Enkele wenke by literêre vertaling

Geplaas deur Sophia Kapp Donderdag 16 Julie 2015
Gepubliseer in Nuus;

Bepaalde kwessies by die vertaling van literêre tekste in Afrikaans

 

1. Kulturele merkers

Vertalers van literêre tekste moet bo en behalwe die bron- en doeltaal ook die kulture waarin die tale pas, baie goed ken. Dit is nie genoeg om Engels te verstaan nie, ʼn mens moet verstaan watter Engels in die bronteks gebruik word. Daar is, bo en behalwe Britse en Amerikaanse Engels (waarin spelling en betekenis dikwels verskil), ook Indiese, Kanadese, Australiese en natuurlik Suid-Afrikaanse Engels, wat ook nie homogeen is nie.

Dit is noodsaaklik om te verstaan wat die verskil is tussen “I need to go potty”, “I have to use the loo” en “I have to absent myself”. En as daardie verskille in tekste aangewend word, moet dit so vertaal word.

Daarbenewens is daar tegnieke in vertaling wat bekend staan as “domestikasie” (domestication) en “vervreemding” (foreignization), waar die kulturele merkers óf vertaal óf neutraal gemaak óf behou word. Die besluit is een wat ʼn mens moet neem voordat die vertaling begin omdat dit deurlopend dieselfde hanteer moet word. Byvoorbeeld:
“He was a member of the Knesset” kan vertaal word as “Hy was lid van die Knesset” (vervreemding) of “Hy was lid van die Israeliese parlement” (neutraal) of “Hy was ʼn parlementslid” (domestikasie). Veral eiename is hier ter sprake: Behou ʼn mens die oorspronklike naam (Hänsel en Gretl) of vertaal ʼn mens dit (Hansie en Grietjie)? Kan jou storie in Duitsland afspeel met karakters wat name het soos Bongi, Faan of Edward? Kan ʼn mens ʼn kinderboek in Afrikaans vertaal en die tyd, ruimte, konteks en kulturele merkers alles vreemd hou of domestikeer ʼn mens dit? (Vergelyk byvoorbeeld Andersen se sprokies teenoor ʼn teks soos Nils Holgersson.)

2. Humor

Humor is in sekere opsigte moeiliker om te vertaal as rym, omdat dit in ʼn kultuur gesetel is. Dit is noodsaaklik dat die vertaler nie net die humor snap nie, maar ook die graad van “snaaksheid” bepaal. Dit gaan in baie gevalle nie moontlik wees om byvoorbeeld woordspeling, dubbelsinnigheid of die spanning tussen letterlike en figuurlike betekenis na die doelteks oor te dra nie. Dit is aanvaarbaar om in sulke gevalle van substitusie (gebruik ʼn ander uitdrukking of woord), ellips (laat dit net weg) of kompensasie (bring ʼn soortgelyke snaaksigheid elders in die teks in) te gebruik.

3. Dialek

Dialek wat met dialek vertaal word, is ʼn debakel wat ʼn plek soek om plaas te vind. Dialekte is nie net per definisie niestandaard nie, dit is sosiaal gemerk. En die sosiale groepering en stratifikasie is in geen twee taalgemeenskappe dieselfde nie. Die algemeen aanvaarde praktyk is om dialek met die standaardvariëteit te vertaal en net hier en daar ʼn woord te gebruik om die dialek te “merk”. Iets soos “How ya doin’, mon?” (tipiese African-American English) sal bloot vertaal word met “Hoe gannit?” wat nie noodwendig aan enige Afrikaans dialek toegedig kan word nie.

4. Tyd

Dit is ʼn tegniese punt om in gedagte te hou. Stories word in Engels baie selde in die teenwoordige tyd vertel (Monica walked into the room and blinked). In Afrikaans word die verlede tyd gebruik vir terugflitse. Selfs historiese romans word in die histories-teenwoordige tyd vertel (Monica stap die kamer binne en knip haar oë). Die vertaler moet weet hoe om die tyd te hanteer sodat die Afrikaanse doelteks nie heen en weer spring tussen die twee tye nie, maar terugflitse wel in die verlede tyd vertaal word.

5. Vloekwoorde, pornografie en sosiale taboes

Die vertaler se etiese kode is dat hy/sy die teks so goed moontlik moet vertaal, ongeag sy eie mening oor die “aanvaarbaarheid” van die bronteks. Dit is nie die vertaler se werk om tekste te sensor of te “suiwer” nie. Dit is veral nie aanvaarbaar dat die vertaler se eie (voor)oordele bepaal watter inligting, woorde of uitdrukkings in die vertaalde teks behou word nie.

Wat wel belangrik is om na op te let, is die gewig wat uitdrukkings het. Nie alle vloekwoorde is byvoorbeeld ewe aanvaarbaar of afstootlik nie. In die Britse en Amerikaanse kultuur is dit deesdae heel aanvaarbaar om “oh my God” te gebruik. Die sinoniem daarvoor in Afrikaans is “o God”, maar dit is nie die ekwivalent nie. Die ekwivalent is die woord of frase wat nie net dieselfde inhoud nie, maar ook dieselfde impak oordra.

Dieselfde beginsel geld vir sosiale taboes en pornografie. Die vertaler kan nie aan die outeur en/of uitgewer voorskryf wat in ʼn teks moet voorkom nie, maar die vertaler mag besluit dat sekere inligting in die teks die lesers van die teks gaan afstoot, antagoniseer of emosioneel betrek op ʼn manier wat nooit in die oorspronklike teks bedoel is nie. Dink hier bloot aan die polemiek wat in die Moslem-gemeenskap ontstaan het oor neerhalende verwysings na die profeet Mohammed in sekere Europese tekste. Hoewel taalgemeenskappe deur verskillende dinge ontstig word, word alle taalgemeenskappe oor bepaalde goed ontstig. Dit is die taak van die vertaler om sodanige ontstigting te verhoed indien dit nooit die bedoeling van die oorspronklike teks was nie.

 

Lees 2636 tye Laaste modifikasie op Donderdag 16 Julie 2015 18:09

1 kommentaar

  • Kommentaarskakel Alet Kok Vrydag 17 Julie 2015 16:01 geplaas deur Alet Kok

    Baie opgewonde oor die nuwe program.

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK