VIVA SE BLOGS

Tuis in my taal – die aanlyn HAT is weer beskikbaar

Geplaas deur Sophia Kapp Sondag, 20 Februarie 2022
Gepubliseer in VivA;

Trefwoorde: woordeboeke; Woordeboekportaal; Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal; eHAT

Ek het grootgeword by doodgewone ouers in ʼn doodgewone huis in ʼn doodgewone voorstad met ʼn doodgewone skool vol doodgewone kinders.

As ek sê “doodgewoon” bedoel ek nie die ouers of die huis of die skool of die kinders in die skool was minderwaardig nie, ek bedoel net nie een van hulle sou in enige koerant ooit gemeld word as ʼn uitblinker nie. Met die uitsondering van Charmaine Gayle wat ʼn jaar voor my was en vir ʼn rukkie die wêreldrekord vir hoogspring in haar ouderdomsgroep gehou het.

Charmaine was ons ster, die res van ons was gewoon. Ons het deur wiskunde en geskiedenis en skeinat en Afrikaans geploeter, want ons skool was ʼn kilometer van die see af, en al wat almal wou doen, was om te gaan branderplankry, of om op die strand te lê en te kyk vir die manne wat branderplankry. Ek vermoed die onderwysers van hierdie spul ploeteraars was pouses eerder lus vir vodka as tee, en die skoolklok was vir hulle meer van ʼn verlossing as vir ons, want wie wil nou dag in en dag uit met so ʼn spul donkies in ʼn klas sit?

Ek self was ʼn besonder ontalentvolle leerder. Sero syfervaardigheid. Soos in niks. Soos in kan nie twee en drie bymekaar tel sonder om ʼn fout te maak nie.

Gelukkig het die skool ʼn goed toegeruste biblioteek gehad waar ek elke pouse ʼn arm vol boeke kon gaan uitneem wat ek onder die bank gelees het, en dan die volgende pouse weer kon gaan omruil. Stories was my passie, en my enigste talent was dat ek kon spel. Die enigste klas waarin ek ooit tuis gevoel het, was die Afrikaansklas.

Die klas was so doodgewoon soos die res van die skool, met sulke aaklige avokadogroen staalborde teen die voorste muur, afgeleefde skoolbanke waarop dekades se bedroë minnaars die voorletters van onbereikbare geliefdes met hulle passers uitgekrap het, en ʼn ingeboude rak agter in die klas waarop meneer Pierre van Wyk se pynlik deeglike letterkundeaantekeninge vir jou lê en wag het.

Maar bo-op die rak, net so mooi op ooghoogte, het die hart van die Afrikaansklas gelê. Die spil van alles wat daar gebeur het. Die bron. Die fontein waarheen almal in die klas keer op keer teruggekeer het om die dors van hulle onkunde te gaan les: die HAT.

Die eksemplaar was al ʼn paar jaar oud en nie meer mooi nie. Die rug het losgegaan en die binnegoed van die boek het gewys, soos die plastiekmodelle in die biologieklas waarvan die skelet so halfpad uitgesteek het. Maar wat die boek bevat het ... Dit was waaroor Afrikaans vir my gegaan het.

Woorde. Woorde, wat soos die lekkergoed in die snoepie op ʼn ry uitgepak is waarvan ʼn mens kon vat, sonder voorbehoud en sonder om te betaal, om te gaan verslind tot jy heeltemal versadig was. Woorde wat lewe gegee het aan ʼn skoolopstel en ʼn skrywer ʼn glimp gegee het van wat ʼn mens alles met hierdie taal kan doen as jy hom ken. Woorde wat kon sing, wat in die hande van woordkunstenaars soos van C Louis Leipoldt en Boerneef en Sheila Cussons en Hennie Aucamp musiek geword het wat die siel kon voed.

Definisies wat die taal op papier laat lewe kry het, wat NP van Wyk Louw oopgebreek het soos ʼn ryp granaat, wat ʼn mens verwonderd laat staan het teenoor die kuns van groot geeste soos André P Brink en Etienne Leroux.

Idiome en hulle verklarings, wat ʼn geslote teks vir die Afrikanertjies in The Last Outpost toeganklik gemaak het en ons laat een voel het met ons taalgenote in die Kaap, Namakwaland, Wes-Transvaal, Rehoboth, die Kalahari.

Dit was nie ʼn woordeboek nie, dit was ʼn skakel met die taalgemeenskap. Dit was ʼn plek waarheen ek kon gaan, weer, en weer, en weer, om my te gaan verlustig in die taal waarin ek my menswees moes uitdruk. Dit was ʼn versekering dat geslagte mense voor my reeds die skatte van die taal raakgesien en waardeer het, en dat my verbondenheid met Afrikaans kan voortleef wanneer ek uit meneer Van Wyk se Afrikaansklas stap, die wêreld in.

Die HAT was ʼn geskenk. Dit was ʼn erfenis. Dit was ʼn nalatenskap, nie net aan die taalgemeenskap nie, dit was ʼn nalatenskap aan elke kind wat in hierdie taal van ons ʼn tuiste gevind het, dit was ʼn nalatenskap aan elkeen wat ooit die pen opgeneem het om hulle syn in hulle moedertaal uit te druk.

Miskien is dit my herinnering aan daardie verslete donkerblou HAT op die rak agter in die Afrikaansklas wat die skok so groot gemaak het toe die HAT se uitgewer, Pearson South Africa, hier na die einde van 2021 aangekondig het dat hulle die e-weergawe van die bron van die mark gaan onttrek. Die papierboek sou hulle nog verkoop, het hulle laat weet, maar die onderhoud en die gasheerkoste verbonde aan die huisvesting van die eHAT, maak dat die bron nie meer vir hulle lonend is nie.

Dit was vir ons hier by VivA ʼn swaar slag, want die HAT is ʼn integrale deel van die woordeboekaanbod in Woordeboekportaal, die ruimte waarin ons digitale woordeboeke huisves en wat ons via ons app aan die taalgemeenskap beskikbaar stel.

Dit was duidelik uit die reaksie van ander belanghebbendes in die Afrikaanse taalgemeenskap dat die onttrekking van die bron groot kommer veroorsaak. Organisasies soos die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, die ATKV, die leksikograwe by die WAT, US se Taalafdeling, die Taalraad, en verskeie ander kultuur- en taalgroepe het met die uitgewer in gesprek getree. VivA ook. Vir ons is die bron immers nie net ʼn lekkerte om agter in ʼn klas op ʼn rak te hê nie, dis die ruggraat van ons werk.

Die soort geldgedrewe samelewing waarin ons leef, het my maar pessimisties gemaak oor ʼn positiewe uitslag vir dié samesprekings. ʼn Uitgewery is nie ʼn welsynsorganisasie nie, en Pearson is nie Afrikaans nie. ʼn Begrip soos liefde vir ʼn taal en ʼn nalatenskap aan ʼn taalgemeenskap beteken nie veel wanneer die syfers onder aan ʼn inkomstestaat die hardste praat nie.

Dit is dus met enorme verligting en groot waardering tenoor al die betrokkenes, ook Pearson South Africa, dat ons kan bekend maak dat die eHAT weer beskikbaar gestel word en via VivA se slimfoontoepassing, VivA-app (Aanlyn) toeganklik is. Dit is ʼn betaalbron, wat beteken gebruikers moet daarop inteken om die definisies te sien, maar daardie intekengeld word aangewend om hierdie taalskat aan die lewe te hou. Intekening beloop R500 per jaar, en dit verleen toegang tot HAT6, HAT se Taalgids en die HAT se skoolwoordeboek. Gebruikers wat graag op die bron wil inteken, kan die instruksies in ons winkel volg.

Skole wat die bron vir hulle leerders wil aankoop, kan ʼn skoollisensie bekom. Die lisensie beloop R9 000 per jaar en verleen toegang vir die ganse skoolgemeenskap tot die bronne wat hier bo genoem word.

Ja, dis ʼn uitgawe wat ʼn gat in ʼn skoolbegroting gaan maak. Ja, sommige leerders gaan dit nie gebruik nie. Ja, vir sommige gaan dié aansienlike uitgif nie die moeite werd wees nie.

Maar iewers in die klas is daar ʼn dromer, ʼn kind met ʼn storie wat net verwoord moet word om ʼn blitsverkoper te word, ʼn kind wat so al met die naslaan saam besef watter krag in taal lê en ʼn navorser of ʼn regter of ʼn beroepsvoorligter of ʼn onderwyser word omdat hulle weet hoe om taal doeltreffend in te span. Omdat hulle blootgestel is aan ʼn bron waarin hulle kan sien hoe hoog en diep en wyd Afrikaans strek.

Ons het ʼn geskenk gekry. Ons het ʼn boek wat dood was, teruggekry. Laat ons elkeen dit koester, nie net met waardering nie, maar deur daaglikse gebruik daarvan, sodat ons verbondenheid met Afrikaans nie net lippediens bly nie, maar omskakel in die daadwerklike bewaring van sy erfenis.

VivA-groete

Sophia

Lees 1704 tye Laaste modifikasie op Sondag, 20 Februarie 2022 08:27

kommentaar

  • Kommentaarskakel
    Rudolf Oosthuizen
    Rudolf Oosthuizen
    Dinsdag, 07 November 2023 08:13

    Ek het jare die toepassing gebruik waneer ek vashak met ‘n woord maar nou het dit verval en om R500 per jaar betaal is belaglik Ek probeer om my korrespondensie in Afrikaans te doen en die beste te lewer
    Dis jammer dat alles dat alles net oor geld gaan

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.


NUUSARGIEF

FACEBOOK