Ondanks die verskeidenheid moedertale wat wêreldwyd gebesig word, is die hartseer realiteit dat 88,1 miljoen mense tans ’n bedreigde taal as hul moedertaal gebruik (Jones, 2024). Wêreldmoedertaaldag is op 17 November 1999 deur UNESCO aanvaar. Vanaf 2000 word dit wêreldwyd op 21 Februarie gevier. Wêreldmoedertaaldag het ontstaan om internasionale erkenning te gee aan Taalbewegingsdag, ’n dag wat sedert 1952 in Bangladesj (voorheen bekend as Oos-Pakistan) herdenk word. Op 21 Februarie 1952 is ’n aantal studente in Dhaka tydens protesaksies van die Bengaalse Taalbeweging deur die Pakistanse polisie doodgemaak. Hierdie vreedsame protesaksie was vanweë die destydse goewerneur-generaal van Pakistan se verklaring dat Oerdoe die enigste amptelike taal vir Wes- en Oos-Pakistan sou wees (Wikipedia 2024).
Binne die Suid-Afrikaanse konteks gee ons op Wêreldmoedertaaldag erkenning aan veeltaligheid en toon ons respek vir die linguistiese verskeidenheid waardeur spesifiek die Suid-Afrikaanse landskap gekenmerk word. Verder gee ons ook erkenning vir die kulturele en tradisionele erfenis wat elke taal vorm. Die Grondwet (RSA, 1996c) sê immers eksplisiet dat al die tale wat binne Suid-Afrikaanse gemeenskappe gebruik word, gerespekteer moet word.
Moedertale behoort gevier te word, omdat dit die instrument is wat ’n taalgebruiker in staat stel om verskeie behoeftes, soos uiteengesit in Maslow se hiërargie, te bevredig. Die gebruik van jou moedertaal stel jou in staat om jou basiese fisiologiese behoeftes en sekuriteitsbehoeftes te bevredig, want jy kommunikeer byvoorbeeld met jou man/vrou oor die inkopies wat gekoop moet word, óf die behoefte wat jy het aan die installasie van ’n sekuriteitsdeur. Die gebruik van jou moedertaal realiseer hoërordebehoeftes, soos die behoefte aan liefde en konneksies met ander. Jy gebruik immers jou moedertaal om oor jou belangstellings met iemand te gesels, in die hoop om vriendskapsbande te smee. Jou moedertaal stel jou in staat om met selfvertroue te kommunikeer, sodat jy bekwaam voel. Dink net hoe senuweeagtig ’n mens word wanneer jy in ’n ander taal met mense moet praat. Hierdeur word die mens se behoefte aan ’n positiewe selfbeeld bevredig. Laastens, behoort die gebruik van jou moedertaal, veral wanneer jy dit in die lewe ná skool gebruik, vir toegang tot vrye en volle ekonomiese deelname, by te dra tot selfaktualisering. Met ander woorde, jy kan wees presies wie jy wil wees.
’n Verdere wyse om moedertale volhoubaar te maak, met ander woorde om moedertale se ontwikkeling in stand te hou, is onderrig deur middel van jou moedertaal. Maar waarom? Moedertaalonderrig kan bydra tot hierdie tipe ontwikkeling, aangesien dit intergenenerasieoordrag (“intergenerational transmission”) verseker: Die leerders leer praat, lees en skryf in die taal wat hulle ouers en voorouers gebruik het. Dit bring mee dat die taal op ’n volgehoue wyse binne die gemeenskap gebruik word en dat die leerders dit binne ander areas buite die klaskamer (soos op die sportveld en tydens sosiale interaksie) gebruik. Hierdeur behou taal sy lewenskragtigheid en verminder ’n mens ’n taal se kanse om uit te sterf.
Wanneer die moedertaal van leerders as die taal van onderrig en leer gebruik word, word die status en die belangrikheid van daardie taal in die gemeenskap versterk. Dit lei weer tot ’n mate van trots aan die kant van die leerder wat waarde aan hierdie moedertaal heg en besef dat dit iets is om te bewaar. Die sprekers van hierdie moedertaal sal gevolglik op die erkenning en ondersteuning van hul taal aandring en saamwerk om hul linguistiese erfenis te bewaar vir gebruik binne die onderwyskonteks en die openbare lewe. Dit versterk die taal se posisie wanneer dit eksterne druk in die gesig staar.
Wanneer ’n moedertaal as ’n taal van onderrig en leer gebruik word, bring dit mee dat opvoedkundige materiaal in daardie taal ontwikkel word. Omdat die taal wat in opvoedkundige materiaal gebruik word aan bepaalde taalnorme onderhewig is, lei die gebruik daarvan tot die standaardisering en die ontwikkeling van die taal as ’n hoëfunksietaal. Hierdie proses van standaardisering verhoog die prestige van die taal, lei tot die gebruik daarvan in formele kontekste, en op hierdie wyse word die posisie van die taal binne die breër taallandskap versterk.
Nie net dra moedertaalonderrig by tot die bevordering van die volhoubaarheid van tale nie, maar dit het ook verskeie ander voordele. Webb (2006:39) verwys na die kompleksiteit van die onderrigproses en hoe moedertaalonderrig van kardinale belang gedurende hierdie proses is. Hy (Webb 2006) verduidelik dat die onderrigproses bestaan uit i) die verwerwing van nuwe kennis deur dit met bestaande kennis te integreer, ii) die verwerwing van insig in die beginsels en die prosesse van ’n bepaalde leerveld, iii) die ontwikkeling van begrip van vakkundige terminologie, asook iv) die toepassing van al hierdie kennis om probleme op te los, terwyl die leerder terselfdertyd leer om op ’n vakkundige wyse te redeneer. Vir hierdie komplekse onderrigproses om op ’n suksesvolle wyse te ontvou, behoort ’n taal wat die leerders én die onderwyser goed ken, tipies die moedertaal, gebruik te word. Hierdeur word die leerders aan die een kant in staat gestel om met abstrakte leerinhoud om te gaan, en aan die ander kant word effektiewe kommunikasie wat onmisbaar vir die onderrigproses is, moontlik gemaak (Webb, 2006:39).
Twee verdere positiewe gevolge kan hier uitgelig word. Die vaardighede wat deur middel van moedertaalonderrig vasgelê word, vorm die kognitiewe en linguistiese basis vir die aanleer van addisionele tale (Ball, 2010), én die leerders se familiekonneksies word positief beïnvloed, omdat die ouer in staat is om die kind by te staan in ’n taal wat hy/sy verstaan wanneer daar byvoorbeeld huiswerk gedoen word. Op hierdie wyse word ’n linguistiese gaping wat emosionele verbreking tussen familielede kan veroorsaak, verhoed (Nishanthi, 2021:78).
Daar is natuurlik ook ’n skakel tussen leesvaardighede en die leesproses. Volgens Oxford University Press (2023) word ’n spraakklank-letterpassing gemaak wanneer leerders ’n woord, bv. “hond” lees, sodat die letter “h” aan ’n h-klank, die letter “o” aan ’n ô-klank, die letter “n” aan ’n n-klank en die letter “d” aan ’n t-klank gekoppel word. Hierdie tipe passing is makliker indien die klanke ooreenstem met die klanke in die leerder se moedertaal. Die omgekeerde is ook waar: Indien die leerder se moedertaal ’n Afrikataal is waar elke letter met net een klank geassosieer word en hierdie leerder se voertaal is Engels waar so ’n een-tot-een-verhouding nié bestaan nie (dink maar aan “rough” en “favourite” waar die verskillende vet gedrukte letters dieselfde klank voorstel), sal dit die leerder eerder verwar (Oxford University Press, 2023).
Dit is nie net die onderrigproses en geletterdheid (leesvaardighede) wat baat by die gebruik van ’n moedertaal nie. Volgens ’n nuusbrief wat in 2023 op Nelson Mandela Universiteit se webblad verskyn het, lei moedertaalonderrig tot inklusiwiteit. Indien studente (en uiteraard ook leerders op skoolvlak) in hulle moedertaal binne opvoedkundige ruimtes kan kommunikeer, skep dit ’n gevoel van “tuishoort”, met die gevolg dat hulle meer toegeneë is om aan verskeie aspekte van universiteits- en skoollewe deel te neem, soos sosiale interaksies en kulturele geleenthede. Linguistiese inklusiwiteit dra daarom by tot die skep van ’n ondersteunende en ’n deelnemende omgewing.
UNESCO (2023) stel dit treffend dat daar in elke taal kulturele en tradisionele erfenis vasgelê is, met ander woorde taal reflekteer die tradisies, waardes, gebruike en geskiedenis van ’n bepaalde gemeenskap (Prasad, 2023). Wanneer die voertaal die moedertaal is, word leerders dus gelei tot insigte oor hul kulturele agtergrond. Aan die ander kant lei die gebruik van ’n vreemde taal as die voertaal tot ’n gevoel van vervreemding van jou eie kultuur en erfenis (Pursue IAS Institute, 2021).
Helm het in 1978 al gesê dat ’n kind se ervarings, emosies, intellek en selfvertroue deur sy moedertaal uitgekristalliseer word, en dat sy hele omgewing verstaanbaar word deur sy moedertaal (vgl. Smit, 1998:7). Die kind se moedertaal vorm dus ’n geïntegreerde deel van sy/haar persoonlikheid (Smit, 1998:7), en juis om hierdie rede hou moedertaalonderrig die voordeel in dat dit bydra tot die ontwikkeling van die leerder se persoonlike identiteit.
Om Wêreldmoedertaaldag pret te maak, het VivA ’n woordsoekaktiwiteit saamgestel. Speel saam en vind al die amptelike SA tale! Hiermee die skakel: https://thewordsearch.com/puzzle/6746839/w%C3%AAreldmoedertaaldag/.
VivA-groete
Bronnelys
Ball, J. 2010. c. Paper delivered at the UNESCO International Symposium: Translation and Cultural Mediation, Paris, France.
Jones, S. 2024. The state of the world’s 7,168 living languages. https://www.visualcapitalist.com/cp/state-of-the-worlds-living-languages/. Datum van gebruik: 13 Febr. 2024.
Nelson Mandela University. 2023. Recognising the importance of mother tongue education. https://news.mandela.ac.za/Opinion-pieces/Opinion-pieces-archive/Recognising-the-importance-of-mother-tongue-educat. Datum van gebruik: 13 Febr. 2024.
Nishanthi, S. 2021. Understanding of the Importance of Mother Tongue Learning. International Journal of Trend in Scientific Research and Development, 5(1):77-80.
Oxenham, J. 2022. The 20 most beautiful and untranslatable words in other languages. https://www.rocketlanguages.com/blog/20-of-the-worlds-most-beautiful-untranslatable-words. Datum van gebruik: 19 Febr. 2024.
Oxford University Press. 2023. Why it is important that a child learns how to read in their mother tongue? https://resourcehub.oxford.co.za/road-to-literacy/why-it-is-important-that-a-child-learns-how-to-read-in-their-mother-tongue/. Datum van gebruik: 12 Febr. 2024.
Prasad, S. 2023. Mother tongue: A lifeline to identity, culture, and connection in the modern world. The Times of India, 16 Aug. https://timesofindia.indiatimes.com/blogs/betweenus/mother-tongue-a-lifeline-to-identity-culture-and-connection-in-the-modern-world/. Datum van gebruik: 13 Febr. 2024.
Pursue IAS Institute. 2021. Importance of mother tongue as the medium of education and New Education Policy, 2020. The Times of India, 22 Mrt. https://timesofindia.indiatimes.com/readersblog/pursueias/importance-of-mother-tongue-as-the-medium-of-education-new-education-policy-2020-30475/. Datum van gebruik: 13 Febr. 2024.
Smit, H. 1998. Moedertaalonderrig. Handhaaf, 2(3):5-7.
Webb, V. 2006. Perspektiewe op moedertaalonderrig. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Supplement, 46(2):37-50.
Wikipedia. 2024. Wêreldmoedertaaldag. https://af.wikipedia.org/wiki/W%C3%AAreldmoedertaaldag. Datum van gebruik: 19 Febr. 2024.
Teksredigering
Maureen van Helden