Dis ʼn lament wat ʼn mens baie hoor: Mense skryf "deesdae" verkeerd, asof hulle toentertyd reg geskryf het en nou skielik, met die opkoms van sosiale media, slordig skryf. Ek is nie oortuig dat dit die geval is nie, en ek gaan dit ook nie glo sonder behoorlike navorsing wat dié aanname klinkklaar bewys nie. Ek dink die knoeiers was altyd met ons, ek dink net ons het hulle nie sien skryf nie. Dink mooi daaroor – hoeveel geleenthede het ʼn mens voor die opkoms van Facebook en Twitter gehad om elke Jan en San Rap se skryfwerk waar te neem? Sosiale media het net ʼn ruimte geskep waar almal se skryfvaardighede skielik ten toon gestel word. Ek dink eerlikwaar nie mense skryf vrotter nie, ek dink ons sien net meer vrot skryfwerk. Wat natuurlik beteken dat ʼn mens nie skielik meer bekommerd hoef te wees oor mense se vrot spelling nie – hulle het in die verlede ook vrot gespel, en Afrikaans het oorleef.
In dieselfde mate as wat ons nou vrot skryfwerk net meer sien, sien ons nou reaksie op vrot skryfwerk, maar ek is ook nie altyd oortuig dat dié reaksies geldig is nie. Taalpraktyk en teksredigering is nie ʼn ding waarin ʼn mens blindelings instorm nie. Taalpraktisyns wat jare lank dié werk doen, weet nou al: As daar ʼn maklike manier is om op jou neus te kyk, is dit met taalwerk, want taalreëls en -konvensies word nie bepaal deur wat ʼn mens dínk reg is nie, dit word bepaal deur wat in woordeboeke en taalnormeringsbronne opgeteken is. As ʼn mens ander mense se skryfwerk regmaak op grond van wat ʼn mens vóél reg is, is jy kort voor lank net so skuldig as die oorspronklike sondaar.
Dit verstom my altyd – hierdie bereidwilligheid van mense om te aanvaar wat hulle "op skool so geleer" het, geld nou nog en geld vir almal om hulle. Geen bron tel vir hulle nie, net die kennis waarmee hulle van skooltyd af aankom. Die tyd, moeite en navorsing wat die Taalkommissie, die leksikograwe by woordeboeke, die subs by koerante en die praktisyns by uitgewers in hulle werk stort om seker te maak reëls is korrek en die toepassing daarvan is konsekwent, geld nie, al wat tel, is wat die laerskooljuffrou van Gatserand Primêr in 1971 oor die saak gesê het. Dis miskien die eerste belangrike raad wat ek kan gee: As jy ander mense oor die vingers wil tik oor hulle skryfwerk, moet jy baie, baie, báie seker wees hulle is wel verkeerd en jy is wel reg. Balk, oog, eie deur, en so aan.
Op hierdie deuntjie moet ek ongelukkig verwys na ʼn lys wat op ʼn Afrikaanse webwerf geskep is met die doel om Afrikaanssprekers en -skrywers te help om beter Afrikaans te pleeg. Die ding se naam is "Gespierde Afrikaans" en word deur gebruikers van die spesifieke blad bygewerk. (Toe ek tydens die skryf van hierdie blog daarna gekyk het, was die jongste bywerkings so ses weke vantevore.) Dis nie ʼn soort publikasie waaraan ek my normaalweg sou steur nie, want webblaaie het die reg om te doen wat hulle wil, ook om te knoei, maar dit is onder my aandag gebring dat studente by ʼn Afrikaanse onderriginstelling voorgesê is om dié lys te raadpleeg wanneer hulle werkstukke skryf. As "Gespierde Afrikaans" ʼn voorskrif word, is dit my saak en gaan ek my daaraan steur. Laat ek dit so stel: Nie een inskrywing op die lys word deur ʼn bron ondersteun nie, dis gewoon lukrake deelnemers wat lukraak sekere (persoonlike) voorkeure aangedui het as "meer korrek". Intussen is goed ʼn driekwart van die "ongewenste" inskrywings op die lys woorde wat in woordeboeke en/of die woordelys van die AWS opgeneem is en heeltemal aanvaarbaar is in geskrewe Afrikaans.
Wat meer is, die "ongewenste" inskrywings is woorde wat wyd in vaktaal aangewend word, maar wat deur die deelnemers aan die lys (verkeerdelik) as anglisismes beskou word. Daar word byvoorbeeld voorgeskryf dat ʼn mens eerder "verblyf" moet gebruik as "akkommodasie", dat ʼn mens moet verwys na ʼn "redenasie" eerder as ʼn "argument" en dat ʼn mens eerder moet praat van "onderdele" as "elemente". Bloot uit ʼn betekenisoogpunt, is die meeste van hierdie voorstelle al problematies. Die "elemente" van die periodieke tabel is nie "onderdele" van die periodieke tabel nie, en as ʼn mens iemand se voorkeure en fiemies "akkommodeer", het jy nie "verblyf daaraan verleen" nie. Die inskrywings hou glad nie rekening met die konteks waarin hierdie woorde gebruik word nie.
Die grootste kwelling wat ek egter ten opsigte van die lys het, is dat dit mense se verkeerde opvattings oor wat anglisismes is, akkommodeer (nie verblyf gee nie) en versterk. Volgens hierdie lys is Afrikaans se ganse Romaanse erfenis ongewens, bloot omdat daar ʼn soortgelyke woord in Engels bestaan. Dit is gewoon taalkundig verkeerd. Ek het al baie geskryf oor die anglisismespook waarmee taalgebruikers mekaar intimideer, en hierdie lys is ʼn klinkklare bewys van die skade wat onkunde oor anglisismes Afrikaans berokken: Die jong studente wat hierdie lys moet gebruik as riglyn by hulle skryfwerk, word nie net van die wal in die sloot gehelp nie, hulle woordeskat word beduidend verskraal. Dit help Afrikaans nie, dit doen Afrikaans geweld aan.
Dit bring my by my tweede waarskuwing: Afrikaans word nie gehelp deur woorde uit sy woordeskat te weer nie. Ja, ʼn spul ongestandaardiseerde leenwoorde in ʼn Afrikaanse teks is hinderlik. Ja, ek kry ook ʼn pyn in die follikels as ek moet hoor die "songs" wat die "band" tydens "worship" gespeel het, was "awesome". Maar waak teen die opvatting dat woorde wat ook in ʼn ander taal (soos Engels) bestaan, Afrikaans bedreig. Dis nie waar nie. Afrikaans word bedreig deur die regering wat hom van sy funksies beroof, deur ouers wat hulle kinders in Engelse skole sit, deur Afrikaanse gesinne wat emigreer, deur Afrikaanssprekendes wat nie meer betaal vir Afrikaanse koerante nie, deur gebruikers wat inhoud uit Afrikaanse boeke (of dit nou kookboeke, handwerkboeke, storieboeke of woordeboeke is) onregmatig kopieer en deel sodat dit vir die skeppers van die inhoud nie meer die moeite werd is om dit te skep nie. Afrikaans gedy as hy in die hande en monde van gebruikers gedy, as sy produkte gedy, as sy produkskeppers gedy. "Akkommodeer" bedreig nie Afrikaans nie.
En dan ʼn laaste opmerking: Mense reageer gewoonlik beter op ʼn wortel as op ʼn stok. Teregwysings oor taal het gewoonlik die teenoorgestelde uitwerking as waarop ʼn mens hoop, en teregwysings oor taal het op sosiale media ʼn ander doel gekry as die beskerming van Afrikaans: As mense nie hulle argument met feite kan wen nie, raak hulle venynig oor die ander persoon se taalgebruik: Wat weet jy, jy kan nie eers spel nie. Dit gaan Afrikaans glad nie help nie.
Ek weet ek praat maklik. Ons werk hier by VivA is om mense bewus te maak van taalreëls. Ek plaas elke dag ʼn taalwenk op ons Facebookblad met die uitsluitlike doel om taalgebruikers bewus te maak van die "korrekte" manier om die taal aan te wend. Maar ek probeer om hierdie raad in ʼn formaat aan te bied wat mense nie afskrik nie: Ek vermy dit om gebruikers in die kommentaarstroom bewus te maak van foute wat hulle in hulle plasings maak, want dit is vir my belangriker dat hulle deelneem. Ek tik nie iemand oor die vingers oor taalfoute in ʼn e-pos wat hulle aan my stuur nie, want ek weet dit verg moed om vir ʼn wildvreemde persoon ʼn e-pos met ʼn taalnavraag te stuur, en ek wil graag hê hulle moet die vrymoedigheid hê om weer te vra. Kortom, ek probeer op ons blad en in my interaksie met gebruikers ʼn ruimte te skep waar hulle veilig voel om hulle taal te gebruik.
Dalk is dit dus uiteindelik my antwoord: Maak Afrikaans veilig. Maak jou raad aan ander ʼn wortel eerder as ʼn stok. Moenie raas nie, help. Moenie die taal as ʼn dolk gebruik om ander te verkleineer nie. Prys die regte goed, die mooi goed, die oulike goed. Werk sagkens met jou taalgenote, onthou dat nie almal die gawe van taalvaardigheid gekry het nie, maar dat almal steeds die reg het om die taal te gebruik. Wees boweal versigtig om Afrikaans in ʼn glaskas te wil gaan sit sodat dit nie in die hande van onkundige gebruikers besmet word nie. Die goed in ʼn glaskas is die einste goed waaraan ʼn jonger generasie geen erg het nie. Hulle wil ʼn ding hê wat hulle kan gebruik, wat nuttig is, wat soepel en vaardig en modern en veerkragtig bly. Help liewer hierdie veerkrag en lewenskragtigheid deur dit vir ʼn jonger generasie gebruikers lekker en gemaklik te maak om Afrikaans in sy volle, ryke, kragtige omvang te leer ken.
Intussen is ons daar om te help. As jy ʼn groot griller het wat jy graag onder mense se aandag wil bring, stuur vir ons ʼn e-pos (Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.) of ʼn whatsapp (062 126 0295), dan maak ek ʼn taalwenk wat jy wyd en syd kan deel. Ek maak dan die wortel, en jy kan hom voor almal se neuse gaan skud.
VivA-groete
Sophia