profile pic

Die taalkunde as studieveld

Donderdag, 16 Julie 2015 Geskryf deur Gerhard van Huyssteen

Taalkunde (oftewel linguistiek) as vakgebied het baie interessante vertakkings. Hier is 'n paar voorbeelde met eenvoudige verklarings:

  • Psigolinguistiek: hoe taal in mense se koppe (psige/verstand) verwerk word (byvoorbeeld aangeleer word)
  • Neurolinguistiek: hoe taal in die brein verwerk word (d.i. die fisiologiese prosesse)
  • Sosiolinguistiek: hoe taal in verskillende gemeenskappe ("societies") gebruik word
  • Rekenaarlinguistiek: hoe rekenaars taal verwerk (in Engels "computational linguistics")
  • Korpuslinguistiek: 'n metodologie wat gebruik word om patrone in groot versamelings taal (in korpusse) te soek
  • Forensiese linguistiek: 'n metodologie wat gebruik word om die skrywer van 'n teks te identifiseer
  • Historiese taalkunde: hoe 'n taal ontwikkel. 'n Spesifieke onderdeel is die etimologie, wat die ontwikkeling van woorde en hulle betekenis bestudeer.
  • Vergelykende taalkunde: 'n metodologie om ooreenkomste en verskille tussen tale te bestudeer.

Prof Gerhard van Huyssteen

LEES VERDER
profile pic

Die tien grootste wanopvattings oor vertalers en vertaling

Donderdag, 16 Julie 2015 Geskryf deur Sophia Kapp

10. Enigiemand met twee jaar se hoërskooltaalopleiding (of wat ʼn ouma het wat ʼn tweede taal magtig is) kan ʼn vertaler word.
9. ʼn Goeie vertaler het nie ʼn woordeboek nodig nie.
8. Daar is geen verskil tussen vertaling en tolking nie.
7. Vertalers gee nie om om teen geen ekstra vergoeding saans en naweke te werk nie.
6. Vertalers hoef nie te verstaan wat hulle vertaal nie.
5. ʼn Goeie vertaler se werk hoef nie geredigeer of geproeflees te word nie.
4. Vertaling is ʼn maklike manier om vinnig ryk te word.
3. Vertaling behels eintlik maar net die oortik van ʼn teks in ʼn ander taal.
2. Vertaling behoort gratis te wees – jy voer mos die teks net op Google Translate in.

En die grootste wanopvatting van almal:
1. Die bemarkingskopie waaraan 20 mense twee maande lank geswoeg het, kan oornag deur ʼn enkele persoon vertaal word en steeds dieselfde trefkrag as die oorspronklike hê.

Bron: http://www.sarahdillon.com/top-ten-misconceptions-about-translation-and-translators/

Vertaal deur Sophia Kapp

LEES VERDER
profile pic

Enkele wenke by literêre vertaling

Donderdag, 16 Julie 2015 Geskryf deur Sophia Kapp

Bepaalde kwessies by die vertaling van literêre tekste in Afrikaans

 

1. Kulturele merkers

Vertalers van literêre tekste moet bo en behalwe die bron- en doeltaal ook die kulture waarin die tale pas, baie goed ken. Dit is nie genoeg om Engels te verstaan nie, ʼn mens moet verstaan watter Engels in die bronteks gebruik word. Daar is, bo en behalwe Britse en Amerikaanse Engels (waarin spelling en betekenis dikwels verskil), ook Indiese, Kanadese, Australiese en natuurlik Suid-Afrikaanse Engels, wat ook nie homogeen is nie.

Dit is noodsaaklik om te verstaan wat die verskil is tussen “I need to go potty”, “I have to use the loo” en “I have to absent myself”. En as daardie verskille in tekste aangewend word, moet dit so vertaal word.

Daarbenewens is daar tegnieke in vertaling wat bekend staan as “domestikasie” (domestication) en “vervreemding” (foreignization), waar die kulturele merkers óf vertaal óf neutraal gemaak óf behou word. Die besluit is een wat ʼn mens moet neem voordat die vertaling begin omdat dit deurlopend dieselfde hanteer moet word. Byvoorbeeld:
“He was a member of the Knesset” kan vertaal word as “Hy was lid van die Knesset” (vervreemding) of “Hy was lid van die Israeliese parlement” (neutraal) of “Hy was ʼn parlementslid” (domestikasie). Veral eiename is hier ter sprake: Behou ʼn mens die oorspronklike naam (Hänsel en Gretl) of vertaal ʼn mens dit (Hansie en Grietjie)? Kan jou storie in Duitsland afspeel met karakters wat name het soos Bongi, Faan of Edward? Kan ʼn mens ʼn kinderboek in Afrikaans vertaal en die tyd, ruimte, konteks en kulturele merkers alles vreemd hou of domestikeer ʼn mens dit? (Vergelyk byvoorbeeld Andersen se sprokies teenoor ʼn teks soos Nils Holgersson.)

2. Humor

Humor is in sekere opsigte moeiliker om te vertaal as rym, omdat dit in ʼn kultuur gesetel is. Dit is noodsaaklik dat die vertaler nie net die humor snap nie, maar ook die graad van “snaaksheid” bepaal. Dit gaan in baie gevalle nie moontlik wees om byvoorbeeld woordspeling, dubbelsinnigheid of die spanning tussen letterlike en figuurlike betekenis na die doelteks oor te dra nie. Dit is aanvaarbaar om in sulke gevalle van substitusie (gebruik ʼn ander uitdrukking of woord), ellips (laat dit net weg) of kompensasie (bring ʼn soortgelyke snaaksigheid elders in die teks in) te gebruik.

3. Dialek

Dialek wat met dialek vertaal word, is ʼn debakel wat ʼn plek soek om plaas te vind. Dialekte is nie net per definisie niestandaard nie, dit is sosiaal gemerk. En die sosiale groepering en stratifikasie is in geen twee taalgemeenskappe dieselfde nie. Die algemeen aanvaarde praktyk is om dialek met die standaardvariëteit te vertaal en net hier en daar ʼn woord te gebruik om die dialek te “merk”. Iets soos “How ya doin’, mon?” (tipiese African-American English) sal bloot vertaal word met “Hoe gannit?” wat nie noodwendig aan enige Afrikaans dialek toegedig kan word nie.

4. Tyd

Dit is ʼn tegniese punt om in gedagte te hou. Stories word in Engels baie selde in die teenwoordige tyd vertel (Monica walked into the room and blinked). In Afrikaans word die verlede tyd gebruik vir terugflitse. Selfs historiese romans word in die histories-teenwoordige tyd vertel (Monica stap die kamer binne en knip haar oë). Die vertaler moet weet hoe om die tyd te hanteer sodat die Afrikaanse doelteks nie heen en weer spring tussen die twee tye nie, maar terugflitse wel in die verlede tyd vertaal word.

5. Vloekwoorde, pornografie en sosiale taboes

Die vertaler se etiese kode is dat hy/sy die teks so goed moontlik moet vertaal, ongeag sy eie mening oor die “aanvaarbaarheid” van die bronteks. Dit is nie die vertaler se werk om tekste te sensor of te “suiwer” nie. Dit is veral nie aanvaarbaar dat die vertaler se eie (voor)oordele bepaal watter inligting, woorde of uitdrukkings in die vertaalde teks behou word nie.

Wat wel belangrik is om na op te let, is die gewig wat uitdrukkings het. Nie alle vloekwoorde is byvoorbeeld ewe aanvaarbaar of afstootlik nie. In die Britse en Amerikaanse kultuur is dit deesdae heel aanvaarbaar om “oh my God” te gebruik. Die sinoniem daarvoor in Afrikaans is “o God”, maar dit is nie die ekwivalent nie. Die ekwivalent is die woord of frase wat nie net dieselfde inhoud nie, maar ook dieselfde impak oordra.

Dieselfde beginsel geld vir sosiale taboes en pornografie. Die vertaler kan nie aan die outeur en/of uitgewer voorskryf wat in ʼn teks moet voorkom nie, maar die vertaler mag besluit dat sekere inligting in die teks die lesers van die teks gaan afstoot, antagoniseer of emosioneel betrek op ʼn manier wat nooit in die oorspronklike teks bedoel is nie. Dink hier bloot aan die polemiek wat in die Moslem-gemeenskap ontstaan het oor neerhalende verwysings na die profeet Mohammed in sekere Europese tekste. Hoewel taalgemeenskappe deur verskillende dinge ontstig word, word alle taalgemeenskappe oor bepaalde goed ontstig. Dit is die taak van die vertaler om sodanige ontstigting te verhoed indien dit nooit die bedoeling van die oorspronklike teks was nie.

 

LEES VERDER
profile pic

RAAK SPELSLIM ÉN WOORDSLIM MET DIE VIVA-APP

Donderdag, 16 Julie 2015 Geskryf deur Marlie Coetzee

Is jou Afrikaanse spelling en woordeskat iets wat jou taaljuffrou die horries gee? Moenie bekommerd wees nie! Hulp is so naby soos jou selfoon.

Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA), in samewerking met VivA se skolebekendstellingsvenoot, Atterbury Trust, het ʼn Afrikaanse woordeboek-app ontwikkel. Laai eenvoudig die splinternuwe, gratis VivA-app af, en kry kitstoegang tot nie een nie, maar sewe van die beste Afrikaanse woordeboeke en woordelyste: die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS), CTexT® SkryfGoed Tesourus, CTexT® Skryfgoed Woordelys, Kuberwoordeboek, Entrepreneurskapwoordeboek, Voorsetselwoordeboek en Gesegdes.

Prof. Gerhard van Huyssteen, uitvoerende direkteur van VivA, verduidelik dat VivA se woordeboekportaal ʼn tesourus en ses verskillende woordeboeke bevat wat ʼn gebruiker in staat stel om woordbetekenisse, vertalings en sinonieme van woorde vinnig en maklik na te slaan. Die app bevat ook ander taaldienste soos om daagliks vir ʼn gebruiker ʼn interessante taal- of spelwenk te bied. Die app is vir iOS en Android ontwikkel en kan gratis afgelaai word vanaf die Play Store en die App Store.

“Hoewel enigeen die app kan gebruik, rig VivA die app spesifiek op jongmense. Dit is vandag se skoolkinders en studente wat oor vyftig jaar steeds Afrikaans moet kan praat. VivA wil juis vir hulle die tegnologie gee om Afrikaans te kan gebruik,” verduidelik Van Huyssteen.

VivA gaan ʼn skolekompetisie vir hoërskoolkinders en hoërskole van stapel stuur op 17 Julie 2015 en die wenner sal op 18 September 2015 aangekondig word. Gaan stof bietjie ʼn Afrikaanse idioom of twee af, en stel dit op ʼn unieke manier visueel voor. Neem ʼn foto, teken ʼn prentjie of ontwerp jou skepping op die rekenaar. Jy kan selfs ʼn kort video maak! Stuur dan jou ontwerp vir VivA via Instagram met @viva_afrikaans en die hutsmerke #viva_afrikaans en #idioom. Onthou om jou #skoolnaam in te sluit.

Een graadelf- of graadtwaalf-leerder kan ʼn universiteitsbeurs losslaan ter waarde van R150 000, ook geborg deur die Atterbury Trust. Om vir die studiebeurs in aanmerking te kom, moet die leerling in graad 11 of 12 en by ʼn opvoedkundige instelling geregistreer wees. Die leerling mag vir enige studierigting van sy/haar keuse inskryf, maar hy/sy moet in Afrikaans studeer.

Daar kan weekliks lekker pryse gewen word. Tablette, selfone, T-hemde en ander koel pryse is op die spel.

Boonop kan die skool met die oulikste en oorspronklikste inskrywings R15 000 kontant wen met die komplimente van die Atterbury Trust.

Bepalings en voorwaardes: http://viva-afrikaans.org/skolekompetisie

VivA het ook kurrikulum gebaseerde lesplanne ontwikkel wat Afrikaans Huistaal en Eerste Addisionele Taal onderwysers kan gebruik vir onderrigdoeleindes. Die lesplanne en memorandums sal vanaf 17 Julie 2015 gratis afgelaai kan word vanaf die volgende skakel: http://www.viva-afrikaans.org/viva_lesplanne_skolekompetisie.zip

Onderwysers en skoolkinders word aangemoedig om van die VivA-app gebruik te maak wanneer die werkkaarte ingevul word.

“Ek glo dit is ʼn baie opwindende projek waaraan skole moet deelneem aangesien dit aan kinders en onderwysers die toerusting bied wat hulle kan help met Afrikaans,” het Van Huyssteen gesê.

VivA is ʼn navorsingsinstituut en diensverskaffer vir Afrikaans in digitale kontekste en is ʼn geregistreerde maatskappy sonder winsoogmerk. Die stigterslede van VivA is die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, ATKV, Dagbreek Trust, en Noordwes-Universiteit.

Vir meer inligting rakende die VivA-app of die skolekompetisie kan Marlie Coetzee gekontak word by 018 299 1020, of stuur ʼn e-pos deur Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..

Meer inligting

VivA se app          Kompetisie

VivA-app stel geselekteerde woordeboekinskrywings via 'n vanlyn app beskikbaar.
Lys van woordeboeke sluit in: die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS), CTexT® SkryfGoed Tesourus,
CTexT® Skryfgoed Woordelys, Kuberwoordeboek, Entrepreneurskapwoordeboek, Voorsetselwoordeboek en Gesegdes. 

Soek: “VivA-app”

 

Wen ʼn universiteitsbeurs ter waarde van R150 000!
Baie ander pryse: tablette, selfone, T-hemde
R15 000 vir jou skool
Beeld enige Afrikaanse idioom uit, neem ʼn foto, plaas op Instagram met @viva_afrikaans en #viva_afrikaans #idioom #skoolnaam
Meer info by viva-afrikaans.org

 

Google Play Apple APP Store

 

 

LEES VERDER

NUUSARGIEF

FACEBOOK