Perspoësie

Geplaas deur Gerhard van Huyssteen Dinsdag 12 Januarie 2016
Gepubliseer in VivA;

Die gedrukte pers is dood, lank lewe die gedrukte pers!

Sondagoggendritueel: laai Hoekom (my poedel) agterin die kar; koop die Rapport by Katleho op die straathoek; skuif aan vir ʼn vroegoggendontbyt op die terras van my stambistro in Menlopark. Al is ek ingeteken op die Netwerk24-toepassing, kry ek gratis wi-fi-toegang en het ek drie jaar laas ʼn papierboek gelees (Die gedrukte boek is dood, lank lewe die e-boek!), wil ek niks geen tegnologie sien nie. Drieeieromelet, koffie en, oudmodies, die papierkoerant.

Hoekom op die stoep
Maar die afgelope Sondag is ek die nuus, die getwiet en rassismepraatjies tot satwordens toe teë, en ek gee die hoofkoerant vir Hoekom om homself tydelik mee te vermaak. Ek is al gewoond om ʼn leergierige jonghond se verslinderde koerant te ontsyfer.

Normaliter blaai ek altyd eerste na Nathan Trantraal se rubriek. Sy taalgebruik, skryfwyse en perspektiewe is verfrissend vars.

Maar vandag vang die voorblad van Rapport Beleef – die koerant se lewenstylblad – my oog: Vlêrmuiskerrie; Skeermeskuns; Koekgeveg. Vroliker kan dit byna nie, en ek is mos gek na nuwe Afrikaanse samestellings. (Oor die koekgeveg moet jy maar self op die agterblad gaan lees.)

In dié uitgawe kom ʼn aantal Groot Kanonne aan die woord: Waldimar Pelser (Rapportredakteur homselwers); Leon van Nierop (x2); Anél ‘Bobaaskokblogger’ Potgieter; en die veelbekroonde Sonja Carstens en Egmont Sippel. Dis huishoudelike name wat jy ken as jy nie net die koerantartikels lees nie, maar darem ook kyk wié dit geskryf het, soos ʼn mens behoort te doen.

En hulle kán skryf!

Waldimar se openingsin is 94 woorde lank. Ek is seker dit moet een of ander rekord wees; die gemiddelde sin in Afrikaans is 19.73 woorde lank.

Ek stel my wel die arme subredakteur se penarie voor, maar die leser raak nie uitasem nie. Die sin rol soepel van jou tong af, net soos die smeuïge woorde: Wanneer die botterige deeg van die wildspastei goud word in die Springfonteinpadstal se oond ...

Hy dek die tafel vir Leon: Hier blaai jy van moordend hittig na lawend wanneer jy deur ʼn laning ry wat 200 jaar al oor die ingang waghou. En later oor Damnville se mense: Die wind waai hulle teen doringdrade vas en daar klou hulle, elkeen met ʼn ander klank wanneer die wind daardeur fluit.

Anél laat die seisoenale groente en vrugte van die Seychelle soos ʼn Laurika Rauchliedjie klink: Avokado’s, eiervrug, komkommers, pampoene // margoz, kassawe, broodvrug, jams ...

En Sonja en Egmont maak werkwoorde werk: knip-knip, afsaag (vir vinnig ry), opswenk (vir vinnig boontoe draai). En naamwoordfrases: skop-, skiet- en klapper-orgie om na ʼn James Bondfilm te verwys (ofskoon die Taalkommissie liewer skop-skiet-en-klapper-orgie sou wou skryf), die klapperende uitlaatpype se rock-en-roll, of ʼn week van pure paranoïese malligheid.

Dís mos nou perspoësie.

Sommige joernaliste en subredakteurs (en ander skrywers en uitgewers) gebruik deesdae te maklik die lesers-gaan-nie-verstaan-nie-agterdeur.

Nee, lesers is vuisvoosverveeld met die dit en die dat en die ditse gedat. Ons is slim, kan woordeboeke gebruik en wíl elke dag ʼn stywe dosis poësie in ons vroegoggendomelet proe. Op papier, in die koerant.

Kô, lat ôs woode iet. As Hoekom kan, hoekô kan ôs ’ie?

 

Lees 1535 tye Laaste modifikasie op Dinsdag 12 Januarie 2016 20:12

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK