Vyf vrae vir Frikkie

Geplaas deur Gerhard van Huyssteen Dinsdag 06 Oktober 2015
Gepubliseer in VivA;

Dr. Frikkie Lombard, eindredakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), is vanjaar twintig jaar lid van die Taalkommissie (TK), wat beteken dan hy tans die langsdienende lid van die TK is. Ons het vyf vrae aan hom gestel.

Jou werkswêreld bestaan uit woorde. Vanwaar die belangstelling en passie?

Ek was van vroeg af geïnteresseer in boeke en het graag nuwe woorde/uitdrukkings/idiome leer ken. My passie was eintlik geskiedenis, maar toe ek op universiteit beter begin doen het in Afrikaans en boonop in my honneursjaar ʼn studente-assistenskap kon kry, het dit my in die taalrigting laat beweeg. Ná ʼn redelik kortstondige onderwysloopbaan is ek aangestel by die WAT (Woordeboek van die Afrikaanse Taal), en ʼn mens kan beswaarlik as leksikograaf werk as daar nie ʼn passie vir taal is nie.

Dr Frikkie Lombard en sy ega Elmare

As ek jou nou voor ʼn vuurpeleton dwing, wat sou jy as ’n hoogtepunt oor die afgelope twintig jaar uitsonder?

Ek sal wsk. doodgeskiet word, want die hele twintig jaar voel soos ʼn hoogtepunt. Die verskyning van twee AWS’e en twee toekennings waarmee die Akademie die werk wat gedoen is, erken het, is uiteraard hoogtepunte. Vir my is die heel lekkerste ervaring die samesyn met slim en gevatte kollegas wat ook lewensvriende word.

Buitestanders dink dikwels dat TK-sittings saai en vaal is, maar die teendeel is waar. Vertel vir ons een of twee staaltjies van interessante of grappige dinge wat jy oor die afgelope twintig jaar beleef het?

Saai en vaal is ver verwyder van die dinamiese werklikheid van ʼn TK-sitting. Eintlik moes ons ʼn grapboek met TK-pittighede en grappe saamgestel het. Een van die snaaksste insidente was waarskynlik toe iemand (geen name sal genoem word nie) op ʼn saaierige Woensdagmiddag om 12:15 ʼn dokument te voorskyn gehaal het waarin historiese gebruike van die woord “fok” aangeteken is. Johan Combrink moes maar die sessie verdaag sodat ons buite kon gaan saamlag. Nog ʼn lagwekkende episode het plaasgevind toe Wannie Carstens en Anton Prinsloo mekaar verkeerd opgevryf het. Anton was voorsitter en het verseg om enigiets verder te sê. Wannie het dieselfde gedoen. Aangesien die ondervoorsitter, Ernst Kotzé, op daardie stadium nie beskikbaar was nie, het ek as sekretaris en lid van die dagbestuur toe vir so tien minute lank die vergadering probeer lei. Die gemoedere het darem later bedaar. Die arme Wannie het ook een oggend ʼn verkeerde pil (slaappil) gedrink en vir ʼn hele voormiddag ingesluimer. Anton het hom terug verwelkom toe hy weer tekens van lewe begin toon het met die woorde: “Welkom terug, Wannie. Ons het baie goeie vordering in jou afwesigheid gemaak.”

As jy volkome eensydig ʼn enkele spelreël in die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) sou kon byvoeg, skrap of verander, watter reël sou dit wees? Hoekom?

Dit is nogal ʼn kluif! Ek sou graag reël 14.6 wat oor die skryfwyse van eienaamverbindings as eiename handel, wou aanpas sodat die vier verskillende skryfwyses wat tans daarvoor bestaan, moet verdwyn, en die vaste weergawe (met of sonder koppelteken) die enigste opsies sou wees.

En is daar ʼn enkele woord in die AWS wat jou altyd sal bybly as ʼn “Taalkommissiewoord”, ʼn woord waarop jy trots is, of ʼn woord wat goeie herinneringe van die TK by jou oproep? Hoekom?

Die een woord wat ʼn hele klomp van ons altyd laat lag het, was “opopanaks (soort harpuis)”. Niemand het eintlik die woord geken nie, en hy het ʼn (suiwer denkbeeldige en meerfunksionele) lewe van sy eie gekry onder TK-lede. Van die een sitting na die volgende het die woord oorgestaan as een wat moontlik maar geskrap moet word, maar hy bied nou al lank weerstand en is nog met ons (ook in die groen boek).

Lees 2371 tye Laaste modifikasie op Maandag 18 September 2017 19:45

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK