VIVA SE BLOGS

Wat maak die haas in beeshaas?

Geplaas deur Riaan Grobler Maandag, 28 Augustus 2023
Gepubliseer in VivA;

Die oorsprong van Afrikaanse woorde kan soms 'n interessante ding wees. Afrikaans – soos die meeste ander tale – "leen" gereeld by ander tale, reeds van die begin af.

Sommige van hierdie woorde is herkenbaar omdat hulle in ander tale min of meer dieselfde geskryf en uitgespreek word, en ook dieselfde betekenis het. Hierdie woorde het dikwels hul ontstaan aan antieke tale te danke. Baie keer dink mense hierdie woorde is "anglisismes" omdat dieselfde woorde in Engels gebruik word. Dit is natuurlik nie regtig wat 'n anglisisme is nie, maar ek sal op 'n ander keer daaroor skryf.

Soms is daar egter ook woorde en uitdrukkings wat 'n veel interessanter pad geloop het. Vat nou maar die woord "beeshaas". Nou, baie mense praat deesdae met meer gemak van 'n lekker sagte filet, maar daar is ook ander wat dit as beeshaas ken. Die "bees" gedeelte maak nog sin, maar hoekom "haas"?

Vir dié antwoord moet 'n mens gaan krap in een van Afrikaans se oorsprongtale: Nederlands. Die woord "beeshaas" is ontleen uit die Nederlandse woord "beestenhaas". Dit is 'n samestelling van "beest" ('dier' – dink ook aan die Engelse woord "beast") en "haas", wat in Nederlands beteken 'sagte, vlesige massa, vleis sonder been, spiervleis uit die lende'. Dié betekenis van "haas" is waarskynlik onbekend aan die meeste Afrikaanssprekende mense, maar van beeshaas het hulle darem al gehoor (en straks al geproe!).

Heelparty woorde in Afrikaans kom uit Nederlands, dit weet ons. Dikwels, egter, lyk dit asof woorde wat in Afrikaans gebruik word, nie strook met die konvensionele skryfreëls nie. Iemand vra my nou die dag, hoekom skryf ons "vrou" met 'n "v" en "juffrou" met 'n "f"? En skielik wonder ek oor dieselfde ding. Weer eens is die oorsprong van die woorde van belang. Die woorde "vrou" en "juffrou" is uit Nederlands ontleen en ingevolge die eenvormigheidsbeginsel is die skryfwyse in Afrikaans behou. Volgens dié beginsel behou woorde in Afrikaans dikwels dieselfde skryfwyse as in die brontaal. Kyk byvoorbeeld na "ballet" teenoor "palet" – dit is voorbeelde daarvan.

Nou goed, die woord "juffrou" se oorsprong dateer reeds uit die 13de eeu ("joncfrouwe"). Later het daar 'n betekenisverskil ontstaan tussen "jonkvrouw" en "juffrouw", waar eersgenoemde 'ongetroude vrou' beteken het en laasgenoemde 'getroude vrou uit die fatsoenlike stand'. "Juffrouw" het reeds teen die 17de eeu die betekenis 'onderwyseres' gekry. Die gebruik van die "f", wat meer as 700 jaar gelede gebruik is, het in Afrikaans behoue gebly.

En wie sou kon raai dat die woord "ellende" oorspronklik te doen gehad het met ballingskap? Die Nederlandse woord "ellende" het 'n lang geskiedenis en het histories die volgende betekenisse: 'ander land, verblyf aldaar, ballingskap' (1599), 'rampspoedige toestand' (1590), 'nypende armoede, ontbering' (1566-1600). In Oudnederlands was die woord "elelendi" (901-1000); in Oudsaksies "elilendi"; en in Oudhoogduits "elilenti" met "el" verkort uit "elders" en "lende", wat letterlik 'land elders' beteken, d.w.s. 'verblyf in vreemde land, ballingskap, en gevoel daardeur opgewek'. Baie interessant.

Nie alle Afrikaanse woorde kom egter uit Nederlands nie. Vat nou maar die woord "krokodil". Dié woord is oorspronklik ontleen uit Grieks, "krokod(e)ilos", 'n samestelling van "kroké" ('klippie op die strand') en "drilos" ('wurm, slang'), só genoem omdat 'n krokodil soos 'n wurm of slang lyk en in die son op klippe lê en bak omdat hy koudbloedig is.

Ander het weer in Afrikaans self ontstaan, bv. die uitdrukking "katvoet loop" ('versigtig wees'). Dié uitdrukking is nie uit enige ander taal ontleen nie. In Nederlands is die uitdrukking "op kousenvoeten lopen". Volgens die WAT is die gebruik van "katvoet loop" opgeteken op plekke soos die Boland, die Karoo, Namakwaland, Boesmanland, Noord- en Noordwes-Kaapland, Windhoek, Pretoria, Klerksdorp en Ermelo. In Bredasdorp word "katvoet" ook gebruik om na 'n 'slu of skelm persoon' te verwys.

Ander Afrikaanse woorde het weer ontstaan uit baie oorde: Afrikatale, Maleis, Grieks, Latyn, Frans, Italiaans, noem maar op. En ja, ook Engels, maar hou in gedagte dat Engels ook by Afrikaans leen.

Die Etimologiewoordeboek van Afrikaans is 'n lieflike bron om te gebruik wanneer 'n mens die oorsprong van Afrikaanse woorde wil naslaan. Dit is beskikbaar op VivA se webblad en app – gaan kyk gerus!

En wanneer jy weer 'n stukkie beeshaas op die kole gooi, het jy nou boonop 'n storie om te vertel.

Lees 2394 tye Laaste modifikasie op Maandag, 28 Augustus 2023 12:35

kommentaar

  • Kommentaarskakel
    Sulet Linde
    Sulet Linde
    Dinsdag, 09 Januarie 2024 12:06

    Wanneer leen Engels woorde van Afrikaans?

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.


NUUSARGIEF

FACEBOOK