VIVA SE BLOGS

VivA Afrikaans – beleef die tegnologiese toekoms van Afrikaans ... vandag al!

Geplaas deur Rone Wierenga Vrydag, 28 Julie 2023
Gepubliseer in VivA;

Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (www.viva-afrikaans.org) het in 2015 ontstaan as ’n enkele navorsingsprojek wat net vyf jaar sou duur. VivA se vier stigtersmaatskappye is die ATKV, die Noordwes-Universiteit, die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en die Trust vir Afrikaanse Onderwys. Hierdie stigtersmaatskappye het ingestem om fondse te bewillig om ’n droom te verwesenlik wat kan verseker dat Afrikaans oor twintig, vyftig en selfs ’n honderd jaar van nou af, steeds in sy hoë funksies sal kan fungeer.

VivA word daagliks deur talle taalgebruikers geraadpleeg. Ons hier by VivA is weekliks verstom oor hoe kreatief ons gebruikers die inhoud aanwend wat VivA navors, ontwikkel en beskikbaar stel – in die praktyk, met hul studies, in klaskamers of bloot om hul eie kennis oor die taal te verbreed.

Ons stel bekend: VivA 2.0

Op Vrydag 28 Julie 2023 stel ons VivA 2.0 bekend. Twee dinge bly egter onwrikbaar: Ons bly ’n navorsingsinstituut én ’n digitale maatskappy. VivA 2.0 gaan ’n wye verskeidenheid addisionele inkomstestrome begin implementeer, en ons is reeds daarmee besig.

Alle gebruikers sal voortaan moet registreer en aanteken om toegang te verkry tot VivA 2.0 se platform. Registrasie is steeds gratis. Een van die redes waarom ons almal vra om te registreer en aan te teken, is sodat ons kan weet watter tipe VivA 2.0-gebruiker elkeen is, en sodat elke individu dadelik by die regte inhoud en sagteware kan uitkom.

VivA 2.0 gaan in ses afdelings, naas VivA-Uitgewers, verdeel word en ons sien uit daarna om hierdie subafdelings oor die volgende paar weke bekend te stel.

Natuurlik is ons bewus daarvan dat niemand van verandering hou nie, en ons verstaan dat sommige gebruikers ontevrede hiermee gaan wees.

Bou saam aan ons droom

VivA 2.0 se droom is om ’n tegnologiese taalwêreld vir Afrikaans te ontwikkel. Ons wil aan ons gebruikers die geleentheid bied om die tegnologiese toekoms van Afrikaans vandag al te kan ervaar. Die tegnologiese taalwêreld wat VivA 2.0 besig is om te ontwikkel, is nie net vir óns ’n besonderse prestasie nie, maar ook ’n mylpaal vir Afrikaans. Dit is ’n voorreg om elke dag aan iets te kan werk wat sal bly voortbestaan – lank nadat ons nie meer hier is nie. Ons weet dat ons gebruikers ons sentiment oor Afrikaans deel en ons kan help om Afrikaans tegnologies uit te bou sodat die taal – alle vorme en variëteite van Afrikaans – vir toekomstige generasies behoue kan bly.

Ons werk elke dag vir Afrikaans en vir ons gebruikers, en ons poog om elke jaar op nuwe, innoverende wyses die tegnologiese taalgrense van Afrikaans plaaslik en internasionaal te verskuif. Die diens wat VivA 2.0 bied en die sagteware wat geskep word, is vir elke Afrikaanse taalgebruiker van onskatbare waarde. Ons bied (via ’n selfoon of rekenaar) ’n produk wat ons gebruikers nodig het, óf in hul daaglikse lewe kan gebruik.

Dit sal vir ons ’n voorreg wees om jou by VivA 2.0 se tegnologietaalfamilie te verwelkom waar ons met ywer en entoesiasme tot die voortbestaan van Afrikaans bydra.

 

VivA-groete

Marlie Coetzee 

(Uitvoerende direkteur van VivA)

Lees 936 tye Laaste modifikasie op Vrydag, 28 Julie 2023 14:37

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.


NUUSARGIEF

FACEBOOK