Nou sal ’n mens verwag dat dieselfde patroon waargeneem word wanneer die letterkombinasie <ng> ter sprake is. Dink weer ... Wanneer die letters <n> en <g> langs mekaar staan, ongeag hulle uitspraakmoontlikhede (d.w.s. of hulle twee klanke voorstel, soos in “angora”; en of hulle een klank voorstel, soos in “engel”), kom die skeiding daartussen.
Ek wil die frustrasie rakende die lettergreep minder maak deur ondersoek in te stel na die woorde “huisie”, “neusie” en “kalfie”. Dit is woorde waarvoor eksplisiete reëls nié in die AWS gegee word nie, maar waarvoor patrone wel afgelei kan word.
Huisie
Ons sou die woord volgens lettergrepe kon afbreek, met ander woorde volgens die manier wat die letters saamgegroepeer word. In hierdie geval sal “huisie” afgebreek word as “hui-sie”. Ek het dit in die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal nageslaan. Wat ek aflei, is dat wanneer letters wat ’n diftong voorstel (aangedui in rooi) en letters wat ’n vokaal voorstel (aangedui in blou), aan weerskante staan van ’n letter wat ’n konsonant voorstel (naamlik “huisie”, die skeiding voor die konsonantletter plaasvind (naamlik “hui-sie”).
Neusie
Ek dink dit geld vir “neusie” ook. Die rede waarom ek sê “ek dink”, is dat geen woordeboek wat ek tot my beskikking het, die lettergreepverdeling aandui nie. Na analogie van bostaande voorbeeld kan ek wel ’n patroon aflei. In hierdie woord is letters wat ’n vokaal voorstel (aangedui in blou) aan weerskante van ’n letter wat ’n konsonant voorstel (aangedui in groen). Insgelyks kom die skeiding voor die konsonantletter, dit wil sê “neusie” < “neu-sie”.
Kalfie
Maar by “kalfie” is daar twee konsonantletters wat langs mekaar staan. Die lettergreepverdeling by “kalfie” is “kal-fie”. Ek het dit in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal gaan naslaan. My eie afleiding is dat wanneer twee konsonantletters (in groen) wat verskillende klanke voorstel, langs mekaar staan en aan weerskante daarvan is vokaalletters (aangedui in blou), die skeiding tussen die konsonantletters kom.
Ons kan ’n woord ook volgens sy betekenisvolle dele verdeel. Neem weer “huisie” as voorbeeld. Ons kan redeneer dat die woord afgebreek moet word as “huis-ie”. In die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (reël 1.3, opmerking (a)) word hierdie tipe verdeling afgekeur. Die rede hiervoor is dat die grense van die betekenisvolle dele (naamlik “huis-ie”) nie ooreenstem met die grense van die lettergreepverdeling nie (“hui-sie”). Slegs wanneer dié twee grense (betekenisvolle dele en lettergreepverdeling) ooreenstem, kan ons dié woord as “huis-ie” afbreek (wat nie tans die geval is nie).
Dieselfde geld byvoorbeeld vir die woord “voetstappe”. Sy lettergreepverdeling is “voet-stap-pe”. Sy verdeling volgens betekenisvolle dele is “voet-stappe” (vergelyk AWS, reël 1.3). Wanneer ons dink dat sy verdeling volgens betekenisvolle dele “voetstapp-e” is, moet ons eers na lettergreepverdeling gaan ondersoek instel. In hierdie geval stem sy verdeling volgens betekenisvolle dele, “voetstapp-e”, nie ooreen met die grense waar die woord volgens lettergrepe afgebreek word nie, “voet-stap-pe”. Om hierdie rede kan ons nie die woord as “voetstapp-e” in betekenisvolle dele verdeel nie.
Wanneer sal ons dan ’n woord afbreek voor die agtervoegsel (of suffiks) wat die betekenis van ‘verkleiningsvorm’ uitdruk? Volgens die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (reël 1.14) vind die verdeling voor “-jie” plaas wanneer die stam van die woord op die letters <d> of <t> eindig.
- “handjie” afgebreek as “hand-jie”
- “katjie” afgebreek as “kat-jie”
Nog ’n konteks waarbinne die verdeling vóór die verkleiningsuitgang plaasvind, is waar die stamme nie op <t> of <d> eindig nie, maar die woord die verkleiningsuitgang “-tjie” kry.
- “koortjie” afgebreek as “koor-tjie”
- “lepeltjie” afgebreek as “lepel-tjie”
Die hulpmiddel wat ’n mens in hierdie verband kan gebruik, is woordeboeke. Die lettergreepverdeling word in talle woordeboeke met ’n kolletjie aangedui. Onthou om VivA se woordeboektoepassing vir Windows, Android of Apple, VivA App (Aanlyn), af te laai en te gebruik, want hier kan die lettergreepverdeling van sommige woorde ook besigtig word. Vergelyk die onderstaande uittreksel uit dié toep waarin lettergreepverdeling geïllustreer word:
Figuur 1: ’n Skermskoot om lettergreepverdeling te illustreer
Moet ook nie lettergreepverdeling met klankgreepverdeling verwar nie. Die een handel oor die wyse waarop letters saamgegroepeer word. Daar is sprake van ’n eenheid wat deur spelling bepaal word (Coetzee, 2018:88). Die lettergrepe van “engel” is “en-gel”. Hoe weet ek dit? Ek het reeds vroeër na reël 1.11 verwys. Die ander handel oor die wyse waarop klanke saamgevoeg word. Daar is sprake van ’n klankeenheid of fonetiese eenheid (Coetzee, 2018:88). Die klankgreepverdeling van “engel” is “e-ngel” of “ê-ngil” (as jy jou leerders toelaat om die woord te skryf soos wat hulle dit sou uitspreek) of selfs [ɛŋəl], voorgestel met behulp van die Afrikaanse Fonetiese Alfabet.
As jy die waarde van klankgreeponderrig wil verhoog, kan jy vir jou leerders verduidelik dat ons eintlik in klankgrepe praat en dat elke klankgreep met ’n asemstootjie uit gepaardgaan, totdat ons weer inasem. Wat ook interessant is om te noem, is dat hoewel ons in klankgrepe praat, ons spraak as “een aaneenlopende klankstroom” waargeneem word (Coetzee, 2018:23). Ons kan die uitspraak van “engel” visueel voorstel as:
Figuur 2: Klankgrepe visueel voorgestel
As jy voel dat die lettergreepkoors jou behoorlik ná hierdie skrywe beetgekry het, kan jy gerus die blog “Begryp lettergrepe” gaan lees deur op die volgende skakel te klik: https://viva-afrikaans.org/lees-luister/blog/item/434-begryp-lettergrepe.
VivA-groete
Nadine Fouché-Karsten
Bronnelys
AWS. 2017. Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Afrikaanse woordelys en spelreëls. 11de herbewerkte uitgawe. Kaapstad: Pharos.
Coetzee, A. 2018. Fonetiek. 5de uitgawe. Pretoria: Van Schaik.