Afrikaans in Gent

Geplaas deur Gerhard van Huyssteen Saterdag 31 Oktober 2015
Gepubliseer in VivA;

Op Vrydag, 23 Oktober 2015, was dit die hoogbloei van die #FeesMustFall-veldtog op ons kampusse. Meer as 9 000 km verwyderd van die brandpunt vergaar ʼn paar hande vol akademici aan die Universiteit Gent in België. Die geleentheid is die tweede Gents colloquium over het Afrikaans, aangebied deur die Gents Centrum voor het Afrikaans en de Studie van Zuid-Afrika. Twintig referate wat oor temas in die Afrikaanse taal- en letterkunde handel, word deur navorsers en studente uit Suid-Afrika, België, Nederland en Pole aangebied.

Die ironie van die byeenkoms – juis op dié dag – kon my nie ontgaan nie. Uiteraard kon die organiseerders nie voorsien dat Suid-Afrikaanse studente op 23 Oktober 2015 die strate woedend sou opgaan nie. En ek was dankvaderbly dat die aanhitsmerk #FeesMustFall en nie #AfrikaansMustFall was nie. Maar dit kon netsowel anders gewees het ... dalk kom dit nog? (Op 29 Oktober 2015 was daar op Twitter al (nog net?) 51 twiets met dié hutsmerk.)

Wat doen ons as Afrikaansakademici om te voorkom dat ons iewers in die toekoms slegs in die buiteland akademiese byeenkomste in en oor die Afrikaanse taal- en letterkunde kan bywoon? Het ons ons kurrikula aangepas om by 2015 te pas? As ons die geskiedenis van Afrikaans in die klaskamer behandel, is dit steeds die wit geskiedenis van die GRA? As ons fonologie, morfologie en sintaksis behandel, is die uitgangspunt dalk Kaapse Afrikaans of Moesliemafrikaans, of bly ons maar steeds by Standaardafrikaans? En wat van die dramas en poësie van die Kaapse Vlakte?

Een van die temas van die kollokwium in Gent was die gebruik van korpusse (d.i. groot versamelings digitale tekste) in navorsing oor Afrikaans. VivA het daar trots die beskikbaarstelling van verskillende korpusse in sy Korpusportaal aangekondig, waaronder die Taalkommissie-korpus, PUK/Protea Boekhuis-korpus, NWU/Lapa-korpus, RSG-nuuskorpus, NWU/Maroela Media-korpus en die NCHLT- Afrikaanse korpus. Altesaam ongeveer 84 miljoen woorde. 84 miljoen Standaardafrikaanswoorde.

By VivA het ons ʼn uitgesproke beleid dat ons Afrikaans is sy volle reikwydte wil beskryf en bedien. Maar daarvoor het ons die hulp van alle Afrikaanssprekendes nodig. Weet jy dalk van publikasies of webwerwe wat in ander variëteite van Afrikaans as Standaardafrikaans geskryf is? Het jy toegang tot tekste (al is dit nie digitaal nie) wat in van hierdie variëteite geskryf is? Stuur vir my ʼn Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. en help sodoende dat VivA die volle prentjie van Afrikaans kan skets.

En as jy kommentaar lewer op blogs, skryf gerus in jou dialek. Of beter nog: Hoekom skryf jy nie vir ons ʼn blog in die dialek of streekstaal wat jy gebruik nie? Stuur ʼn e-pos vir Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.met jou bydrae.

Lees 1319 tye

1 kommentaar

  • Kommentaarskakel Dietloff van der Berg Dinsdag 10 November 2015 08:01 geplaas deur Dietloff van der Berg

    Beste Gerhard,
    Ongelukkig het die #FeesMustFall-veldtog in Kwazulu-Natal ook saamgeval met die besluit van UKZN dat die voorstanders van die AfrikaansMustFall-veldtog hulle sin sal kry en is Afrikaans met ingang 2016 ironies genoeg aan die ‘Premier University of African Scolarship’ afgeskaf. Ten spyte van die feit dat akademici kurrikula gereeld aangepas het, sedert 1986 al in die taalkunde (Van der Berg D.Z. en Venter J.L. Toetsrit ’n geïntegreerde taalkursus. Shuter & Shooter, Pietermaritzburg. ISBN 0 86985 877 7) en letterkunde (1989 Van der Berg D.Z. en Van Coller H.P. Keursteen, ’n literatuurhandboek. Shuter & Shooter, Pietermaritzburg. ISBN 0 7960 0184 7) nie net tekste in Standaardafrikaans bestudeer is nie, bly die meerderheid Afrikaans sien as die taal van die onderdrukker.
    Terwyl Mandela se gees van versoening daar was, kon Afrikaans plaaslik op akademiese vlak bly bestudeer word, maar met mense soos Malema e.a. wat die teendeel predik, word dit bedreig. Akademici moet dus veel harder saamwerk aan ʼn verandering van die politieke bestel, want slegs as die politieke wil daar is om werklik veeltaligheid te bevorder, sal Afrikaans op hoë vlak binne die institusionele bestel kan bly voortbestaan. Die alternatief is om soos met Viva buite daardie raamwerk om te werk. Baie geluk met die inisiatief wat julle geneem het.
    Dietloff

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK