Alles kan wag as jy op ’n speurtog met taal is

Geplaas deur Gerhard van Huyssteen Sondag 16 Oktober 2016
Gepubliseer in VivA;

“Ek wag vir jou rubriek, Gerhard,” sê-vraBeeld se redakteur beleefd-dringend oor die foon.

“Is jou punte vir die tweedejaars al afgehandel?” Dis die departementshoof wat ook sy pond vleis via e-pos eis.

“Gerhard, kan jy tog gou my verhandeling ’n laaste keer lees?” ’n M-student wat in November sy verhandeling wil inhandig.

Maar hoor, sien én ruik vergaan om my.

Ek is besig met lekker dinge. Niks se geadmin-admin of e-possery wat my van stryk bring of my uit my klein wêreldjie dwing nie. Lekker dinge, woorddinge.

Die afgelope drie weke het ek onverpoosd vrae opgestel vir die nuwe seisoen van Op die spel, kykNET se taalvasvraprogram. Opnames begin einde Oktober, en die nuwe reeks word vroeg-vroeg in die nuwe jaar gebeeldsend.

My neus is diep in woordeboeke en taalkundenavorsing versonke. Ek snuffel moeilike woorde uit, interessante uitdrukkings en idiome. Vir ure word gepieker oor die herkoms van die en daai woord. Ek bel die program se taaladviseurs, Tom McLachlan en Suléne Pilon, om die hawerklap om raaisels te probeer oplos.

Ek dink byvoorbeeld “bulletin” is ’n lekker woord om te vra, want dit kan mos net op een manier geskryf word.

Nee, hoor! Tom wys daarop dat “boeletien” ook voorheen deur die Afrikaanse woordelys en spelreëls erken is. (Dank die hemele nie meer nie.) Ek kom agter dat daar slegs 21 woorde in die AWS is wat met ’n gravis-e geskryf word, terwyl slegs drie woorde met ’n kappie-u en drie met ’n kappie-i geskryf word.

En hoekom skryf ons iemand is ’n lafaard, maar hy is lafhartig? Daarteenoor noem ons iemand wat bang is (nie *banghartig nie) ’n bangerd of banghart (nie *bangaard nie). Ons kry ’n jammerhart, maar nie ’n *jammeraard nie; ’n weekhart, maar nie ’n *weekaard nie.

Met diesulkes gaan ek Beeld se redakteur, my departementshoof en nagraadse studente nog lank gelukkig hou. En dalk iemand op TV vermaak. Of uitvang . . .

Hoe sou jy met verlede jaar se grootgeldwoorde gevaar het? Hier is hulle op ’n ry:

  • Vir R1 000: motorneuronsiekte; desalnietemin; in ag genome; pajamakrieket; hoboïste; dataontginning; rabbedoes; slampamperliedjie; abakus; ydeltuit; leuenverklikker; minimalisering; litiumbattery.
  • Vir R5 000: Engelse Kanaal; Japannologie; militaristies; pakkettekantoor; Qoemranrolle; tatoeëermerk; fasiliteitekommissie; heel eerste heelgetal.
  • Vir R15 000: C-kruismineur; silwer randjie of silwer rantjie; tierlantyntjies; Zimbabwiër; Nabye-Oosterse; tinktinkie-eiertjie.
  • Vir R25 000: Boeddhabeelde.

Tot kykNET se grootse teleurstelling kon net een persoon tot by die R25 000-merk kom. En toe het my R50 000-woorde Rakaägtig soos ’n kind wat om die grap van ’n bont kalbassie tandeloos en stil lag, wit gegryns en, neergehurk, gewag . . . op 2017 se niksvermoedende deelnemers.

Beeld logo

Hierdie rubriek het oorspronklik in Beeld van 15 Oktober 2016 verskyn.

Lees 1468 tye

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK