VIVA SE BLOGS

ProVARIA vind ’n tuiste in VivA se nuwe Variasieportaal

Geplaas deur Rone Wierenga Maandag, 17 Julie 2023
Gepubliseer in VivA;

VivA se droom is om ’n tegnologiese taalwêreld vir Afrikaans te ontwikkel. Hierdie droom word reeds gedeeltelik verwesenlik met onder meer ’n Taalonderrigportaal waar gebruikers toegang kry tot resente en gefundeerde beskrywings van die grammatika van die standaardvariëteit van Afrikaans. Hierdie grammatikas, naamlik die Algemene Afrikaanse Grammatika (AAG) en Afrikaanse Skoolgrammatika (ASG), word deur kundiges ontwikkel en deurlopend bygewerk. VivA beoog om ’n belangrike nuwe portaal vir die navorsing van die variëteite van Afrikaans, naamlik ’n Variasieportaal, tot die Taalonderrigportaal by te voeg.


“By VivA glo ons dat Afrikaans in al sy vorme uitgebou, ontwikkel en toeganklik gemaak moet word, sodat Afrikaans oor twintig, vyftig en selfs ’n honderd jaar van nou af steeds in sy hoë funksies sal kan fungeer. Daarom poog ons om die tegnologiese taalwêreld van Afrikaans deurgaans uit te brei sodat Afrikaans in al sy vorme in digitale kontekste beskikbaar kan wees. Dit is dus vir VivA ’n voorreg om ’n Variasieportaal by ons bestaande grammatika-aanbod te voeg sodat die uitsette van ProVARIA en die volle diversiteit van Afrikaans ook in digitale kontekste kan fungeer en ’n tuiste kan hê. Ons is opgewonde om die Variasieportaal in die nabye toekoms te kan bekendstel,” vertel Marlie Coetzee, uitvoerende direkteur van VivA.


’n Omvattende navorsingsprojek, die Projek oor Variasie in Afrikaans (ProVARIA), is twee weke gelede geloods om die variëteite van Afrikaans te dokumenteer en hulpbronne oor die niestandaardvariëteite meer toeganklik te maak. Hierdie projek se doel is om juis die volle omvang van die wonings van Afrikaans beter uiteen te sit en te verteenwoordig. Meer as 20 Afrikaanse taalkundiges van meer as 14 universiteite en Afrikaanse taalorganisasies, insluitend die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), Afrikaanse Taalraad, die Taalkommissie en VivA, het aan die werkwinkel deelgeneem om hierdie projek te loods. Die projek word deur ’n stuurkomitee waarvan hierdie organisasies deel vorm, bestuur.


“Ek is baie opgewonde oor ProVaria. Die huidige beskrywing van Afrikaans en al haar variëteite is allesbehalwe volledig en hierdie projek bied die geleentheid vir broodnodige, verdere navorsing wat uiteindelik niestandaardvariëteite van Afrikaans hulle regmatige plek langs die standaardvariëteit sal gee,” verduidelik doktor Donovan Lawrence, verbonde aan die Universiteit van Wes-Kaapland.


“In die woorde van wyle professor Tony Links: ‘Afrikaans is ’n huis met vele wonings’. Met ander woorde, Afrikaans lyk en klink dalk verskillend vir verskillende taalgebruikers, maar elkeen moet inherent kan tuis voel in Afrikaans. Met ProVaria word daar beoog om te begin om die leemtes in die bestaande navorsing te vul deur onder meer ’n lewende tuiste te skep waar enigeen toegang kan kry tot meer inligting oor die variëteite van Afrikaans en die inherente taalvariasie wat in Afrikaans voorkom,” verduidelik Roné Wierenga, projekbestuurder van VivA en navorsingkoördineerder van die Afrikaanse Taalraad.


Die ontwikkeling van die Variasieportaal waar die uitsette van ProVARIA beskikbaar gestel kan word, is ’n tydsame proses, maar ’n stap in die regte rigting om te verseker dat daar ’n gelykwaardige en volhoubare tuiste vir die variëteite van Afrikaans gevestig word.

“Hierdie projek is ’n eerste vir Afrikaans, omdat taalkundiges van verskeie universiteite vir die eerste keer as ’n kollektief gaan saamwerk aan ’n variasieprojek. Hierdie projek gaan poog om variasieondersoeke weer op die voorgrond te plaas en die niestandaardvariëteite van Afrikaans na die sentrum van die akademiese diskoers te bring. Dit is ’n opwindende taalprojek wat die nodige ruimte vir die variëteite van Afrikaans bied om sistematies beskryf te word en die variëteite se gelykwaardige status opnuut te bevestig. Dis opwindend dat daar opnuut belangstelling in taalvariasie en die variasielandskap is en ontgin word soos wat dit laas in die tagtigerjare die geval was. Ons verwelkom graag nuwe nagraadse studente wat wil spesialiseer in taalvariasie,” meen professor Elvis Saal van UNISA.


Kundige persone wat graag by ProVARIA se aktiwiteite betrokke wil raak of meer te wete wil kom, kan ’n e-pos aan Roné Wierenga stuur: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..

Lees 810 tye Laaste modifikasie op Maandag, 17 Julie 2023 10:29

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.


NUUSARGIEF

FACEBOOK