profile pic

Gooi net wyd om blink, vet idiome te vang

Saterdag, 11 Maart 2017 Geskryf deur Gerhard van Huyssteen

As jy hipper as ʼn hipster wil wees, moet jy idiome gebruik. Dis anno 2017 baie “in”. Trendy, soos hulle sê. En wie die oudste idioom kan gebruik, is die hipste.

So sluip ek anderdag Protea Boekwinkel in Hatfield binne – met donkerbril en keps. (Had ek ʼn baard en ruitjieshemp, kon ek selfs soos ʼn hipster lyk.) Ek slúip binne, want vandat ek her en der verkondig dat ek deesdae net e-boeke koop, voel ek in enige boekwinkel soos ʼn kraai met pouvere.

Twee en ʼn half uur later durf ek met ʼn swaar gelaaide ventertjie die laatmiddagspitsverkeer aan. Vir verkeersleesstof kies ek ʼn kosbaarheid van ʼn boek: DF Malherbe se Afrikaanse Spreekwoorde en Verwante Vorme – eerste uitgawe, eerste druk, teen die weggooiprys van R250. Die boek is sonder jaartal, maar Malherbe het die voorwoord in Desember 1924 onderteken, en voor in die boek het die eerste eienaar “Januarie 1927” geskryf.

Een ding val onmiddellik op: Ontsettend baie van die inskrywings wat as hy as idiome of spreekwoorde lys, is vir my só alledaags dat ek nie eens daaraan as idiome dink nie. “Teen jou beterwete”, “om pad te gee” (d.i. om te koes), “onvanpas”, “onderduims”, “lendelam”, “nagmerrie”, “lekker wees” (d.i. effens aangeklam), “dit bly onder ons meisies”, en les bes, “basta!”. Volgens Malherbe is dié uitroep baie bekend in die Boland, maar “in die binneland, byname in die Vrystaat, so goed as onbekend.” (Siestog, toentertyd was die arme Vrystaters al nie vreeslik trendy nie.)

Hy verduidelik die meeste van die spreekwoorde aan die hand van hulle Nederlandse wortels, of hoe dit van Nederlands verskil.

Ene waaroor ek nog altyd gewonder het, is “iemand in die pad steek”. Volgens Malherbe is dit ʼn verafrikaansing van die Nederlandse een meisje in een klooster steken, waar daardie “steek” eintlik “bring” beteken. Vandag sou ons liewer sê: Jy bring ʼn meisie na ʼn klooster toe. In 1844 skryf die bekende Nederlandse taalkundige ANE Changuion reeds dat om “iemand in die wapad te steek” eg Afrikaans is, net soos om iemand “vir ʼn dop te steek” (dus letterlik “om vir iemand ʼn drankie te bring”). As jy iemand in die (wa)pad steek, bring jy hom/haar dus na die pad, sodat hulle op hulle eie kan vortgaan. Dink ook aan “iemand in die skande steek”, waardeur jy dus ʼn skade aan iemand bring.

Die spore van die vernederlandsingsperiode in Afrikaans se geskiedenis lê vandag nog diep.

Dae later steek die openingsin van Malherbe se voorwoord nog vas in my kop. Dis ʼn bekende en invloedryke aanhaling, maar gewis steeds trendy genoeg om teen die mure van avant-gardistiese hipsterkroeë geverf te moet word:

“Wie op die terrein van ʼn volk se spreekwoordeskat werksaam is, moet by alle waters drink: by die wye see van die lewende volkspraak, by riviere en spruite, by die fonteine en syferplekke van die volk se verre verlede, sowel as by enige ander stroom of bron wat die wydvertakte wetenskap tot sy beskikking stel.”

Wie was dit nou weer wat gesê het ʼn mens lees net die openingsin van ʼn boek, dan weet jy waaroor die res van die boek handel?

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 11 Maart 2017 verskyn.

LEES VERDER
profile pic

Ag, ‘ma-hulle’ is Afrikaanser as koeksisters

Dinsdag, 07 Maart 2017 Geskryf deur Gerhard van Huyssteen

“Ag no man, don’t worry, we’ll sommer stop and eat there with my mom and them.” Ek probeer telefonies om plaaslike reisreëlings met ʼn Amerikaanse gas te bevestig.

En dan is daar stilte aan die ander kant van die verbinding …

“Bob, you still there?”

“Uhm, yes, Gerhard, can you please repeat that?” My naam word uitgespreek soos ʼn duifma wat kos vir haar kleintjies voer.

Ek besef skielik dat daar só ontsettend veel verkeerd met my eerste sin was dat gʼn aap daar ʼn neut van sal verstaan nie. Was dit die “ag” of die “sommer”? Of dalk “stop and eat”? Waarskynlik “my mom and them” as direkte vertaling van “my ma-hulle”.

Want dié ma-hulle-konstruksie is so eg en eie Afrikaans soos wat kan kom. Afrikanser as bobotie en koesisters en melktert. Dis ook een van die konstruksies wat taalkundiges van oor die wêreld al meer as ʼn eeu lank boei. Reeds in 1899 het Hesseling daar uitgebreid oor geskryf in sy boek Het Afrikaansch, en in 1905 het Du Toit in sy Gentse doktorale proefskrif “ma hulle” (só geskryf) met “ma-goet” en “froumensgoet” (wat “vrou” beteken) vergelyk. En tot vandag toe probeer almal uitpluis waar dié konstruksies vandaan kom.

Die Kaapse gemeenskap aan die einde van die sewentiende eeu was ʼn Babel van mense en tale. Daar was die oorspronklike Khoisprekers wat al in die sestiende eeu kennis gemaak het met Skeepsnederlands en -Portugees. Daar was Hollanders wat meestal vir lang periodes nie meer kontak met kontinentale Nederlands gehad het nie. Die slawe uit Maleisië het ʼn unieke mengsel van Maleis en Portugees gepraat, en die slawe uit Wes-Afrika verbreide vorme van onder andere Ewe en Papiamentu.

Wat had die klomp gemeen? Almal het die een of ander vorm van die hulle- en goed-konstruksies in hulle onderskeie tale gehad. Om nou maar kortweg en growwerig met die taaldata om te gaan:

  • In Kaapse Khoi sou da-//îgu die vertaling kon wees van “pa-hulle”. Let op daardie -gu aan die einde van die woord.
  • In Nama sou hulle dadá-hâgu vir “pa-hulle” kon sê, terwyl xugu “goed of dinge” sou beteken het.
  • Die Hollanders had nie so ʼn segswyse nie, maar het natuurlik al vir baie jare van scheepsgoed (“dinge op ʼn skip”) gepraat. En natuurlik was die byvoeglike naamwoord goed (ook uitgespreek as “goe”) deel van hulle woordeskat. In Fries vind ons wel die segswyse mem-en-hjar (“ma en hulle”) en mem-en-dei (“ma en dié”), maar daar was indertyd weinig Friese aan die Kaap.
  • In Maleis-Portugees het tanta dong gewoon “tante-hulle” beteken.
  • In Ewe was wo die vertaling van “mens-hulle”, en in Papiamentu was cas.nan gebruik vir “huis-hulle”.

Daar was dus gewoon ʼn unieke taalsituasie aan die Kaap: ʼn Klomp verskillende mense het op dieselfde talige manier aan die kollektiwiteitskonsep uitdrukking gegee – al het dit verskillend geklink. En eeue later sien ons nog hierdie voetspore in Afrikaans, sonder dat ons regtig-egtig op hierdie stadium weet watter een die oudste is.

En daarin lê ook die mooi van Afrikaans in Afrika: Selfs my Engelse vriende hier ken en gebruik “ag” en “sommer” en “mom and them”. Anders as die arme Amerikaanse Bob …

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 04 Maart 2017 verskyn.

LEES VERDER
profile pic

Woorde wek, maar voorbeelde trek

Maandag, 06 Maart 2017 Geskryf deur Sophia Kapp

Ken jy dié uitdrukking? Dis in die HAT opgeneem en dit beteken presies wat jy dink dit beteken: Dit wat jy doen, praat harder as dit wat jy sê.

Hierdie beginsel geld veral vir die kinders in ons sorg. Dis ʼn duur les wat ouers en opvoeders moet leer: Dit help nie ons verwag van ons kinders optrede, gedrag, gewoontes, lewenswyses, opvattings, uitkyke, insigte, beginsels en etiese kodes wat ons nie vir onsself aangekweek het nie. Om dit in ʼn moderne idioom te stel: ʼn Kind doen wat jy doen, nie wat jy sê nie.

Ek het onlangs met ʼn groepie skoolkinders te doen gehad wat aan ʼn redenaarskompetisie gaan deelneem. (Julle weet waarvan ek praat, dis elke jaar elke ouer en elke taalonderwyser se terugkerende nagmerrie.) Die kinders was gefokus, toegewyd, bitter intelligent en dwalend. Nie een het ʼn idee gehad waar om te begin navorsing doen nie en het by my opgedaag met blanko eksamenblokke, aan die hand van ʼn juffrou wat hulle in ʼn skoolkombi gelaai het en “kundige” hulp gaan soek het. Toe ek begin praat, het hulle almal verwoed begin notas afneem, toe ek vra watter bronne hulle al geraadpleeg het, het hulle my aangekyk asof ek van hulle verwag het om die wiel te herontwerp. Een het darem op ʼn kol vir my so effe verontwaardig gesê “Ons het gegoogle, tannie!”, maar daar was klaarblyklik ook nie genoeg onderskeidingsvermoë om die koring van die kaf op die wêreld se grootste rommelhoop (ja die internet) te skei nie. Ek het hulle so gekyk en gewonder of hulle dan nie verdien om aan een van die immer groeiende bende tollenaars uitgelewer te word wat skooltoesprake teen betaling skryf nie.

Ek lees William Faulkner het reeds in 1958 gesê dat Amerikaanse skole gedaal het tot die vlak van kinderoppassers. Gelukkig is die man dood, want ek kan my net indink wat hy van dié groepie te sê sou gehad het.

Hoor vir my, ek weet daar is onderwysers wat hulle werk doen. Ek weet daar is ouers en opvoeders wat opvoed en nie net afrig nie. Maar hulle is in die minderheid. Ons sit met ʼn geslag babavoëltjies wat net weet hoe om hulle bekke te rek en te wag vir klaar verteerde kossies om in hulle keelgatte af te gly. Hulle weet nie meer hoe om hulle weg na ʼn biblioteek te vind nie, en as hulle daar kom, weet hulle nie meer hoe om kennis daarin te ontgin nie. Erger nog, as dié inligting nie ʼn uitkoms vir ʼn leereenheid is nie (netjies saamgevat in ʼn kolpuntlys met oulike ikoontjies langsaan), stel hulle nie daarin belang om dit te ontgin nie. Kort voor lank sit ons met ʼn generasie wat dink die wêreld bestaan uit dit wat hulle deur oorlewering, fopnuus op Facebook en ʼn geskinder op Snapchat geleer het. En vir so ʼn generasie is dit moontlik, en selfs vermaaklik, om die korpus kennis, die magdom insigte en navorsing en die kosbare intellektuele erfenis wat oor baie eeue deur kundiges versamel is, te minag.

My vraag is: Waar staan jy in hierdie proses? Teken jy die ikoontjies? Verteer jy die kossies namens die jong denkers in jou sorg? Lei jy nog ʼn generasie grondsluipers op wat in hulle eie nes sit en mekaar warm dinges? Of maak jy soos die ma-arend, wat op die lip van die krans nesmaak sodat sy haar kroos kan grootmaak na die beste van haar vermoë, maar hulle dan uitskop sodat hulle kan vlieg?

Hou op om kinders se toesprake te skryf. Hou op om vir hulle toesprake te koop. Leer hulle dink, sodat hulle self kan toesprake skryf. En as hulle dan steeds nie kan toesprake maak nie, leer hulle om stil te bly. Nie almal hoef openbare sprekers te wees nie. Maar almal moet hulle vlerke kan sprei en met hulle eie kragte kan vlieg.

LEES VERDER
profile pic

Taalkennis is nou 'n klik ver

Woensdag, 01 Maart 2017 Geskryf deur Sophia Kapp

Ons Woordeboekportaal het 'n paleis geword! Daar is nou 26 woordeboeke (22 daarvan gratis) tot die beskikking van geregistreerde VivA-gebruikers.

Benewens die 17 woordeboeke wat reeds op ons webwerf en aanlyn-app beskikbaar is, het ons gebruikers nou ook gratis toegang tot die volgende bronne:

  • Drietalige Wynindustriewoordeboek (Suid-Afrikaanse Wynbedryf-Inligting & -Stelsels (SAWIS) en die Netwerk van Kundigheid en Tegnologie vir die Wynbedryf (Winetech))
  • Etimologiewoordeboek van Afrikaans (GJ van Wyk, red.)
  • Fisikawoordeboek (Vaktaalburo, SAAWK)
  • Afrikaanse voëlname, opgestel deur die Afrikaanse Voëlnaamgroep van BirdLifeSA
  • Paramediese Vakwoordeboek (Vaktaalburo, SAAWK)
  • Sciwoord (Chemiewoordeboek)
  • Statistiekwoordeboek (HS Schoeman)
  • Sterrekundewoordeboek (JH de Klerk, red.)
  • Woordeboek van nuttige Afrikaanse kombinasies (Kollokasiewoordeboek) (AN Otto)

Afgesien van hierdie bronne het die Departement van Kuns en Kultuur goedgunstiglik ingestem om hulle meertalige terminologielyste, wat oor baie jare deur vak- en taalkundiges opgestel en gestandaardiseer is, aan VivA beskikbaar te stel. Die lyste dek die volgende velde:

  • Inligtings- en Kommunikasietegnologie
  • Kuns en Kultuur Intermediêre Fase
  • Lewensoriëntering Intermediêre Fase
  • MIV/VIGS
  • Parlementêre/Politiese Aangeleenthede
  • Sokker
  • Verkiesings
  • Wiskunde Intermediêre Fase

As jy nog nie by VivA geregistreer het nie, gaan sommer nou na ons webwerf by www.viva-afrikaans.org of laai ons VivA-app (Aanlyn) af. Dit is gratis. Mahala. Verniet. Vry. Kosvry. Rentevry. Verniet. Komplimentêr. Kosteloos. Pertjoema!

Die VivA-span

LEES VERDER

NUUSARGIEF

FACEBOOK