Nog ‘n heerlike verhaal uit die hart van die Kalahari (deur VivA-gebruiker Moryn Hanzen)

Geplaas deur Sophia Kapp Woensdag 02 Desember 2015
Gepubliseer in VivA;

Deur Moryn Hanzen

HUISBESOEK

As Jan die wysters van die trok so beginte kyk, weet Anna dis nie vir sommer nie. Of hy’t weer vergeet om petrol te gooi, óf die skedonk raak weer warm.
“Wat sit kyk jy so, vrou?” kom dit ôk kort voor lank. Jan is weer sy gewone kort-van-draad-selwers, vernaam as sy gewete hom ry. As Anna swyg, kyk hy van die wysters af na haar. Die frons tussen haar oë tref hom soos vêr-staan-weerlig. Al traai hy hoe hard, hy kan dit nie miskyk nie.
Anna se mond plooi soos ʼn twaksakkie se toegetrekte bek voor sy antwoord: “Nee, sê jy mý bietjie vir wat hou jy die wysters so dop?”
“Waffer wysters?” antwoord Jan so onskuldig soos ʼn pasgebore lammertjie.
“Nee, Jan, dié daar voor jou twee oge.”
Jan moet maar sy skaamte onder sy voete vastrap en met die waarheid uitkom. “Vergeet om petrol te gooi op Upington,” kom dit binnesmonds.
“Da’ beter jy by Piet-goed indraai.” Jan weet sommer daar’s geen manier wat Anna hom hiervan gaan laat vergeet nie.
“Kyk, doer voor sta’ stof, Jan,” wys sy in die smal tweespoorpaadjie.
“Ja, Anna, ek hit mos twee oge in my kop.”
“Maar is mos ‘ie pirrikant se grênd mouter wat daar aangesit kom,” fluister Anna asof die dominee haar kan hoor.
Jan trap rem en swaai uit die pad sodat dominee Van der Westhuize’ langs hulle kan stilhou.
“Goeieagtermirrag, Dominee,” kom dit ewe vroom uit een mond van Jan en Anna.
“Goeiedag, broer, suster. Ek is reeds op pad na julle toe.”
“Ag Dominee, jy kom asof jy gestuur is. Ons is alteveel verleë. Ka’ Dominee ons tog ‘ie help met ʼn lekseltjie petrol ‘ie?” val Jan sommer dadelik weg.
Na ʼn gespook en gespartel is die petrol oorgetap en ry Dominee vooruit. Die trok stof vreeslik, maar hieraan is alle Kalahariboorlinge ouds gewoond. As Jan na Anna kyk, is dit omtrint deur ʼn wolk.
By die opstal aangekom, hardloop Jo’nis hulle tegemoet. “In as jy soes ʼn weglêhoennerkuiken hier op my afgehol kom, Jo’nis?” vra Jan bekommerd. Hy weet sommer Jo’nis kom nie onnoriglik so oop en toe aan nie.
“Dis ‘aai man wat soe vêr is, oubie,” kom dit uitasem van die stomme Jo’nis.
“Nou va’ waffer vêr man pra’ jy da’ nou?” kom dit fronsend van Jan.
Jo’nis beduie hoog bo sy eie kop en kyk doer bo in die lug terwyl hy herhaal: “Nee, oubie, die man wat so vêr boe my kwap is.”
“Nou wa’ maak weer hy hier?”
“Nêh, hy kom verja’ onse krismisvoëltjies, oubie. En brêk net mit sy nuwe rekker.”
“Nou wat het hy met ons rooi- en geelvinke te make, Jo’nis?”
“Jô-jô, oubie, daai man, hy’s baja spaitfoel. Hy wil eigentlik net volop wees mit Sannatjie saam.”
“Nou loop en loop sê vir hom ek soek ‘ie sy jimpelsgeit op hier‘ie plaas ‘ie.”
“Dankie, oubie. Hit oubie ‘ie rookgoed gaonthou?”
“Bring die tjieng dan ka’ jy dit kry.”
“Maar oubie, dis die wiek Sannatjie se beurt gewies om my te gooi, nou sta’ maak sy of sy niks wiet nie. Lop’ en praat net met ‘ie vêr man saam.”
“Maar jy moet mos jou eie rookgoed petaal, Jo’nis.”
“Ag oubie, gee my tog maar weer boek, samblief tog, oubie-goed.”
“Nou ja toe, maar jou boek is hoeka al so hoog.”
Die twak word met ʼn groot gesukkel tussen al die ware agterop die trok gesoek en aan Jo’nis oorhandig. Hy glimlag breed met uittande soos ʼn vandusieklavier as Jan dit aangee en in die rekeningboek opskryf.
Anna het intussen die pirrikant in die voorhuis sit gemaak en koffiewater gaan opgesit. Haar ogies trek klein soos ʼn tiekie se pap na die heller sonlig daar op die werf.
Na hulle almal koffie en koe’siters gevat het, lees die dominee ʼn stukkie uit die Skrif. Jan kan sommer duidelik aanvoel dat dit weer kerkbasaar se kant toe gepraat gaan worre.
Anna se vertolking daarvan is weer heel anners. Hoe sal Dominee da’ nou wis hoe sake tussen haar en Jan staan? In die winter ryp dit altoos spierwit tussen hulle twee sawens in ‘ie kooi. Maar Dominee sal mos nog nooit ‘ie katelsake kom sit en gesels ‘ie?
Na ʼn groot aandete, ʼn slagding vir eie gebruik, vars room, ʼn boerbrood en ʼn paar pond botter, is dominee Van der Westhuize’ met ʼn breë glimlag in sy grênd mouter vort sonder lat Jan of Anna klarigeit het oor die eigentlike rede vir ‘ie besoek.

Lees 1028 tye

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK