- Die verskillende woordsoortmoontlikhede van om in Die olifant stoot die boom om
- Dit is ’n partikel
In die eerste plek redeneer taalkundiges dat daardie gebruik van om ’n partikel is. Moenie skrik nie. ’n Partikel is enige woordsoort wat saam met ’n ander woord of selfs saam met ’n kombinasie van woorde gebruik word om ’n bepaalde betekenis oor te dra. Dink ’n bietjie aan die tweede nie in ontkennende sinne: Hy het nie vir sy toets geleer nie. Hier word die tweede nie saam met die eerste nie gebruik om ’n negatiewe sin / ontkennende sin te vorm. Dink ook aan s’n in die sin Stefan se laatkommery het groot moeilikheid veroorsaak, maar André s’n nie. Hier dui s’n op die besitting, en daarom moet dit saam met die besitter, aangedui deur André, gebruik word.
Partikels word dus deur een of ander woord in die betrokke sin vereis om ’n konstruksie volledig te maak. Net so kan ons redeneer dat die om saam met die werkwoord stoot gebruik word om die hoofwerkwoord omstoot te vorm (of volledig te maak), en in so ’n geval is om dan ook ’n partikel, spesifiek ’n werkwoordpartikel.
So ’n hoofwerkwoord wat uit ’n werkwoordelike deel en ’n niewerkwoordelike deel, ’n werkwoordpartikel, bestaan, is vormlik ’n skeibaar saamgestelde werkwoord, hoewel die term “deeltjiewerkwoord” en selfs “samekoppeling” in die literatuur gebruik word.
- Dit is ’n setsel
’n Ander manier om hierdie om te klassifiseer, is as ’n setsel. Setsels word gebruik om die verhouding (bv. ligging, rigting, afstand, ens.) tussen twee sake in ’n sin aan te dui. In al die volgende sinne sal die beklemtoonde woorde daarom as setsels beskou word.
- Hy sit op die stoel.
- Hy reis die wêreld deur.
- Die water loop langs die geut af.
Soos uit die voorbeelde blyk, benodig elkeen van die setsels ’n verpligte sinsdeel (onderstreep), anders sal die setsel nie sy funksie om ’n verhouding tussen sake te kan uitdruk, kan verrig nie. Afhangend van die posisie van die setsel tot hierdie verpligte sinsdeel, word tussen verskillende soorte setsels onderskei.
- Voorsetsels wat voor ’n verpligte sinsdeel staan (soos Hy sit op die stoel)
- Agtersetsels wat agter ’n verpligte sinsdeel staan (soos Hy reis die wêreld deur)
- Alkantsetsels wat aan albei kante van hul verpligte sinsdeel staan (soos Die water loop langs die geut af)
Figuur 1: Die verskillende soorte setsels in VivA se Afrikaansgrammatika (geskep met behulp van Canva)
Ander kere het ’n setsel nie ’n verpligte sinsdeel nie. Sulke setsels word “onoorganklike setsels” genoem. Die muisie sonder ’n boks hier bo illustreer die onoorganklike setsel. Die gebruik van om in die sin Die olifant stoot die boom om kan as hierdie laaste soort setsel, die onoorganklike setsel, beskou word.
- Is dit ’n bywoord?
Soos reeds in die inleiding aangedui, wou die taalgebruiker hierdie woord ook as ’n bywoord klassifiseer. Ek vermoed sy het geredeneer dat om aandui hoe die handeling wat deur die werkwoord stoot uitgedruk word, plaasvind, en dat dit weens hierdie spesifiserende (of bepalende) funksie ’n bywoord, en meer spesifiek ’n bywoord van wyse, is.
Figuur 2: Die moontlike konseptualisering van om deur die navraer (geskep met behulp van Bing Image Generator)
Nou, in die Nederlandse taalkunde is dit nie vreemd dat woorde wat vormlik soos setsels (vergelyk afdeling 1.2) lyk, as bywoorde geklassifiseer word nie. Sulke bywoorde word “voorzetselbijwoorden” (oftewel “voorsetselbywoorde” in Afrikaans) genoem. Volgens Nederlandse taalkundiges sal sulke bywoorde tipies gebruik word om verskillende woordsoorte (bv. werkwoorde) of sinsdele ten opsigte van plek of rigting te bepaal:
- Hulle bou ’n muur rondom, waar rondom die werkwoord bou ten opsigte van rigting bepaal.
Hulle redeneer egter ook dat bywoorde wat vormlik soos setsels lyk en die werkwoord bepaal, nie noodwendig los van die werkwoord hoef te staan nie, maar saam daarmee ’n skeibaar saamgestelde werkwoord kan vorm. Bestudeer die volgende voorbeeld en verduideliking:
- Hoe laat kom hulle in New York aan? waar die voorsetselbywoord aan die werkwoord kom ten opsigte van ’n bepaalde bywoordelike eienskap, naamlik rigting bepaal, want dit kommunikeer die betekenis van ‘in die onmiddellike nabyheid van’. Die voorsetselbywoord aan vorm ook saam met die werkwoord kom ’n skeibaar saamgestelde werkwoord, naamlik aankom.
Na aanleiding van die tweede gebruik van voorsetselbywoorde hier bo sou ’n mens kon redeneer dat om in Die olifant stoot die boom om ook as ’n voorsetselbywoord gereken kan word, en ek het oor hierdie moontlike klassifikasie met Suléne Pilon, Taalkommissievoorsitter, gesels. Sy het egter aangedui dat bywoorde (en per implikasie voorsetselbywoorde) alleenlik ’n werkwoord kan bepaal/spesifiseer (in welke geval dit opsioneel is en weggelaat kan word), soos in die voorbeeld met rondom, of dat dit ’n werkwoord kan aanvul (in welke geval dit verpligtend en nieweglaatbaar is), soos in die voorbeeld Plaas die blaardeeg bo-op, waar die bywoord bo-op nie weggelaat kan word nie.
Volgens Suléne sal ’n bywoord (en dan ook ’n voorsetselbywoord) nóóit saam met ’n werkwoord gebruik word om ’n skeibaar saamgestelde werkwoord te vorm nie. Volgens haar sal gevalle soos om in Die olifant stoot die boom om dus nooit bywoorde, en meer spesifiek voorsetselbywoorde, wees nie.
- Watter klassifikasie sou ek voorstel vir leerders op skoolvlak?
My gevoel is dat onderwysers van albei hierdie klassifikasiemoontlikhede van om as óf ’n partikel (spesifiek werkwoordpartikel – vgl. afdeling 1.1) óf ’n setsel (spesifiek ’n onoorganklike setsel – vgl. afdeling 1.2) bewus moet wees.
Nie alle kundiges is dit egter eens dat daar iets soos ’n onoorganklike setsel is nie, daarom sal ek eers hiervan wegskram. My redenasie is dat daar reeds in bestaande skoolhandboeke ’n naam aan die niewerkwoordelike deel van ’n werkwoord wat skeibaar is, toegeken word, naamlik “deeltjie”. Vergelyk die volgende aanhalings uit skoolhandboeke:
- “In die eerste sin is twee aparte woorde wat saam ’n deeltjiewerkwoord (skeibare werkwoord) vorm.”
- “Skeibare werkwoorde bestaan uit ’n werkwoord en ’n deeltjie.”
Vervang dus net die term “deeltjie” met “partikel”, en spesifiseer die tipe partikel as ’n werkwoordpartikel:
- “Skeibare werkwoorde bestaan uit ’n werkwoord en ’n partikel (spesifiek ’n werkwoordpartikel).”
Gee dan bykomende voorbeelde van skeibaar saamgestelde werkwoorde wat sintakties geskei en ongeskei is. Beklemtoon albei dele van die skeibaar saamgestelde werkwoord, en onderstreep ook die werkwoordpartikel.
- Die olifant het die boom omgestoot.
- Die olifant stoot die boom om.
- Sy sal haar kos opeet.
- Sy eet haar kos op.
- Hy moet die vuur aansteek.
- Hy steek die vuur aan.
Gebruik dan die gegewe voorbeelde om ’n aantal afleidings te maak:
- Die werkwoordpartikel word vas aan die werkwoord geskryf wanneer dit vóór die werkwoord staan. Dit gebeur wanneer die skeibaar saamgestelde werkwoord nié die enigste werkwoord in die sin is nie (sien al die (a)-voorbeelde hier bo).[i] In so ’n geval dra die werkwoordpartikel die hoofklemtoon.
- Die verledetydsvorm van die skeibaar saamgestelde werkwoord word met ’n ge- tussen die werkwoordpartikel en werkwoord gevorm (bv. om+ge·stoot).
- Die werkwoordpartikel kan van die werkwoord geskei word wanneer dit saam met die werkwoord die enigste werkwoord in die sin is (soos blyk uit al die (b)-voorbeelde). Hier staan die werkwoordpartikel ná die werkwoord.
- Die werkwoordpartikel kan ook los van die werkwoord in die volgende situasies geskryf word:[ii]
- Wanneer die sin in die bevelsinsvorm is, bv. Stoot die boom om; Eet jou kos op; Steek die vuur aan.
- Wanneer die werkwoordpartikel met te van die werkwoord geskei word, bv. Die olifant is besig om die boom [om te stoot]; Sy probeer om haar kos [op te eet]; Hy gaan voort om die vuur [aan te steek].
- STOMPI en werkwoordpartikels
Die volgende vraag wat gevra kan word, is waar die werkwoordpartikel (of deeltjie) binne die STOMPI-raamwerk pas, indien die skeibaar saamgestelde werkwoord geskei sou word, soos in die sin Die olifant stoot die boom om.
Ek sou die V2 wat normaalweg in STOMPI voorkom, soos volg gaan uitbrei: V2 / niewerkwoordelike deel van ’n skeibaar saamgestelde werkwoord. Vergelyk:
S |
V1 |
T |
O |
M |
P |
V2 / niewerkwoordelike deel van ’n skeibaar saamgestelde werkwoord* |
I |
Die olifant |
stoot |
die boom |
om |
* Die niewerkwoordelike deel van ’n skeibaar saamgestelde werkwoord word ’n werkwoordpartikel genoem.
Vriendelike groete
Nadine Fouché-Karsten
Hierdie blog is met trots geborg deur die AONetwerk.
Bronnelys
AWS. 2017. Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Afrikaanse woordelys en spelreëls. 11de herbewerkte uitgawe. Kaapstad: Pharos.
Brink, N., Kapp, S. & Breed, A. 2020. "Woordsoorte: Setsels". Taalonderrigportaal. Virtuele Instituut vir Afrikaans. [https://viva-afrikaans.org/portale/taalonderrigportaal?link=Afdeling-Woordsoorte%2FSetsel%2FAAG_Woordsoort_PREP_Inleiding.html]
Du Plessis, H. 1982. Sintaksis vir eerstejaars. Pretoria: Academica.
Fouché, N., Kapp, S., Van Huyssteen, G. & Brink, N. 2020. "Woordsoorte: Partikels". Taalonderrigportaal. Virtuele Instituut vir Afrikaans. [https://viva-afrikaans.org/portale/taalonderrigportaal?link=Afdeling-Woordsoorte%2FPartikel%2FAAG_Woordsoort_PTCL_Inleiding.html]
Haeseryn, W., Romijn, K., Geerts, G., de Rooij, J. & van den Toorn, M. 1997. 8.4 Voorzetselbijwoorden (versie 2.1). Algemene Nederlandse Spraakkunst. https://e-ans.ivdnt.org/topics/pid/ans0804lingtopic.
Pilon, S. 2022. Die aard van voorsetselbywoorde. [Persoonlike korrespondensie]. 15 Aug., WhatsApp.
Van Huyssteen, G.B. 2017. Morfologie. In: Carstens, W.A.M. & Bosman, N., eds. Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde. Pretoria: Van Schaik. pp. 177-206.
[i] Vergelyk die 2017-AWS: 15.49.
[ii] Vergelyk die 2017-AWS: 15.49 (opmerking).