Die pen

Geplaas deur Sophia Kapp Woensdag 02 September 2015
Gepubliseer in VivA;

Kry anderdag ʼn pen present. Pragtig, elegant, ingevoer. Duur. Jy kan sommer sien die ding het agtergrond en klas en kan sy bloedlyn terugspeur tot by die gansveer waarmee Friedrich Wilhelm van Pruise sy laaste wil en testament onderteken het. Van ʼn vriend wie se woorde altyd min was, maar wat nou ook nog sukkel om te praat ná ʼn paar rondes met stemdistrofie. Ek weet hy versamel penne. Die “goedkopes” is in ʼn spesiale uitstalkas in sy voorportaal. Die dures is in ongemerkte skoenbokse in die kas in sy studeerkamer gebêre. Almal is versamelitems. Die een wat hy vir my gegee het, ook.

Ek is oorweldig, nie net deur die geskenk nie, maar veral deur die deernis en die stil ontsag waarmee hy die boksie – hierdie soort penne kom in spesiaal ontwerpte boksies – in my hande plaas. Dis ʼn oorhandiging. ʼn Formele erkenning van ʼn wedersydse waardering.
Maar nog kosbaarder as die pen, is die woorde wat hy vir my saamgee: “Die pen is magtiger as die swaard,” sê hy vir my. “Dis sodat jy dit altyd onthou.”

Inderdaad. Die uitdrukking is vir die eerste keer deur Edward Bulwer-Lytton in sy drama Richelieu gebruik, presies ʼn jaar nadat die maatskappy wat my pen gemaak het, tot stand gekom het. Ewe oud. Vandag nog net so betroubaar en standvastig soos destyds.
Dis ʼn waarheid wat ek daagliks ervaar.

Ons leef deesdae amper geheel en al in ʼn wêreld van woorde. Ons kry ons nuus virtueel, ons koop virtueel, ons kla virtueel, ons doen virtueel navraag, ons kuier virtueel. Dis ʼn gesiglose, dikwels naamlose interaksie met mense wat ons nie ken nie en ook nie beplan om te ontmoet nie. En omdat ons nie ʼn gesig aan die woorde koppel nie, sê ons wat ons wil soos ons wil.

Ons kla gereeld oor ons kinders wat nie kan spel nie omdat hulle op hulle selfone lê. Vir my lê die probleem dieper: Hulle kan nie stilsit of stilbly wanneer dit van hulle verwag word nie, want hulle is gewoond aan ʼn deurlopende gekwetter. Hulle weet nie hoe om ʼn gesprek te voer nie, want hulle praat in afkortings. Hulle het nie maniere nie, want hulle herken nie meer sosiale hiërargieë nie. Hulle weet nie wat dit verg om ʼn gesin of gemeenskap of samelewing stabiel te hou nie.

Maar is ons anders? Beter? Kyk ʼn bietjie na die kommentaar by koerantberigte. Dis bar, beledigend, amper gewelddadig. Mense kap na mekaar asof daar nie ʼn persoon aan die ander kant van die woordewisseling is nie. Dis dieselfde ding op Facebook. Ek het al ʼn paar keer aan my eie lyf ervaar hoe iemand wat in werklikheid stil en skaam is op ʼn openbare forum woorde soos wapens kan inspan. En nie ʼn duit omgee watse skade aan die ander kant aangerig word nie.

My vriend het gesê ek moet mooi kyk, die pen se knippie lyk soos ʼn pelikaan se snawel. Vir my lyk dit baie na ʼn panga.

Lees 1595 tye

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK