profile pic

Verseker of vir seker is soms 'n taai tameletjie

Saterdag, 25 Maart 2017 Geskryf deur Gerhard van Huyssteen

“Jy moet verseker jou kar by Verseker laat verseker.”

Kon jy dadelik die twee foute in die eerste sin raaksien?

Die eerste fout is die bywoord *verseker wat “sonder twyfel” of “beslis” beteken en wat eintlik binne hierdie konteks “vir seker” moes wees. Die tweede ene is *Verseker wat “Virseker” (die naam van ʼn maatskappy) moet wees.

LEES VERDER
profile pic

Mal-vir-woorde

Donderdag, 16 Maart 2017 Geskryf deur Gerhard van Huyssteen

As daar nou een ding is waaroor ek gek is, is dit Afrikaanse popmusiek.  Ek is mal daarvoor om ure lank in die swembad te dobber, terwyl my hoëtroustel Afrikaanse musiek uitdoef-doef.

Opgelet wat ek daar gedoen het? Ek skryf: “… waaroor ek gek is …”, maar: “… ek is mal daarvoor …”. Overgeset synde: “Ek is gek oor iets”, maar: “Ek is mal vir iets”.

Iemand tik my die anderdag gemoedelik oor die vingers omdat ek altyd “mal vir X” sê, byvoorbeeld: “Ek is mal vir jou bloes, meisie!”

Die konstruksie “gek oor X” (en variante daarvan) is 'n interessant ene in Afrikaans, Nederlands en Engels.

Standaardwoordeboekwebwerwe soos oxforddictionaries.com en thefreedictionary.com sê dat ons in Engels “crazy about X” sê, asook “mad about X”. Maar as jy bietjie rondgoogle, dan sien jy Engelse liedjies met die titels Crazy about you, Crazy for you én Crazy over you, net soos Mad about you, Mad for you én Mad over you. Is dit nou net weer die musiekmakers wat sulke wanstaltige taal gebruik?  Nee, hoor, ander gebruikers steur hulle ewe min aan die woordeboeke. In die NOW Corpus (meer as 4 miljard woorde) kom al hierdie wisselvorme voor, telkens in volgorde van frekwensie: “about” > “for” > “over”.

My Nederlandse woordeboeke sê die Hollanders is “gek op X” of “dol op X”. Dit lyk of die skrywende Nederlandse volk meer geneigd is om binne die lyne in te kleur. In die OpenSoNaR-korpus (500 miljoen woorde) is “gek/dol op X” bykans die enigste vorme. ʼn Paar keer steek “gek met X” kop uit, en in Vlaandere sê hulle ook “zot van X” (soos ons “versot op X”).

Wat sê Afrikaanse woordeboeke? Ek het gaan kyk in die vertroude HAT, WAT en Tweetalige Voorsetselwoordeboek (VSW), asook in die splinternuwe Kollokasiewoordeboek (KW) van Annél Otto:

  • gek oor X: HAT; KW
  • gek na X: WAT; VSW; KW
  • dol oor X: HAT; WAT; VSW; KW
  • dol op X: HAT; WAT; KW
  • mal oor X: HAT; WAT; VSW

Volgens die woordeboeke is ek tereg oor die vingers getik omdat ek “mal vir X” sê. WAT gee darem toe dat dit “meestal met oor” gebruik word. Wat doen ander Afrikaanse gebruikers? O, hulle hou vir hulle streng by die boek, hoor! Data op VivA se Korpusportaal (met meer as 85 miljoen woorde) bevestig die patrone hier bo volledig. Geen uitsonderings nie!

Het ek dan die pad byster geraak? Waar kom ek aan “mal vir X”? Dis onwaarskynlik dat dit onder Engelse invloed is, want “crazy/mad about X” kom steeds verreweg die meeste voor. Ook Nederlands is dit nie.

Ek vermoed dit het ontstaan na analogie van “lief vir X”. Die WAT dui immers “ingenome met”, “lief vir” en “versot op” aan as sinonieme vir “gek na X”.

En as jy nou gaan loop staan google vir is mal vir, dan is daar trefslae legio. Ek is in goeie geselskap, want Anna-Mart van der Merwe sê in ʼn onlangse Sarie: “Ek is mal vir Afrikaans, my moedertaal. Dit is deel van my gene, my ritme en grein.”

Dalk is dit die ritme van Afrikaanse popmusiek wat ons albei se taal verryk …

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 18 Maart 2017 verskyn.

LEES VERDER
profile pic

By die deur uit met agtersetsels

Dinsdag, 14 Maart 2017 Geskryf deur Suléne Pilon

Marc van Oostendorp skryf onlangs op Neerlandistiek, 'n aanlyn tydskrif vir navorsing oor Nederlandse taal- en letterkunde, dat agtersetsels en rondomsetsels naas voorsetsels in Afrikaans, soos ook in Nederlands die geval is, voorkom. Ponelis (1979: 176 – 177) lys ook ʼn aantal voorbeelde van wat hy as Afrikaanse agtersetsels beskou. Dit is egter nie ʼn uitgemaakte saak dat agtersetsels en/of rondomsetsels wel in Afrikaans gebruik word nie, aangesien die voorbeelde wat Van Oostendorp en Ponelis as agtersetsels/rondomsetsels beskou, myns insiens anders geanaliseer behoort te word. Ek sit vervolgens kortliks uiteen waarom ek nie met Van Oostendorp saamstem nie en sluit af met enkele opmerkings oor die Ponelisvoorbeelde.

Afrikaans maak van verskeie soorte konstruksies gebruik om ruimtelike (en by uitbreiding ook temporele) posisie aan te dui. Prototipies word bywoorde en setsels daarvoor gebruik. Dit is nie maklik om setsels en bywoorde van mekaar te onderskei nie. Omdat hierdie woordsoortkategorieë so baie oorvleuel wat vorm en betekenis betref, is daar al aangedui dat dit nie optimaal is om te probeer om woorde streng tussen hierdie kategorieë te verdeel nie (Langacker 2008: 177). Daar is selfs al voorgestel dat setsels en bywoorde een woordsoortkategorie behoort te wees (Mackenzie 2001). (Aangesien sommige adjektiewe vormlik identies aan bywoorde is, word adjektiewe ook deur byvoorbeeld Langacker (2008) bygevoeg in die groep van woorde wat oorvleuel wat vorm en funksie betref. Vir die doeleindes van hierdie blog word adjektiewe egter buite rekening gelaat.)

Volgens Van Rooy (2017) vertoon die bywoordkategorie nie ʼn sterk eenheidskarakter nie, wat natuurlik ook bydra tot die kategoriseringsprobleem, en moet bywoorde hoofsaaklik op grond van hul sintaktiese rol geïdentifiseer word. Setsels kan verder verdeel word in voorsetsels, agtersetsels en rondomsetsels (dit word kortliks hier onder beskryf). Setsels kan, soos hier bo genoem, net soos bywoorde lyk en stem baie met bywoorde ooreen wat betekenis betref. Die onderskeid tussen setsels en bywoorde word in Afrikaans verder gekompliseer deur werkwoordpartikels wat vormlik identies kan wees aan setsels/bywoorde, maar wat funksioneer as deel van ʼn geskeide skeibare werkwoord. Vergelyk byvoorbeeld (1) – (3.1) waar in onderskeidelik ʼn voorsetsel, bywoord en werkwoordpartikel is. (Die onderstaande voorbeelde is, tensy anders vermeld, óf geneem uit Van Oostendorp se artikel, óf is aangepaste weergawes van voorbeelde wat hy gebruik.)

1. Die kat is in die kombuis.(My voorbeeld)

2. Die huis staan tussen die twee winkels in. (Voorbeeld uit HAT6)

3.1. Hy loop by die deur in.

Daar is egter riglyne wat gebruik kan word om hierdie woordsoorte van mekaar te onderskei. Die maklikste een om uit te ken, is die werkwoordpartikel. Werkwoorde kan net skeibaar wees in die teenwoordige tyd; die verledetydvorm van hierdie werkwoorde is altyd onskeibaar en word daarom altyd vas geskryf. Dit is uit (3.3) en (3.4) duidelik dat in in (3.1) en (3.2) ʼn werkwoordpartikel is en nié ʼn agtersetsel of ʼn bywoord nie, aangesien in aan geloop vas geskryf moet word in die verlede tyd. Dit is ook hoekom Van Oostendorp se voorbeelde *Hy het geloop by die deur in en *Hy het geloop die deur in foutief is in Afrikaans – die in is in albei gevalle nie ʼn agtersetsel wat los van geloop kan funksioneer nie. Dit is ʼn werkwoordpartikel wat aan die werkwoord vas geskryf moet word in die verlede tyd.

ʼn Sinstuk is ʼn “woordgroep wat as eenheid in sinne optree, en sentreer rondom ʼn kernelement wat die stuk sy naam gee” (Van Rooy 2017). ʼn Setselstuk bestaan in Afrikaans prototipies uit ʼn voorsetsel en ʼn naamwoordstukkomplement (met ʼn naamwoord as kernelement), maar sou ook uit ʼn agtersetsel of rondomsetsel en naamwoordstukkomplement kon bestaan. As in in (3.1) ʼn setsel is, beteken dit dat by ... in ʼn rondomsetsel is en dat die setselstuk in hierdie geval by die huis in moet wees. Aangesien ʼn vereiste van ʼn sinstuk is dat dit as eenheid moet optree, moet die hele setselstuk saam skuif wanneer dit in ʼn sin rondgeskuif word. Wanneer die setselstuk in (3.1) egter vooropgestel word soos in (3.2), skuif in nié saam na die voorkant van die sin toe nie. Dit is daarom duidelik dat die setselstuk in (3.1) net bestaan uit by die huis en dat in nie ʼn setsel is wat deel is van die setselstuk *by die huis in nie.

3.2. ?By die deur loop die man in.

3.3. Die man het by die deur ingeloop.

3.4. ?By die huis het die man ingeloop.

Dit los dus die problematiese onversoenbaarheid wat Van Oostendorp identifiseer tussen (4.1) – (4.4) op. Voorbeeld (4.3) kan as (4.4) omgestel word omdat na die swembad ʼn setselgroep is met na as voorsetsel en die swembad as naamwoordstukkomplement. Daarenteen is in in (4.1) en (4.2) ʼn werkwoordpartikel wat in (4.1) korrek aan die verledetydwerkwoord geloop vas geskryf word, maar wat in (4.2) verkeerdelik van die verledetydwerkwoord geskei word.

4.1. Hy het (by) die deur ingeloop. [Van Oostendorp skryf verkeerdelik *Hy het die deur in geloop.]

4.2. *Hy het geloop (by) die deur in.

4.3. Hy het na die swembad geloop.

4.4. Hy het geloop na die swembad.

ʼn Belangrike onderskeid tussen setsels en bywoorde is die feit dat bywoorde byna altyd ʼn opsionele element van die sin is wat daarom buigsaam is wat sintaktiese gedrag betref (Van Rooy 2017). Daarteenoor neem ʼn setsel altyd ʼn naamwoordstuk as komplement. ʼn Voorsetsel staan verpligtend direk voor sy naamwoordkomplement, ʼn agtersetsel staan verpligtend direk ná sy naamwoordkomplement en ʼn rondomsetsel staan verpligtend rondom, met ander woorde voor en ná, sy naamwoordkomplement. Setsels is dus nié sintakties buigsaam nie. Gegewe die feit dat (5.1) en (5.2) betekenisgewys identies aan mekaar is, kan toe in (5.1) as opsionele element beskou word. Toe behoort daarom eerder as bywoord, en nie as agtersetsel nie, gekategoriseer te word.

5.1. Hulle het na die swembad toe gehardloop.

5.2 Hulle het na die swembad gehardloop.

Van Oostendorp identifiseer dus geen voorbeelde van agtersetsels of rondomsetsels in Afrikaans nie. Ponelis (1979: 176 – 177) identifiseer egter verskeie verdere voorbeelde van wat hy as agtersetsels beskou. Sommige van hierdie voorbeelde bevat duidelik eerder bywoorde as setsels. Vergelyk byvoorbeeld (6.1) waar deur ʼn bywoord is wat met ʼn ander bywoord soos lank (soos in (6.2)) vervang kan word. Ander van Ponelis se voorbeelde verdien egter om verder ondersoek te word.

6.1. Ek het my lewe deur perd gery. (Ponelisvoorbeeld)

6.2. Ek het my lewe lank perd gery. (Variant van Ponelis se voorbeeld)

7.1. Moenie jou heil buite God om probeer vind nie. (Ponelisvoorbeeld)

7.2. Moenie jou heil buiteom God probeer vind nie. (Omstelling van Ponelis se voorbeeld)

8. Hulle verstandhouding het oor die jare heen inniger geword. (Ponelisvoorbeeld)

9.1. Dit is oor die hele wêreld bekend. (Omstelling van Ponelis se voorbeeld)

9.2. Dit is bekend oor die hele wêreld. (Omstelling van Ponelis se voorbeeld)

9.3. Dit is bekend die hele wêreld oor. (Omstelling van Ponelis se voorbeeld)

Uit (7.1) en (8) blyk dit dat die saamgestelde setsels buiteom en oorheen skeibaar is en in spesifieke kontekste rondom hul naamwoordkomplemente kan voorkom. Dit word ondersteun deur die feit dat (7.1) as (7.2) omgestel kan word. Dit is onduidelik of hierdie setsels onder hierdie omstandighede as rondomsetsels gekategoriseer behoort te word, maar om in (7.1) en heen in (8) kan definitief nie as agtersetsels beskou word nie. Wat (9.3) betref, is dit belangrik om eers te noem dat woordvolgorde in alle tale, en dus ook in Afrikaans, verander of aangepas kan word ter wille van poëtiese trefkrag of om nadruk te plaas op sekere elemente in die sin. In (3.2) en (3.4) word die vooropstelling van die setselstuk by die huis byvoorbeeld gebruik om die plek van die gebeurtenis te beklemtoon. In plaas daarvan om oor in (9.3) as agtersetsel te beskou, sou (9.3), net soos (9.2), as ʼn poëtiese omstelling van (9.1) beskou kon word. Die feit dat die setselstuk oor die hele wêreld om poëtiese redes omgestel kan word as die hele wêreld oor maak nie noodwendig van oor in die laasgenoemde setselstuk ʼn agtersetsel nie.

Daar is dus nog heelwat navorsing wat oor Afrikaanse setsels gedoen moet word. Skynbaar skeibare Afrikaanse setsels, soos in (7.1) en (8), behoort ondersoek te word en vergelyk te word met rondomsetsels in tale soos Koerdies om te bepaal of dié Afrikaanse setsels as rondomsetsels gekategoriseer behoort te word. Afrikaanse setsels wat ná hul naamwoordkomplemente voorkom, soos in (9.3), moet ondersoek word en vergelyk word met agtersetsels in onder andere Hindi en Japannees om vas te stel of dit waarlik agtersetels is. Tot tyd en wyl is ek egter nie oortuig dat agtersetsels en rondomsetsels naas voorsetsels in Afrikaans aangewend kan word om ruimtelike en temporele posisie aan te dui nie.

Aangehaalde bronne

Mackenzie, J.L., 2001. Adverbs and adpositions: the Cinderella categories of Functional Grammar. Revista Canaria de Estudios Ingleses42, pp.119-135.

Langacker, R.W., 2008. Cognitive grammar: A basic introduction. New York: Oxford University Press.

Luther, J., Pfeiffer, F. & Gouws, R.H. (reds.). 2015. Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Kaapstad: Pearson.

Ponelis, F.A., 1979. Afrikaanse sintaksis. Pretoria: Van Schaik.

Van Rooy, A.J. 2017. Afrikaanse sintaksis, funksioneel benader. In Carstens, W.A.M.C. & Bosman, N. (reds.). Kontemporêre Afrikaanse taalkunde. 2e Uitgawe. Pretoria: Van Schaik.

LEES VERDER
profile pic

Spogtyd: Ontmoet ons beurshouers

Dinsdag, 14 Maart 2017 Geskryf deur Sophia Kapp

VivA het vir die 2017-studiejaar ʼn aantal beurse toegeken vir derdejaar- en honneursstudente wat in Afrikaanse taalkunde spesialiseer. Die oogmerk is om sterk studente te ondersteun wat wil spesialiseer in teoretiese, historiese, beskrywende en/of toegepaste Afrikaanse taalkunde, en sodoende ʼn stel jong navorsers en toekomstige opvoeders te help om hulle droom te verwesenlik.

Ons stel graag van hierdie wenners bekend:


“Dit maak my gelukkig om 'n prentjie te teken met woorde, om te inspireer met woorde en om 'n hele nuwe wêreld te skep met slegs een tipe boumateriaal - woorde! ... 'n Liefde vir die Afrikaanse taal loop al van kleintyd af soos bloed deur my are en nou sien ek met groot opwinding uit na 'n toekoms vol woorde, beeldspraak en boeke. 'n Toekoms vol drome!"

So sê Nicci Harmse, ʼn derdejaarstudent aan die NWU-PUK. Sy skryf hierdie jaar haar skripsie oor “Die teenwoordigheid van sekere taalaspekte in advertensiekommunikasie” en beplan om volgende jaar met honneurs in Afrikaanse taalkunde voort te gaan. Sy stel baie belang in vertaling, teksredaksie, uitgewerswese en verskeie velde van taalkunde, byvoorbeeld morfologie, semantiek, pragmatiek, sintaksis en leksikologie. Nicci beoog om eendag 'n taalpraktisyn te word.


Donique Cloete is 'n trotse Namakwalander, gebore en getoë in Springbok in die Noord-Kaap. Sy is vanjaar ’n honneursstudent verbonde aan die Universiteit van Wes-Kaapland en het op die taalkunde as studierigting besluit omdat sy aanklank gevind het by hierdie eksakte wetenskap. Haar studie fokus veral op Sintaksis en Taalstruktuur waarby haar ánder belangstelling, die diversiteit van Afrikaans, goed aansluit. Donique wil haar as ’n Afrikaansonderwyseres bekwaam sodat sy haar passie vir die taalkunde en die taal as geheel verder kan uitleef. 

"My Afrikaansonderwyseres het in matriek ’n groot invloed op my akademiese vorming gehad - sy het ’n liefde van taalkunde by my gekweek waarna professor Frank Hendricks van die UWK daardie liefde met sy entoesiasme versterk het," sê Donique. "Dis byna onmoontlik om te beskryf wat Afrikaans vir my beteken, maar my verhouding met die taal verdiep daagliks. Hierdie verhouding som ek in een sin op: Ek het nie Afrikaans gekies nie. Afrikaans het mý gekies!"


Yolanda Botha is van die Oosrand en het haar skoolloopbaan by Leeuwenhof Akademie voltooi. "Gedurende my eerste jaar hier by Tuks was ek nogal verbaas om te hoor dat taalkunde baie meer behels as wat ek op skool geleer het. Elke keer wanneer ek bekend gestel is aan 'n nuwe afdeling het ek dit net meer en meer begin geniet om hierdie taal wat ek my hele lewe lank al praat werklik te begin verstaan," sê sy. Sy wil graag verder studeer en eendag 'n lektor in Afrikaans word.

"Afrikaans is na aan my hart, want al leer ek ander tale soos Frans en Nederlands (wat albei pragtige tale is) bly Afrikaans my taal. Daardie band is gelê deur my ouma wat 'n  liefde vir lees by my gekweek het. Later het my pa my passie vir tale ondersteun en my gelei om uiteindelik tale te kom bestudeer."


Roelien Redelinghuys woon in die Vriendelike Stad. "Ek het grootgeword in ‘n trotse Afrikaanse familie, in ‘n huis waar ek van kleins af die waarde van goeie boeke en mooi woorde besef het, tussen mense wat waardering het vir die taal en met wie ek my liefde vir Afrikaans kan deel," sê Roelien. Haar onderwyser, Arno van Wyk, se wonderlike liefde vir die taal het haar geïnspireer om verdere studie in Afrikaans te onderneem. Sy het ingeskryf vir ‘n BA-graad in Media, Taal en Kultuur en het die afgelope drie jaar meer geleer oor alles waarvoor sy lief is – skryfkuns, taal, letterkunde, bemarking, grafiese ontwerp en nog meer!

Sy doen tans haar honneurs in Afrikaanse taalkunde. "Dit lê my na aan die hart en ek geniet die interessante inhoud en die wye spektrum fasette daarvan. Studies rondom leksikografie, fonetiek en morfologie interesseer my veral, asook Afrikaanse digkuns en kinderliteratuur. Eendag sal ek graag ‘n geïllustreerde idome-en-gesegdeboek vir wil publiseer sodat kinders van jongs af hierdie skatkisse in die taal kan ontdek en op ‘n maklike manier kan leer," sê Roelien. "Ek hou van mooi dinge, en Afrikaans is ‘n mooi taal. Dis die taal waarin my hart werk. Afrikaans het die mooiste woorde, beskrywings en sê-goed. Daarom sê ek: Viva Afrikaans!"


 

"Ek wil nie hê dat Afrikaans moet uitsterf by skole en universiteite nie. Ons as die jonger generasie het 'n verantwoordelikheid om seker te maak dat Afrikaans voortleef." So sê Toshka Jansen, 'n vierdejaar- BEd-student aan die Universiteit van Johannesburg. Toshka het aan Reiger Park Sekondêre Skool in Boksburg gematrikuleer en spesialiseer in Afrikaans, met Geskiedenis as haar tweede hoofvak. As sy nie studeer nie, is sy 'n tutor vir die ATKV by Albert Street Primêre Skool in Johannesburg. 

"Afrikaans is my moedertaal en ek kan my daarin uitdruk. Ek glo dis my roeping om met kinders te werk wat ook sterk oor Afrikaans voel," sê Toshka. "My dosente, prof Pienaar, dr De Wet, prof Conradie, dr Lawrence en my boesemvriendin Amore help my om koers te hou met my studies."


"Afrikaans is die taal waarin ek droom, leef en myself verloor.  Afrikaans is wie ek is.  Dis die taal waarin ek soek en wonder, en ook waarin ek uiteindelik die antwoorde neerpen.  Afrikaans is vir my die eerste koffieteug in die oggend, die sagte reën in die nanag, en die wete dat ek tuis is." Só sê Jean-Marie Potgieter, wat aan Langenhoven Gimnasium op Oudtshoorn gematrikuleer het. "Daar het ek vier jaar Afrikaans gehad by juffrou Elmarie Niehaus en sy het beslis ’n baie groot rol gespeel in my taalkundige ontwikkeling. Sy het ons altyd uitgedaag, wat vir my baie stimulerend was en my op my tone gehou het. Tydens my universiteitsloopbaan het doktor Amanda Lourens my bewus gemaak van die uitdagings wat redigering kan stel en by my 'n liefde daarvoor gekweek."

Jean-Marie doen tans haar honneursgraad in Algemene Taalwetenskap by die Universiteit van Stellenbosch, met 'n bepaalde fokus op sintaksis. "Ek beplan om in my tesis te bewys dat reekswerkwoordkonstruksies (“serial verb constructions”) in Afrikaans voorkom en om hierdie konstruksies ook te beskryf," sê sy. Sy sal graag eendag van die akademie 'n loopbaan wil maak en beplan nou reeds om haar doktorsgraad in Algemene Taalwetenskap te verwerf.


Carla Lindt kom van Mitchells Plein in Kaapstad. Sy is 'n finalejaarstudent by UWK met sielkunde en Afrikaans en Nederlands as hoofvakke. Sy het veral 'n passie vir die taalkundemodule ontwikkel nadat sy kennis gemaak het met variasietaalkunde. Sy beplan om volgende jaar 'n honneurs aan te pak en dan haar onderwysdiploma te behaal sodat sy kan skoolhou.

"Omdat ek eintlik Engelssprekend is, is Afrikaans en Nederlands as hoofvak 'n groot uitdaging. Ek praat self Kaaps, die taal van my hart, en ek bestee geweldig baie tyd en aandag aan my studies sodat ek sukses kan behaal." 

"Ek woon by al 18 jaar lank by my tante. Sy het ongetwyfeld die grootste invloed op my akademiese vorming gehad, want sy ondersteun my altyd. Sy is self al vir meer as 30 jaar 'n onderwyser, en eendag wil ek ook die soort positiewe invloed op kinders kan uitoefen as wat sy op my gehad het."


Ons ander beurshouers is Marzanne Schoeman en Alida Cloete. Ons wens hierdie uitblinkers alles van die beste toe!

Die VivA-span

LEES VERDER

NUUSARGIEF

FACEBOOK