VIVA SE BLOGS

'n Wenk het nie tande nie

Geplaas deur Sophia Kapp Donderdag, 24 Februarie 2022
Gepubliseer in VivA;

Ek wil ʼn ding sê en ek gaan hom sê.

Ek het aan die begin van die jaar ʼn blog geskryf oor hoe ‘n mens ander mense “help” as hulle taalfoute begaan. Die punt van dié blog was om te gesels oor hoe ʼn mens oor taal gesels, en om te sê dat ons veral versigtig moet wees om van Afrikaans ʼn instrument te maak waarmee ons ons taalgenote aanval en aftakel. In dieselfe blog het ek verwys na die taalwenke wat ons elke dag op ons Facebookblad plaas, sommer net om mense bewus te maak van spelling en taalreëls en vertaalmoontlikhede en Afrikaans se oudhede en oulikhede.

Hierdie taalwenke maak ons al van VivA se geboortejaar af (2015) toe dit geskep is om die instituut so ʼn bietjie te bemark en om sommer op ʼn gemaklike manier ʼn bietjie taalbewustheid te skep. Ons het aanvanklik gedink dis net die gewone taalbetotteldes (soos ons) wat ons gaan volg en moontlik ons plasings deel, maar ons het nooit gedink dat ons regtig enige noemenswaardige steun op sosiale media gaan hê nie. Ons verkoop per slot van rekening taalreëls, nie seks of politiek nie. Hoe gewild kan ons nou wees?

Die belangstelling in ons plasings en in ons werk verstom ons (steeds) daagliks. En maak ons nederig dankbaar.  En begeester om nog meer en nog beter te presteer sodat almal wat Afrikaans praat – ook diegene wat dit nie as moedertaal het nie – tuis voel in hierdie taal wat so die lewensbloed van ons werk is. Ons probeer steeds elke dag ʼn stukkie inligting oor Afrikaans of ʼn hulpmiddel of ʼn riglyn of ʼn wenk deel, net omdat dit dalk inligting is wat iewers vir iemand die lewe makliker kan maak.

Ongelukkig is dit nou eenmaal so dat dit nie altyd maklik gaan as hierdie wenke geplaas word nie. Ons kies die inhoud van die wenke so dat dit darem vir mense iets beteken. Ons sal byvoorbeeld ʼn wenk plaas oor iets waaroor ons gereeld navrae kry, oor ʼn kontensieuse kwessie, oor ʼn nuwigheid of oor ʼn ding wat ons opmerk in skryfwerk verkeerd loop. Natuurlik is dit nie lekker as ʼn mens op ʼn blad sien ʼn ding wat jy al sedert die runderpes op ʼn bepaalde manier skryf, as ʼn spelfout uitgewys word nie, en oor ʼn paar goed is mense altyd gereed om te baklei. Ek baklei selde terug, want die kwessie is vir my selde ʼn baklei werd (later meer daaroor). Ek laat net nie toe dat jy persoonlik raak nie, want dit loop selde op iets goeds uit.

In hierdie blog probeer ek vir almal wat ontsteld was, is en gaan wees, ʼn antwoord en ʼn gerusstelling bied oor wat ons doen en met watter gesindheid ons dit doen. Dis ʼn olyftak en ʼn vredespyp en ʼn beroep om ook maar hand in eie boesem te steek oor jou eie opvattings voor jy sommer my, of VivA of die Taalkommissie of die woordeboekmakers of almal wat nie soos jy klink en dink nie met jou taalknuppel oor die kop slaan.

Ek antwoord so al op die aantyging af.

  1. Ek skryf dit anders.

Dis reg so, jy mag dit skryf nes jy wil. (Ek is nie sarkasties as ek dit sê nie, ek bedoel dit.) My werk is nie om vir jou voor te skryf hoe jy moet skryf nie, my werk is om jou bewus te maak van die reëls en konvensies wat vir Afrikaans bestaan.

Wat jy met die inligting maak wat jy op ons blad kry, is jou keuse. As jy jou nie aan die reëls en konvensies wil steur nie, hoef jy nie. Taalreëls is nie wette nie, en daar is nie ʼn taalpolisie wat jou gaan kom arresteer as jy nie die reëls nakom nie.

Maar. En dis ʼn gróót maar: Die taalgemeenskap is baie minder verdraagsaam oor foute in formele en amptelike skryfwerk as wat jy mag dink. Die oogmerk met taalreëls is om aan skrywers van tekste leiding te bied oor hoe om hulle gedagtes op skrif te stel. Definisies word in verklarende woordeboeke gegee juis sodat skrywers weet watter woord om te gebruik as hulle ʼn bepaalde begrip wil skep of gevoel wil oordra. Afwykings van hierdie reëls is vir die taalgemeenskap ʼn aanduiding van minagting teenoor hulle en teenoor die taal, en dit lok fel kritiek uit.

As jy jou aan my gesteur het en kritiek kry, kan ek jou help. As jy jou nie aan my gesteur het nie en kritiek kry, los ek vir jou in die haaitenk.

  1. Ek skryf dit al so vandat ek op skool was.

Ek glo jou. Ek wonder net altyd hoekom jy meer geneë is om jou laerskooljuffrou as die woordeboek oor spellingkwessies te vertrou. Dis ʼn bietjie soos om vir my te vertel jy vertrou nie jou dokter wat vir jou gesê het jy het hoë cholesterol en moet ophou skaaptjops eet nie, want jou laerskooljuffrou het vir jou gesê jy moet ʼn skaaptjop vir die gr. 4-klasbraai bring.

Laat ek dit uitdruklik stel: Ek het groot respek vir alle onderwysers (ek is self een), maar ʼn laerskooljuffrou is ʼn kundige van laerskoolonderwys. Sy weet presies hoe om ʼn kind se aandag te behou, watter leerinhoud geskik is vir die kinders in haar klas en watter soort hulpmiddels sy nodig het om ʼn bepaalde stel leerinhoud aan kinders oor te dra, maar sy weet nie hoe om spelreëls te skryf of om ʼn woordeboek saam te stel nie. Taalkundiges, taalpraktisyns en leksikograwe doen daardie soort werk.

  1. Waar kom julle aan hierdie reël/voorskrif/snert?

Dit sluit aan by 2 hier bo. Ek staaf die wenke deurlopend uit bronne, soos woordeboeke, taalnormeringsbronne en/of taalrubrieke. Die wenke is juis nie gegrond op wat ek (of jy) dink nie, maar wat navorsing oor Afrikaans bewys het.

Die groot gevaar aan taalbeskrywing is dat een persoon se opvattings oor ʼn ding sommer as ʼn taalreël opgedis word. (Dis hoekom ek so agterdogtig is oor die laerskooljuffrou van Kawoerra-Kawap – ek weet nie waar sy aan haar opvatting kom nie.) Taal word deur ʼn taalgemeenskap gemaak, nie deur my of my kollegas nie. Jy maak dit ook nie op jou eie nie.

Woorde wat in woordeboeke opgeneem word of wat in die AWS se woordelys opgeneem word, word uit tekste verkry. Die Taalkommissie sit met ʼn korpus (ʼn versameling van honderdduisende geredigeerde tekste) waarin hulle kyk of Afrikaans werklik werk soos wat die reël sê dit werk. Iemand by die WAT se kantoor sit en lees nuwe boeke, koerantberigte, artikels, blogs, ens. en maak lyste van woorde wat nog nie in die WAT is nie. Die leksikograwe kyk na die woord in die konteks, formuleer ʼn definisie, en gee ʼn uittreksel uit die teks (ʼn sitaat, met ʼn datum) om vir die gebruiker te wys hoe die woord aangewend is.

Ek sê dit sodat jy weet die inligting wat jy in die AWS of ʼn woordeboek oor Afrikaans kry, is nie lukraak saamgeflans nie. Dis nie een mens wat “voel” dis reg nie. Dis ʼn span kundiges wat oor en oor en oor kyk en toets en gehalteverseker en weer toets om seker te maak die inligting in die bron is korrek. Ek sê dit sodat jy kan weet die proses waarmee die inligting versamel is, is betroubaar.

  1. Die reëls verander ook oornag!

Reëls verander wanneer daar ʼn nuwe uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) verskyn. Die jongste uitgawe van die AWS het in 2017 verskyn. Die uitgawe daarvoor het in 2009 verskyn. Dis darem nie oornag nie.

Pharos (die uitgewer), die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, die Taalkommissie en VivA het baie moeite gedoen om die bron bekend te stel, en om deur middel van werkwinkels aan die taalgemeenskap die verskille uit te wys tussen die 2009-uitgawe en die 2017-uitgawe. Daardie verskille is werklik baie klein. Die feit dat jy nie die reël geken het nie, of ʼn verkeerde reël geken het, beteken nie die reël het verander nie. Jou kennis oor die reël het verander.

  1. Die reëls verander nie vinnig genoeg nie!

Dit kos ʼn paar sent om ʼn bron soos die AWS saam te stel, en dit kos die lede van die Taalkommissie ʼn paar maagsere en ʼn klomp grys hare om ʼn nuwe uitgawe die lig te laat sien. Dit is gewoon nie moontlik om elke jaar ʼn nuwe uitgawe van so ʼn bron te publiseer nie. Dis ook nie nodig nie. Taal verander nie so vinnig nie. Nuwe woorde kom by, ja, maar die manier waarop jy die woord spel, verander baie stadiger.

Gebruikers wat kla dat woordeboeke en reëls rigied is en nie aan die taalgemeenskap vryheid toelaat nie, verstaan nie die geaardheid van taalreëls nie. As die taal verander, sal die reëls verander. Dit gebeur ook. Wat nie gaan gebeur nie, is dat die reëls gaan verander omdat jý nie die reël geken het nie en toe ʼn ding verkeerd gespel het.

  1. Standaardafrikaans wurg Afrikaans dood.

Dis die spreekwoordelike warm patat, en ek pak die onderwerp met groot omsigtigheid aan. Ek gaan hier volstaan met enkele opmerkings.

Die eerste is dat die woord standaard in Standaardafrikaans nie beteken jy is “op standaard” as jy dit praat nie. (Ek het al in ʼn vorige blog gesê ek dink nie enigiemand praat dit nie, met die moontlike uitsondering van Riaan Cruywagen.) Dit beteken gewoon dit is die gestandaardiseerde weergawe van Afrikaans.

Die tweede is dat die Taalkommissie uitdruklik in die 2017-uitgawe van die AWS gesê het dat Afrikaans baie groter, wyer, dieper en hoër strek as die weergawe van Afrikaans wat in die AWS bereël word. Die TK sê ook dat die variëteite van Afrikaans die lewende en lewegewende bron van die formele skryftaal is.

My eie opvatting oor StA is dat dit ʼn nuttige hulpmiddel is wanneer ʼn mens iets moet skryf, maar dat enigiemand, ek inkluis, ʼn baie wyer taal tot ons beskikking het as net die variëteit wat in die AWS beskryf word. Afrikaans is die taal wat deur sy sprekers gepraat word, en of sy sprekers nou in Limpopo, Rehoboth, Ondangwa, Bloemfontein, Prieska of op die Flatse woon, hulle maak Afrikaans. Die TK se werk is net om in hierdie groot rykdom van Afrikaans na dié woorde en uitdrukkings te gaan soek wat ons almal verstaan en wat ons almal kan help om mekaar met die eerste leesslag of hoorslag volledig te verstaan.

Wat Standaardafrikaans boweal is, is die vorm van die taal waarin daar niks anders as die boodskap deurkom nie. Sonder om in sosiolinguistiek te verval, is die woorde en uitdrukkings wat net in ʼn variëteit voorkom, kenmerkend van die variëteit en sy mense. Standaardafrikaans sê niks oor die spreker of die omstandighede waarin die woorde gebruik word nie. Daar is kontekste waarin dit vir ons nodig is om net die boodskap oor te dra – in ʼn nuusberig, in ʼn koerant, in ʼn klaskamer, in ʼn pamflet by medisyne, in ʼn omsendbrief aan ouers, in ʼn blog soos hierdie. Dan is die variëteite minder doeltreffend.

Standaardafrikaans het ʼn plek. Dis nuttig. Dis veilig. Die werk om spelling en grammatika te standaardiseer, is klaar gedoen. Jy as skrywer kan konsentreer op die boodskap en weet jou leser gaan dit verstaan soos wat jy dit bedoel het. Dis al.

  1. Wie is jy nou eintlik?

Ek werk vir die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA). Ons het ʼn webblad (www.viva-afrikaans.org) waar ons verduidelik wat ons doelstellings en waardes is. Ons het Woordeboekportaal ontwikkel, ʼn digitale ruimte waarin ons ons woordeboeke en woordelyste aan die taalgemeenskap beskikbaar stel. Gebruikers kry toegang tot Woordeboekportaal via ons app, VivA-app (Aanlyn). In Adviesportaal beantwoord ʼn taaladviseur (ek of my kollega, dr Stefan van Zyl) navrae oor Afrikaans. Ons is ook besig om Taalonderrigportaal te ontwikkel, ʼn ruimte waar onderwysers en leerders betroubare vakinhoud oor Afrikaans kan kry, en ons het Teksredaksieportaal ontwikkel, waar praktisyns werkwinkels oor teksredaksie en vertaling kan bywoon.

Ek maak die taalwenke. Ek is Sophia Kapp, en my posbenaming is senior taaladviseur. Ek is opgelei as taalkundige, maar ek het later ʼn taalpraktisyn en toe ʼn dosent in taalpraktyk geword. Van 2013-2021 was ek ʼn lid van die Taalkommissie. Ek is ook ʼn skrywer. Ek sê dit sodat jy verstaan dat Afrikaans nie net vir my ʼn toevallige belangstelling is nie, dis my brood en botter en die rede waarom ek eet en asemhaal. Afrikaans se reëls en geite is vir jou interessant of ʼn irritasie, dis die spil van my bestaan. (Ja, dis my lewe.)

  1. Ek is jammer ek pla jou / ek maak foute / ek weet nie hoe Afrikaans werk nie.

Dis oukei, jy pla nie, dis my werk om jou te help.

Dis oukei, ek maak ook foute.

Dis oukei, ek leer ook nog elke dag hoe Afrikaans werk.

Uiteindelik kry ek my grootste werksbevrediging uit die wete dat jou lewe ʼn klein bietjie gemakliker is omdat ek vir jou iets kon aangee oor Afrikaans, en dis vir my lekker om te weet mense is nog betrokke genoeg by die taal om die navraagdiens te gebruik. Dis lekker as mense deelneem aan die gesprekke op Facebook, en dis lekker as mense wonder en vra en bevraagteken.

Dis dalk net nie heeltemal die moeite werd om vir my te sê jy gaan jou nie aan my steur nie, want ek loop nie met die verwagting rond dat jy moet nie. Dis eintlik al wat ek wou sê.

VivA-groete

Sophia

 

 

Lees 1786 tye Laaste modifikasie op Dinsdag, 29 November 2022 15:40

Opmerking(s)

  • Kommentaarskakel
    Riki Bydawell
    Riki Bydawell
    Woensdag, 23 Maart 2022 09:30

    Doe zo voort! Julle doen wonderlike, waardevolle werk.

  • Kommentaarskakel
    Christine Marais
    Christine Marais
    Saterdag, 26 Februarie 2022 10:21

    Ai Sophia... Nou moet ek my woorde tel, 'n wag voor my mond sit en 'n moordkuil van my hart maak. Die veiligste is om net met baie waardering te sê: Doen so voort!
    Ek wonder altyd hoekom skryf almal nie sommer ook Engels soos hulle wil nie...

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.


NUUSARGIEF

FACEBOOK