Die Cowboy

Geplaas deur Sophia Kapp Woensdag 26 Augustus 2015
Gepubliseer in VivA;

Sien in jou kop die prentjie. (Jy moet self die agtergrondmusiek verskaf. Dink mondfluitjie. Dalk kitaar. Klaend, met ʼn ondertoon van gedoemde desperaatheid.)

Die toneel begin buite. Wit, wit son; hittegolwe wat uit die drooggebakte aarde opslaan. Elke nou en dan roer die wind ʼn wolk rooi stof die ylblou lug in, waar dit ʼn paar keer dwarrel voordat dit weer lusteloos eenkant gaan lê. Die geel grasstingels roer stokkerig in die louwarm bries.

Die gebou is oud en van die begin af bedoel om funksioneel te wees – langwerpig met ʼn ry vensters aan weerskante, sementstoep aan die noordekant. As jy instap, is die hitte soos ʼn klap. Die dakwaaiers is aan, maar dit stuur net die hitte van die sinkdak af ondertoe. ʼn Brommer beur desperaat maar tevergeefs teen die oop ruit. Teen die muur is daar ʼn ry stoele, almal verskillend. Die mense wat op hulle sit, lyk soos vee by ʼn vendusie.
Die plek ruik na outydse ink en vorms en staatseep en moedeloosheid.

Ek gaan sit op die laaste oop stoel. Ek móét hier wees: ek moet ʼn afskrif van my ID laat waarmerk. Vandag. Ek het geen ander keuse as om te wag nie.

Die tannietjie in die gelapte Duitse sis is eerste klaar en sy staan op. En toe ek hom uit die hoek van my oog gewaar, weet ek sommer: hier kom moeilikheid.


Hy is lank, rankerig skraal, met kniekoppe wat aan mekaar wil-wil raak. Dis amper nie moontlik om te sien waar die kakiehemp se verrimpelde kraag ophou en waar die verrimpelde nekvelle begin nie. Maar die mond is op ʼn dun streep getrek.
“Ek wil in Afrikaans bedien word!” vuur hy die eerste salvo af.
Die polisiebeampte agter die toonbank maak beleef verskoning dat sy nie Afrikaans magtig is nie en vra of hy bereid is om oor te slaan na Engels.
“Nee. Gaan soek iemand wat met my in my taal kan praat!”
Sy moes hierdie scenario herken het, want sy staan dadelik op en stap na die stasiebevelvoerder se kantoor toe: ʼn hokkie so groot soos ʼn besemkas agter ʼn boekrak.
Hy kom saam met haar uit.
“Kan jý Afrikaans praat?” kom rondte twee.
“No, sir. I apologize for that. We are only able to assist you in English. It is not our first language either, so I admit that it is not ideal, but al least we will be able to go forward.”
“Ek wil in Afrikaans bedien word! Dit is my grondwetlike reg!”
“I know, sir. But the reality is that we do not have staff on duty who can speak Afrikaans. Would you be willing to help us by speaking English?”
Uiteindelik gee hy in, dikmond en sonder grasie, en gaan sit. Sy Engels is nie vlot nie, maar dis heeltemal goed genoeg om die verklaring in af te lê.

Ek kyk hom so en wonder of hy weet hoeveel skade hy die taal vandag aangedoen het. Al is dit net in my oë.

Lees 1497 tye
Meer in hierdie kategorie: « Keer vir jou loef Die pen »

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK