profile pic

Internasionale Moedertaaldag

Dinsdag, 21 Februarie 2017 Geskryf deur Sophia Kapp

21 Februarie 2017

 

Ek het grootgeword in 'n familie wat Afrikaans se pynlikste ontluikingsjare beleef het. My oupa was een van dié wat op 'n stoel moes staan met donkie-ore aan omdat hy Afrikaans gepraat het in 'n land wat hom wou verengels. 

Hulle het hard gewerk om Afrikaans te bevorder, my grootouers. In Natal, die provinsie wat vandag nog effe trots is op sy bynaam "The Last Outpost". Dit was nie maklik nie. Hulle is daarvoor gehoon, soms selfs verneder. Maar hulle het op hulle beskeie manier gedoen wat hulle kon vir die taal - seker gemaak hulle drie kinders word in Afrikaans onderrig, Afrikaanse boeke gekoop, Afrikaanse films ondersteun, Afrikaans keurig gepraat.

Maar nie my ouma of my oupa was taalimperialiste nie. Hulle kon albei Zoeloe praat, my oupa so vlot dat jy toe-oë nie sou kon agterkom hy is nie 'n moedertaalspreker nie. En hy het dié taal as 'n volwassene aangeleer, uit noodsaak en uit respek vir die mense wat langs hom in Zoeloeland se suikerrietlande panga geswaai het.

Onthou vandag, op hierdie dag, dat jou moedertaal jou trots mag en moet wees, dat jou hart daarvoor mag klop en dat jy hard mag werk om Afrikaans te beskerm en te bevorder. Maar onthou ook dat dié voorreg almal toekom. Ander mense se moedertale is hulle trots. Respekteer dit.

Die manier om jou taal ten beste te dien, is gewoon om hom te gebruik. Om hom te lees en te skryf en seker te maak jou kinders word in hom onderrig. Om Afrikaanse kunstenaars, skrywers en publikasies te ondersteun. En om, wanneer jy self jou taal aanwend, seker te maak jy werk met 'n geslypte beitel. Want dis net dan wat jou woorde en jou werk in die sterre in loop.

Ek kry 'n klein klein beiteltjie,
ek tik hom en hy klink;
toe slyp ek en ek slyp hom
totdat hy klink en blink.

Ek sit 'n klippie op 'n rots:
- mens moet jou vergewis:
'n beitel moet kan klip breek
as hy 'n beitel is  -

ek slaat hom met my beiteltjie
en dié was sterk genoeg:
daar spring die klippie stukkend
so skoon soos langs 'n voeg:

toe, onder my tien vingers bars
die grys rots middeldeur
en langs my voete voel ek
die sagte aarde skeur,

die donker naat loop deur my land
en kloof hom wortel toe -
só moet 'n beitel slaan
wat beitel is, of hoé?

Dan, met twee goue afgronde
val die planeet aan twee
en oor die kranse, kokend,
verdwyn die vlak groen see

en op die dag sien ek die nag
daar anderkant gaan oop
met 'n bars wat van my beitel af
dwarsdeur die sterre loop.

NP van Wyk Louw

LEES VERDER
profile pic

Eens toe daar 'n tweetalige lugruim was

Saterdag, 18 Februarie 2017 Geskryf deur Gerhard van Huyssteen

Dis 1986. Iewers in die lug tussen Nigel en Springs bo die Central Flying School Dunnottar kontak ʼn desperate vlieënier van die Suid-Afrikaanse Lugmag die beheertoring:

Dunnotar-naderingsbeheer, dit is Harvard 6437. Ons is reg bo, in aansluiting by ons aanvanklike  nadering. Nademaal ons kekkeldoos onklaar geraak het, kan Johannesburg se beheerde lugruim nie binnegedring word nie. Ons versoek u aansluitingsklaring vir ’n volle landing.

Dis nie ’n grappie nie en allermins versonne.

My vriend Brendon is ʼn vlieënier, en hy vertel van vervloë dae toe ons lugruim tweetalig was. In die 1970-80’s was leerlingvlieëniers van die Suid-Afrikaanse Lugmag verplig om lugvaartterminologie in Engels én Afrikaans te beheers. Al om die ander week is Afrikaans as radiotaal gebruik.

Oor ʼn glas whiskey leer Brendon my ʼn paar Afrikaanse lugvaartterme:

  • rol, gier en hei: Vliegtuie beweeg vry op drie asse. Wanneer jy beweeg op die denkbeeldige as wat van voor tot agter in die vliegtuig strek, rol (roll) jy met behulp van die rolroer (aileron); op die horisontale vlerk-tot-vlerk-as hei (pitch) jy met die hoogteroer (elevator); en op die vertikale as gier (yaw) jy met jou rigtingsroer (rudder). Op die internet is daar oulike animasies wat dié konsepte mooi demonstreer.
  • wannadering, wentel en waas: Die naaste wat ek ooit aan my Heiland was, was op ʼn keer toe ons vir ʼn Taalkommissiesitting moes afvlieg Port Elizabeth toe. ʼn Storm van Ou Testamentiese omvang het oor Die Baai gewoed. Uit die venstertjies kon ons sien dat die hele stad in ʼn verwoedende waas (haze) gehul was. Daar was ʼn kwaai dwarswind (crosswind) wat eers gekrimp (backed) en dan geruim (veered) het. Ons het ʼn paar keer om die lughawe gewentel (orbited) en toe het die vlieënier sy bes probeer … Ná twee wannaderings (missed approaches) en een deurlooplanding (touch-and-go landing) het die liewe kaptein weer die eindnaderingsgebooie (landing checks) laat loop en ons uiteindelik met ʼn suksesvolle volle landing (full-stop landing) terug op moeder aarde op die laaiblad (apron) gehad. Ons arme TK-lede was senuweeorrels wat slegs met onverdunde alkohol en skoon onderklere gekalmeer kon word.
  • Tongknopers: Probeer presisienaderingsbaanaanwyser (precision approach path indicator), sigvlugreëls (visual flight rules) en vliegveldvluginligtingsdiens (aerodrome flight information service) vinnig sê.
  • lusvlug, tolvlug en ry: Ek het eers gedink dat ʼn lusvlug ʼn rit in eerste klas is, maar nee, ʼn lusvlug is ʼn loop, tolvlug is spin, en ry is taxi. Ek wonder nog altyd hoekom ons in Engels moet wag vir taxi clearance (ryklaring) voor ons op die taxiway (rybaan) kan taxi (ry). As ek met ʼn minibus wou reis, het ek duimgery, dankie.
  • En dan is daar die vliegtuigonderdele: Ek het nog altyd gedog knormoer (starter) is een van daardie anekdotiese woorde wat in lysies verskyn om te wys hoe grappig Afrikaans is. Wrintiewaar, hy staan in Brendon se termlys! Die throttle is ʼn gasarm (sinoniem vir prostetiese ledemaat?), en die manifold drain cock (!) is ’n spruitstukaftapkraan. My naasgunsteling is die vaan (of ook die steek) van die lugskroef (pitch of the propeller), en my gunsteling is kekkeldoos (transponder).

As ek eendag groot is, gaan ek ʼn hygroman skryf met die titel “Faan en die kekkeldoos”.

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 18 Februarie 2017 verskyn.

LEES VERDER
profile pic

Slegte medisyne

Dinsdag, 14 Februarie 2017 Geskryf deur Sophia Kapp

Kry anderdag ʼn navraag van ʼn gebruiker: Hoe spel ʼn mens [...]? Tipiese soort navraag, ek stuur ʼn tipiese soort antwoord. Sy sê dankie, maar dis ʼn dankie met stekels. Want iemand het haar oor die vingers getik oor haar spelling en sy het by my kom bevestiging soek dat sy reg was. En toe was sy nie.

Die reaksie daarop was ook tipies: Ja, maar almal skryf so. En hoekom kan sy nie reg wees nie? Sy skryf dit al jare so en nou is dit ewe skielik verkeerd. Wie maak sulke volksvreemde reëls, en wie het nou eintlik aan dié onheilige kliek in hulle ivoortoring die reg en die mag gegee om die gewone gebruiker ontoereikend te verklaar? Wie se taal is dit in elk geval?

Dis ʼn bitter pil om te sluk, ek weet. Ons moes hom al almal afwurg – daardie een waar jy tot in jou siel toe oortuig is jy is reg en dan uitvind jy is nie. Bitter, man. Gal.

Die feit bly staan, die taalgemeenskap maak self die reëls, die Taalkommissie teken die reëls op en dit word in die Afrikaanse woordelys en spelreëls gepubliseer. Ja, dié bron word voortdurend bygewerk. Ja, die reëls word hersien, aangepas, herskryf, verfyn, uitgebrei. Hierdie jaar verskyn ʼn eeufeesuitgawe, waarin die reëls vir leestekengebruik in Afrikaans en reëls vir trappe van vergelyking vir die eerste keer vervat word. ʼn Klomp mense wat gewoond is daaraan om spasies tussen woorde en vraagtekens te sit, gaan kwaad wees. Mense wat nie spasies tussen woorde en ellipsstippels sit nie, gaan net so kwaad wees. Mense wat “onmiddellik” met een d of een l skryf, gaan steeds kwaad wees, want ons spel dit steeds (net) met twee d’s en twee l’e.

Ek wonder hoekom maak dit ʼn mens so kwaad as jy uitvind jy maak ʼn taalfout. Kan jy jou voorstel dat ʼn mens in enige ander vakgebied vir ʼn vakkundige sal sê “ja, maar almal doen dit so”? As die ganse graadeenklas skryf 2+2=5, is dit skielik korrek? Nee. As jy altyd gedink het die aarde is ʼn plat klip op ʼn skilpad se rug en jy vind op ʼn dag uit dis ʼn skewe eier wat iewers in die middel van ʼn kosmos om sy eie as tol, gaan jy met ʼn astrofisikus daaroor stry? Nee wat. Jy sal dalk jou wenkbroue lig en jou oë rol, maar dit gaan jou emosioneel min kos om sulke inligting te verwerk.

Taal is anders. Baie mense praat daarvan as volksbesit. Maar taal is meer as dit, dis wat van jou mens maak. Dis hoe jy met die wêreld skakel en dis hoe jy die wêreld toelaat om met jou te skakel. Jou taalgebruik is so uniek soos jou gelaatstrekke en so deel van jou soos die moesies op jou lyf. Om uit te vind daardie moesies is “foute”, is soos foelie tussen jou tande. Dis dan wat jy vir die hele ou hoogdrawende gespuis wil sê: vlieg in julle dingese in met julle AWS en al. (En dan moet uitvind die meervoud van “dinges” het twee s’e en die v in “vlieg” moet ʼn hoofletter wees.)

My vraag aan sulke beswaardes bly altyd: Hoe reageer jy op soortgelyke foute in Engels? Is jy tevrede as mense there/their/they’re verkeerd gebruik? Gaan jy ʼn T-hemp koop en dra waarop daar staan “You is my best friend”? Gaan jy tevrede wees as jy ʼn Engelse teks lees wat klink soos ʼn oorklanking uit Afrikaans of Frans of Spaans of Mandaryns? Nee. Nou hoekom is jy dan bereid, en selfs gretig, om Afrikaans so te verslons?

Soepel taalgebruik is nie ʼn skande nie. Dis ook nie ʼn teken van naziisme of beheervraatsigheid of analiteit nie. Dis gewoon ʼn teken van kennis en bewustheid en noukeurigheid. Dis ʼn teken van respek teenoor ʼn kode en ʼn vakgebied waaraan baie kundiges baie lank voor jou al baie hard gewerk het.

ʼn Ingenieur of ʼn argitek of ʼn rekenmeester of ʼn onderwyser of ʼn teoloog wat ure lank sit en besin oor sy of haar werk is nie ʼn nazi nie. ʼn Taalmens wat dieselfde doen ook nie. En ʼn skrywer wat taal kan inspan soos ʼn swaard of ʼn skalpel, soos ʼn troos of ʼn seëning, soos ʼn begenadiging of ʼn amen, het nie daardie vaardigheid verwerf omdat hy of sy tevrede was met spelfoute en verkeerde meervoude en slordige styl en “ja, maar almal skryf so” nie.

Sluk maar die bitter pil, dis goed vir jou.

VivA-groete

Sophia

LEES VERDER
profile pic

Selfs 'n sluwe linguis vang soms sy baas

Saterdag, 11 Februarie 2017 Geskryf deur Gerhard van Huyssteen

Sit ʼn taalkundige in ʼn kroeg, gemoeid slegs met sigselwers en ʼn whiskey.

ʼn Breedbeborsde, betatoeëerde bokbaard kom sit op die kruk neffensaan.

“So, what’s your name?” vra hy ná hy ʼn tapbier bestel het. Sy aksent klink Amerikaans.

Die linguis sug diep, binnensmonds. Om sy erg Afrikaanse naam en van uit te spel aan dese en gene wat nie régtig belang daarby het nie, is erg vermoeiend. Hy kies dus vir sy “restaurantnaam” – die naam wat hy gebruik as hy telefonies besprekings by ʼn restaurant maak.

“Alex Alexander.” Want of jy Afrikaans, Engels of Xhosa is, jy sukkel nie met dié naam en van nie.

“OK, I’m Peter Peterson.”

“Nice to meet you, Peter.”

Stilte.

“Sooo, what do you do for a living?” probeer Baardman die gesprek op gang kry.

Dié keer kom die taalkundige se sug effens hoorbaar uit. Dis die een vraag wat al wat ʼn linguis is vrees, want daar is gewoonlik een van vier opvolgvrae:

  • O gits, dan moet ek seker nou op my taalgebruik let?!” Dié opmerking kom veral in Afrikaanse geselskap voor, en die res van die gesprek kring dan dadelik uit na die Voortbestaan van Ons Taal en die verloedering daarvan deur die jeug. Ek ken maar weinig taalkundiges wat taalpuriste en skoolvosse is; die meeste van ons verheug ons juis in taalverandering, die variëteite van ʼn taal, tale en sprekers in kontak met mekaar. Die misterie van taal lê juis in die randverskynsels, die uitsonderings.
  • Hoeveel tale praat jy?” Daar is ʼn verskil tussen ʼn linguis en ʼn poliglot. Eersgenoemde bestudeer een of meerdere tale, die ander praat/lees/skryf/verstaan meerdere tale. Met die uitsondering van ʼn paar Afrikataalkollegas bemeester die gemiddelde linguis wat ek ken so tussen een (gewoonlik Amerikaners) en drie of vier tale (gewoonlik die tokkelokke). Prof Ernst Kotzé, oud-Taalkommissievoorsitter en ʼn vooraanstaande taalkundige, is twaalf tale magtig, maar hy is die uitsondering op die reël.
  • Mmmmm, so hoe dra jou navorsing by tot ʼn beter wêreld?” Dié ene is moeilik, want dis dalk ʼn vraag waarmee menig geesteswetenskaplike (of enige akademikus) op die een of ander tyd moet stoei. Ek antwoord gewoonlik dat, sonder taalkundiges, ons dit nie gaan regkry om rekenaars te ontwikkel wat slimmer as mense is nie. Daarom is ons noodsaaklik. Dit lei dan die gesprek flink in ander rigtings, veral as die gespreksgenoot met ʼn lyf vol tatoes rondloop.
  • Jy’s ʼn ling… wat??” Die vraag is nie so erg nie, want dan kan ʼn mens darem verduidelik dat die woord uit die Latynse lingua kom wat letterlik “tong” en later “taal” beteken het. En dan is die skakels vlot na “mother tongue” en ander woord wat met lingua verband hou. Of die gesprek hou dadelik op.

Die taalkundige se ma het hom goed opgevoed en hy antwoord Baardbek dus bedeesd: “I’m working in the language industry.”

“Oh, interesting, and in what branch of the language industry? I’m a linguist myself!”

Moet nooit ʼn man op sy baardjie takseer nie …

Eindnota: Met erkenning aan David Lightfoot, Arnold Zwicky en Geoff Pullum by wie ek intertekstueel geleen het.

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 11 Februarie 2017 verskyn.

LEES VERDER

NUUSARGIEF

FACEBOOK