VIVA SE BLOGS

VivA stel ’n uitgewery bekend

Geplaas deur Nadine Fouché-Karsten Dinsdag, 21 Februarie 2023
Gepubliseer in VivA;

Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (www.viva-afrikaans.org) het in 2015 begin as ’n enkele navorsingsprojek wat net vyf jaar sou duur. Soos wat VivA se gebruikers toegeneem en ons produkaanbod in ’n wye verskeidenheid taalbehoeftes begin voorsien het, het VivA se direksie en personeel ook besef dat hierdie projek baie groter is as wat ons aanvanklik gedink het.

In die byna nege jaar wat VivA se digitale deure oop is, het soveel mense hulle drome vir Afrikaans met ons gedeel en geglo dat ons van die drome ’n realiteit sal kan maak. Een so ’n persoon was professor Oppel Greeff, voormalige VivA-direksielid wat die stigtersmaatskappy, die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, verteenwoordig het. Sy droom vir VivA Afrikaans was om intern ’n uitgewery te begin. Die rede hiervoor was eenvoudig en baie sinvol: Skep ’n addisionele inkomstestroom vir VivA as ’n maatskappy sonder winsoogmerk, maar hou ook aan om inhoud in Afrikaans beskikbaar te stel. Die ander direksielede het die voorstel beaam. Hierdie gesprekke het al in 2016 plaasgevind, maar VivA is ’n digitale maatskappy en dit het op daardie stadium nie moontlik gelyk met die tegnologiese mandaat wat ons het nie. Ons het professor Oppel se voorstel nietemin steeds in gedagte gehou.

Oor die afgelope paar jaar het die uitgewersbedryf verskeie groot veranderinge ondergaan. Sekere uitgewers is oorgekoop, ander uitgewers het hulle deure gesluit, nuwe uitgewers het die lig gesien, maar maandelikse uitgawes neem toe en die geld in lesers se sakke word minder.

En toe tref die pandemie ons, en nog ’n pes steek sy kop uit: die onwettige verspreiding van digitale manuskripte, tydskrifte en boeke. En dit veroorsaak onmeetlike skade. Die druk op skrywers, teksversorgers, manuskripontwikkelaars, uitgewers, bemarkingspanne en die hele uitgewersektor neem toe, want met die onwettige verspreiding van inhoud word ’n deel van die sektor lamgelê. Uitgewers is nie welsynsorganisasies nie – die talle kundige rolspelers sorg vir ’n broodnodige inkomste.

Aan die einde van 2021 het Pearson South Africa aangekondig dat hulle die e-weergawe van die HAT van die mark gaan onttrek, want dit is nie meer vir hulle lonend om hierdie bron digitaal beskikbaar te stel nie. Dit was vir VivA ’n bitter pil om te sluk, want in ons Woordeboekportaal stel ons digitale woordeboeke aan ons gebruikers beskikbaar. Die leksikograwe by die WAT, US se Taalafdeling, organisasies soos die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, die ATKV, die Taalraad, verskeie ander kultuur- en taalgroepe en VivA het saamgespan en daarin geslaag om die e-weergawe van die HAT weer aan die taalgemeenskap beskikbaar te stel. VivA het hierdie goeie nuus verlede jaar op Internasionale Moedertaaldag aangekondig, en ons het groot waardering vir Pearson South Africa wat dit moontlik gemaak het.

Voordat VivA se uitvoerende direkteur, Marlie Coetzee, by VivA Afrikaans aangestel is, het sy by ’n uitgewery gewerk. Sy verstaan dus die beginsel van ’n kompeterende markaandeel in ’n besigheidsektor. Die uitgewersbedryf is, soos die meeste besighede, op wins ingestel: As ’n manuskrip nie die potensiaal het om geld te genereer nie, word dit nie gepubliseer nie. As ’n skrywer nie ’n bekende naam in leserskringe is nie, word sy boek nie gekoop nie. Sommige uitgewers is skrikkerig om nuwe skrywers die geleentheid te bied om hul stories aan die lesersmark beskikbaar te stel.

Die afgelope jaar het VivA die uitgewersbedryf fyn dopgehou, geluister na skrywers se bekommernisse en lesers se uitdagings, en ons het kopgekrap en planne gemaak. Vandag, op Internasionale Moedertaaldag, is dit vir ons ’n besonderse voorreg om ons nuwe toevoeging bekend te stel: VivA-Uitgewers.

VivA-Uitgewers (www.viva-uitgewers.org) is die produk van professor Oppel Greeff se voorstel, drome en planne waaraan jare geskaaf en geskuur is, gesprekke met verskeie rolspelers en die vertroue van skrywers wat in VivA se werkswyse glo.

By VivA-Uitgewers het ons ’n veilige digitale platform ontwikkel waar skrywers se verhale vanlyn gelees kan word. Ons gaan ons daarop toespits om verhale van gevestigde skrywers digitaal te publiseer, maar terselfdertyd ook ’n platform gee vir nuwe skrywers. Ons is opgewonde om nuwe stemme te identifiseer en slyp.

VivA verstaan die tradisionele manier van uitgee, maar ons poog altyd om dinge anders aan te pak. VivA-Uitgewers wil nie skrywers van hul huidige uitgewers wegrokkel nie; ons wil as ’n bemarker van skrywers funksioneer – en ons doen dit deur tegnologie in te span. Dit stel ons ook in staat om skrywers se werk plaaslik en internasionaal te bemark en ’n liefde vir digitale lees te kweek. Ons doel is nie om te probeer kompeteer met gevestigde uitgewers nie – ons is aanvullend tot die mark. VivA is en bly digitaal.

Wat VivA-Uitgewers ’n aanwins vir die Afrikaanse boekbedryf maak, is die feit dat ons die antwoord vir die tegnologiegenerasie is. As aanlyn uitgewer kan ons boeke goedkoper beskikbaar stel omdat ons nie druk- of stooronkoste het nie (hoewel ons ook oor daardie fasiliteite beskik).

Die volgende groot Afrikaanse skrywer wag om ontgin te word, en ons wil daarmee help. Iewers is daar ’n storie wat ’n kind gaan laat lief raak vir lees, iewers is daar ’n storie wat die emosies van ’n leser perfek sal kan verwoord en iewers is daar ’n digitale tuiste vir Afrikaanse inhoud – by VivA-Uitgewers.

VivA-Uitgewers gaan op 12 April 2023 ons digitale deure oopmaak met kreatiewe, relevante kortverhale en ’n gratis e-boek. Daarna sal ons elke jaar op 21 Februarie, Internasionale Moedertaaldag, ’n gratis boek deur ’n bekende skrywer beskikbaar stel. 

Gaan registreer vandag nog as ’n gebruiker by www.viva-afrikaans.org en tel saam met ons die dae af totdat VivA-Uitgewers sy digitale deure open. Jy is ook meer as welkom om jou manuskrip vir publikasie voor te lê.

VivA-Uitgewers – ons bring ’n digitale biblioteek na jou toe

Lees 945 tye Laaste modifikasie op Vrydag, 31 Maart 2023 13:49

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.


NUUSARGIEF

FACEBOOK