As ons daaraan dink, is hardoplees nie iets wat enigsins vreemd is nie – veral nie wat die huidige skoolkurrikulum in Suid-Afrika betref nie. In die grondslagfasekurrikulum word aangedui dat jong lesers die teks kan hardop- of selfs fluisterlees, terwyl meer ervare leerders dieselfde teks stillees, totdat die onderwyser versoek dat elke leerder die teks moet hardoplees (Departement van Basiese Onderwys 2011a:13). In die intermediêrefasekurrikulum word aangetoon dat leerders, wanneer die inhoud van ’n teks verwarrend is, die teks teen ’n stadige tempo moet hardoplees. In so ’n geval word dit as ’n tipe leesstrategie gedurende die tydensleesfase aangewend, net soos wat hulle ander leesstrategieë soos visualisering of woordeboeke kan inspan (Departement van Basiese Onderwys 2011b:10).
In die kurrikulum van die verdere onderwys- en opleidingsfase word weer aangedui dat die onderwyser moet hardoplees (oftewel voorlees) deur vinnig te lees en leestegnieke soos afwagting of voorspelling, evaluering en waardering te gebruik, veral as die leerders nie ywerige lesers is nie, of bloot nie wil lees nie (Departement van Basiese Onderwys 2011c:27).
Waarom dan juis hardoplees?
Verskeie kenners, insluitend akademici, spraak- en taalterapeute, onderwyskundiges en onderwysers wat in die praktyk staan, beklemtoon die voordele rakende hardoplees of voorlees.
Volgens Hannekie Verwoerd, ’n spraakterapeut, kan taal jou net op een manier bereik, en dit is deur jou ore (Maroela Media 2019). As die onderwyser of ouer hardop vir die kind lees, ontwikkel jong leerders se fonologiese bewustheid (Maroela Media 2019), dit wil sê die bewustheid om te verstaan dat die gesproke taal uit kleiner individuele klanke bestaan. Op hierdie wyse word die kind se aandag gevestig op ’n spesifieke klank, of selfs klanke, binne die konteks van ander klanke wat saam ’n woord vorm (Le Roux 2004). Volgens Le Roux (2004) is leerders so jonk soos twee jaar oud alreeds bewus daarvan dat woorde in klankeenhede gesegmenteer kan word of dat die klankeenhede saam gevoeg kan word, soos wanneer hulle ’n woord verkeerd uitspreek (byvoorbeeld “Ek worsel my tande”) en hulself dan korrigeer (byvoorbeeld “Ek borsel my tande”). Dit bevestig dat die hardoplees of voorlees van tekste reeds op ’n vroeë ouderdom bydra tot die ontwikkeling van fonologiese bewustheid.
Ook Anker (2022) vertel dat kinders vir wie daar van kleins af hardop- of voorgelees word, al op ’n vroeër stadium ’n baie “groter klankbegrip, woordeskat, en ’n beter verstaan van sinne en konteks ontwikkel”. Volgens Anker (Anker 2022) kry hulle blootstelling aan goeie sinne, en hierdie kennis stel hulle in staat om langer en ingewikkelder sinne te verstaan. Tydens die hardopleesproses moet hulle ook “sin maak van langer tekste of stories en die verband tussen die gebeure en karakters”, wat impliseer dat die kind ook die verloop van die storie fyn moet volg om afleidings te maak en patrone af te lei. ’n Verdere voordeel is dat kinders ook blootgestel word aan die onderskeidende eienskappe van ’n verskeidenheid tekste (Anker 2022). Hierdie vaardighede wat die leerders tydens hardoplees of voorlees ontwikkel, word ook oorgedra na hul eie lees van tekste en kan daartoe bydra dat hulle gouer leesgereed is, tekste maklik kan dekodeer en vloeiend kan lees (Anker 2022).
Buiten vir die bevordering van leesgereedheid en leesvloeiendheid, kry leerders volgens Anker (2022) gedurende die hardoplees van ’n teks (of dit nou die onderwyser, die ouer of ’n ander leerder is wat voorlees) die geleentheid om oor die betekenis van die teks na te dink. Deur blootstelling aan die karakters en wêreld van die teks, word die kind blootgestel aan dít wat ander karakters ervaar en kan hy/sy bepaal hoe hy/sy sou optree indien hulle hul in dieselfde omstandighede bevind het. Empatie ontwikkel dus. Maar nie net empatie nie. Die kind moet sy verbeelding gebruik, veral in hierdie “toenemend visueel ingestelde omgewing” waar leerders nie meer ’n storie hoef te volg of hulle eie wêreld van die teks hoef te skep nie, omdat al die toepaslike inligting reeds visueel voorsien word (Lawrence et al. 2014).
Hoe dra dit by tot my kind se toekoms?
Die vaardighede wat deur hardoplees ontwikkel word, is nie net van belang vir die kind nie, maar dra by tot die toekoms van die volwassene. Die volgende toekomsvoordele is op die voorgrond:
- Verbeterde akademiese prestasie: Kinders met goeie leesvaardighede is meer geneig om beter akademiese prestasies te behaal, aangesien lees ’n kernvaardigheid in baie vakgebiede en domeine is.
- Bevordering van kritiese denke: Goeie leesvaardighede help om kritiese denke te bevorder, ’n noodsaaklike vaardigheid in die digitale era.
- Verhoogde loopbaanmoontlikhede: Werkgeleenthede vereis dikwels goeie lees- en taalvaardighede, terwyl die vermoë om inligting te kan inneem dikwels sentraal staan. Leesvermoëns is dus ’n belangrike faktor vir loopbaanontwikkeling.
- Verbeterde besluitneming: Lees help om besluitneming te verbeter deur nuwe inligting en idees te verkry en te beoordeel.
- Bevordering van sosiale verhoudings en emosionele intelligensie: Leesvaardighede help om sosiale verhoudings te bevorder deur lesers meer attent te maak op die wyses waarop karakters emosies uitdruk en die effek wat hierdie emosies op ander karakters het. Lesers kan dan hierdie vaardighede toepas tydens hul interaksie met ander.
- Verhoogde kulturele bewustheid en verbeter taalvaardigheid in ander tale: Om te lees in ’n ander taal, kan help om die taalvaardighede in daardie taal te verbeter én bydra tot beter begrip van die kultuur wat in die teks gereflekteer word.
Gegewe hierdie voordele rakende hardop- of voorlees en na aanleiding van gesprekke met onderwysers oor leerders se gebrekkige leesvermoëns, sowel as onrusbarende statistiek oor leesvaardighede, het VivA die aanlyn Lees-en-luisterbiblioteek geskep. Die biblioteek is van nuuts af deur VivA geskep. Op die oomblik het ons die tekste in twee gedeel: een groep vir jong lesers, en ’n ander vir volwasse lesers. Elke groep tekste is in vaardigheidsvlakke ingedeel, van heel beginners waar die klank by elke woord gepas word, tot romans wat net voorgelees word. Die belangrike eienskap van die tekste in die biblioteek, is dat die klank- en skrifbeeld saam aangebied word. ’n Gebruiker wat na die teks luister, sien dus ook terselfdertyd die skrifbeeld, en die verband tussen klank en spelling word duidelik gemaak. Die tekste in die biblioteek is lekkerleesstories wat deur bekende skrywers aan VivA geskenk is.Al die stories word deur professionele stemkunstenaars voorgelees. VivA het ook ’n aantal Wikipediatekste geskep wat feitelik van aard is en gebruik kan word om leerders se tweetalige woordeskat uit te brei, of luister- en begripsvaardighede te toets. Dié tekste word van ’n termlys voorsien met moeilike Afrikaanse woorde, Engelse vertalings, asook definisies. Hierdie tekste kan ook op VivA se splinternuwe slimfoontoepassing (of app) gelees word.
Hoe bereik ek die Lees-en-luisterbiblioteek?
As ’n mens VivA se webblad besoek, kan die muiswyser oor “Lees|Luister” gehang word. In die aftuimelkieslys sal “Lees-en-luisterbiblioteek” verskyn. Toegang tot dié biblioteek kan ook via VivA se slimfoontoepassing, naamlik Luister-en-lees-app,wat verlede jaar ontwikkel en beskikbaargestel is, bekom word.
VivA se Lees-en-luister-app is tans vir Android-toestelle beskikbaar in jou gewone app-winkel. Gebruikers laai die app af en registreer eenmalig. Bestaande VivA-gebruikers kan aanteken met hulle bestaande besonderhede. Dit is ’n lewende projek, en die inhoud word gereeld bygewerk.
So gryp jou boek, of besoek die Lees-en-luisterbiblioteek, en kom ons lees hardop.
VivA-groete
Nadine Fouché-Karsten
Hierdie blog is ’n verwerking van ’n radio-onderhoud op 31 Januarie 2023 gevoer is met Radio Namakwaland. Die inhoud van hierdie blog steun dus op bestaande navorsing en publikasies deur die onderstaande individue en/of organisasies.
Anker, J. 2022. Onderwyshulp, deel 2: Leesbegripontwikkeling – hardoplees en leesbegripstrategieë. https://www.litnet.co.za/onderwyshulp-deel-2-leesbegripontwikkeling-hardoplees-en-leesbegripstrategiee/ Datum van toegang: 30 Jan. 2023.
Lawrence, D., Le Cordeur, M., Van der Merwe, L., Van der Vyver, C. & Van Oort, R. 2014. Afrikaansmetodiek deur ’n nuwe bril. Kaapstad: Oxford University Press.
Le Roux, S. 2004. Fonologiese bewustheid by graad o-leerders as ’n moontlike kriterium vir die voorspelling van latere leessukses. Universiteit van Suid-Afrika. (Verhandeling – MEd).
LitWorld. n.d. Our Story. https://www.litworld.org/our-mission-copy Date of access: 30 Jan. 2023.
Maroela Media. 2019. Vier vandag Wêreld-hardopleesdag. https://maroelamedia.co.za/afrikaans/vier-vandag-wereld-hardopleesdag/ Datum van gebruik: 30 Jan. 2023.
Scholastic. n.d. World Read Aloud Day. https://www.scholastic.com/worldreadaloudday Date of access: 30 Jan. 2023.
Suid-Afrika. Departement van Basiese Onderwys. 2011a. Kurrikulum- en assesserings- beleidverklaring. Grondslagfase: graad R-3. Finale hersiening. Pretoria: Departement van Basiese Onderwys.
Suid-Afrika. Departement van Basiese Onderwys. 2011b. Kurrikulum- en assesserings- beleidverklaring. Afrikaans Huistaal: graad 4-6. Finale hersiening. Pretoria: Departement van Basiese Onderwys.
Suid-Afrika. Departement van Basiese Onderwys. 2011c. Kurrikulum- en assesserings- beleidverklaring. Afrikaans Huistaal: graad 10-12. Finale hersiening. Pretoria: Departement van Basiese Onderwys.