Wat is ’n deelwoord?
Kom ons maak net eers seker almal weet waaroor dit gaan. Deelwoorde is woorde soos skreeuende (kinders), gekoopte (rok), gelooide (leer), gelaste (tou), gewese (man), ingekleurde (prentjie).
Die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) onderskei in die terminologielys twee soorte deelwoorde: ’n onvoltooide deelwoord (ook: teenwoordige deelwoord) en ’n voltooide deelwoord (ook: verlede deelwoord). Op hierdie punt behoort die klokke nou al uit skoolwerk te lui.
Die AWS se definisie vir ’n onvoltooide deelwoord lyk so:
ʼn Onvoltooide deelwoord (ook teenwoordige deelwoord genoem) is ʼn woord wat van ʼn werkwoord gevorm is deur die toevoeging van die agtervoegsel -end(e). Voorbeelde is afkeurend, etende, spelende.
So definieer die AWS ’n voltooide deelwoord:
ʼn Voltooide deelwoord (ook verlede deelwoord genoem) is ʼn woord wat van ʼn werkwoord gevorm is met behulp van ge- en/of -de of -te; byvoorbeeld gevestig, gevestigde; geverf, geverfde; aangelas, aangelaste; en hernu, hernude.
Voltooide deelwoorde kan natuurlik swak of sterk wees. Swak voltooide deelwoorde kry net die voorvoegsel en/of -de of -te, soos in die voorbeelde hier bo. Sterk verlede deelwoorde se stam verander ook. Voorbeelde daarvan is verworwe (van verwerf), bedorwe (van bederf) en geswore (van sweer).
Vinnige syspoor: Die opvatting dat sterk voltooide deelwoorde altyd ’n figuurlike betekenis het, is nie 100% akkuraat nie. Ons praat byvoorbeeld van bevrore groente en aangenome kinders. Soms is die sterk voltooide deelwoord nou maar net meer gebruiklik.
In hierdie blog fokus ek op voltooide deelwoorde, want dis by hulle waar die knelpunt lê.
Wanneer kry voltooide deelwoorde -te en wanneer kry hulle -de?
In ouer uitgawes van die AWS (soos die 1964-uitgawe hier op my rak), is die reëls vir hierdie spesifieke kwessie ’n hele bladsy lank. Sedertdien het die Taalkommissie die reëls aangepas en vereenvoudig sodat dit vandag (soos vervat in die 2017-uitgawe) eintlik heel maklik is om toe te pas. Verwys na AWS 11.6-11.11 indien jy die oorspronklike reëls wil nagaan. (As jy tot hier gelees het, is jy ’n taalagie en behoort jy eintlik die oorspronklike bron te raadpleeg.)
Om sake vir myself makliker te maak, het ek hierdie reëls soos volg opgesom:
- As die woord eindig op ’n stemhebbende klank – ’n vokaal, ’n diftong of ’n stemhebbende konsonant – kry die deelwoord ’n -de. Dit is logies, want die d in die -de is stemhebbend. In woorde soos hernu x hernude; gelooi x gelooide; gelob x gelobde; geblom x geblomde; bewoon x bewoonde; bedaar x bedaarde; oorskry x oorskryde. (As jy wil bepaal of die klank stemhebbend of stemloos is, plaas jou vingerpunte op jou strottehoof en spreek die klank uit. As jy vibrasie voel, is die klank stemhebbend.)
- As die woord eindig op ’n k, p of t (my rympie: “Kom park toe”), is daardie laaste klank in die woord stemloos. Deelwoorde wat van sulke woorde gemaak word, kry -te, want die t is stemloos: gerook x gerookte; gekap x gekapte; beset x besette.
- As die woord eindig op ’n f, g of s (my rympie: “Frans gaan saam”), kan die woord -de of -te kry. Jy kan dus skryf ingevryfde of ingevryfte kuitspiere; ingelegde of ingelegte perskes; uitgevarsde of uitgevarste uie.
’n Voetnoot oor hierdie laaste groepie: Opmerking a by AWS 11.7 stel dit duidelik dat, hoewel die reël wisselvorme toelaat, sommige van hierdie deelwoorde se uitgange vas is. Die wisselvorm is met ander woorde toelaatbaar, maar een vorm is meestal meer gebruiklik as die ander. Die Taalkommissie het deur die korpus (’n groot versameling geredigeerde tekste) gewerk en vir elkeen van die deelwoorde wat op f, g of s eindig ’n voorkeurvorm in die woordelys opgeneem. Dit is met ander woorde die vorm wat die taalgemeenskap verkies. As jy wil weet wat hierdie voorkeurvorm is, kan jy dit in VivA se app naslaan – tik net jou soekwoord in met -te en met -de, en kyk watter vorm in die woordelys opgeneem is.
Hier is ’n maklike tabelletjie om te onthou:
Woorde op ’n stemhebbende klank |
Woorde op f, g of s |
Woorde op k, p of t |
-de |
-de of -te |
-te |
bv. gelooide, geblomde |
Bv. ingelegde of ingelegte |
Bv. geblikte, gekapte |
VivA-groete
Sophia