VIVA SE BLOGS

Die ondeunde woordsoort: die bywoord

Geplaas deur Nadine Fouché-Karsten Woensdag, 18 Mei 2022
Gepubliseer in Grammatika;

Toe ek klein was, het ek altyd my blou ogies gebruik om my oupa se arm te draai om vir my grondboontjiebotter en stroop in ’n bakkie te meng in plaas daarvan om die mengsel op ’n broodjie te smeer. Dan gaan sit ek skelmpies en eet, sodat Ouma nie daarvan uitvind nie.

Grondboontjiebotter

(Beeld ontleen aan Pixabay.)

 

Ek dink die bywoord is net so ondeund soos wat ek was. Net soos wat ek my oupa oorreed het om grondboontjiebotter en stroop te meng, draai die bywoord die arm van die taalgebruiker – nou nie om grondboontjiebotter en stroop te meng nie – om ander woorde en sinsdele ook as bywoorde te klassifiseer, hoewel hulle duidelik nie is nie.

 (i) ’n Moontlike rede vir die verwarring en die implikasies daarvan

Ek dink die rede hiervoor is dat die bywoord sy betekenis, naamlik dat dit die werkwoord ten opsigte van tyd, wyse of plek toelig (of bepaal), gebruik om die taalgebruiker te oorreed dat ander woorde of sinsdele wat dieselfde betekenis oordra, ook bywoorde is. Dat die vet gedrukte woorde in die onderstaande sinne almal bywoorde is, is onteenseglik. Hulle bepaal die handeling wat deur die werkwoord uitgedruk word. Die woord gister dui aan wanneer die persoon geëet het, die woord lekker dui aan hoe die persoon geëet het en die woord tuis dui aan waar die persoon geëet het.

tyd – dui die tyd van aksies aan bv. Sy het gister by my geëet.

wyse – druk die manier uit waarop aksies gedoen is bv. Sy het lekker geëet.

plek – dui die plek aan waar aksies onderneem is bv. Ons het tuis geëet.

Tabel 1: Voorbeelde geneem uit die Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring van Afrikaans Huistaal: graad 4 tot 6 (DBO, 2011:20)

 

Wat nou gebeur, soos blyk uit verskeie handleidings wat vir leerders en onderwysers beskikbaar gestel word, is dat enige woord of selfs sinsdeel (’n groepering van woorde) wat die werkwoord met betrekking tot tyd, wyse of plek toelig, verkeerdelik as bywoorde gereken word. Lees die onderstaande drie sinne en let veral op die vet gedrukte woorde:

  • Daar is feitlik elke dag insidente van verdrinkings of amperse verdrinkings. (Geneem uit Korpusportaal beskikbaar op VivA se webblad.)
  • Die toeskouers staan in groepies en gesels. (Aangepas uit Ponelis, 1979:343.)
  • Ek dink ons is nou uitgekuier by die see. (Geneem en aangepas uit die aanlyn HAT Afrikaanse Skoolwoordeboek.)

 

Trouens, in bostaande voorbeelde verteenwoordig elkeen van die afsonderlike lede van die vet gedrukte sinsdele ’n unieke woordsoort, al druk die sinsdeel as geheel ’n tydsaanduidende, wyse-aanduidende of plekaanduidende betekenis uit.

  • elke dag: elke: telwoord (betekenisgewys spesifiseer dit ’n onbepaalde hoeveelheid); dag: naamwoord (dit gee ’n naam vir daardie tyd tussen die opkoms en ondergang van die son)
  • in groepies: in: setsel (op skoolvlak word “voorsetsels” as term gebruik); groepies: naamwoord (dit gee ’n naam vir ’n aantal persone/dinge van dieselfde soort, wat bymekaar en apart van ander is)
  • by die see: by: setsel (op skoolvlak word “voorsetsels” as term gebruik); die: bepaalde lidwoord; see: naamwoord (dit gee ’n naam vir die uitgestrekte soutwatermassa wat die grootste gedeelte van die aarde bedek)

 

Die onderstaande sin uit die Mind the gap-hersieningsgids wat deur die Departement van Basiese Onderwys ter voorbereiding vir die Nasionale Senior Sertifikaat saamgestel is, illustreer hoedat huis toe en in die straat verkeerdelik as bywoorde (wat ’n plekaanduidende betekenis het) gereken word.

  • Die seun hardloop vinnig huis toe/in die straat.

 

Die woord toe in bostaande voorbeeldsin is ’n setsel – daardie woorde in Afrikaans wat die verhouding tussen twee goed aandui (bv. sit op die stoel). Die woord toe druk steeds ’n verhouding uit wat seker duideliker is as die sin herskryf word: Die seun hardloop vinnig tot by die huis. In hierdie sin druk tot (oftewel toe) ’n ruimtelike verhouding (een wat met rigting of pad verband hou) tussen die seun en die huis uit. In die oorspronklike sin (naamlik Die seun hardloop vinnig huis toe) is die woord huis ’n naamwoord, aangesien dit ’n naam gee vir 'n gebou waarin mense woon.

 

Dieselfde geld vir in die straat (in die sin Die seun hardloop vinnig in die straat). Dit bestaan uit ’n setsel (naamlik in), want in dui ’n ruimtelike verhouding aan tussen die seun en die straat, naamlik dat die seun aanwesig is binne ’n bepaalde ruimte. Hierdie setsel word gevolg deur ’n bepaalde lidwoord (naamlik die) en ’n naamwoord (naamlik straat).

 

Bywoorde en naamwoorde word boonop moeilik onderskei. Vergelyk die onderstaande twee voorbeelde waar môre en gister gebruik word om die tyd van die dag of naam van ’n dag onderskeidelik te benoem. In onderstaande voorbeelde is môre en gister naamwoorde.

  • {Gister} is verby, dit help nie om daaroor te huil nie. (Die woord gister word as subjek/onderwerp gebruik.)
  • Ek is {elke môre} dankbaar vir 'n nuwe dag. (In die voorbeeld word die woord môre, saam met die telwoord elke gebruik. Die hele sinsdeel waarin die naamwoord môre die kern is, is ’n sinsdeel wat nie ’n verpligte funksie in die sin het nie en binne die gesegde van die sin, naamlik is elke môre dankbaar vir ’n nuwe dag. Om hierdie rede sê ons dat die sintaktiese funksie dié van bywoordelike bepaling is.)

 

Daarenteen is elkeen van die vet gedrukte woorde in die voorbeelde hier onder bywoorde wat verwys na die tydstip wanneer iets plaasvind. ’n Mens kan met ander woorde die vraag vra: "Wanneer vind die handeling plaas?". As bywoord kan dit nié gekombineer word met ’n lidwoord of telwoord nie, wat daarop dui dat dit nie naamwoorde is nie, wel bywoorde. Vergelyk:

  • Die werkstuk moes gister in gewees het. *Die werkstuk moes [drie gisters] in gewees het.
  • Die werkstuk moet môre in wees. teenoor *Die werkstuk moet [’n môre] in wees.

 

Wanneer die bywoord aan die begin van ’n sin gebruik word – ’n posisie wat tipies deur ’n naamwoord (of voornaamwoord) ingeneem word – is dit nie ’n naamwoord wat as die subjek (of onderwerp) van die sin gebruik word nie. Dit is ’n bywoord wat die skrywer opsetlik in sinsaanvangposisie plaas om iets te beklemtoon.

  • Vanaand gaan ek fliek. < Ek gaan vanaand fliek. (Die bywoord vanaand word gebruik om uit te lig wánneer gefliek gaan word.)

 

Gevolgtrekking

Wanneer leerders oor bywoorde onderrig word, behoort hulle nie net te leer dat sommige bywoorde ’n tydsaanduidende, wyse-aanduidende en plekaanduidende betekenis kommunikeer nie (dit is in elk geval nie al waarvoor bywoorde gebruik word nie – sien dié uitdeelstuk “’n Plakkaat met ’n definisie van elke woordsoort”). Dit is soos om die onderstaande prentjie vir jou te wys en te vra jy moet identifiseer wat jy sien. Jy gaan waarskynlik sê dat dit ’n muis is.

Muis nie muffin

(Beeld ontleen aan Brightside en aangepas.)

 

Maar as ek die prentjie vergroot, sien jy dat dit eintlik ’n muffin is.

Muffin

(Beeld ontleen aan Brightside.)

 

Insgelyks behoort bywoorde wat hierdie tipe betekenisse kommunikeer ook toegelig te word met voorbeelde van hóé dit binne ’n sin gebruik word. Leerders benodig derhalwe ’n geheelbeeld wat moontlik sal bydra om die verwarrings wat in hierdie blog uitgelig is, te beperk. Vergelyk die volgende kriteria wat ook aan bod kan kom wanneer leerders tydens die onderrigleerproses bewus gemaak word van bywoorde se tydsaanduidende, wyse-aanduidende en plekaanduidende betekenis:

  • Bywoorde kan op verskeie plekke in die sin voorkom. Die betekenis van die sin verander na gelang van waar die bywoord staan. Daar is sintakties geen rede waarom bywoorde nie byvoorbeeld aan die sinsbegin kan staan nie.
  • Bywoorde is byna altyd opsionele elemente, met ander woorde dit mag uit die sin weggelaat word. Hoewel dit nie verplig is nie, lewer dit wel 'n belangrike bydrae tot die betekenis van die sin.
  • Bywoorde kan nie deur 'n lidwoord of telwoord voorafgegaan word nie en ook nie 'n meervoudsuitgang kry nie.

 

Let ook daarop dat in teenstelling met in die straat, huis toe, ens. waarvan die afsonderlike woorde elkeen ’n aparte woordsoort verteenwoordig, is daar wel gevalle waar ’n woordsoort uit meer as een woord kan bestaan en daarom as ’n multiwoordeenheid beskou word, byvoorbeeld setsels wat aan albei kante van ’n sinsdeel staan, beter bekend as alkantsetsels (bv. langs … af in die sin Die water loop langs die geut af), sommige voegwoorde, onder andere nóg … nóg (byvoorbeeld Nóg Brigitte, nóg Klaus is gereed om te trou) en die betreklike voornaamwoord wie se (bv. Suné kyk verras op na die meisie wie se hare die son se prag probeer steel) om maar enkeles te noem.

 

 

Bronne geraadpleeg:

Fouché, N., Kapp, S., Luther, J. & Erasmus, C. 2021. "Woordsoorte: Bywoorde". Taalonderrigportaal. Virtuele Institituut vir Afrikaans. [https://viva-afrikaans.org/portale/taalonderrigportaal/afrikaansgrammatika?link=Afdeling-Woordsoorte%2FBywoord%2FAAG_Woordsoort_ADV_Inleiding.html]

Lees 624 tye Laaste modifikasie op Saterdag, 18 Junie 2022 17:13

Opmerking(s)

  • Kommentaarskakel
    Nadine Fouché-Karsten
    Nadine Fouché-Karsten
    Vrydag, 12 Augustus 2022 12:47

    Hallo Tom, ek vra om verskoning dat ek nou eers jou boodskap sien. Ek hoor wat jy vir my sê, maar daar is nie ’n een-tot-een-verhouding tussen bywoorde en bywoordelike bepalings nie. Wat ek probeer sê, is dat bywoordelike bepalings nie noodwendig bywoorde hoef te wees nie. In die sin "Ek speel Vrydae tennis" is daardie "Vrydae" woordsoortelik ’n eienaamwoord, ’n tipe selfstandige naamwoord (of naamwoord). As ek sê wat die funksie van daardie "Vrydag" binne die sin is, is sy funksie dié van ’n bywoordelike bepaling, met ander woorde dit is ’n sinsdeel wat binne die gesegde van die sin (aangedui tussen blokhakies) voorkom en weggelaat kan word: "Ek [speel Vrydae tennis]" "Ek [speel tennis]". Dit is natuurlik moontlik dat ek die bywoord "daagliks" in dieselfde sin kan gebruik (bv. "Ek [speel daagliks tennis]"). Omdat dit ook binne die gesegde van die sin gebruik word en weggelaat kan word (bv. "Ek [speel tennis]") het dit ook die funksie binne die sin as bywoordelike bepaling.

    Die punt is: Ons moet ’n onderskeid begin tref tussen woordsoorte waar bywoorde hoort en bywoordelike bepalings. Woordsoorte soos bywoorde is ’n etiket wat aan ’n enkele woord toegeken word. Bywoordelike bepalings is die funksie wat aan ’n woordsoort of kombinasie van woordsoorte toegeken kan word, net soos wat die onderwerp en die voorwerp ’n funksie is.

    Ek hoop hierdie antwoord het gehelp. Jy is meer as welkom om ’n e-pos vir my te stuur na nadine@viva-afrikaans.org.

  • Kommentaarskakel
    Tom Brand
    Tom Brand
    Vrydag, 01 Julie 2022 18:19

    Dit maak sin dat mense iets soos "by die see" as bywoorde reken, omdat dit bywoordelike bepalings is. 'n Bywoord is bloot 'n bywoordelike bepaling wat uit een woord bestaan, nè? Hulle is na my mening nie ver van die waarheid nie...