VIVA SE BLOGS

Die sin: kreatiewe, leerdergesentreerde onderrigleeraktiwiteite vir die Afrikaansklaskamer

Geplaas deur Nadine Fouché-Karsten Woensdag, 09 Maart 2022
Gepubliseer in Grammatika;

Ek wil ’n scenario skets.

Die Afrikaansonderwyser staan voor in die klaskamer en spring weg met die aanbieding van taalstrukture en -konvensies (grammatika) met behulp van voorbeelde, met of sonder verduidelikings. Hierna word voortbeweeg na die oefeningfase waar die taalstrukture en -konvensies onder gekontroleerde omstandighede met behulp van opdragte/aktiwiteite ingeoefen word. Dan volg die produksiefase waar leerders betrokke is in vryetaalproduksie, byvoorbeeld die gebruik van die betrokke taalstrukture en -konvensies as deel van een of ander teks (bv. ’n advertensie) wat geskryf word. Somtyds is onderrig egter net beperk tot die eerste twee fases. Klink dit vir jou bekend?

 ’n Verdere realiteit is dat taalstruktuur-en-konvensie-lesse dikwels onderwysergesentreerd is en nie die geleentheid skep vir die ontdekking van taalpatrone nie. Ons kan redeneer dat dit wel voordelig vir die onderwyser is, aangesien dit ’n minder tydrowende les is en meer tyd gevolglik vir oefening en toepassing ingeruim word. ’n Les wat op hierdie manier georganiseer is, het ook al ’n gevestigde plek binne die taalklaskamer: Die leerders weet wat om te verwag.

Maar ... Ons kurrikulumdokument lewer immers ’n pleidooi vir ’n aktiewe en kritiese benadering tot leer “eerder as om te leer sonder om te begryp” (Departement van Basiese Onderwys, 2011:5). Dit is juis wat ek deur middel van hierdie blog probeer illustreer: maniere om die konsep sin te onderrig deur kreatiewe, visuele tekste te gebruik en om leerders te motiveer om saam die eienskappe daarvan op ’n progressiewe manier te ontdek. Sommige van die aktiwiteite wat ek voorstel, is boonop speletjies waar geëksperimenteer word met die eienskappe van ’n sin, en ander aktiwiteite integreer weer taalstrukture en -konvensies (spesifiek die eienskappe van ’n sin) met ander taalvaardighede, soos lees en kyk, of skryf en aanbied.

 

Hoe kan ek leerders van die eienskappe van ’n sin bewus maak?

Aktiwiteit 1: Uit watter twee basiese sinsdele bestaan enige sin?

Leerders moet eerstens begryp dat ’n sin twee basiese dele bevat, naamlik ’n subjek en gesegde. Die onderstaande visuele teks (ontleen aan Pixabay) kan byvoorbeeld aan leerders vertoon word.

Jakkals vang die hoender

  • Die onderwyser kan deur middel van vraagstelling die leerders lei om die twee basiese dele van die sin te ontdek.
    • Onderwyser: Kies een van die twee karakters. Leerders: Ons kies die jakkals.
    • Onderwyser: Wat doen die jakkals? Leerders: Hy wil die hoender vang.
    • Onderwyser: Kom ons voeg nou hierdie twee dele saam om ’n sin te vorm.
      • Die jakkals wil die hoender vang.

 

Aktiwiteit 2: teorie oor die twee basiese dele van ’n sin

Die onderwyser kan leerders daarop attent maak dat ons elke dag sinne gebruik, byvoorbeeld Hulle verkoop pasteie by die snoepie en Ek leer hard vir wiskunde, maar ons besef nie altyd dat ons sinne dikwels uit twee dele bestaan nie. Die sin Die jakkals wil die hoender vang bestaan eweneens uit twee basiese sinsdele.

  • Daar is ’n deel wat vir ons aandui waaroor die sin gaan, met ander woorde daar is ’n deel wat vir ons wys wie/wat iets doen of wie/wat iets ervaar of wie/wat iets ondergaan. Ons noem dit ons subjek. Die jakkals is die een wat iets doen (hy wil iets vang).
  • Daar is ’n deel wat vir ons dít wat besig is om te gebeur (die situasie/aksie), aandui. Ons noem dit die gesegde. Die hoender wat besig is om gevang te word, is die gebeurtenis.
 Subjek Gesegde 
 Die jakkals wil die hoender vang 
  • Daar is nie ’n beperking aan die lengte van hierdie twee dele nie. Ons kon net sowel die twee dele met adjektiewe (of byvoeglike naamwoorde, soos sluwe, skreeuhonger, spekvet en vreesbevange) uitgebrei het (sien ook hierdie blog op VivA se webtuiste vir voorbeelde oor hoe die subjek uitgebrei kan word en hierdie blog op VivA se webtuiste vir ’n illustrasie oor hoe die gesegde uitgebrei kan word).
 Subjek Gesegde 
 Die sluwe jakkals wil die hoender vang 
Die sluwe, skreeuhonger jakkals wil die spekvet, vreesbevange hoender vang 

 

Aktiwiteit 3: Vorm self sinne wat uit twee sinsdele bestaan deur roomysstokkies te gebruik.

Die onderwyser kan vervolgens van die leerders verwag om te eksperimenteer met hierdie idee van die subjek en die gesegde deur roomysstokkies te gebruik. Roomysstokkies op die een hopie kan almal as die subjek van die sin gebruik word, en die roomysstokkies in die ander hopie is gesegdes. Die leerders kies een stokkie uit die subjekhopie en een uit die gesegdehopie en konstrueer hulle eie basiese sinne. Sommige kombinasies gaan snaaks wees, ander gaan weer nie sin maak nie, maar op hierdie wyse tree die leerders self skeppend op.

popsicle sticks geca99723c 1920 

 

Aktiwiteit 4: teorie oor komplekse sinne

Al die bostaande sinne het sover een subjek en een gesegde bevat. Hulle word simplekse sinne genoem (oftewel enkelvoudige sinne in skoolhandboeke).

Die onderwyser kan daarop wys dat ’n mens ook ’n “groter sin” kry wat op skoolvlak as ’n saamgestelde sin of veelvoudige sin, maar in VivA se Afrikaanse Skoolgrammatika as ’n komplekse sin benoem word. So ’n sin is uit twee of meer sinne saamgestel. Elkeen van die sinne waaruit so ’n komplekse sin saamgestel is, bevat die basiese sinsdele (naamlik ’n subjek en ’n gesegde), anders is hulle nie sinne nie. Hulle word verbind (of saamgevoeg) deur byvoorbeeld ’n voegwoord (soos en, of, maar, omdat, sodat) te gebruik (hoewel ’n mens natuurlik ook betrekkingswoorde soos wat, waarop en waar kan gebruik).

 

Aktiwiteit 5: Skep nou jou eie komplekse sinne.

Die leerders gebruik die volgende prent (ontleen aan Pixabay) en skryf twee sinne neer. Elkeen van die twee sinne moet net een subjek en een gesegde bevat.

vlieënde vark

 

Byvoorbeeld:

  • Varke kan ook vlieg. [subjek: varke; gesegde: kan ook vlieg]
  • Hulle word genoeg gemotiveer. [subjek: hulle; gesegde: word genoeg gemotiveer]

Hierna verbind hulle die twee sinne met ’n geskikte voegwoord.

  • Varke kan ook vlieg, [as] hulle genoeg gemotiveer word.

Nou het die leerders ’n groter sin (’n komplekse sin) wat uit meer as een sin saamgestel is, gevorm. In die komplekse sin wat gevorm is (naamlik Varke kan ook vlieg [as] hulle genoeg gemotiveer word), vorm die voegwoord nie deel van een van die sinne wat verbind word om die langer (komplekse) sin te vorm nie.

Jy kan dit toets deur die onderstaande twee sinne in twee sinne te verdeel. Kyk hoe die voegwoord nie in een van hulle ’n plek het nie.

* Die vark is pienk, [en] hy het swart kolle. < Die vark is pienk. Hy het swart kolle.

 

* Die vark wil vlieg, [omdat] hy smag na ’n stukkie vleis. < Die vark wil vlieg. Hy smag na ’n stukkie vleis.

 

Sien die teoretiese blog Sinne op skoolvlak: Nou maak dit sin! (Deel 1) op VivA se Taalonderrigportaalblogs vir ’n verduideliking en illustrasie van hoe betrekkingswoorde soos wat, waarop en waar gebruik word om ’n komplekse sin te vorm. Dit is veral geskik vir leerders in die hoërskool. Onthou om eers te registreer.

 

Aktiwiteit 6: Brei jou sin (simpleks of kompleks) uit met ander taaleenhede.

Ander woorde soos hallo, dankie, sjoe, aitsa, hoor hier, woef, , nie waar nie (wat ons tussenwerpsels noem) en woorde soos Meneer, Juffrou waarmee ons iemand aanspreek (wat ons aanspreekvorme noem) kan ook deel van ’n simplekse of komplekse sin vorm. Hulle word met ’n leesteken van die basiese sinsdele (naamlik die subjek en die gesegde) geskei en kan nie saam met een van hierdie twee sinsdele gegroepeer word nie. Kyk na die volgende prentjie (ontleen aan Pixabay en aangepas).

koeie

 

  • Die leerders moet vervolgens die spraakborrel voltooi deur hulle eie sin(ne) te vorm wat twee basiese sinsdele (naamlik ’n subjek en gesegde) bevat. Veronderstel die leerders skryf die volgende sinne:
    • Berta het bietjie kort geword.
    • Jou stert het gekrimp.
  • Brei hierdie sin uit met ’n tussenwerpsel of ’n aanspreekvorm (of ’n kombinasie hiervan) wat nie in die subjek of gesegde van die sin geïntegreer word nie. Lig die ingevoegde gedeelte uit. Veronderstel die leerders skryf die volgende sinne:
    • Sjoe, Berta het bietjie kort geword. [Die tussenwerpsel sjoe is gebruik.]
    • Berta, jou stert het gekrimp, nie waar nie? [Die aanspreekvorm Berta en die tussenwerpsel nie waar nie is ingevoeg.]
  • Stel nou die vraag aan die leerders of die woord op verskillende plekke geplaas sou kon word. Die leerders behoort hier met die beweeglikheid van die genoemde taaleenhede te eksperimenteer, en die onderwyser behoort leiding te gee oor die wenslikheid van bepaalde veranderinge.
    • Berta het bietjie kort geword, sjoe.
    • Jou stert, Berta, het gekrimp, nie waar nie? / Jou stert het gekrimp, nie waar nie, Berta? / Jou stert, nie waar nie, het gekrimp, Berta?

 

Die leerders behoort tot die besef te kom dat tussenwerpsels en aanspreekvorme geneig is om op verskillende plekke binne die sin te staan, hoewel dit met ’n leesteken van die res van die sinsdele geskei word en nié by die subjek of gesegde geïntegreer word nie.

Die feit dat dit nie binne die subjek of die gesegde van die sin tuishoort nie, kan geïllustreer word deur die leerders se gegenereerde sinne te gebruik en die tussenwerpsel/aanspreekvorm saam met die subjek/gesegde binne blokhakies te plaas. Hierdeur sal dit duidelik wees dat die sin nie sin maak nie. Vra vir die leerders hoe hulle die sin nou verstaan (indien enigsins). Byvoorbeeld:

1. Sjoe, Berta het bietjie kort geword.

Deel van die subjek: *[Sjoe Berta] het bietjie kort geword. [Dit klink of daar verwys word na ’n persoon wat die naam Sjoe en van Berta het.]

Deel van die gesegde: *Berta [het sjoe bietjie kort geword]. of *Berta [het bietjie kort sjoe geword]. [Dit maak bloot net nie sin nie.]

2. Berta, jou stert het gekrimp, nie waar nie?

Deel van die subjek: *[Berta jou stert] het gekrimp, nie waar nie? [Word Berta nou uitgeskel?]

Deel van die gesegde: *Jou stert [het Berta gekrimp], nie waar nie? of *Jou stert [het gekrimp Berta], nie waar nie? [Verduidelik die woord Berta (soos die bywoord vinnig) hóé die stert gekrimp het? Dit maak nie sin nie.]

In die laasgenoemde voorbeeld sou nie waar nie ook as deel van die subjek en gesegde aangebied kon word om aan te dui dat dit nié ’n geïntegreerde deel van een van hierdie sinsdele vorm nie.

 

Aktiwiteit 7: Formuleer jou eie definisie vir die konsep sin.

Die einddoel is dat die leerders hulle eie definisie vir ’n sin moet kan formuleer. Dalk kan ’n leidraad soos die volgende gegee word:

’n Sin bestaan altyd uit twee basiese sinsdele, naamlik ’n _____ en ’n ____. ’n Sin wat net uit een van elk bestaan, noem ’n mens ’n simplekse sin / komplekse sin (KIES EEN). Soms is ’n sin uit twee of meer sinne saamgestel om ’n simplekse sin / komplekse sin (KIES EEN) te vorm, byvoorbeeld ________________  (GEE ’N VOORBEELD VAN SO ’N SIN).  Die voegwoord wat die sinne verbind, het ’n plek in een van die twee sinne / het nie ’n plek in een van die twee sinne nie (KIES EEN). Ander woorde vorm ook deel van ’n sin, maar hulle word met ’n leesteken van die res van die sinsdele geskei, byvoorbeeld ai, sjoe en nie waar nie wat ons ___________ noem, asook Junior, James, en Leandra wat ons __________ noem. Hulle vorm deel van die subjek of gesegde / vorm nie deel van die subjek of gesegde nie (KIES EEN).

[Antwoordsleutel: ’n Sin bestaan altyd uit twee basiese sinsdele, naamlik ’n onderwerp/subjek en ’n gesegde. ’n Sin wat net uit een van elk bestaan, noem ’n mens ’n simplekse sin / komplekse sin. Soms is ’n sin uit twee of meer sinne saamgestel om ’n simplekse sin / komplekse sin te vorm, byvoorbeeld Jan swem, want dit is warm / Hy is fiks, omdat hy elke dag oefen. Die voegwoord wat die sinne verbind, het ’n plek in een van die twee sinne / het nie ’n plek in een van die twee sinne nie. Ander woorde vorm ook deel van ’n sin, maar hulle word met ’n leesteken van die res van die sinsdele geskei, byvoorbeeld ai, sjoe en nie waar nie wat ons tussenwerpsels noem, asook Junior, James en Leandra wat ons aanspreekvorme noem. Hulle vorm deel van die subjek of gesegde / vorm nie deel van die subjek of gesegde nie.]

 

Gevolgtrekking

Die aktiwiteite wat ons hier bo voorstel, dien slegs as ’n voorbeeld van hoe die eienskappe van ’n sin op ’n induktiewe wyse, waar leerders self patrone ontdek, onderrig sou kon word. Daarby is dit kommunikatief: Die sinne wat deur hulle gevorm word, het die funksie om die werklikheid wat in die prentjies uitgebeeld word, verbaal voor te stel. Die eienskappe van ’n sin word ook nie deur middel van opgemaakte sinne wat gedekontekstualiseerd is, onderrig nie. Omdat daar deurgaans gefokus word op die skryf van sinne wat aan bepaalde vereistes voldoen deur prente te bestudeer, word ook gehoor gegee aan die geïntegreerde benadering wat deur die Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring onderskryf word. Die taalvaardighede – in hierdie geval taalstrukture en -konvensies, lees en kyk, en skryf en aanbied – word immers in elke aktiwiteit geïntegreer.

 

VivA-groete

Nadine Fouché-Karsten

Lees 2964 tye Laaste modifikasie op Dinsdag, 29 November 2022 15:34

Opmerking(s)

  • Kommentaarskakel
    Nadine Fouché-Karsten
    Nadine Fouché-Karsten
    Dinsdag, 22 Maart 2022 14:40

    Liewe Annamari, baie dankie vir hierdie terugvoer. Ek is dankbaar dat die voorstelle wat ons maak, bruikbaar is. Dankie dat julle die mense is wat vir Afrikaans vlerke gee!

  • Kommentaarskakel
    Annamari Henning
    Annamari Henning
    Sondag, 20 Maart 2022 13:08

    Baie dankie Nadine, dit gaan Afrikaans vlerke gee veral onder ons tweede en derde taal leerlinge. Wag inspanning vir meer sulke aanbiedings.

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.


NUUSARGIEF

FACEBOOK