Agt koeke en ʼn homofoon

Geplaas deur Sophia Kapp Donderdag 10 September 2015
Gepubliseer in VivA;

Ek het ʼn neef wat in die Kaap woon en werk. Ons sien mekaar min, maar wanneer ons saam is, is dit asof ons eergister laas oor ʼn lekker cabernetjie geklets en geskinder het. Voëls van eenderse vere. Krappe van dieselfde dam.

Ons dam is Natal, eintlik die ou Zoeloeland. Die oupa wat ons deel, was ʼn bestuurder op ʼn suikerplaas (wat in werklikheid beteken het hy was ʼn bywoner met ʼn mooi huis) wat sy grootwordjare op Karatara moes deurbring. Dis bos, vir die Gautengers. Knysna. Karatara is deur die destydse regering as bosboustasie gevestig en was een van die projekte wat ʼn oplossing vir die armblankevraagstuk moes bied.

Die omstandighede was moeilik. Dalk selfs haglik. Oupa het nooit vreeslik baie besonderhede gegee nie. Wat ek en my neef wel weet, is dat die stigma van arm en Afrikaans wees Oupa vir die res van sy lewe agtervolg het. En dat alles wat hy gedoen het, gedoen is om sy verlede te besweer.

Hy was ʼn bitter stoere Afrikaner in ʼn onversetlik Engelse wêreld. Hy het ʼn debatsvereniging op die dorp gestig en gesorg dat daar Afrikaanse films in die kerksaal vertoon word. Hy het ʼn lid van die ATKV geword in die jare voordat voorkeurbehandeling by luukse oorde die lokaas was en jy aangesluit het vir die saak. Hy het op sy eie Pietermaritzburg toe gery om die Natalse Onderwysdepartement die stryd te gaan aansê om ook Afrikaans as medium van onderrig by die plaaslike laerskool aan te bied. Die Onderwysdepartement het gesê hulle sal ʼn Afrikaanssprekende onderwyser aanstel as hy 26 gesinne kry wat bereid sal wees om hulle kinders in Afrikaans te laat leer. Hy het hulle gekry. En op ʼn tyd toe ander jong dogters die skool vroeg verlaat het om te gaan help verdien, het hy syne universiteit toe gestuur. Sodat sy ʼn Afrikaansonderwyseres kon word.

Oupa was puntenerig oor sy taal en het aangedring daarop dat jy ook moet wees as jy met hom praat. Ek en my neef is die oudste van sy kleinkinders. Dat ons by hierdie man meer as net ons donker oë sou erf, was onvermydelik.

So bel Neef my op ʼn dag. Boosaardig woedend. Ek hoor net elke derde woord, want hy vloek lank en vlot en aanmekaar. (Ons is taalvaardig, nie noodwendig ordentlik nie.)
Wat is dan nou fout? vra ek ewe bedees.
Daar is ʼn nuwe meisietjie by die werk wat die fakture moet uitmaak, hoor ek. So ʼn ou fraai dingetjie wat die vorige jaar matriek geskryf het en nie weet waar om ʼn punt in ʼn sin te sit nie.
Ek grinnik, want ek weet wat kom. Is ook so.
Die vorige dag vra hy haar om ʼn faktuur uit te maak aan “Uitkyk Diggers”. Vandag kry hy dit terug. Uitgemaak aan “8Cake Diggers”.

Lees 1561 tye

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK