Veeltaligheid by universiteite

Geplaas deur Sophia Kapp Vrydag 04 Desember 2015
Gepubliseer in VivA;

Dr. Frikkie Lombard, eindredakteur van die WAT op Stellenbosch, deel enkele gedagtes oor die taalstryd wat op Stellenbosch (en ander kampusse) plaasvind:

  1. Daar is dikwels te veel emosie en te min rede by deelnemers aan hierdie debat te bespeur. Dit is verkeerd om enigiemand wat aan die debat deelneem (aan watter kant ook al) sleg te sê of te “demoniseer”. Daar het baie gerekende en ewewigtige mense protes aangeteken teen die voorgenome taalbeleid --- hulle kan nie as ploerte of verlangers na ’n apartheidsverlede afgemaak word nie.
  2. Sommige bewerings wat deur “deskundiges” in die taaldebat gemaak word, getuig van gebrekkige insig, naïwiteit en ’n goeie skeut onkunde waarmee diesulkes hulleself eintlik in ’n slegte lig stel. Dit is byvoorbeeld 'n mite dat ’n mens jou nie internasionaal kan handhaaf as jy in Afrikaans opgelei is nie. Diegene wat aan histories Afrikaanse universiteite opgelei is en in die buiteland uitnemend vaar, bewys die onsin van hierdie gedagte. Dit is ook 'n mite dat Afrikaans nie 'n taal van die tegnologie kan wees nie. Die beskikbare terminologie wat ek in my werk by die WAT elke dag vir uiteenlopende vakrigtings moet gebruik, maak ’n bespotting van bg. stelling wat sommiges so goedsmoeds kwytraak. Afrikaans is ’n “propperse” taal met ’n ryk en geskakeerde woordeskat; dit is nie sommer ’n hierjytaaltjie nie. Jan Rabie het die standaardisering van Afrikaans “een van die heel groot prestasies van ons land” genoem.
  3. Die regte m.b.t. taal wat in die Grondwet verskans en gewaarborg word, lyk toenemend asof dit nie vir Afrikaanssprekendes geld nie. Daar word van geen histories Engelstalige inrigting verwag om meertalig te word sodat toeganklikheid verbeter moet word nie.
  4. Enige regdenkende mens wat vir die behoud van Afrikaans op Stellenbosch pleit, pleit vir moedertaalonderrig en meertaligheid in ’n meertalige omgewing. Op sigself is dit ’n uiters redelike pleidooi, terwyl die mentaliteit van ’n talige monokultuur (wat Neville Alexander die koloniale mentaliteit genoem het) dikwels tot onverdraagsaamheid en verdagmakery lei teenoor diegene wat anders oor taal en die aanwending daarvan dink. Veeltaligheid behoort m.i. as ’n transformasie-attribuut beskou te word.
  5. Die feit dat parallelle onderrig Afrikaanssprekende studente sinvolle interaksie in die klaskamer met studente van ander tale en herkoms ontsê, is iets wat ’n mens nie kan ontken nie, en is beslis een van die gebreke van klasse wat parallel aangebied word.
  6. As dit so is dat die meeste Afrikaanse studente in Engels klas wil ontvang, sal so ’n werklikheid verreken moet word. Ek is egter nie oortuig daarvan dat ordentlike gesprekke met alle studente en studentegroeperings oor die taalkwessie gevoer is nie. Die tydsberekening van die aanvanklike besluit en die onbehoorlike haas waarmee dit aangekondig is, laat ’n mens wonder oor die druk wat op die betrokkenes uitgeoefen is.
  7. Dit vra nogal ’n besondere mate van ruimgeestigheid om die hoër funksies van jou taal op te offer. Van die mees enkeltalige mense op aarde, die Engelssprekendes, word daar nooit so iets verlang nie. Dat enige intellektueel ontwikkelde mens goedskiks ’n tegnologies en kommunikatief sterk taal sienderoë wil laat terugsak na ’n laefunksiegeselstaal gaan die verstand te bowe. Dit is ’n pseudo-argument dat ‘n taal “bevry” word as dit nie meer nodig is om dit vir formele en hoër funksies te gebruik nie. Daarmee saam is dit werklik naïef om te dink dat Afrikaans nie geknou gaan word as sy tersiêre en hoër funksies verval nie.
  8. Daar word dikwels sterk gesuggereer dat Afrikaans “uitsluitend” van aard is. Engels dra waarskynlik nie daardie bagasie in dieselfde mate nie, maar dit is beslis ’n taal wat baie studente ook as uitsluitend ervaar en deur middel waarvan daar dikwels geslaag is om ’n gees van minderwaardigheid teenoor die inheemse tale en kulture en die gebruikers daarvan te vestig.
  9. Die opheffing van Afrikatale is ’n saak van dringendheid en belang. Watter kans het die Afrikatale om die mas op te kom as Afrikaans as ontwikkelde en gestandaardiseerde Afrikataal nie op universiteit ondersteun word nie of gemarginaliseer word? Dit is heel ironies dat minister Blade Nzimande nogal geneig is om te noem hoe die Afrikatale by Afrikaans en Afrikaanssprekendes moet gaan afkyk en leer (jy sit op jou jis, en jy werk dat jy bars teen min vergoeding vir die liefde van die saak, dr. Nzimande).
  10. Ons moet minder “Afrikaans! Afrikaans!” van die dakke af skreeu terwyl ons die taal daagliks verknoei. Afrikaans verdien lojale gebruikers wat die taal doodgewoon só praat en skryf dat dit sy geldigheid as medium in die een taalsituasie na die ander demonstreer.
  11. Die talebestel aan tersiêre inrigtings in ons land is ’n geweldige kluif en diegene wat by pragmatiese besluite rondom taal moet uitkom, is onder groot druk. Vir sulke mense wens ek die wysheid van Salomo toe. Vir die res van ons wat op een of ander manier geraak gaan of kan word, wens ek toe lankmoedigheid en die vermoë om steeds met humor en vindingrykheid in Afrikaans te leef.
Lees 1692 tye

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK