11de AWS wys hoe taal groei met tydsgees

Geplaas deur Gerhard van Huyssteen Saterdag 21 Januarie 2017
Gepubliseer in VivA;

1917: Die eerste uitgawe van die Afrikaans Woordelijs en Spelreëls word gepubliseer.

2017: Die elfde, hersiene uitgawe van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls word op 3 Augustus bekendgestel.

Verwag in hierdie jubileumjaar ʼn klomp ululasies en jubilasies oor die AWS as die oudste lewende woordeboek van Afrikaans, ten minste in hierdie rubriek. Hopelik sal daar ook kritiek uitgespreek en kritiese gesprek gevoer word, soos nodig is om vooruitgang te maak.

“Is ʼn eeu oue boek nog relevant?” vra ʼn paar skeptici. “En hoekom verskyn daar al wéér ʼn nuwe uitgawe?” hoor ek ʼn paar mense kla.

In die voorwoord van die 1917-AWS skryf die samestellers (onder andere Jan FE Celliers, Totius, Langenhoven, DF Malherbe en Gustav Preller) oor die doel van die AWS:

“Want wil iemand uiting gee aan sij siel, en gebeur dit nie deur middel van sij moedertaal nie, dan staan sodanige taalvorm tussen hom en die uitdrukking van sij diepste wese. Vanself dus wil ons sôre dat ons taal in ieder opsig tot sij reg kom; dat dit die draer word van ons kultuur. Vandaar dat ons in die eerste plaas ons oog rig op die onderwijs. Die eerste en voornaamste kenmerk immers van ʼn gesonde onderwijsstelsel is dit, dat daar voorsien word in die nasionale behoeftes van die volk.”

Met ʼn paar voorbehoude en kleiner wysigings aan die spelling sou hierdie paragraaf eintlik net so in die 2017-AWS kon verskyn. Die belangrikheid van moedertaalonderwys is dalk in 2017 selfs meer relevant as in 1917. Toentertyd had die debat perdalks ʼn gekleurde onderrok – ek vermoed in sommige kringe vandag steeds – maar hede ten dage is daar genoeg wetenskaplike bewyse om die waarde van moedertaalonderrig te steun. Mag 2017 ʼn jaar wees waarin ons as Afrikaanssprekendes – bruin, Indiër, swart én wit – mekaar se hande vat en onse kinders se belange eerste stel.

In die aanhaling hier bo is die spellingvorm “onderwijs” nog te siene; vandag is dit “onderwys”. In 1917 moes jy nog “trouw” skryf; vandag skryf ons “trou”. Aanvanklik was dit “sôre”; nou is dit “sorg”.

Soos enige dinamiese taal, bly Afrikaans ook voortdurend ontwikkel. Ons moet vandag saam oor nanotegnologie en ruimtereise kan praat, ons het slimfone en sosiale media, en ons lokale tydsgees is verweef in globale neigings. Op dié wyse brei ons woordeskat steeds uit en moet ons oor die nodige segswyses beskik om saam met die wêreld te kan praat. Dis net Rip van Winkel wat nog in 2017 die ou, blou HAT uit 1979 en die bruin AWS van 1964 gebruik. Vandag se hipsters en byderwetses soek woorde op in slimfoontoepassing en rol met loslittige woorde en segswyse.

Die Taalkommissie, wat die AWS saamstel, is en bly ʼn produk van sy tyd. Oor die afgelope honderd jaar het elke Taalkommissie die werk gedoen met die nuutste insigte wat op daardie tydstip beskikbaar was. Rekenaars, die internet en tekskorpusse het oor die afgelope tien jaar die Taalkommissie se werkwyse radikaal beïnvloed.

Wanneer die elfde AWS op 3 Augustus deser bekendgestel word, glo ek dat dit nóg ʼn bewysstuk in die geskiedenis sal wees van ʼn lewende, dinamiese, inklusiewe Afrikaanse taalgemeenskap.

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 21 Januarie 2017 verskyn.

Lees 1715 tye

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK