VIVA SE BLOGS

Die bywoordelike bepaling: ʼn sintaktiese funksie met ʼn identiteitskrisis (deel 1)

Geplaas deur Nadine Fouché-Karsten Donderdag, 11 Augustus 2022
Gepubliseer in Grammatika;

1. Inleiding: die wanpersepsie rakende die aard van die bywoordelike bepaling

Die arme bywoordelike bepaling ondergaan op hierdie stadium ʼn identiteitskrisis deurdat dit dikwels as ʼn vormlike sinsdeel hanteer word, hoewel dit eerder, net soos die subjek (of onderwerp), objek (of voorwerp) en gesegde, dui op die funksie van ʼn sekere sinsdeel.

Dat daar in skoolhandboeke na die bywoordelike bepaling deur ʼn vormlike lens gekyk word, blyk duidelik uit die volgende aanhaling uit ʼn graad 12-leerderboek:

Lens

Op grond van dié definisie word slegs die rooi vetgedrukte woord hier onder as ʼn bywoordelike bepaling gereken, omdat dit net een woord is. Die blou vetgedrukte woorde, daarenteen, word as ʼn bywoordelike sinsnede geklassifiseer:

  • Die seuns terg alewig die meisies. (bywoordelike bepaling)
  • Mark was in die badkamer. (bywoordelike sinsnede)

Gemeet aan die Afrikaanse Skoolgrammatika (sien die afdeling Teenstrydighede in Afrikaans Huistaal-kurrikulum en hoe ASG dit benader), Afrikaanse standaardwerke soos dié van Ponelis (1979), en Engelse standaardwerke soos dié van Quirk et al. (1985) en Biber et al. (1999), hoort albei vetgedrukte gedeeltes (“alewig” en “in die badkamer”) aan dieselfde kategorie, naamlik dié van bywoordelike bepaling. Daar word met ander woorde nié ʼn onderskeid getref tussen ʼn bywoordelike bepaling en ʼn bywoordelike sinsnede nie.

 

2. Wat is ʼn bywoordelike bepaling?

Wanneer die woorde waaruit ʼn sin gevorm word in groter eenhede (of sinsdele) gegroepeer word, verrig daardie groter sinsdele ʼn bepaalde funksie in die sin. Ons verwys na sinsfunksie in die Afrikaanse Skoolgrammatika en sintaktiese funksie in die Algemene Afrikaanse Grammatika.

Die subjek (of onderwerp) is ʼn tipiese voorbeeld van ʼn sinsfunksie.

  • Dit word verrig deur ʼn sinsdeel met ʼn naamwoord (of selfs ʼn voornaamwoord) as die belangrikste element.
  • Die sinsdeel met ’n naamwoord (of voornaamwoord) as belangrikste element gaan die eerste werkwoord van die sin vooraf in stelsinne wat in die lydende of bedrywende vorm weergegee word, en word meestal ná die werkwoord in vraagsinne gebruik. (Let wel: Dit is moontlik dat die subjek (of onderwerp) voor die werkwoord in vraagsinne sou kon staan. ’n Tipiese voorbeeld hiervan is waar ’n vraende voornaamwoord in die plek van die subjek (of onderwerp) staan, bv. die vraende voornaamwoord “wie” in “Wie (= die persoon) eet die koek?”.)
  • Dit word deur die werkwoord vereis (buiten in bevelsinne waar die subjek geïmpliseer word).
  • Dit dui tipies aan oor wie/wat die sin handel (hoewel die subjek ook ander betekeniskategorieë kan uitdruk).

 Insgelyks is die bywoordelike bepaling óók ʼn sinsfunksie. ʼn Sinsdeel verrig die sinsfunksie van bywoordelike bepaling wanneer dit aan die volgende kriteria voldoen:

  • Dit is ʼn nieverpligte sinsdeel.
  • Dit word as ʼn geïntegreerde sinsdeel binne die gesegde gebruik.

 Voorbeelde van sinsdele wat die sinsfunksie van bywoordelike bepaling verrig

Al die onderstaande vetgedrukte sinsdele voldoen aan die gegewe kriteria, en daarom verrig hulle álmal die sinsfunksie van bywoordelike bepaling.

 Tabel 2

* In teenstelling met skoolhandboeke se siening dat slegs hoofwerkwoorde (bv. “werk”) en niehoofwerkwoorde (bv. hulpwerkwoorde, soos “moet” en “het”) as die gesegde hanteer word, word die gesegde in die Afrikaanse Skoolgrammatika gereken as die hele sinsdeel ná die subjek.

** Die predikaat is die deel van die gesegde wat die hoofwerkwoord en niehoofwerkwoorde (m.a.w. die predikator) en enige verpligte aanvulling (bv. die objek) omvat. Die predikaat vorm dus die kern van die gesegde.

 

Soos blyk uit bostaande tabel, hou die sinsfunksie van bywoordelike bepaling nie slegs verband met ʼn sinsdeel waarin die bywoord die belangrikste element is nie (m.a.w. ʼn bywoordstuk), maar ook sinsdele wat rondom ʼn naamwoord gebou is (m.a.w. naamwoordstukke) en sinsdele wat rondom ʼn voorsetsel gebou is (m.a.w. voorsetselstukke). Selfs bysinne kan hierdie sinsfunksie verrig (vergelyk afdeling 3 hierna).

 

3. Meer inligting oor bysinne wat die sinsfunksie van bywoordelike bepaling verrig

Maar hoe is bysinne ʼn sinsdeel binne die gesegde van die hoofsin as dit ʼn afsonderlike sin is?

Dit is so dat wanneer ons sinne ontleed, die groter sin – die komplekse sin (vroeër ook bekend as saamgestelde sin) – in meerdere sinne verdeel kan word. Ons moet egter nie die bespreking daar laat nie. In die geval van ʼn bysin verrig dit altyd ʼn sinsfunksie vir die hoofsin. Dit is waarom dit ʼn bysin genoem word. In die voorbeeld “Katrien speel tennis, omdat sy nie plek in die hokkiespan gekry het nie” verrig die bysin tesame met die onderskikkende voegwoord” die sinsfunksie van bywoordelike bepaling in die hoofsin.

Tabel kleur

 Selfs wanneer die woordorde van die bysin nié gekenmerk word deur die werkwoord(e) wat gedeeltelik of algeheel na die einde van die sin skuif nie (bv. “Hy sê hy is honger.” in plaas van “Hy sê dat hy honger is.”), verrig die bysin ʼn sinsfunksie vir die hoofsin. In hierdie geval word die bysin in samehang met die onderskikkende voegwoord “dat” gebruik as ʼn sinsdeel wat ná die hoofwerkwoord staan in sinne in die bedrywende vorm en deur dié hoofwerkwoord benodig word om ʼn groter sinsdeel van die gebruiker se keuse volledig te maak. Die bysin word as ’t ware gebruik as die sinsfunksie objek (of voorwerp).

 

4. Die onderrig van bywoordelike bepalings

In die boek Creative Approaches to Teaching Grammar (Illingworth & Hall, 2016) word na “exploding sentences” verwys:

You want your students to blow up the sentences to make them more dramatic […] You want the writer to remember that the reader needs to have the best possible idea of not just what is happening but also the atmosphere and the ways in which characters are feeling and reacting to the situations in the story. It is possible to explode sentences to improve the enjoyment of the reader.

 Veral wanneer leerders besig is met hulle eerste poging tot ʼn skryfstuk is dit die ideale geleentheid vir die onderwyser om hul aandag te vestig op die gebruik van bywoordelike bepalings. Dit kan ook verduidelik word wanneer leerders aandui dat hulle klaar met hulle werk is.

Veronderstel die leerder skryf die volgende sinne:

 Die deur het oopgegaan, en hulle het ingegaan. Die vertrek was groot.

·        Jy kan vir die leerders vra watter effek dit sou skep as die bywoordelike bepaling “stadig” ingevoeg sou word, bv. “Die deur het stadig oopgegaan.”

·        Sou lesers meer op hulle gemak wees om die storie verder te lees as “twee-twee” ingevoeg sou word, bv. “… en hulle het twee-twee ingegaan”?

·        Sou die grootte van die vertrek beklemtoon word indien ʼn sinsdeel “soos ʼn kasteel” ingevoeg sou word, bv. “Die vertrek was groot soos ʼn kasteel.”?

 

Die volgende opdrag wat verbatim in ʼn graad 12-leerderboek verskyn, is verwarrend:

Ons gaan elke week groentewinkel toe.

Watter agtervoegsel sal jy gebruik om van die bywoordelike bepaling “elke week” ʼn bywoord te maak? Skryf die bywoord neer en onderstreep die agtervoegsel.

Hierdie opdrag skep verkeerdelik die indruk dat slegs die sinsdeel “elke week”, wat rondom ʼn naamwoord gebou is en daarom ʼn naamwoordstuk genoem word, die sinsfunksie van bywoordelike bepaling verrig en dat bywoorde nie ook deel van sinsdele vorm wat vir dieselfde sinsfunksie gebruik word nie.

Indien die leerder “elke week” sou wysig na “weekliks” (bv. “Ons gaan weekliks groentewinkel toe.”) en daar word van die leerder verwag om sinsfunksies (bv. subjek, objek, gesegde) aan sinsdele te koppel, sou die bywoord beslis die sinsfunksie van bywoordelike bepaling vervul, want dit voldoen aan die lys kriteria wat in afdeling 2 gegee is. Vergelyk:

Kriteria

Motivering

Dit is ʼn nieverpligte sinsdeel.

Ons gaan weekliks groentewinkel toe.

<

Ons gaan groentewinkel toe.

Dit word as ʼn geïntegreerde sinsdeel binne die gesegde gebruik.

Ons [gaan weekliks groentewinkel toe.]

 

5. Samevatting

Ek hoop dat hierdie blog die identiteit van die bywoordelike bepaling duideliker gemaak en jou metataal oor taalstrukture en -konvensies uitgebrei het. Ter samevatting:

  • ʼn Bywoordelike bepaling is ʼn sinsfunksie wat aan woorde toegeken word, nadat hulle saamgegroepeer is.
  • Woorde wat saamgegroepeer word om sinsdele te vorm, word op grond van die woordsoort wat die kern vorm, op grond van hul vorm as ʼn bywoordstuk, naamwoordstuk of voorsetselstuk geklassifiseer (vergelyk afdeling 2).
  • Sou ons nié woorde eers saamgroepeer nie en kategorieë aan individuele woorde toeken, werk ons met woordsoorte, bv. bywoorde, naamwoorde, setsels, ens.
  • Bywoordelike bepalings kom binne die gesegde van die sin voor, tensy die skrywer hulle na die begin van die sin skuif om bepaalde inligting te beklemtoon.
    • In die voorbeeld “Sy [het stilletjies alles gereël]” verrig die sinsdeel “stilletjies” die sinsfunksie van bywoordelike bepaling. Dit kom binne die gesegde “het stilletjies alles gereël” voor. Hierdie sinsdeel (naamlik “stilletjies”) bestaan net uit ʼn bywoord, en daarom word dit op vormvlak ʼn bywoordstuk genoem. ʼn Sinsdeel met ʼn bywoord as die belangrikste element (d.w.s. ʼn bywoordstuk) kan daarom as ʼn bywoordelike bepaling gebruik word.
  • Bywoordelike bepalings is opsioneel, byvoorbeeld “Sy het alles gereël.”

 

Net soos wat bepaalde betekeniskategorieë met die subjek, objek en gesegde geassosieer word, word bepaalde betekenisse ook aan die bywoordelike bepaling gekoppel. In die voorbeeld “Sy het stilletjies alles gereël” gee die bywoordelike bepaling stilletjies addisionele inligting vir die predikaat “het alles gereël”, naamlik hoe alles gereël word. Vir die definisie van predikaat, sien weer afdeling 2. Die betekeniskategorieë van bywoordelike bepalings word in ʼn volgende blog bespreek.

 

VivA-groete

Nadine Fouché-Karsten

 

Bronnelys

Biber, D., Conrad, S. & Leech, G. Longman Student Grammar of Spoken and Written English. 17th ed. Essex, London: Pearson Education Limited.

Brink, N., Fouché, N., Kapp, S., Erasmus, C., Breed, A, & Van Huyssteen, G. 2020. "Sinne en klouse (en nonklouse)". Taalonderrigportaal. Virtuele Instituut vir Afrikaans. [https://viva-afrikaans.org/portale/taalonderrigportaal/afrikaansgrammatika?link=Afdeling-Sintaksis%2Fsinne_klouse_nonklouse.html]

Lees 1904 tye Laaste modifikasie op Donderdag, 11 Augustus 2022 18:29

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.


NUUSARGIEF

FACEBOOK