse” en “Bybelse” korrekte skryfwyses is (kyk reël 9.19 in die AWS).

Dieselfde argument geld baie ander eiename. Ek verwag van ʼn afgeronde taalgebruiker om te weet hoe om die skrywer Etienne Leroux (en nie Ettienne le Roux nie) se naam te skryf, of om ten minste te weet wie Oscar Pistorius is (en dat sy naam nie Oskar Pretorius is nie). Of dat ons adjunkstaatspresident se van Ramaphosa (en nie Rammaposa nie) is. Of dat Mpumalanga (en nie Mphumalangha nie) aan die Nasionale Krugerwildtuin grens.

As jy in ʼn e-pos die uitvoerende direkteur van jou maatskappy se van verkeerd skryf, is dit maar oukei? As ʼn nuusleser na ʼn Verenigde Stater (in plaas van Amerikaner) verwys, is dit ook maar aanvaarbaar? Nee, of jy nou ʼn skoolleerder, Facebookskrywer, e-possenier of joernalis is, die korrekte skryfwyse én spelling van eiename is deel van jou vereiste taalkennis.

ʼn Taalgebruiker sonder wêreldkennis is niks anders (of beter) as ʼn speltoetser nie.

As iemand nie weet wie Bobby of Karlien van Jaarsveld is nie, of wie Oscar Pistorius is, of wat die Nuwe Testament is, of watter provinsies waar in ons land is nie, help Beter Afrikaans hulle hopelik om ook hulle algemene kennis uit te brei. Perdalks leer diesulkes ook van Google en Wikipedia. Anders vra ek hulle maar om groete te stuur vir Rip van Winkel.

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 25 Februarie 2017 verskyn.

LEES VERDER

NUUSARGIEF

FACEBOOK