Rondomtaal: "Waardig"

Geplaas deur Sophia Kapp Woensdag 10 Februarie 2016
Gepubliseer in VivA;

Jare gelede kyk ek na ʼn dokumentêr oor die lewe van Sir Winston Churchill. ʼn Dogter van hom vertel hoe hy ná die Tweede Wêreldoorlog Amerika toe is om te gaan vra vir ʼn lening sodat Brittanje kan herbou. Die Amerikaners was nie gretig om hom te ontvang nie, want hulle het geweet waaroor dit gaan, en die oorlog in die Stille Oseaan-streek het hulle self sleg getref. Hulle het elke sent self nodig gehad. Nietemin, Sir Winston kry ʼn spreekbeurt in die Huis van Verteenwoordigers, waar hy baie koel ontvang word. Geen tradisionele Amerikaanse lawaai nie, geen applous nie. Hy betree die podium, bekyk sy gehoor en sê: “I did not come here to ask for money.” Daar is ʼn gemurmel in die gehoor, toe so ʼn paar verleë siele wat hande klap. In die stilte daarna, sê hy: “For myself.” Een vir een het hulle opgestaan, die teensinnige Amerikaners, om hom die ovasie te gee wat hy verdien.

 

Ek onthou die staaltjie vandag nog, omdat dit vir my so ʼn vergestalting was van die mag van taal. Van die mag van opvoeding en goeie maniere. Van die kuns om ʼn onpopulêre standpunt aan jou teenstanders te verkoop.

 

Dis ʼn kuns wat aan die uitsterf is – vandag is die persoon wat die hardste skree en die doeltreffendste kan beledig die wenner. Oënskynlik. Ons leef in ʼn tyd wat aan ons besondere uitdagings stel. Ons leef in ʼn land en op ʼn kontinent wat besondere uitdagings stel. Ons praat ʼn taal wat besondere uitdagings in die gesig staar. Ons voel beleër, oorweldig, ons spartel om oorlewing. En dit voel vir ons asof ons nie gehoor word nie, want ons word doodgeskree.

 

Die vraag is: Hoe reageer ʼn mens op so iets? Wat is uiteindelik effektief?

 

Antwoord: Gaan kyk na die geskiedenis. Sir Winston het, op ʼn stadium manalleen, teenstand gebied teen een van die grootste orators wat die moderne geskiedenis geken het. Dié man was luidrugtig, het populistiese argumente gevoer en kon ʼn skare opsweep dat selfs intelligente mense sy retoriek gekoop het. Dis ʼn man wat ʼn nasie kon oortuig dat die geskiedenis waaraan hulle land onderwerp was geweld regverdig. Dis iemand wat ʼn volk, en ʼn wêreld, kon manipuleer om gruwels te aanvaar in die naam van nasiebou. Dis iemand wat boeke en kuns op dorpspleine verbrand het in die naam van kulturele reiniging.

 

Sir Winston kon hom dit nie nadoen nie. Hy was nie ʼn orator nie, hy het nie mense opgesweep nie. Al wat hy gehad het, was waardigheid. Hy kon net sy saak stel, rustig en kalm, maar met vasberadenheid, en sy werk na die beste van sy vermoë doen.

 

Leer by Sir Winston: Dis nie altyd nodig om die bekgeveg te wen nie. So ʼn onderonsie is gewoonlik opruiend, onredelik, aggressief en onwaardig, en dit bewerkstellig niks, buiten om aan die ander party die geleentheid te gee om jou nog ʼn slag te beledig. Al wat regtig nodig is, is om ʼn mens se saak te stel, rustig, met oortuiging, met begrip en geduld vir ander, natuurlik, maar boweal met waardigheid. Daarom: Wees waardig. Praat waardig. Skryf waardig. As jy deelneem aan debatte, bly waardig. Nie noodwendig omdat jou teenstanders dit verdien nie, maar omdat dit is wat jý is.

Lees 1637 tye Laaste modifikasie op Woensdag 17 Februarie 2016 12:28

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK