ʼn Oggend in die Kalahari (deur Moryn Hanzen)

Geplaas deur Sophia Kapp Donderdag 29 Oktober 2015
Gepubliseer in VivA;

deur Moryn Hanzen

Gertjie grou nog ʼn t’naba neffentjies ʼn bossie uit en gooi hom dat hy doer trek. Mis! Hy loer na Ouma Kowa wat hoog op die been die toekoms staan en inkyk. Dan kyk sy oor haar skouer asof sy toe rêrig oë ager die kop het.
“En dié?” vra sy fronsend toe sy die t’naba langs die mandjie sien lê.
“Nee, ek’t hom ôk so ko’ kry, Ouma,” vertel hy ʼn kluitjie. Sy ore wat bakhand langs sy kop sit en bedel, raak tamatierooi.
“Mens mors ‘ie met kos ‘ie, Gert,” preek sy.
Gertjie voel bloedongelukkig. Hoekom kan hy nie ôk soos Henk saam saam met Pa-goed veld toe nie? Hy’s mos nie meer ʼn bybie nie! En van skaap werk kan jy hom min vertel. Hy kon skaars sy koppietjie selwers regop hou, toe help hy al hanslammers bottel gee en skaap dous. En as Blommetjie net op tyd sak, melk hy haar lank voor staanson uit, sommer lank voor die slappap gaar en die koffie getrek is. Dis nou as Bessie nie weer voordag uit die kallerhok gebreek en vir Blommetjie sta’ uitsuip het nie.
Nou moet hy soos ʼn wafferse vroumens sta’ en t’nabas soek. Nie laat dit ʼn slegte joppie is nie, maar dan moet een en almal saam soek!
In gedagte vrywe hy die rooi duinesand van die stuk t’naba af wat hy raakgegrou het. Is sommer ʼn meneer dié. Hy hoop net nie Ouma-goed sta’ deel nou weer als uit nie. Die goed is lekkerder as groenmielies en murg en… en sampioene. Mens kry dit hoeka net een keer in die jaar as die reënt reg gekom het.
ʼn Tirk skarrel voor hom verby na die skadu van ʼn vet gemsbokkommer. As hy nou net sy rekker en ʼn paar klippertjies byderhand gehad het, kon hy darem die tirke geklits het. Gertjie sorg gewoonlik dat hy net hulle lang sterte raakskiet en lag homself slap as die stert soos ʼn lewendige ding afval en lê en spring. Hieroor het hy reeds hordes kere onder Ma-goed se plathand deurgeloop, maar Pa-goed is ʼn jagter en hy’s Pa se kjint en klaar.
“Ouma, ka’ ons nie eers ʼn stukkie deeg onner die hemp sit nie? Smaak my da’ ek’s honger,” smeek Gertjie hoopvol.
“Nou maar toe dan,” antwoord ouma Kowa. Gertjie weet alteveel dis hoe Ouma klink as sy nie lekker is vir jou nie. Hy gaan sit teen ʼn witgatboom en wag lat Ouma die stinkvoetebrood uit die koekblik haal. Die biltong op die brood se geelvet het al saam met die botter beginte smelt van die warmte, sien hy. Hy weet ouds die’s Ouma se brood. Die snye is dun soos pampier gesny. Ma sny altoos sulke skaapwagtersnye wat vorentoe smaak sodat ʼn man kan vol kom en klaarkry.
Terwyl Gertjie kou en van Ouma se sterk Trekkerkoffie drink, sien hy ʼn slang vanuit ʼn tamaai asbos uitgerol kom. Hy sit stil en kyk hoe dit suutjies teen ʼn kameeldoringboom opseil en oor die versamelvoëlnes gaan lê.
Fytjie kom loop ligvoets soos ʼn t’ghyp met ʼn hele trop t’nabas van doer agter die tweede duin aan en laat rol hulle uit haar voorskoot se sak tot in die mandjie. Hoekom Fytjie altoos die meeste uitgrou, weet hy ôk nie. Mens kan haar mos nie wen nie.
Fytjie gaan sit g’rus langsbeen teen die kameeldoringboomstam. Gertjie hou asem op. Fytjie glo alle slange is satang se kjinners selwers. Maar sy is salig onbewus van die gevaar en haal ʼn omslagtwak en flenter koerantpapier uit om zol te draai. Gretig sit Gertjie eigenlik vooroor om die proses beter af te kyk.
“Maar my! Waar’s my mêtjies da’ nou?” Haar klein koppie soos oupa Dawie se komkuierkierie draai in alle rigtings rond terwyl sy met haarself praat. Sy voel-voel soekend oor haar voorskootsak. Dan vlie’ sy op soos ʼn springhaas. “Ai ie! Kyk waar’s djulle!” en duik amper op die mandjie af om die vuurhoutjies te red voor Ouma se skerp oë dit dalk sien lê.
Ma is by die huis. Kook laaswinter se wildsvleis t’khom vir vanaand. Sy tande sweet behoorlik van luskry vir Ma se kos. Sy moet nog net ʼn lekker toekos ôk maak, dan is sy dag gemaak. Dalk dro’ perskes, wens Gertjie. Of stowepatats. Vanoggend se boerbeskuit en netou se brood is alweer lank vergete.
Voor die huis wag Sam vir Fytjie in. Hy is langgesig soos ʼn donkie wat bultaf kyk oor Fytjie die twak en mêtjies saam veld toe gehad het. “Ou tog vir my ôk, ek ‘it ‘ie eers ʼn los gwai nie!”
By die huis gaan was Gertjie gesig en hande. Hy weet tog hy gaan nie so vuil by die vroumense en meisiekjenners verbykom nie. Hy hoor hoe ouma Kowa vir Ma-goed en sy susters vertel hoe amper sy boude gebrand het oor die t’naba wat hy gegooi het. Hy kan hoor hoe hulle snaaks kry daaroor.
Wanneer hy by die kombuis inloop, maak ousus Hetta net mooi die besem teen die muur staan, die glimlag oor hy amper ʼn loesing gekry het nog verraderlik om haar mond.
Pa en Henk kom ook net mooi uit die veld by die voorhuis in. Hy roep al van ver: “Vrou, my hempsknope roes van ‘ie sooibrand! Gooi tog daar ʼn vars koffietjie.”
“Jy sal ordintliker moet was, Gertjie. Onse kuiermense is op pad,” maan Hetta lank en irriterend soos ʼn ou lap wat starig skeer.
Gertjie glimlag ingenome. “Vertaan jy?” sê hy uitgelate voor hy homself netjies gaan maak.

Lees 1962 tye Laaste modifikasie op Donderdag 29 Oktober 2015 15:41

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK