profile pic

Aanlyn taalhulp vir jou laaste jare op hok

Saterdag, 14 Januarie 2017 Geskryf deur Gerhard van Huyssteen

Terug-skool-toe-reklame, soos Valentynsdagreklame, is nie aan my bestee nie. Ek is kinder- en liefdeloos.

Maar een van my Engelse vriende het vanjaar ʼn matrikulant aan huis, en dié gaan klaarblyklik alle hulp met Afrikaans nodig hê. Die WhatsApp-boodskap is eenvoudig: “Please send me links to apps or websites that could help James with Afrikaans.”

Dis maklik, dog ek. Afrikaans.com het ʼn uitstekende portaal met tientalle skakels na hulpmiddels vir onderwysers en leerders. (Gaan na www.afrikaans.com en dan na [Leer > Op skool].) Die skakels is verdeel in Nuttige toepassings, Nuttige opvoedkundige webtuistes, Hulp in die klaskamer en vir skooltake, Slyp jou kennis en vaardighede, Wys jou staal!, en Pinterest-snuffellys.

Hier is ʼn aantal wat volgens my nuttig sou kon wees:

Virseker se Afrikaanse Lekkerlees-toepassings: Die eerste ene bevat leesstukke vir leerders van graad 4 tot 12, wat elk volgens moeilikheidsgraad in agt vlakke verdeel is. Die tweede toepassing bied interessante taaloefeninge soos idiome en oulike kopkrappers om die lesers op hulle tone te hou.

Skoleondersteuningsentrum (SOS): Solidariteit Helpende Hand se SOS-webwerf bied praktiese opleiding en hulpmiddels vir Afrikaanse onderwysers wat Wiskunde en Afrikaans aanbied. Die programme sluit uiteenlopende werksessies en slypskole vir leerders en onderwysers in, asook ʼn aanlynwinkel waar vraestelle en werkkaarte gekoop en verkoop kan word.

Afrikaans-Afrikaans: Op hierdie webwerf deel 'n taalonderwyser en assesseerder in die matriekeindeksamen vraestelle, lesplanne, assesseringsrubrieke en -riglyne vir Afrikaans vir graad 10 tot 12, en verskaf raad en wenke oor eksamens.

Afrikaanse Skoolprojekte: Jy kan spesiale pakkette koop om studiemateriaal (ook vraestelle) vir alle vakke af te laai. Hulle Skool Ensiklopedie [sic] lyk nogal na ʼn oulike produk en bevat inligting vir alle skoolvakke.

Allegaartjie: Hierdie webwerf is meer gerig op die onderrig van letterkunde vir hoërskoolleerders in privaat skole wat die kurrikulum van die Onafhanklike Onderwysraad (IEB) volg, maar daar is ook heelwat taaloefeninge en -inligting beskikbaar.

E-Classroom: By hierdie aanlyn winkel kry jy 'n versameling e-leer-hulpbronne (belyn met die KABV) vir graad R tot 12, van werkkaarte en lesplanne tot aanvullende materiaal. Werkkaarte is gratis en toetse en eksamenvraestelle is teen R30 elk te koop.

Onnies Online: Hierdie webwerf is nie noodwendig slegs op onderwysers gerig nie. Jy kan 'n omvattende reeks hulpbronne (soos vraestelle, werkkaarte en video’s) aflaai of aankoop. Hulle is ook aktief op verskeie sosialemediaplatforms.

WorksheetCloud: Kry hier tweetalige werkkaarte en toetse in Wiskunde, Natuurwetenskappe, Afrikaans en Engels – alles op die KABV-kurrikulum gebaseer. Die materiaal vir Afrikaans is egter net tot en met graad 8 beskikbaar.

Daar is nog talle meer, insluitende ʼn paar vasvra- en woordeboektoepassings, asook toepassings en webwerwe om jou te help om Afrikaans aan te leer, of jou tweedetaalkennis van Afrikaans te verbeter.

Hoewel ek opgewonde (en saam met matrikulant James dankbaar) is oor al die hulpbronne, moet ek helaas sê dat ek nogal plek-plek geskok was in die kwaliteit van sommige van die materiaal. As ʼn webwerf my aanmoedig om ʼn “gelamineerde plakkat” te bestel, kan ek dalk nog ʼn tikfout vermoed, maar as ʼn hulpbron beweer Kerkorrel het “in die parlementsopening saam met Lady Smith Black Mambasa” gesing, wonder ek of dit nie tyd is om die Onderwyspolisie te ontbied nie.

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 14 Januarie 2017 verskyn.

LEES VERDER
profile pic

Mans en vroue se woorde deeglik getel

Saterdag, 07 Januarie 2017 Geskryf deur Gerhard van Huyssteen

Skryf Annette uit Margate: “Jy sê-vra in ʼn vorige rubriek ons moet dink oor hoeveel van die tyd wat ons wakker is, ons op die een of ander manier in aanraking met taal is. Wat is die antwoord?”

In beginsel moet ʼn mens onderskei tussen woorde wat jy praat, lees, hoor en skryf.

Een van die oudste mites in die taalkunde is dat vroue meer as mans praat. In die eerste uitgawe van The female brain het die neuropsigiater Louann Brizendine dit onomwonde gestel dat vroue gemiddeld 20 000 woorde per dag uiter, teenoor die 7 000 van mans. Later het dit geblyk dat sy dié brokkie uit ʼn boek van die bekende selfhelpghoeroe Allan Pease geoes het, sonder dat daar enige wetenskaplike bewyse daarvoor was.

ʼn 2007-studie aan die Universiteit van Arizona wou juis hierdie mite ondersoek en het bevind dat Engelse studente gemiddeld 16 000 woorde per dag uiter, met die twee uiterste datapunte 47 000 woorde (ʼn man) en 700 woorde (ʼn vrou). Een van die belangrikste bevindinge van hierdie omvattende studie is dat mans en vroue ongeveer ewe veel praat.

Met betrekking tot lees, kan ons ons beroep op ʼn gesaghebbende studie wat in 2008 aan die Universiteit van Kalifornië (San Diego) gedoen is. Roger Bohn en sy span se projeksie toe was dat ʼn mens gemiddeld met 100 500 woorde per dag gekonfronteer word, wat ongeveer gelykstaande is aan een populêre liefdesroman per dag. Dit beteken natuurlik nie dat ʼn mens ál die woorde lees nie, maar dit is wel naastenby die hoeveelheid woorde wat deur jou oë raakgesien word.

As dit gaan oor kyk en luister, is daar TV, sosialemediavideo’s, prente, foto’s, ensovoorts wat volgens Bohn-hulle gesamentlik ongeveer 34 GG se data daagliks aan jou brein opdis. My skootrekenaar se hardeskyf is 237 GG groot, en ek sal dus binne sewe dae vol wees as al dié inligting gestoor moet word. Boonop sluit hierdie berekeninge interaksies in lewende lywe, niedigitale media (soos advertensieborde of woorde wat jy sien terwyl jy inkopies doen) en tyd wat mense aan rekenaarspeletjies spandeer, uit.

ʼn Bekende 1995-studie aan die Universiteit van Kansas het bevind dat driejarige kinders gemiddeld tussen 616 en 2 153 woorde per uur hoor. (Dié studie het bevind dat hoe meer woorde ʼn kind hoor, hoe groter sy/haar sukses later in die lewe sal wees, maar hierdie bevinding is wyd gekritiseer.) As ons die gemiddeld ekstrapoleer na ʼn 17-uurdag, beteken dit ons hoor ongeveer 23 000 woorde per dag.

Hoeveel woorde skryf ons per dag? Ek kon helaas nie ʼn wetenskaplike studie vind om as basis te gebruik nie, waarskynlik omdat te veel veranderlikes ter sprake is (byvoorbeeld die aard van jou werk, of jy tik op ʼn rekenaar, selfoon of met die hand skryf, die taal waarin jy skryf, ensovoorts). Alle anekdotiese inligting in ag genome, sou ek skat dat dit ongeveer 2 100 woorde per dag is (gelykstaande aan ongeveer vier bladsye).

Die totaal? Dis moeilik om presies te bepaal, maar ʼn konserwatiewe, ingeligte raaiskoot sou wees dat ʼn mens gemiddeld 141 600 woorde per dag prosesseer. Dit is een en ʼn halwe roman elke dag!

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 07 Januarie 2017 verskyn.

Beeld logo

LEES VERDER
profile pic

Wat's in en uit in 2017?

Sondag, 01 Januarie 2017 Geskryf deur Gerhard van Huyssteen

Ek hou vakansie saam met twee millenniërs – sy is 29 jaar oud, hy 36 en net-net deel van Generasie X. In die ou dae sou hulle my as “oom” moes aanspreek. Maar dis byna 2017, ons oom-en-tannie nie meer nie.

Jy kan nie jeugdigheid koop nie, en ek gee my daarom oor aan hulle (gratis) lesse oor hoe om byderwets te wees (of soos hulle sê: “Om funky soos dit te wees”). Ek laat die opleiding oor kleredrag my begaan – die praktiese waarde van ʼn oubollige swemmus en getinte swembril weeg soms vir ʼn kaalkop swaarder op as ʼn onblakend gebrande, karmosynrooi pan. Ek lyk eerder soos ʼn vars oester as ʼn geroosterde garnaal.

Hulle taal- en sosialemedialesse is van meer waarde.

Wat is in en wat is uit in 2017?

  • In: Om heeldag (maar dan die hele dag) op jou selfoon of tablet te spandeer, is normaal en aanvaarbaar.

  Uit: Om aanmerkings of grappies daaroor te maak, is baie verouderd.

  • In: Om slimfoontoepassings vir alles (maar dan álles) te gebruik.

  Uit: Om iemand te vra om jou te herinner om ná tien minute in die son om te draai. (Ja, daar is ʼn toepassing wat die UV-indeks bereken en dan vir jou sonbaai-instruksies op jou foon gee.)

  • In: Die woord tan.

  Uit: Die woord sonbaai.

  • In: Instagram, Facebook, Pinterest en YouTube.

  Uit: Twitter.

  Meh: Snapchat en LinkedIn.

  Die byvoeglike naamwoord “meh” beteken “so-so” of “ja-nou-en-of” of “niks besonders nie”. My twee millenniërvriende vermoed wel “die jonger generasie” hou dalk meer van Snapchat.

  • In: Selfies wat die nuutste tendense volg.

  Uit: Oudmodiese kiekies van jouself.

  Byvoorbeeld, die nuutste selfieneiging is om ʼn foto te neem terwyl jy jouself ʼn vatvyf gee. Sulke selfies word dan dikwels van ʼn byskrif soos “Today is the proudest day of my life” of “This is the most amazing thing I have ever done” voorsien.

  Die eendbek was in 2015 in en die visgaap in 2016. Vir 2017 word Touch It-selfies voorspel (jy vat aan jou onderlip, meestal om ʼn puisieuitbraak op jou ken te verbloem).

 jhjhjkjk 
 
Die Vatvyf-selfie    Die Touch It-selfie

 

  • In: Video’s, foto’s en teksgrafika.

  Uit: Lang stukke teks. As jy iets nie in een of maksimaal twee sinne kan sê nie, hou links verby.

  • In: Hutsetikette.

  Uit: Hutssinne.

  As jy ʼn selfie of ander foto plaas, moet jou hutsetikette versigtig gekies word. Besin lank en deeglik daaroor, want dit is ʼn kwessie van maak of breek. Hoe meer hutsetikette by jou foto op die strand, hoe meer vreugde: #selfie #somer #strandvakansie #me (nie #meh nie!) #girl #nofilter. Jy gee jou ouderdom weg met ʼn hutssin soos #EkHouLekkerVakansieByDieSee. Om elke woord met ʼn hoofletter te begin, getuig ook van amateuragtigheid.

  • In: Hahah en LMGA (of in Engels LMAO)

  Uit: Haha en LOL

  Om te wys jy dink iets is snaaks, moet jy meerdere ha’s gebruik. Navorsing wys tot en met hahahahahahahahahahahaha (24 karakters) is aanvaarbaar, daarna raak jy stuitig. En LOL is baie passé. (ʼn Ouer vriendin van my het gedog LOL beteken “lots of love” en het dit toe ruim onderaan die doodsberig van ʼn kennis op Facebook gebruik.)

 Nou ja toe, laat 2017 begin! Onthou: #touchit met #sunscreen!

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 31 Desember 2016 verskyn.

Beeld logo

LEES VERDER
profile pic

In die branders word taal soms vir ʼn wyle stil

Saterdag, 24 Desember 2016 Geskryf deur Gerhard van Huyssteen

Jare gelede vra ek my goeie vriendin, die goeie sielkundige Elmarie (ook bekend as Amalanka Chardonnay): “Analiseer jy nie die hele tyd mense in ʼn geselskap nie?”

“Slegs as hulle my betaal, darling, en die meeste mense kan my nie bekostig nie!” Sy lag ka-ka-ka en skink nog ʼn glas wyn.

ʼn Waardevolle les.

Ek vermoed die meeste mense gaan met vakansie en kan gewoon hulle werk lekker op kantoor agterlaat. Die gemiddelde narkotiseur lê waarskynlik nie op die strand en dink “mmm, daai ou is so vet, hy sal drie Dormicums moet kry” nie. En die gewone deursneeaktuaris kan waarskynlik na die Woolies in Kampsbaai gaan sonder om … wel, te doen wat aktuarisse doen. (Ek het geen idee waarmee hulle hulle brood verdien nie. Ek vermoed hulle is eintlik maar net hoogsopgeleide Excelgebruikers. Of so iets.)

Taalmense rus egter nooit nie, ook nie as hulle met/op vakansie is nie.

Dink ʼn bietjie daaroor: Hoeveel van die tyd wat jy wakker is, is jy op die een of ander manier in aanraking met taal? Selfs as jy alleen is, lees jy ʼn storieboek of tydskrif, of kyk jy TV, of luister jy na musiek (dikwels met woorde), of lees jy die etikette op kosverpakkings. Ook in visuele sosiale media soos Instagram of Snapchat kan jy nie wegkom van woorde nie, want teksgrafika is deesdae modieus.

Taalmense is voortdurend in aanraking met hulle werk: Ons sien taalfoute en potensiële woordspelings orals om ons heen; lees boeke op die strand wat geresenseer moet word; hoor die aksente en konstruksies wat die ou langs jou in die branders gebruik. Ons ken nie stilte nie.

Ek is bevoorreg om deel van ʼn Facebookgroep vir Afrikaanse taalpraktisyns te wees. Elke naweek, elke lang naweek, elke vakansie bly dit gons in daai groep met vrae, antwoorde en besprekings deur vertalers en subredakteurs wat môre se koerante en tydskrifte moet laat verskyn. Soos:

  • Skryf ʼn mens “donker sjokolade” of “donkersjokolade”? (Daar was nog nie konsensus nie, maar ek meen dis “donker sjokolade”, net soos “wit sjokolade”.)
  • Praat 'n mens van “in” of “op” ʼn Wi-Fi-netwerk? (Korpusdata laat blyk dat ʼn mens “op” ʼn netwerk is, maar verbind/koppel “aan” ʼn netwerk.)
  • Is dit “zikavirus” of “Zikavirus”? (Die Taalkommissie het voorlopig “Ebolavirus” goedgekeur, en daarom is dit waarskynlik ook “Zikavirus”. Die reël dat gewone name van plante en diere met kleinletters geskryf word (soos “gaboenadder” en “zambezihaai”) blyk nie virusse te geld nie.)

Selwers verlustig ek my in die plesier om hier aan die Noordkus lekker afgesonderd taalkunde te sit en pleeg. Ek worstel met die “hulle/goed”-konstruksie: Hoekom skryf ons “ma-goed” en “ma-hulle”, maar slegs “skottelgoed” en nie “skottelhulle” nie? Waar kom die konstruksie vandaan? En wat doen ons met “emeritus” in Afrikaans? Is dit “emeritus aartsbiskop Desmond Tutu”, of “emeritus-aartsbiskop” of “emeritusaartsbiskop”? Of moet “emeritus” telkens ná die “aartsbiskop” verskyn?

Daar is geen tyd om te emeriteer of sabbateer nie. Taal is in en om my. Maar soms as ek deur ʼn brander duik en met lang hale nóg vorentoe swem, hoor ek vir ʼn oomblik die stilte. Net soms, vir ʼn oomblik …

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 24 Desember 2016 verskyn.

Beeld logo

LEES VERDER

NUUSARGIEF

FACEBOOK