Die keiser, en die kinders, is kaal

Geplaas deur Sophia Kapp Woensdag 12 Augustus 2015
Gepubliseer in VivA;

ʼn Vriendin kom kuier. Kleinkind, ʼn matrikulant aan ʼn baie duur en eksklusiewe privaat skool, stert saam. Sit by ons in die kombuis terwyl ons klets en ek rooisous in ʼn pot roer. Die gesprek trek in die rigting van die skool, soos wat dit maar gaan as daar ʼn tiener deelneem. Dis nog net id.

Ons gesels oor alles wat skoolgaan belangrik maak: kêrels, partytjies, drank, grimering, selfone, matriekafskeidrokke en diëte. En so hier en daar en tussenin so ʼn bietjie skoolwerk. Kleinkind vertel van Shakespeare se Macbeth, wat hulle voorgeskrewe werk is. Ek vertel van my formidabele Engels-proffie wat in my derde jaar op Bloemfontein, in ʼn saai lesinglokaal sonder enige dekor of kostuums of slim beligting, al die rolle in Hamlet op sy eie voor in die klas vertolk het en my vir ewig aan drama verslaaf gemaak het.

Vriendin sit net en luister. Sy het in die laat 1950’s iewers in die Verre-Noord-Transvaal gematrikuleer, waar Engels net so vreemd was as Latyn. Maar Shakespeare het hulle geshakespeare, want dit was goed vir die gees en die planeet is groter as ʼn mens se agterjaart. “Ons het Julius Ceasar in matriek gehad,” kom haar skugter bydrae tot ʼn gesprek wat haar reeds op die eerste draai afgesmyt het.
Daar is ʼn dodelike stilte. Die soort stilte wat jou laat asem ophou. Want jy weet: hier kom ʼn ding.

En dit is toe ook so. Kleinkind kyk op, die ene grootogige verwondering, en vra: “Oh, was he your English teacher?”

Die arme kind is helaas nie die enigste wat kaal in die strate ronddwaal nie. Ek het my verwonder aan my studente, die room van die oes, se gebrek aan kennis wanneer hulle vertaaloefeninge moes doen. Hulle weet alles van Kim Kardashian se katelkaskenades, maar hulle weet nie dat daar gister ʼn paar duisend mense iewers in ʼn geweldgeteisterde uithoek van die aarde uitgewis is nie. Hulle verstaan nie die omvang van tragedie of die impak daarvan op die mensdom nie. Hulle kan nie onthou dat die sluipmoord op ʼn onbekende Russiese aartshertog in ʼn strategies onbelangrike landjie die hele wêreld oornag in die hel gedompel het nie.

Die ergste van alles is dat hulle nie omgee dat hulle nie weet nie.

Hulle is nie nuuslesers nie. Hulle is ook nie nuuskierig nie. Die lewe bestaan vir hulle uit hulle klein kring kennisse op WhatsApp en die plaaslike winkelsentrum. Hulle verwerf grade in plaas van kennis. Hulle lewe uitkomsgerig in plaas van doelgerig. Hulle kan lees en skryf, maar hulle het niks om te sê nie.

Wie se skuld is dit dat ons kinders so skamel geklee die lewe instap? Die onderwysstelsel? TV? Sosiale media? Of is dit ons, wat hulle deur ons voorbeeld en versuime geleer het dat middelmatigheid goed genoeg is?

Dit is nie. Veral nie as jy met taal werk nie. Want dis nou die een professie waar jy nie jou gebrek aan behoorlike kleding kan verdoesel nie, al sê jy wát.

Lees 2386 tye
Meer in hierdie kategorie: Keer vir jou loef »

1 kommentaar

  • Kommentaarskakel Coline du Toit Dinsdag 25 Augustus 2015 15:38 geplaas deur Coline du Toit

    Dit is nou die spyker op die kop geslaan. Ons moet bekommerd voel maar dalk ook skuldig......of nie?

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK