VIVA SE BLOGS

Die verraderlike voegwoord

Geplaas deur Sophia Kapp Donderdag, 08 Julie 2021
Gepubliseer in Nuus;

Trefwoorde: woordsoorte; voegwoorde; afhanklike sinsvolgorde; onafhanklike sinsvolgorde; voegwoordelike bywoorde

Hierdie blog oor voegwoorde is die volgende aflewering in ons blogreeks oor woordsoorte. Dit is nie in ʼn blog soos hierdie moontlik om al die inligting oor voegwoorde te verstrek nie, daarom is dit noodsaaklik om te verwys na die inligting soos vervat in die Afrikaanse skoolgrammatika (ASG), gratis toeganklik via Taalonderrigportaal op ons webblad.

Voegwoord: ʼn definisie

ʼn Voegwoord (Engels: conjunction) word in ASG soos volg gedefinieer:

'n Voegwoord is 'n woord wat gebruik word om sintaktiese konstruksies te verbind. Omdat dit woorde, sinsdele en sinne op 'n bepaalde manier verbind, skep voegwoorde samehang (kohesie en koherensie) in 'n teks.

Die proses: simplekse en komplekse sinne

Voordat ons by voegwoorde kom, moet ons net eers tot ʼn vergelyk kom oor wat die proses is wat hier beskryf word. Op skool het ons geleer dat die sprekers van ʼn taal die vermoë het om sinne te maak, maar dat hulle ook die vermoë het om sinne in meer komplekse strukture te skakel. Eenvoudig gestel: Sprekers kan van ʼn klomp simplekse sinne (sinne met een hoofwerkwoord) een lang, komplekse sin (ʼn sin met meer as een hoofwerkwoord) maak, bv.:

Simplekse sinne:

  • Hannes het covid.
  • Hannes voel baie sleg.
  • Hannes het daarom nie die toets geskryf nie.

Komplekse sin:

  • Hannes het covid en voel baie sleg, daarom het hy nie die toets geskryf nie.

Skakeling in komplekse sinne

Een van die maniere waarop sinne geskakel kan word, is met voegwoorde. In die komplekse sin hier bo is die voegwoord met vetdruk aangedui. Maar voegwoorde is lank nie die enigste metode waarmee ons sinne skakel nie.

Dis moontlik om sinne sonder voegwoorde te skakel. Die voorbeeldsinne hier onder is albei kompleks (het meer as een hoofwerkwoord), maar het nie voegwoorde in nie:

  • Hannes het covid; hy voel baie sleg.
  • Hannes sê hy voel baie sleg.

Dis ook moontlik om sinne met voegwoordelike bywoorde te skakel (kyk in die afdeling oor bywoorde in ASG as die term vir jou nuut is). Dit is bywoorde wat deel is van die simplekse (ook: enkelvoudige) sin, wat in die komplekse sin as ʼn skakelwoord gebruik word. In ons oorspronklike voorbeeldsin is daarom ʼn voegwoordelike bywoord. Dit was deel van die enkelvoudige sin, en in die komplekse sin het dit die skakelwoord geword.

Dit is ook moontlik om sinne met voegwoorde te skakel. Die groot verskil tussen voegwoorde en voegwoordelike bywoorde is dat voegwoorde nie deel is van die simplekse sinne nie, maar net deel word van die komplekse sin. Die woord en in die komplekse sin hier bo het net deel van die komplekse sin geword, dit was nooit deel van een van die simplekse sinne nie.

Hoekom moet ons weet wat voegwoorde is?

Die rede waarom leerders (en die res van die taalgemeenskap) voegwoorde onder die knie moet kry, is dat die soort voegwoord die soort sinsvolgorde bepaal wat op die voegwoord gaan volg.

Kyk mooi wat met die werkwoord (aangedui in hoofletters en vetdruk) in die volgende voorbeeldsinne gebeur:

  • Hannes het covid, en hy VOEL nie lekker nie.
  • Hannes sê dat hy nie lekker VOEL nie.

In die eerste sin is daar ʼn neweskikkende voegwoord (en) wat beteken dat die sin ná die voegwoord newegeskik (eweredig gerangskik) is aan die sin voor die voegwoord. Die eerste sin Hannes het covid het onafhanklike sinsvolgorde – die sin kan net so op sy eie gebruik word – en die neweskikkende voegwoord beteken dat die sin wat daarop volg oor onafhanklike sinsvolgorde gaan hê: hy voel nie lekker nie.

In die tweede sin is daar ʼn onderskikkende voegwoord (dat) wat beteken dat die sin ná die voegwoord ondergeskik is aan die eerste sin. So ʼn ondergeskikte sin het gewoonlik afhanklike sinsvolgorde – dit kan nie net so op sy eie gebruik word nie. Ons ons na die voorbeeld terugkeer, sien ons dat hy nie lekker voel nie so ʼn afhanklike sinsvolgorde het. In sintaksis sê ons dat die hoofwerkwoord van so ʼn sin uit die spil verskuif na ʼn posisie naby die sinseinde (darem nog gewoonlik voor die laaste nie).

Vangplekke met voegwoorde

Afhanklike sinsvolgorde is vir tweedetaalsprekers ʼn uitdaging, want die verskuiwing van die werkwoord is nie iets wat nie in Engels gebeur nie:

  • Hannes has covid and he isn’t feeling well.
  • Hannes says he has covid.
  • Hannes says that he has covid.

Vir die meeste moedertaalsprekers van Afrikaans is afhanklike en onafhanklike sinsvolgorde gewoonlik onproblematies. Ons trap wel so ʼn bietjie klei met die afhanklike volgorde ná die onderskikkende voegwoord of. Dis nou die of wat in Engels beteken ‘if’ of ‘whether’, bv.:

  • Sy vra of Hannes covid het.
  • She asks if/whether Hannes has covid.

Ons is geneig, waarskynlik onder invloed van Engels, om onafhanklike sinsvolgorde ná daardie of in te span:

  • *Sy vra of het Hannes covid.

En dan plaas ons nog, verkeerdelik, ʼn vraagteken daarna, al is dit ʼn stelsin:

  • *Sy vra of het Hannes covid?

Voegwoorde en die sintaksis

Uit hierdie bespreking behoort dit duidelik te wees dat daar ʼn onlosmaaklike verband tussen voegwoorde en korrekte sintaktiese konstruksies is. Leerders wat sukkel om Afrikaanse sinne te maak, het gewoonlik nie voegwoorde onder die knie nie, en dit kan dalk die moeite werd wees om die inligting in die afdeling oor voegwoorde in ASG behoorlik met hulle deur te werk.

VivA-groete

Sophia

Lees 1502 tye

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.


NUUSARGIEF

FACEBOOK