Prince Albert Leesfees

Geplaas deur Sophia Kapp Maandag 07 Desember 2015
Gepubliseer in VivA;

Die Prince Albert Leesfees 2015

deur Martin Steyn

Die reisgeselskap:

Marieta Nel (LAPA)

Liesbet Gelderblom (LAPA)

Betsie Klopper (Pearson)

Chareldine van der Merwe (Vriende van Afrikaans)

Edward van der Merwe (Chareldine se man)

Anzil Kulsen (skrywer)

Martin Steyn (skrywer)

Babalela

Donderdag. 5 November 2015.

Prince Albert is ’n lang, smal dorp aan weerskante van die hoofstraat. Verder is daar net Karoo.

Ons kom via Oudtshoorn, deur Meiringspoort, waar ons heen en weer oor die Grootrivier ry, elke drif gemerk. Ek kan sien hoe hierdie naamgewer vol opgewondenheid met sy taak begin het—Spookdrif, Skansdrif, Skelmkloofdrif—hoe die entoesiasme begin taan het—Dubbele Drif, Sanddrif—hoe die nimmereindigende kronkels hom afgetakel het—Herriedrif—tot hy dit uiteindelik nie meer kon hanteer dat die padbouers nie net aan een kant van die rivier kon bly nie—Ontploffingsdrif. Daar is meer as twintig driwwe.

Tussen die kranse, ’n mengsel van grys en pienk-, oranje- of rooibruin, afhangend van hoe goed die oggendson die klip bykom, vertel Marieta van agter die stuur vir ons hoe gewild Izak se erotiese bundel onder haar vroulike kollegas en vriendinne is. Anzil hou ons op hoogte van haar bloedsuikervlak. Betsie verwerk nog die rekordspoed waarteen Marieta hulle gister tot op Oudtshoorn gebring het (ek het ’n dag vroeër saam met Edward en Chareldine gery), en die redes waarom dit nodig was, word heen en weer tussen die drie sprekers geskuif. Ek, Liesbet en Babalela kry nie juis ’n woord in nie.

Al die driwwe maak mens maar ietwat driftig. Miskien is dit hoekom daar wynplase aan die ander kant van Meiringspoort is, soos Bergwater, wie se Royal Reserve by Prinses Charlene se troue bedien is.

Welkom in Prince Albert, sê ’n wit bordjie.

Dankie. Die eerste ding wat ons sien, is die begraafplaas—you can check out, but you can never leave? Marieta swenk deur twee esse en in die hoofstraat af. Dis opvallend hoe daar moeite gedoen word om besighede te versier. In Somerset-Wes plak hulle net “Edgars”, “CNA” of “Clicks” iewers op, maak ’n winkelpop of ’n rakkie in die venster staan en gaan wag agter die kasregister. In Prince Albert is daar wawiele, roomysfietse en halwe bome wat soos beeldhouwerk lyk op die sypaadjies. Die Hotel is wit met swart aksente. Selfs PEP is getooi. Binne is dit dieselfde. Of dit nou die Country Store—die voorwinkel van die gastehuis waar ek en Anzil geslaap het—of die Lah-di-dah restaurant is, mens kan nie net deurloop nie, jy haak vas en kyk, want oral is moeite gedoen om die binneruim interessant te maak.

Maar ons is hier vir die Leesfees, en voor die amptelike opening môreaand, praat ons eers vanmiddag met ’n groep onderwysers. Marisca Coetzee van die Universiteit van Stellenbosch sluit by ons aan vir ’n verduideliking van die onderwyser se rol in die ontwikkeling van leerders se begrip van verklarende tekste. Betsie volg met ’n demonstrasie oor hoe om begripslees te verbeter. Anzil praat oor haar jeugromans, Zita en ’n Hart vol sand. Ek sluit af met “Moord en doodslag”.

Vrydag. 6 November 2015.

Marieta, slawedrywer, het ons oggend volgepak. Eers is ons met hanekraai na The Showroom toe, ’n wonderlike teater met ’n outydse karakter, waar ons dieselfde as gistermiddag doen, maar nou vir die leerders van Hoërskool Zwartberg. Die program het gekrimp—ons het vir Betsie verloor—maar ook geswel, met Caleb Swanepoel, wat sy been in ’n haai-aanval verloor het en die jeugbeskermheer van die fees, Wendy Maartens, skrywer van Kaptein Seeley, en verskeie kletsrymers wat bykom.

Gelukkig is die kletsrymers laaste, want hulle steel die hele geleentheid. Kyk, ek is ’n rock-aanhanger, alles van Led Zeppelin deur Nirvana tot Metallica (pre-Black Album). Rap is nie iets wat jy in my versameling sal aantref nie, maar toe hulle van die verhoog afstap, kyk ek en Anzil vir mekaar en besluit Saterdagaand kom ons na hulle konsert kyk. Eerste is Rimestein (Daniel Denver Swartz) en Adrian “Diff” van Wyk, en toe Rhyme Author (Robin-Dean Fourie), Gracia “the Poet” Nicholls  en Oxyjin (Rumarcques Gelderbloem). Musikale digters met ’n boodskap, wat woorde met ’n skerp, eerlike intelligensie aanmekaar weef.

Volgende is Prince Albert Primêr, aan die teenoorgestelde kant van die dorp as die begraafplaas. Dis bewolk en reënerig, wat die grond rondom die saal modderig maak. Wendy Maartens doen haar ding. Toe is dit ek en Liesbet. Liesbet lees voor uit Jaco Jacobs se Waarvoor is seerowers bang? en vertolk ook die rol van Sanmarie. Die rol van Kaptein Kalamari, haar pa, word deur my vertolk, oogklap, rooi bandanna en al. Volgende arriveer Babalela en dis net blink ogies en oop mondjies.

Die amptelike opening van die Leesfees begin met Judy Maguire wat die storie agter die Khoekhoe-pot op die fees se logo vertel, hoe ’n vrou van die stam die pot gevorm het om tydens rituele te gebruik. Louis Botha se fotoboek, Slow down, word bekendgestel. ’n Besondere vingerete volg. Randall Wicomb stel sy biografie, Kleur, bekend en sing ’n paar liedjies om die aand af te sluit.

Wel, nie heeltemal nie. Daar was Bergwater en Brenda Fassie by 85 on Church . . .

Saterdag. 7 November 2015.

Die Prince Albert Leesfees is nie naastenby op dieselfde skaal as, byvoorbeeld, die US Woordfees nie. Die voordeel is dat dit ’n baie intiemer karakter het. Daar heers heeldag ’n kuier-atmosfeer buite die Jans Rautenbach Schouwburg, en omdat bykans al die praatjies hier plaasvind, is daar nie die konstante heen-en-weer beweging soos in Stellenbosch nie. Radio Gamkaland het tafels en luidsprekers reggeskuif en saai uit. Gerard Scholtz en sy DEKATv-span is hier.

Die feesprogram is besonder gebalanseerd. Paige Nick praat oor Pens behaving badly, ’n versameling van haar kolomme in die Sunday Times. Daniël Hugo praat oor sy digbundel, Takelwerk. Ek en Leon van Nierop praat oor rillers, reeksmoordenaars en rolprentdraaiboeke. Rehana Rossouw praat oor What will people say? Dine van Zyl maak almal lus vir potjiekos terwyl die potte buite oor die kole prut. (Ons het ’n draai by die Bush Pub gaan maak, waar daar glo laataand sonde met die bure gestook word, maar was terug toe die deksels lig.) En toe is dit af na The Showroom vir die kletsrymkonsert.

Sondag. 8 November 2015.

Dis die laaste dag. Daar is onder andere ’n paneelbespreking oor selfpublikasie en Dana Snyman praat oor In die blou kamp. Die fees sluit die middag af met die premiére van Jans Rautenbach se nuwe film, Abraham, maar dis ’n ver ent terug Kaapstad toe, so ons val maar in die pad. Ongelukkig loop dit nie hierdie keer verby Bergwater nie.

Ek kyk hoe Prince Albert in die truspieëltjie kleiner word, maar dis nie ’n plek wat mens regtig agterlaat nie. Die dorp, die mense, kry vat aan jou. Jy ry dit saam huis toe en dink, Volgende jaar . . .

Lirieke uit:

“Hotel California”. Eagles, Hotel California (1976).

Lees 1261 tye

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK