VIVA SE BLOGS

Hoekom? Die skakel tussen woordsoorte en spelreëls

Geplaas deur Nadine Fouché-Karsten Woensdag, 01 Desember 2021
Gepubliseer in Grammatika;

Ek kom nou die dag die volgende Engelse woord teë waarvan ek nie die betekenis ken nie: “sesquipedalian”. Onmiddellik klim ek op die rekenaar en hark my versameling aanlyn Pharos-woordeboeke nader. ‘1 ’n lang mens/ding; 2 lang woord (naamwoord); 1 polisillabies, veellettergrepig; 2 ellelank (pred.), ellelang(e) (attr.); 3 langdradig, omslagtig, wydlopig” (adjektief)’ is die betekenisse wat daar vir my gegee word.

Wat ek gedoen het, is om ’n hulpmiddel, naamlik ’n woordeboek, te gebruik om ’n talige kwessie op te los. Net so is kennis van woordsoorte ’n belangrike hulpmiddel wat gebruik word wanneer die korrekte spelling van woorde bepaal moet word. Woordsoorte moet derhalwe as ’n middel tot ’n doel beskou word en nie ’n doel op sigself nie – ’n mening wat ook in die onderrigleerplan, die Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring, gehuldig word.

Neem die woord gunsteling as voorbeeld (voorbeelde geneem vanaf die aanlyn HAT of aanlyn HAT Afrikaanse Skoolwoordeboek).

  • Daardie liedjie is [my gunsteling].
  • Sondae saai hulle [ou gunstelinge].

Dit is ’n naamwoord, aangesien dit die belangrikste element vorm van ’n groepie woorde (aangedui tussen blokhakies), wat normaalweg optree as die onderwerp/subjek of voorwerp/objek van die sin. Daarby het dit, net soos ander naamwoorde, ’n benoemingsfunksie: In albei die bostaande voorbeelde benoem gunsteling ’n liedjie waarvan die persoon meer hou as van ander. Die gebruik as ’n naamwoord word ook weerspieël deur die verbinding met die voornaamwoord my en die byvoeglike naamwooord / adjektief ou. Omdat gunsteling ’n naamwoord is, en ’n naamwoord wat met ’n ander woorddeel verbind om ’n samestelling te vorm normaalweg vas geskryf behoort te word (bv. klas + kamer = klaskamer), verklaar dit waarom gunstelingskrywer, gunstelingresep en gunstelingsokkerspeler as een woord vas geskryf moet word (vergelyk reël 15.3 in die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls).

Indien taalgebruikers begryp dat die woord hier en onder in die voorbeeld Klik hier onder (uit die korpus van VivA) albei bywoorde wat plekaanduidend is, sal hulle hier en onder los skryf (vergelyk reël in AWS 15.58). Die woord hier brei die betekenis van die werkwoord kliek ten opsigte van plek uit, en die woord onder weer die betekenis van die bywoord hier ten opsigte van plek. Hulle sal hier onder (en ook hier bo, hier naby asook hier voor) duidelik kan onderskei van hieronder wat as een woord vas geskryf word waar hier die waarde van die persoonlike voornaamwoord ‘dit’ het, byvoorbeeld Wat moet ons hieronder (= onder dit) verstaan? (vergelyk reël in AWS 15.57).

Kennis van woordsoorte sal die taalgebruiker ook in staat stel om leestekens korrek te gebruik. Neem die tussenwerpsel as voorbeeld. Taalgebruikers wat begryp dat woorde soos sjoe, dankie, hallo en ai woordsoortelik as tussenwerpsels gereken word, omdat dit emosies uitdruk of kommunikatief optree of houding uitdruk en nié in die sin geïntegreer word nie, sal dié woorde op verskeie maniere van die res van die sin skei. Hulle sal dus reël 13.31 in die AWS nakom. Vergelyk as voorbeelde:

  • Sjoe, hierdie foto’s is nou wraggies ongelooflik! (voorbeeld geneem uit die korpus van VivA)
  • Het jy gehoor, sjoe, maar ek skinder nou (voorbeeld geneem uit die korpus van VivA)
  • Toe frons sy kwaai, sjoe (voorbeeld geneem uit die korpus van VivA)

Die onderstaande taak wat deur Fouché, Pedro en Van der Merwe (2021) saamgestel is, dui aan hoe kennis van woordsoorte gebruik kan word om spelpatrone te ontdek.

 

Bestudeer die kreatiewe manier waarop die skrywer van Hondman op hol, Pilkey (2017), nuwe woorde geskep het om Ken, die konstabel, die beskryf.

Prent vir blog

1. Hy het adjektiewe (byvoorbeeld “bultende” en “goeie) gebruik om die saak waarna die naamwoord (byvoorbeeld “bieliebiseps” en “hart”) verwys, te beskryf. Hy het ook verskillende woordsoorte verbind om ’n nuwe naamwoord te vorm:

  1. n Bywoord, werkwoord en nog ’n naamwoord word verbind om ’n naamwoord te vorm, byvoorbeeld “voos” + “slaan” + “vuiste” om “voosslaanvuiste” te vorm.
  2. ’n Naamwoord, ’n werkwoord en nog ’n naamwoord word verbind om ’n naamwoord te vorm, byvoorbeeld “wind” + “uitskop” + “knieë” om “winduitskopknieë” te vorm.
  3. Twee naamwoorde word verbind, byvoorbeeld “koeng foe” en “skopvoete” om “koeng foe-skopvoete” te vorm.

2. Watter spelpatrone lei jy by elkeen van die bostaande kombinasies af?

  1. Wat sien jy by ’n adjektief wat voor ’n naamwoord staan?
  2. Hoe verskil ’n bywoord en werkwoord wat alleen gebruik word (“hy slaan hom voos”) van wanneer nog ’n naamwoord ná dit gebruik word (“voosslaanvuiste)?
  3. Hoe verskil ’n naamwoord en ’n werkwoord wat alleen gebruik word (“Hy het sy wind uitgeskop”) van wanneer nog ’n naamwoord daarna gebruik word (“winduitskopknieë”)?
  4. Hou jy van die spelwyse van “koeng foe”, of sou jy dit op ’n ander manier wou spel?

3. Dink jy “bobaas”, soos in “bobaaspolisieman” is reg gespel? Moet dit nie eerder los geskryf word nie? Hoe sal jy vir iemand verduidelik waarom “bobaas” vas aan “polisieman” geskryf word en nie los nie? (Wenk: Jy gaan dalk die antwoord kry deur die volgende bloginskrywing deur Sophia Kapp (2018b) oor die woord “gunsteling”, wat op VivA Afrikaans se webtuiste verskyn het, te raadpleeg:  Nog los-en-vassery: privaat, gunsteling en reuse”.

 

Wat uit die bostaande bespreking duidelik behoort te wees, is ’n siening wat reeds vyftig jaar gelede in die werk van Van der Merwe (1970) weerspieël is, naamlik dat “[g]rammatika-onderrig ’n noemenswaardige taalvormende faktor [word] alleen wanneer dit met die (redelik algemene) gebruik (die lewende taal) verband hou en daarmee gekorreleer en geïntegreer word”. Toegepas op woordsoorte, word die volgende geïmpliseer: Deur woordsoorte direk in verband met die spelling van woorde te bring wat gereeld deur leerders gebruik word, word die onderrig van woordsoorte taalvormend benader.

VivA-groete

Nadine Fouché-Karsten

Bronnelys:

Fouché, N., Pedro, M. & Van der Merwe, M. 2021. Gefokusde take in die Afrikaans Huistaal-klaskamer vir die kommunikatiewe onderrig van Afrikaansgrammatika: ’n eerste verkenning. LitNet Akademies, 18(3). https://www.litnet.co.za/gefokusde-take-in-die-afrikaans-huistaal-klaskamer-vir-die-kommunikatiewe-onderrig-van-afrikaansgrammatika-n-eerste-verkenning/

Lees 1384 tye Laaste modifikasie op Vrydag, 04 Maart 2022 05:14