Versugting na ʼn lekkerleesboek in Afrikaans

Geplaas deur Gerhard van Huyssteen Sondag 18 Desember 2016
Gepubliseer in VivA;

Ettie Bierman, CF Beyers Boshoff en Topsy Smith. Leon Rousseau, Karl Kielblock en Heinz G Konsalik. Dis mos hoe vakansie ruik! Die beskimmelde houtreuk van bedompige gras, koolstowwerige ink op vanieljeagtige papier as jy ʼn dorpsbiblioteekboek oopkraak en diep deur jou neus inasem. Bibliosmia: die olfaktoriek van die boek.

Maar dis Desember 2016, mense! Ons lees op tablette en slimfone. As jy ʼn retrohipster is, sal dit jou nog vergewe word as jy met ʼn regte-egte, outydse Kindlemasjien rondloop.

Want die ware boekhartige (book-bosomed) bibliofaag is nie tevrede om net tien boeke met hom/haar saam te sleep nie. Nee, die ganske letterwêreld moet tydens my vakansie tot my beskikking wees. En as ʼn boek nie in Amazon se Kindlewinkel beskikbaar is nie, wel, dan is dit waarskynlik nie die moeite werd om gelees te word nie … (Daar was vanoggend 4 447 Afrikaanse boeke in die Kindlewinkel.)

Ek is by die see. (Vir ons Pretorianers is daar mos net één see, en dis die Noordkus.) Dit reën en die wind waai. Arme Hoekom (my poedelkind) lyk op Baby in Dirty Dancing. En toe hy poegaai van bal-op-strand-jaag langs my neerval, haal ek my tablet uit. Laat ek ʼn lekkerlees- Afrikaanse vakansieroman koop.

Dis twee dae later. Geen sukses nie. Ek het die LitNet-resensieblad snuif gelees en vriende ondervra. Ek is op soek na leesstof wat aan die volgende kriteria voldoen:

  • Dit mag nie Hoge Letterkunde wees nie. Ek is gewoon te platkoppig om Afrikaanse literêre werke wat hoog deur akademici aangeslaan word, onder die knie te kry.
  • Hou verby met misdaadromans. Dié genre blom in die Kindlewinkel, maar persoonlik het ek vir eers genoeg gehad van al wat ʼn speurder is wat alkoholisties, oorgewig en ongesond met “demone uit sy/haar verlede” wroeg. Dis duidelik ʼn resep wat ander lesers nog boei, maar as ek soos ʼn uitgerysde vetkoek op die strand lê, wil ek tog liewer lees van ʼn spierkragtige atleet wat die skurke op hulle neuse gee. Waar is Fritz Deelman en Staal Burger? (Boonop, as ek oor moord, boewery en korrupsie wil lees, swiep ek deur my Netwerk24-toepassing, dankie. Ons land is fiktiewer as fiksie.)
  • Ook liefdesromans waarin die karakters met spoke uit hulle verlede spook, kan maar vir eers links laat lê word. As dit wel ʼn liefdesroman is, laat dit vir ʼn verandering deur ʼn man geskryf wees. Of kan Afrikaanse mans nie oor die liefde skryf nie?
  • En les bes, dit moet humoristies Hoekom het ons nie eietydse hardoplagromans nie? Neem ons onsself te ernstig op? Moet ons altyd wroeg? “Help!” skreeu ek en ʼn blonde lewensredder kom aangedraf.

In kort, dit moet ontspannende ontvlugtingslektuur wees. Weg met al die wroegromans! Waar is ons Afrikaanse ekwivalent van William Sutcliffe se Are you experienced?, of Phileine zegt sorry van Ronald Giphart, of die Spud-reeks van John van de Ruit? Het ons nie ten minste één Sue Townsend of Joe Keenan of Stephen Fry nie? Waarom is ons boekrak so swáár gelaai?

Ek sug, staan op en gaan stap knorrig saam met Hoekom langs die see. In treurige, gietende reën.

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 17 Desember 2016 verskyn.

Beeld logo

Lees 1004 tye Laaste modifikasie op Sondag 01 Januarie 2017 04:52

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK