Respekteer studente se standpunte

Geplaas deur Gerhard van Huyssteen Dinsdag 01 November 2016
Gepubliseer in VivA;

Dis 1991.

Nelson Mandela is vrygelaat, die Berlynse Muur het homself te pletter geval, ʼn olieoorlog woed in Koeweit, en Suidwes-Afrika het Namibië geword.

Ek is ʼn derdejaarstudent aan die Universiteit van Pretoria, luister na Voëlvrymusiek, woon Houtstok by, leer politieke woorde by mense soos Irma du Plessis, Andries Bezuidenhout en Hedwig Barry, en speel stut in die Taaibosmanskoshuisrugbyspan.

Ek is die enigste man/seun in die Afrikaans III-klas en loop klas by Groot Geeste soos Rena Pretorius, Tom Gouws, Piet Roodt, Adelia Carstens, Vic Webb en Christo van Rensburg. As assistent in die Departement Afrikaans maak ek vir hulle tee en hardloop op en af na die administrasiegebou om fakse te stuur.

Maar ek is kwaaitjie-kwaaitjie.

Hoekom word ons kurrikulum vervuil met Nederlandse literatuur? Wat op deeske dorre aarde het Vondel, PC Hooft en Harry Mulisch met my – hier in Suid-Afrika – te doene? Prof Christo het ons geleer dat Afrikaans ʼn Afrikataal is. Weg met die boel koloniale literatuur!

Ek stel ʼn petisie op teen Nederlands in die Afrikaanse kurrikulum. Maar bitter min van die vroue/meisies in my klas steun my aktivistiese optrede. Hulle wil net eksamen gaan skryf en die kursus slaag. Prof Rena waai my tirades af en vra hoekom my poësieopdrag nog nie ingehandig is nie. Sonder die mag van sosiale media (dis 1991!) moet ek die aftog blaas. Ek is ont#.

Dis 2016.

Die land se universiteite brand letterlik af. Al wat ʼn veldtog is, word gelegitimeer deur ʼn hutsteken vooraan te plak. Universiteite is “spaces”, almal het een of ander “narrative” en gesprekvoering en betogings is “robust” – vir my gevoel is dit alles politieke wolwoorde waarvan die betekenis so verstard soos ʼn standbeeld geword het. As ʼn dosent wat erns met my vak maak, kan ek egter nie onaangeraak hierdeur bly nie. Dis ook mý taak om te luister na die studente, om te besin oor die dekolonialisering van die kurrikulum.

Die ganske wêreld is onthuts oor die Kaapstadse student wat verduidelik hoe #ScienceMustFall. Meme vlieg die kuberruimte vol, en om braaivleisvure word skaterend gelag oor die stomme onnoselheid van dié arme kind.

Hier in my binnekamer kan ek egter nie anders as om hartbloeiende simpatie vir haar te hê nie. 25 jaar gelede was ek sy, maar met een groot verskil: Sonder die genadeloosheid van sosiale media is die wêreld my naïewe standpunt van toe gespaar … en ek die verleentheid.

Soos woorde groei (van kragdadig tot geyk) en tale ontwikkel (van Nederlands tot Afrikaans?), so moet ons opinies ook dinamies bly. Ek is dank-die-vader-bly dat ek vandag anders dink oor goed as twee jaar gelede, en ek hoop van harte dat ek oor twee jaar ook nuwe insigte sal hê. Wat is ʼn opinie werd as dit nie kan verander nie?

Laat hy/sy wat die afgelope 25 jaar steeds presies dieselfde menings huldig gerus vingerwysend vir daardie Kaapstadse student lag. Rig gerus vir jou standpunte ʼn standbeeld op. Ek gun jou dit. Maar toon ook respek vir dié wat voortdurend na nuwe narratiewe in robuuste ruimtes soek. En vergeet nie wat Mr Keating ons in Dead Poet’s Society geleer het nie: “Boys, you must strive to find your own voice. Because the longer you wait to begin, the less likely you are to find it at all.”

Beeld logo

Hierdie rubriek het oorspronklik in Beeld van 29 Oktober 2016 verskyn.

Lees 1488 tye

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK