VivA het Duval gevra om sy ervaring met ons gebruikers te deel.
- Wat is jou ervaring van die wêreld van taaltegnologie?
Ek het in 2023 vir die eerste keer in my studies met ’n Afrikaanse taak te doen gekry, sowel as met taaltegnologie. Omdat Afrikaans my moedertaal is, het ek hierdie taak as ’n persoonlike uitdaging beskou en aangepak. Hierdie onlangse ervaring was verrykend, aangesien dit my die geleentheid gebied het om my begrip van die taal en sy tegnologiese toepassings te verbeter.
- Wat was vir jou lekker aan die projek?
Die beste deel van die projek was om by te dra tot iets groter, soos ’n boublok vir die ontwikkeling van ’n outomatiese dikteerstelsel vir Afrikaans – ’n produk wat ek weet ’n verskil kan maak in die gemeenskap. Dit is ’n goeie gevoel om te weet ek kan 'n bydrae maak.
- Watter vaardighede dink jy is nodig vir iemand wat ’n loopbaan in taaltegnologie wil begin?
Beslis programmering, statistiekkennis en ’n begrip van masjienleer. Dit is ook nodig om breedvoerig te leer oor taalverwerkingstegnologie. ’n Taaltegnoloog moet oor ’n baie breë reeks vaardighede en kennis beskik.
- Waarom dink jy is dit belangrik om hierdie ervaring te kon hê?
Hierdie projek is belangrik, omdat dit ’n fondasie lê vir ’n Afrikaanse outomatiese dikteerstel. Dit bevorder ook die diversiteit van die taal en maak tegnologie meer toeganklik vir Afrikaanssprekendes. Dit het my geleer om anders na produkontwikkeling en die gebruik van data te kyk.
VivA is trots op ons eerste intern, sy nuwe aanstelling in die agritegnologie-industrie en die geleentheid om by te dra tot sy akademiese sukses.
Prof. Van der Merwe moedig studente aan om betrokke te raak by projekte wat samewerking tussen privaat instansies soos VivA en universiteite behels juis omdat “beide praktiese ervaring en navorsing noodsaaklik is vir suksesvolle produkontwikkeling”. Sodoende kry studente blootstelling aan die werkplek en industrie om hulle voor te berei vir die arbeidsmark. Dit is ook ’n geleentheid om leiding en ondersteuning by kundiges te kry, netwerke te vestig en ’n ondersteuningstruktuur te bou wat as stewige basis vir ’n loopbaan kan dien.
By VivA is ons opgewonde oor die vooruitsig om vanjaar weer interns te kan verwelkom.
VivA-groete