Só vra iemand die ander dag dat hulle op soek is na 'n woord wat hy as kind gebruik het, "vroesies" of "froesies", wat verwys na rooi vlekke wat op 'n mens se bene uitslaan as jy te naby aan 'n vuur sit. VivA se woordeboeke word geraadpleeg. "Woord(e) nie gevind nie." Google word ingespan. Niks. Maar 'n antwoord moet daar wees, en die kring word wyer gespan na die span taalpraktisyns wat gereeld op 'n privaat Facebook-groep na mekaar uitreik in die soeke na antwoorde op taalverwante tameletjies. Uitgelese en bekwaam, hulle.
En só word die geheim opgeklaar. Daar in die Boland praat die mense van "voersies" om dié rooi kolletjies te beskryf. Ander weer gebruik "kannagonna" of "tanteniekies", afhangend van waar jy woon. Lieflike (en onopgetekende) streekstaal wat Afrikaans onskatbaar verryk.
'n Ander gebruiker vra, na aanleiding van Dolf van Niekerk se boek Koms van die hyreën, nou wat vir 'n ding is "hyreën"? Die woordeboeke is stumm. En die internet wil net weet of ek straks 'n ánder woord in gedagte gehad het, want "hyreën" kan dit nie wees nie. Maar die minlike skrywer Dana Snyman het gelukkig in 2017, op reis in die Karoo-distrik in die Noord-Kaap, by ene Klaas Louw aangegaan op dié se plaas sowat 30 km buite Brandvlei. Klaas sê vir Dana dat dit dalk later dié dag sal reën, en dat dit 'n hyreën sal wees. En daar is die verklaring, in Dana se artikel oor dié reis vir Weg!-tydskrif: "Die hyreën is donder en blitse en sjorrende water; die syreën fyn druppels wat op die aarde neerstuif." Dit wil dus voorkom dat die reën deur San-mense van dié geweste as manlik of vroulik beskryf word, vandaar "hyreën" en "syreën".
Nog iemand vra, wat beteken dit as 'n mens sê iemand is soos 'n "hoenderstuitjie"? Die antwoord: 'n nuusdraer of verklikker, aldus mense wat in Molteno of Sterkstroom in die Oos-Kaap woon. 'n Mens kan ook praat van "hoenderstuitjie geëet (gevreet) hê" of "jou 'n hoenderstuitjie hou", wat beteken om iemand te verklik of 'n geheim te verklap (Koue Bokkeveld, Tarkastad, Vredendal).
Hierdie wonderlike woorde, soos soveel ander, is deel van die vele variëteite van Afrikaans wat nie soseer tradisioneel as Standaardafrikaans beskou word nie, maar wat in geen opsig as minderwaardig beskou moet word nie.
Die Taalkommissie se onlangse besluit om Standaardafrikaans te herbedink, is allermins 'n poging om afbreuk te doen aan dít wat as normatiewe Afrikaans beskou word. Dit is eerder 'n geleentheid om meer te wete te kom oor die taal soos wat hy deur sy mense gepraat word, oral, nié net in die raadsale van die akademie nie.
Mag daar 'n hyreën op hierdie brakgrond toesak sodat elke spreker van Afrikaans mildelik kan deel hê aan dié ryke oes.