VIVA SE BLOGS

Oorskryf, afskryf, leen of steel: Hoe gemaak met vreemde woorde in Afrikaans?

Geplaas deur Sophia Kapp Woensdag, 02 Maart 2022
Gepubliseer in VivA;

Nota: Hierdie blog is geskryf met die medewete en goedkeuring van die voorsitter van die huidige Taalkommissie, me Suléne Pilon. Die inligting hierin is gebaseer op ʼn konsepweergawe van ʼn nuwe hoofstuk 20 van die Afrikaanse woordelys en spelreëls, wat handel oor die skryfwyse van woorde van vreemde herkoms.

Ek het dit al gesê: Tale is sjarmante diewe. Hulle is soos die buurman wat jou grassnyer leen en dit dan so lank en so gereeld gebruik dat almal, jy inkluis, naderhand dink dit hoort eerder in sy garage as in joune.

Die soort wêreld waarin ons leef – blitsvinnig, digitaal – veroorsaak ook dat ons binne sekondes oor dinge, mense, plekke en gebeure moet kan praat en skryf waarvan ons vantevore nie eers bewus was nie, en daar is nie tyd om ʼn hele taakspan saam te stel om al die nuwe woorde te maak wat ons nodig het om die gesprek te voer nie.

Dit beteken taalwerkers moet soms binne ʼn halfuur ʼn klomp woorde en begrippe in Afrikaans kry wat ons nie in Afrikaans gehad het nie. Die tegnieke waarmee taalwerkers nuwe woorde in ʼn taal invoer, is oor tale heen dieselfde, en behels gewoonlik een van die volgende:

  1. Vertaling: Taal A se woorde/begrippe word in die woorde/begrippe van taal B uitgedruk, soos computer x rekenaar.
  2. Transkripsie: Taal A se klanke word in taal B se skrif weergegee, bv. okay x oukei.
  3. Transliterasie: Taal A se letters word in taal B se letters weergegee omdat die twee tale verskillende alfabette gebruik en sprekers van taal B geen idee het hoe om die skrifbeeld van taal A te ontsyfer nie, bv. 習近平 x Xi Jinping
  4. Ontlening: Taal A se woord/uitdrukking word net so in taal B gebruik, bv. steak x steak.

Wanneer ons dus ʼn debat voer oor die manier waarop woorde en begrippe uit ander tale in Afrikaans weergegee word, moet ons eers seker maak dat ons almal hierdie terme verstaan, anders praat ons by mekaar verby.

 

Vertaling (Engels: translation)

Met hierdie tegniek sien die vertaler die woord in taal A, verstaan waaroor dit gaan, en kies of maak ʼn woord in taal B waarmee dieselfde begrip oorgedra word. Vertalings is suksesvol as die leser van die teks in taal B dieselfde verstaan as wat die leser van die teks in taal A verstaan het.

Die beginsel in vertaling is dat ons gewoonlik nie eiename vertaal nie, want eiename dra nie meer betekenis oor nie, dit verwys net na ʼn mens of ʼn plek of ʼn ding, en daardie verwysing is redelik vas. Ek is byvoorbeeld Sophia in enige taal, en al noem sommige mense my Sophy (na die Engels), Sophie (na die Frans) of Safiya (na die Arabies), is my naam op amptelike dokumente altyd Sophia.

Ek sê doelbewus hier bo “gewoonlik”, want sommige eiename vertaal ons wel. Ons vertaal die pous se naam, want hy is ʼn wêreldfiguur en die kans dat hy Afrikaans of Engels gaan wees, is skraal. Ons vertaal sekere historiese figure se name (Karel die Grote, Johanna van Arkel, Plinius die Ouere) want hulle was ook nie Afrikaans of Engels nie en ons weet meestal nie wat hulle name in die oorspronklike taal was nie (Charlemagne, Jeanne d’Arc, Gaius Plinius Secundus). Ons vertaal die name van sekere plekke van belang (die Withuis, Downingstraat 10), en ons vertaal sekere plekname. Nee, dis nie verkeerd om die plekname te vertaal nie – Engels doen dit ook. Kaapstad is Cape Town en Mosselbaai is Mossel Bay, en niemand is daaroor te na gekom of opgeruk nie.

Ek gee wel geredelik toe dat ons nie konsekwent is met hierdie vertaling van plekname nie. Ons vertaal Londen, Parys, Berlyn en Nieu-Seeland, terwyl ons Glasgow, Saskatchewan,  Perth en New York net so los. Al wat ek as verduideliking vir hierdie onplanmatigheid kan aanbied, is dat ons gewoonlik name vertaal wat ons op Afrikaans uitspreek. Al raad wat ek met die spelling kan bied, is die lys geografiese eiename (plekname) agter in die AWS waarin gebruikers kan naslaan hoe die name in Afrikaans geskryf word. Die lys is toeganklik via VivA se app, VivA-app (Aanlyn).

Transkripsie (Engels: transcription)

ʼn Mens kan ook woorde uit ʼn taal oorneem deur dit wat ʼn mens in die ander taal hoor in Afrikaans op skrif na te maak. Die spelling volg dan Afrikaanse spellingbeginsels, nie die spellingbeginsels van die brontaal nie. Sulke woorde word dikwels beskryf as “verafrikaansings”.

Die volgende woorde het almal deur middel van transkripsie in Afrikaans beland:

Afrikaanse woord

Oorspronklike woord

Brontaal

bloekom

bluegum

Engels

ghoeroe

gooroo

Hindi

pietersielie

petroselīnum

Latyn

pajamas

paejamah

Persies

zombie

zumbi

Tale uit Wes-Afrika

Twee opmerkings oor transkripsie:

Die eerste is dat dit baie naby aan volksetimologie lê. Die verskil tussen ʼn transkripsie en volksetimologie, is dat die eerste gewoonlik aanleiding gee tot ʼn geldige vertaalekwivalent (soos bloekom vir bluegum) en dat laasgenoemde meestal ʼn bynaam oplewer (soos baiesukkel vir bicycle). 

Die tweede opmerking, wat veral in ons konteks belangrik is, is dat hierdie tegniek nie (meer) deur die Taalkommissie aanbeveel word nie. Die rede daarvoor is eenvoudig: Dit is selfs vir ervare taalpraktisyns moeilik om te besluit hoe om klanke volgens Afrikaanse spelreëls weer te gee. Hoe gee ons byvoorbeeld die klank weer wat ʼn kombinasie is van ʼn s en ʼn j? Met sj, sh of ch? Spel ons die naam van die lap sjiffon, chiffon of shiffon? Watter een is nou die Afrikaansste onder dié spulletjie? (Wie sou dapper genoeg wees om sommer namens die taalgemeenskap so ʼn besluit te neem?)

Transkripsie is in die verlede veral gebruik om woorde uit Afrikatale in Afrikaans weer te gee. Dis hoekom ons skryf oemfaan en nie umfaan nie, en waarom ons die taal Zoeloe mag noem. Hierdie tegniek is egter nou gestaak, en nuwe woorde wat uit Afrikatale in Afrikaans opgeneem word, word gespel soos wat dit in die oorspronklike taal gespel word.

Dis baie belangrik om hier te verstaan dat sulke verafrikaanste woorde wat tans in woordeboeke opgeteken is (soos oemfaan) steeds gebruik mag/moet word. Dis net nuwe woorde wat nie meer verafrikaans word nie. As jy onseker is oor die spelling, slaan na in die woordelys van die AWS (ook toeganklik via ons app). Daarin sal jy dadelik kan sien wat die aanbevole spelwyse is en waar daar wisselvorme is (soos Zoeloe x Zulu).

Op hierdie punt moet die Taalkommissie nog ʼn aanbeveling maak oor die hantering van nuwe woorde uit ander tale as Afrikatale. Die logiese sou wees om die werkwyse eenvormig te hou, en om woorde uit tale soos Engels, Spaans en Portugees nie te verafrikaans nie, maar om dit te spel soos wat dit in die oorspronklike taal geskryf word. Die haakplek is dat daar sekere letters en diakritiese tekens in ander tale is wat nie in Afrikaans voorkom nie (kyk byvoorbeeld na źródło uit Pools en åheim uit Deens) wat verreken moet word. Hoe dit ook al sy, hierdie besluit is nog nie geneem nie. Ons sien dus uit na die nuwe Taalkommissie se aanbeveling in hierdie verband.

Transliterasie (Engels: transliteration)

 

Hierdie tegniek word net gebruik by woorde wat uit tale kom wat ʼn ander alfabet as ons gebruik. Dit is tale soos Russies, Arabies, Grieks, Hebreeus, Thai en Mandaryns.

Transliterasie uit Mandaryns word deur die Chinese regering voorgeskryf. Hulle het bepaal dat die Hanyu Pinyin-transliterasiestelsel vir Mandaryns gebruik moet word, ongeag die taal waarin dit getranslitereer word. Dit beteken dat Chinese plekname in Afrikaans, Engels, Frans, Duits en alle tale wat die Romeinse alfabet gebruik, dieselfde gespel word. Die Chinese leier, 习近, se naam word dus as Xi Jinping in alle tale met die Romeinse alfabet geskryf. Let mooi op: Dis nie ʼn vertaling nie, sy naam het nie verander nie en dit is nie verafrikaans nie. Dis net hoe sy naam op skrif voorgestel word in die alfabet wat ons ken.

Transliterasie uit Russies (wat die Cyrilliese alfabet gebruik) word nie deur die Russiese regering voorgeskryf nie, elke taal moet self besluit hoe om dit te doen. Die Russiese leier se naam is Владимир Путин. Agter in die AWS is daar ʼn tabel wat vir ons wys hoe om Cyrilliese letters sistematies in Afrikaans om te skakel. As ons die tabel volg, stel ons sy naam in Afrikaans voor as Wladimir Poetin. As ons die Engelse transliterasiestelsel volg, stel ons sy naam in Engels voor as Vladimir Putin.

Die spelling Wladimir Poetin is dus nie ʼn vertaling van die Engels nie. Dit is die manier waarop ons daardie Russiese naam direk uit Russies in die Romeinse alfabet oorskryf, en dié oorskrywery gebeur volgens Afrikaanse spellingbeginsels. As die Engelse die reg het om te besluit hoe hulle Cyrillies gaan weergee, mag ons dit ook besluit.

Die Taalkommissie werk op die oomblik daaraan om soortgelyke tabelle op te stel vir Arabies, Grieks en Hebreeus. Dis reusewerk, en ons wens hulle baie sterkte en voorspoed daarmee toe.

 

Ontlening (Engels: borrowing)

 

Die tegniek wat die minste insette van die vertaler verg, is ontlening. In so ʼn geval word die woord met spelling en betekenis net so uit taal A oorgeneem en in taal B gebruik.

Dit beteken nie dat ʼn mens voor die voet woorde uit ander tale oral in ʼn Afrikaanse teks gaan prop nie. Die Taalkommissie sê uitdruklik dat vertaling verkieslik is. Ontlening kan wel plaasvind as daar nie ʼn Afrikaanse ekwivalent is nie en die woord werklik ʼn unieke begrip voorstel.

Daar is reeds heelwat ontlenings in Afrikaans, uit verskeie tale, byvoorbeeld:

ad hoc

Latyn

bourgeois

Frans

eisteddfod

Wallies

fortissimo

Italiaans

gentleman

Engels

opera

Italiaans

pizza

Italiaans

robot

Tsjeggies

township

Engels

venue

Engels

Ten slotte

Wat ek met hierdie blog probeer illustreer, is dat die weergee van een taal se woorde, name of begrippe in ʼn ander taal nie lukraak gedoen word nie. Niemand wat sulke woorde en begrippe in Afrikaans moet skryf, is hoog op taaltrots nie, hulle werk met klaar gemaakte konvensies en met tegnieke wat al eeue lank gebruik word om betekenis van een taal na ʼn ander oor te dra. Kan daar foute insluip in ʼn vertaler of joernalis se werk? Natuurlik. Maar dan kla ʼn mens oor die foute, nie oor die erkende tegnieke nie, want dit ry Afrikaans se vermoë om die taal te wees wat dit veronderstel is om te wees in die wiele.

Ek sien uit na nog lewendige debatte oor die taal. Mag ons dit net voer met respek vir die werk wat daar wel gedoen word om die taal se integriteit te beskerm.

VivA-groete

Sophia

Lees 2292 tye Laaste modifikasie op Dinsdag, 29 November 2022 15:40

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.


NUUSARGIEF

FACEBOOK