Lees en skryf kan vir die meeste taalgebruikers soms ʼn uitdaging wees. Soos wat almal weet, betree ons dan die skryf-lees-herskryf-lees-herskryf-proses – wat soms ook soos ʼn nimmereindigende siklus kan voel. In hierdie gevalle steun ons hewig op taaltegnologie soos outomatiese speltoetsers, aanlyn tesourusse, woordeboeke, korpusportale en soms selfs op outomatiese grammatikalesers wat die struktuur van jou sin as geheel kan opweeg en redigeer.
Genadiglik leef ons in ʼn era waar die meerderheid van hierdie tegnologiese taalhulpmiddels in Afrikaans beskikbaar is, en waar slegs Engels beskikbaar is, is daar altyd Google Translate. Maar hoe gemaak wanneer jy ʼn neurologiese toestand het wat jou verhoed om te leer lees en skryf?
Disleksie, dispraksie en disgrafie is drie neurologiese toestande wat as leerhindernisse manifesteer en kan verhoed dat ʼn leerder leer lees en skryf. ʼn Beraamde 5 miljoen mense in Suid-Afrika word daagliks met die uitdagings van disleksie gekonfronteer. Hierdie uitdagings is nie net beperk tot die ontwikkeling van lees- en skryfvermoëns nie, dit beïnvloed ook die taalgebruiker se leestempo, leesbegrip en die vermoëns om klanke en letters te kodeer.
Leerhindernisse soos disleksie, dispraksie en disgrafie het niks met die intellektuele vermoëns van hierdie persone te make nie, maar het ʼn enorme impak op so ʼn persoon se vermoë om hulle in taal uit te druk. Die gevolg daarvan is dat baie disleksielyers byvoorbeeld deur hulle eweknieë as onbevoeg of onopleibaar beskou word, terwyl hulle ten diepste net sukkel om taal te kodeer.
Terwyl gratis taaltegnologieë soos outomatiese speltoetsers en slim komponeringsprogrammatuur die skryfproses in die werksplek kan bemiddel, is hierdie tegnologie dikwels nie beskikbaar in klaskamers of eksamens nie. Leerders met hierdie leerhindernisse word dikwels op skoolvlak geakkommodeer deur middel van eksamenkonsessies, hetsy meer tyd om die eksamen af te lê, of ʼn persoon wat die vraestel kan voorlees en in sommige gevalle namens die leerder mag skryf.
Alhoewel hierdie konsessies beslis ʼn waardevolle hulpbron is, waarsonder die vraestel nie toeganklik vir die leerder sou gewees het nie, is hierdie konsessies uitsluitlik op eksaminering gefokus. Die leerder moet steeds op eie krag steun in die klaskamer wanneer die kurrikulum behandel word, en by die huis wanneer huiswerk gedoen word. Die gevolg is dat die leerder nie werklik in staat gestel word om self interaktief met die inhoud te kan omgaan en te kan uiting gee aan hul interpretasies, ervaring en begrip sonder ʼn eksterne persoon wat die proses fasiliteer nie.
Daarbenewens kan konsessies slegs toegeken word aan leerders wat gediagnoseer is met een van hierdie leerhindernisse, en mits die onderwysinstelling oor die nodige hulpbronne beskik om hierdie konsessies te lewer. Vir diegene wat nooit gediagnoseer word nie, is daar byna geen genade nie.
Die invloed wat taaltegnologie soos dikteerstelsels en voorleesprogrammatuur op die vermoëns van ʼn leerder met leerhindernisse het, is astronomies. Dit stel die leerder in staat om toegang tot leermateriaal te verkry en die nodige uitsette op eie stoom te produseer.
VivA het ʼn toeganklikheidsveldtog geloods om onder meer ons webwerf, produkte en dienste gebruikersvriendelik te maak vir swaksiendes en blindes wat aanvullende programmatuur gebruik om toegang tot VivA se taalhulpbronne te verkry. Dit maak ook VivA se produkte en dienste meer toeganklik vir leerders met leerhindernisse soos disleksie en dispraksie. Die aanlyn Lees-en-luisterbiblioteek bied veral vir leerders met sulke leerhindernisse die geleentheid om hul leesvermoëns te ontwikkel deur middel van ʼn multisensoriese leeservaring.
Tog is al hierdie aanpassings, so nodig en ingrypend as wat hulle is, nie genoeg om die uitdagings van disleksie, dispraksie en disgrafie volkome die hoof te bied nie. Die behoefte aan ʼn Afrikaanse dikteerstelsel wat akkuraat in Afrikaans kan dikteer, diktasies kan wysig en kan voorlees, is oorweldigend. Alhoewel sommige gratis programmatuur reeds oor soortgelyke funksies in Afrikaans beskik, is hierdie produkte dikwels nie ingestel op die fyner nuanses, uitspraakvariasies en taalvariëteite van Afrikaans nie. Meer gevorderde, gespesialiseerde programmatuur is óf slegs in Engels beskikbaar, óf bloot te duur vir onderwysinstansies of privaat huishoudings om aan te koop.
Die voordele van moedertaalonderrig is onbetwisbaar, en die implementering van taaltegnologie in onderwysinstansies wat spesialiseer in leerhindernisse het nie net ʼn verhoging in leerders se vermoëns en punte tot gevolg gehad nie, maar ook die leerder se selfbeeld versterk. VivA is dus bevoorreg om in samewerking met ander sleutelrolspelers (insluitend Stellenbosch Universiteit en Saigen) te werk aan ʼn omvattende en akkurate Afrikaanse dikteerstelsel wat moedertaalonderrig ook vir leerders met neurologiese leerhindernisse soos disleksie, dispraksie en disgrafie moontlik maak. Die ontwikkeling van só ʼn dikteerstelsel is ʼn ingewikkelde, duur proses wat ongelukkig nie oornag kan plaasvind nie, maar dit is ʼn doel waarna ons met oorgawe streef.
VivA-groete
Roné