VIVA SE BLOGS

STOMPI kry ’n nuwe vorm: Ontmoet vir STOMP!

Geplaas deur Nadine Fouché-Karsten Woensdag, 16 Maart 2022
Gepubliseer in Grammatika;

Moedertaalsprekers kort nie eselsbruggies nie. Hulle beskik reeds oor ’n interne grammatika of ’n versameling patrone wat verfyn word namate hulle met ander moedertaalsprekers in kontak kom. Dink mooi daaroor: Niemand het vir jou gesê dat Afrikaans ’n V2-taal is nie. Met ander woorde, niemand het vir jou pertinent gesê dat ’n werkwoord in die meeste Afrikaanse sinne altyd ná die subjek (of onderwerp) kom nie (bv. Ek gee klas; Ek merk boeke, ens.), tog weet ’n mens dit en formuleer jy jou sinne so.

Niemoedertaalsprekers kort egter meer leiding. ’n Integrale deel van die aanleer van ’n addisionele (of tweede addisionele) taal is die gebruik van ’n monitor of ’n redigeerder. Dit is die siening van ’n kenner van tweedetaalverwerwing, Stephen Krashen. Dit is juis wat STOMPI is – dit is nie ’n taalreël nie. Dit is ’n monitor, reseppie of eselsbrug wat deur addisioneletaalleerders gebruik word om die vorming van sinne te monitor, sodat dit samehangend is.

In hierdie blog probeer ek ’n paar dinge doen.

  • Ek probeer ’n konteks skep om STOMPI (oftewel STOMP soos wat ek daarna verwys) aan leerders bekend te stel.
  • Deur middel van ’n illustrerende voorbeeldsin probeer ek wys op die waarde daarvan as eselsbrug.
  • Ek probeer om oorveralgemenings wat soms uit die gebruik hiervan voortspruit, uit te lig.
  • Ek verduidelik ook waarom ek nie die laaste letter (naamlik <I>) insluit nie.

 

1. Konteks vir die onderrig van STOMP: STOMPI ondergaan ’n gedaantewisseling

Ek het besluit om die metafoor van ’n spinnekop te gebruik om die konsep van STOMP te verduidelik.

Konteks:

STOMPI was ’n onnutsige spinnekoppie en wou altyd mense bangmaak, nie seermaak nie. Een aand het hy in die een tannie se juweelkissie weggekruip en hy wou net “Boe!” sê. Toe sy egter die kissie oopmaak om haar trouring te bêre, skrik sy so groot dat sy die kissie eensklaps toeslaan en sy een been ongelukkig in die slag bly.

Die gevolg is dat agtbeen-STOMPI toe sewebeen-STOMP geword het. Ontmoet vir STOMP (beeld ontleen aan knowyourmeme.com). Sy belangstellings sluit in om webbe te spin, ander insekte te vang, agter jou handdoek in die badkamer weg te kruip en om teen die muur te sit en vir jou te staar, totdat jy ongemaklik voel. Hy is bang vir Doom, skoene, vlieëplakke en jack russels. Sy groot droom is om ’n musiekgroep met die naam Spin-nasie te begin. Hy hoop om eendag vir Peter Parker van die Spiderman-reeks te ontmoet.

STOMP PRENTJIE

 

2. STOMP se samestelling

Elkeen van STOMP se sewe bene verteenwoordig ’n deel van die sin. Hierdie dele word tipies – nie altyd nie – in die aangeduide volgorde gerangskik.

STOMP uiteensetting

Dat dié eselsbrug waarde het, blyk duidelik uit die onderstaande voorbeeldsin:

S

V1

T

O

M

P

V2

Die leerder

het

elke dag

sy werk

netjies

in sy boek

geskryf

 

3. Belangrike kwessies om in gedagte te hou tydens die onderrig van STOMP

Hoewel ons die bostaande sin volgens die STOMP-eselsbrug kan rangskik, beteken dit nie dat hierdie sin noodwendig ál hierdie dele hoef te bevat nie. Maak jou leerders hiervan bewus. Vergelyk die bostaande sin wat op verskillende wyses saamgestel kan word. Hierdie tabel sou natuurlik nog verder aangevul kon word met moontlike kombinasies van STOMP-dele.

Tabel

3.1 Ongeag die dele van STOMP wat in ’n Afrikaanse sin gebruik word, móét ’n werkwoord in die tweede sinsposisie verskyn. Die uitsondering is wanneer die werkwoord na die begin van die sin verskuif om ’n vraagsin te vorm, bv. Het die leerder elke dag sy werk netjies in sy boek geskryf? of wanneer die subjek verswyg sou word (oftewel geïmpliseer sou word) en die sin met ’n werkwoord sou begin om ’n bevelsin te vorm, bv. Skryf elke dag jou werk netjies in jou boek.

3.2 ’n Verdere kwessie om in gedagte te hou, is dat daar van die “voorgestelde volgorde” van STOMP afgewyk kan word, bv. Sy speel opgewonde met haar hond (SV1MO) in plaas van Sy speel met haar hond opgewonde (SV1OM) wat wel volgens die STOMP-eselsbrug georganiseer is. Eersgenoemde is nietemin nie verkeerd nie, aangesien STOMP nie ’n reël is nie.

3.3 Buiten dat die dele van STOMP, soos blyk uit die vorige kolpunt, plekke kan omruil, kan enigeen na die begin van ’n sin skuif omdat dit beklemtoon wil word. Onthou net: Indien dergelike woordordeverandering aangebring word, behoort die werkwoord steeds in die tweede sinsposisie gebruik te word.

  • Die leerder (S) het (V1) elke dag (T) sy werk (O) netjies (M) in sy boek (P) geskryf (V2).
  • Elke dag (T) het (V1) die leerder (S) sy werk (O) netjies (M) in sy boek (P) geskryf (V2).
  • Sy werk (O) het (V1) die leerder (S) elke dag (T) netjies (M) in sy boek (P) geskryf (V2).
  • Netjies (M) het (V1) die leerder (S) elke dag (T) sy werk (O) in sy boek (P) geskryf (V2).
  • In sy boek (P) het (V1) die leerder (S) elke dag (T) netjies (M) geskryf (V2).

3.4 Die wanpersepsie wat ek in hierdie blog uit die weg wil ruim, is dat soveel skoolhandboeke die objek of subjek voorstel as ’n enkele woord (bv. ’n naamwoord of selfstandige naamwoord, soos leerders; ’n voornaamwoord, soos hulle; of die kombinasie van ’n naamwoord met ’n lidwoord, aanwysende voornaamwoord of besitlike voornaamwoord, soos die/hierdie/my leerders). Die subjek of objek word sintakties deur ander taaleenhede gerealiseer. Vergelyk die volgende twee sinne wat uit Klasgids se laerskooluitgawe van 2016 geneem is:

  • Hierdie stadion het ’n deursigtige dak wat die sitplekke beskerm.

[Die objek – dit waarop die hoofwerkwoord het direk betrekking het – is nie net dak nie, maar dak wat die sitplekke beskerm.]

  • Agtien pilare, wat soos kamele se nekke lyk, ondersteun die dak.

[Die subjek – dit wat verantwoordelik is vir die uitvoer van die aksie “ondersteun”  – is nie net agtien pilare nie, maar agtien pilare én die bysin (naamlik wat soos kamele se nekke lyk).]

3.5 Die voorgenoemde kolpunt bring my by my volgende punt rakende die subjek (onderwerp). Wat word ingesluit by hierdie definisie wanneer STOMP onderrig word? Die algemeenste definisie wat in skoolhandboeke ingesluit word, is dat die subjek (onderwerp) die woord of sinsdeel is wat aandui wie of wat verantwoordelik is vir die uitvoer van die handeling/aksie. In die sin Die leerder het elke dag sy werk netjies in sy boek geskryf voldoen die subjek die leerder beslis aan hierdie prototipiese definisie van subjek, want die leerder voer die aksie van skryf uit. Selfs agtien pilare wat soos kamele se nekke lyk in Agtien pilare, wat soos kamele se nekke lyk, ondersteun die dak voldoen aan hierdie definisie van subjek, want hier is sprake van iets wat ’n handeling/aksie (naamlik ondersteun) uitvoer. Tog moet jy as onderwyser nie hierdie definisie koppel aan elke subjek wat die leerders in hul sinne gebruik nie. Die definisie van subjek hang ook af van die betekenis van die werkwoord en kan daarom die volgende betekenisdimensies hê: Vergelyk:

  • In sekere sinne is die subjek nie die aktiewe uitvoerder van die aksie/handeling nie, maar op die ontvanger van iets (bv. Neels kry ’n nuwe motor).
  • Die subjek kan gebruik word as daardie deel van die sin wat vir ons aandui wie/wat ’n aksie/handeling ervaar (bv. Ek luister musiek; Neels ken ’n ander taal).
  • Die subjek is daardie deel van die sin wat vir ons aandui wie/wat in ’n bepaalde toestand verkeer (bv. Die atleet is fiks).
  • Die subjek is daardie deel van die sin wat vir ons aandui wie/wat ’n bepaalde handeling ondergaan (bv. My hand bloei).

Wat ’n mens eintlik vir die leerders moet sê wanneer leerders ’n subjek vir hulle sin moet kies, is om die vraag "Wie/wat + V1 (+ TOMPV2)?” te vra. (Ek plaas van die gedeeltes van STOMP tussen hakies, want dalk bevat hul sin nie daardie dele nie.)

As die leerders dus reeds weet wat die werkwoord (en die ander dele) is (bv. ___ het vanoggend die klok entoesiasties by die skool gelui), kan hulle bloot die vraag “Wie/wat het vanoggend die klok entoesiasties by die skool gelui?” vra en besluit wie/wat hulle wil hê die subjek van hul sin moet wees. Terselfdertyd word leerders daarvan bewus dat die subjek nie net uit ’n naamwoord of voornaamwoord, of ’n naamwoord in kombinasie met ’n lidwoord, aanwysende voornaamwoord of besitlike voornaamwoord bestaan nie (kyk weer na kolpunt 3.4)

 

4. Wat van die <I> in die oorspronklike STOMPI?

Die <I> in STOMPI dui op die infinitief of die infinitiefkonstruksie, naamlik om + te + werkwoord (bv. Die leerder het elke dag sy werk netjies in sy boek geskryf om dit alles te onthou). Is jy gereed vir die waarheid?

  • Dit waarna heeltyd nog as ’n infinitief/infinitiefkonstruksie verwys word, is nie een nie.
  • Die woord om is ’n onderskikkende voegwoord net soos omdat, sodat en voordat.
  • Dit beteken dat om ’n bysin inlei.

Hoekom word daar dan na konstruksies soos om te onthou verkeerdelik as die infinitief verwys? Omdat ’n infinitief wel daarbinne voorkom, naamlik onthou. Die werkwoord onthou is nie soos gewerk byvoorbeeld vir tyd (verlede tyd) gemerk nie. Die werkwoord onthou se vorm noem ons daarom ’n infinitief. ’n Infinitief is dus nie ’n tipe werkwoord soos ’n hoofwerkwoord of ’n hulpwerkwoord nie, maar die "rouste", mees generiese en natuurlike vorm wat ’n werkwoord kan hê. Ons vermoed dat omdat ’n infinitief ná om te gebruik word, dit verkeerdelik as benaming vir die hele konstruksie gebruik word.

Om dus van addisioneletaalleerders te verwag om elke keer die onderskikkende voegwoord om te gebruik, gevolg deur te (wat ons ’n infinitiefpartikel noem), gevolg deur ’n werkwoord met die infinitiefsvorm, stel hulle wel in staat om ’n komplekse sin (waarna op skoolvlak as saamgestelde sinne verwys word) te vorm, maar al die sinne in Afrikaans eindig beslis nie op om te + ’n werkwoord nie.

Trouens, het jy geweet dat ’n bysin wat deur die onderskikkende voegwoord om ingelei word, dikwels ná ’n naamwoord (selfstandige naamwoord) gebruik word om inhoud daaraan te gee? Vergelyk die sin hier onder:

Ek het die besluit om weg te stap, geneem.

Die bysin (naamlik weg te stap) word ingelei deur die onderskikkende voegwoord om om inhoud aan die naamwoord besluit te gee. Gevolglik word die besluit (wat die objek of voorwerp van die sin is) uitgebrei met om weg te stap. Hierdie hele sinsdeel sal binne ons STOMP-raamwerk die O (objek) voorstel. Vergelyk:

S

V1

T

O

M

P

V2

Ek

het

die besluit om weg te stap

geneem

 

Gevolgtrekking

Ons moet in gedagte hou dat dit goed en wel is wanneer struktuur of vorm soos vergestalt deur die STOMP-eselsbrug in die addisioneletaalklaskamer aandag geniet, maar struktuur moet ten minste met betekenis en pragmatiese funksie gekombineer word (vergelyk die sirkeldiagram hier onder).

Oorspronklik sin: Ons (S) volg (V1) vandag (T) die Panorama-roete (O).

Drie dimensies

 

Ek wil ook aanbeveel dat outentieke tekste wat wys hoe Afrikaans werklik gebruik word, in die Afrikaans Addisionele Taal-klaskamer aangewend moet word, sodat verskillende woordordepatrone ontdek kan word. Leerders moet kan sien dat hulle STOMP as riglyn of maatstaf kan gebruik, maar dat dit beslis nie die norm is nie.

 

VivA-groete

Nadine Fouché-Karsten

 

Bronne geraadpleeg:

Breed, A. Fouché, N. Pilon, S. 2021. "Sinne en klouse (en nonklouse)". Taalonderrigportaal. Virtuele Instituut vir Afrikaans. [https://viva-afrikaans.org/portale/taalonderrigportaal/afrikaansgrammatika?link=Afdeling-Sintaksis%2Fsinne_klouse_nonklouse.html]

Brink, N., Kapp, S., Erasmus, C. & Van Rooy, B. 2021. "Woordsoorte: Werkwoorde". Taalonderrigportaal. Virtuele Instituut vir Afrikaans. [https://viva-afrikaans.org/portale/taalonderrigportaal?link=Afdeling-Woordsoorte%2FWerkwoord%2FAAG_Woordsoort_V_Inleiding.html].

Larsen-Freeman, D. 2014. Teaching grammar. In: Celce-Murcia, M., Brinton, D.M. & Snow, M.A., eds., Teaching English as a second of foreign language. Boston, MA: National Geographic Learning. Pp. 256-270.

Lutrin, B. 1999. Afrikaans Handbook and study guide. Senior primary to matric.  South Africa: Berlut Books.

Lees 400 tye Laaste modifikasie op Woensdag, 16 Maart 2022 18:52

Opmerking(s)

  • Kommentaarskakel
    Nadine Fouché-Karsten
    Nadine Fouché-Karsten
    Donderdag, 17 Maart 2022 08:54

    Hallo Dalene, dankie vir jou terugvoer. Dit is problematies, want "te" is ’n ander woordsoort. Ons noem dit ’n partikel - spesifiek ’n infinitiefpartikel - want dit word altyd gevolg deur die infinitief/infinitiefsvorm van die werkwoord. Die "partikel"-deel in "te" se naam (naamlik "infinitiefpartikel") dui vir ons daarop dat dit altyd binne ’n groter konstruksie voorkom (vergelyk ons uitdeelstuk op Taalonderrigportaal "’n Plakkaat met die definisie vir elke woordsoort" waar ons na die partikel as ’n woordsoort verwys).

    Maar al word "te" altyd binne ’n groter konstruksie gebruik, soos saam met "om" (’n voegwoord) en die infinitief (bv. "Hy leer [om te presteer]"), of alleen saam met die infinitief (bv. "Die huis op die hoek is nou [te huur]"), is dit nie deel van die infinitief nie, want die infinitief is ’n spesifieke vorm van die hoofwerkwoord. Die infinitief is nie ’n konstruksie nie. In my twee voorbeelde hier bo is die infinitief alleenlik "presteer" en "huur".

    Dit kan wel gebeur dat dat die infinitief (of infinitiefsvorm van die werkwoord) in gefossileerde uitdrukkings voorkom, bv. "Onthou om iets [te ete] saam te bring" en "Hoe het jy dit [te wete] gekom?". Die gefosileerde uitdrukking is alles tussen blokhakies, maar "te" is steeds ’n aparte woordsoort, naamlik ’n partikel (spesifiek ’n infinitiefpartikel). Die infinitief is slegs "ete" en "wete" wat elkeen van die agtervoegsels -e voorsien is. [En dit is waar jy wonder hoe die infinitief nou ewe skielik ’n agtervoegsel kan kry, as ek reeds gesê het dit dit "rouste vorm" van die hoofwerkwoord is. Alles het uitsonderings: Wanneer die infinitief soms in gefosileerde uitdrukkings voorkom, kan dit wel gebeur dat dit ’n -e kry.]

    Rakende die eksamenvraestel: As hulle in hierdie betrokke eksamenvraestel vir die leerder sou vra om die VASTE UITDRUKKING waarin die infinitief voorkom, te identifiseer en die sin het wel so ’n vaste uitdrukking gehad, sou ek verstaan waarom die leerders "te" as deel van hul antwoord moes gee. Maar alleenlik dan.

    Verdere voorbeelde van vaste uitdrukkings waarin die infinitief voorkom, word hier onder gegee. Let daarop - net soos wat ek vroeër aangedui het - dat die infinitief soms, maar nie altyd nie, die agtervoegsel -e kan kry.

    So 'n koop was nie [te voorsien] nie.
    Die huis op die hoek is nou [te huur].
    Sy bydrae tot ons volkwording is nie [te oorskat] nie.
    Dit is nie [te sê] dat hy onverskillig was nie.
    Dit is maar [te hop·e] dat hulle hulle eie vleis sal saambring.
    Sy mislukking is aan sy luiheid [te wyt·e] en sy sukses aan geluk te dank·e.
    Ons was so iets lankal [te wagt·e].
    Die skilderye van Pierneef is slegs vandeesweek nog in Pretoria [te sien·e].

    Stuur asseblief vir my ’n e-pos na nadine@viva-afrikaans.org om aan te dui of hierdie antwoord gehelp het.

  • Kommentaarskakel
    Dalene Pretorius
    Dalene Pretorius
    Woensdag, 16 Maart 2022 21:15

    Ek staan onder korreksie maar tydens n nasionale eksamen moes n leerder die infinitief aandui met "te" voor die werkwoord. Indien die "te" nie daar was nie, is dit verkeerd gemerk.